Markus 1: 1-8
1 Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:
2 In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak.
3 Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit. ”
4 Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.
5 Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.
6 Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.
7 Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie.
8 Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”