Die Tshwane-metro het Maandag vir ’n tweede keer bloedneus in die hof gekry oor die omstrede stadsreinigingsheffing wat op omtrent 250 000 munisipale rekeninge aangebring is. Dit volg nadat die metro se aansoek om verlof tot appèl, in die saak wat AfriForum vroeër gewen het, van die hand gewys is. Die Tshwane-metro wou dié heffing, ten bedrae van nagenoeg R220 per maand, instel op huishoudings wat nie van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie. Die hof het egter in AfriForum se guns beslis en bevind dat dié heffing onwettig is.