Die is byna 23hoo toe die rooi Volkswagen vir die soveelste keer
voor die kafee verby ry. Die man en meisie in die motor kyk by
die kafee in. Hulle is uiteindelik tevrede die kafee-eienaar is alleen.
Hulle hou voor die kafee stil en stap binne. Die man bestel 'n
bord kerrie en rys. Die meisie eet lustig aan 'n bakkie jogurt.
Terwyl hulle besig is om te eet, kyk die man op en sê in die
rigting van die kafee eienaar: "Hier is nie genoeg vleis in my kerrie nie.
Die vriendelike kafee eienaar bied dadelik aan om meer vleis in
die kombuis te gaan haal. Hy stap agtertoe by die kombuisdeur
in met die kerrie-eter kort op sy hakke.
Terwyl die kafee eienaar omdraai om die vleis uit die kastrol te
skep, hoor hy die jong man agter hom sê: "I like my meat."
Die volgende oomblik klap 'n skoot. Die koeël wat dwarsdeur
die kafee eienaar se liggaam ruk, slaan in die kastrol met kerrievleis
vas. Half in 'n beswyming sak hy op die vloer ineen.
Deur die newels van bewusteloosheid hoor hy hoe die geldlaai
oopgemaak word. Hy weet dat daar sowat R240 in die laai is en
dat dit die buit van sy onverwagte aanvaller word.
Tien minute later klop die man aan sy huis se agterdeur, slegs
'n paar treë van die kafee af. Sy vrou, wat hom twee uur
vantevore springlewendig in die kafee agtergelaat het, staan vir
'n oomblik verstom toe sy haar man se toestand sien.
Haar desperate poging om hom die huis in te sleep, is
tevergeefs. Hy is te swaar vir haar. Sy roep 'hulle huishulp nader en
saam dra hulle haar man na die motor. Sy besef dat daar nie tyd is
om op die skok te reageer nie en jaag dadelik hospitaal toe.
Voordat Meneer Anton Benade, die 29-jarige eienaar van die
Elrina-restaurant op Despatch, in die Oos-Kaap, tien dae
later op 22 Februarie 1973 in die hospitaal beswyk het,
het hy 'n verklaring aan die polisie gedoen.
Die enigste getuie van die gebeure daardie aand, 12 Februarie
1973, in die Elrina, was dood. Selfs met sy verklaring en die
beskrywing van die twee besoekers wat laataand sy restaurant
binnegestap het, het die polisie nie veel leidrade gehad om op te
volg nie, want sy beskrywing na die kort ontmoeting was baie