Dit is dalk moeilik om te glo dat die Afrikaner 'n geskiedenis van mistieke gebeurtenisse en geheimsinnge individue het. Gedurende die agtiende en negentiende eeu was die volksgeloof gevul met stories oor vuur-, lug- en watergeeste, voorspellings, goëlery, spoke en towenaars. In hierdie eerste episode van ons nuwe klanklêerreeks - Mistiek Suid-Afrika, gaan ons fokus op twee van ons land se vernaamste Afrikanertowernaars/toordokters, naamlik Skoorbek en Sors de Beer.
Die Toordokters
Heinrich Schörbeck, beter bekend as Skoorbek, was 'n verloopte matroos wat gedurende die vroeë 1800's langs die Kromrivier in die distrik Humansdorp woonagtig was. Skoorbek was bestempel as 'n "wit towenaar" wat sy magte ingespan het tot die voordeel van sy medemens en die gemeenskap.
Sors de Beer, wat soos Skoorbek 'n dissipel van die "wit" towerkuns was, het in die laat 1800's tot die vroeë 1900's op ’n plaas aan die oewer van die Vogelrivier in die distrik Pearston geboer. Albei hierdie historiese figure was bekend vir hulle bonatuurlike gawes en het sonder voorbehoud hulle magte in die openbaar gebruik.
Luister na ons klanklêer-episode waar ons 'n paar van die stories en avonture van die twee Suid-Afrikaanse towenaars vertel.
Bronne: Grobbelaar, P.W. 1977. Volksgeloof. In: Grobbelaar, P.W (red), Boerewysheid: Die Afrikaner en sy kultuur. Deel VI, Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers & Coetzee A.J. 1938. Die Afrikaanse volksgeloof.