Die Olimpiese 800-meter-kampioen, Caster Semenya, sê sy sal nie toelaat dat Wêreld Atletiek haar weerhou van wie sy is nie. Sy het toegegee dat sy teleurgesteld is nadat 'n Switserse federale tribunaal haar appèl teen 'n arbitrasiehof se beslissing verwerp het. Die saak het gehandel oor Wêreld Atletiek se bepaling dat vroue-atlete met 'n natuurlike hoë testosteroonvlak, medikasie moet neem om dit te verlaag. Semenya het vroeër gesê sy sal nie medikasie neem nie. Sy het verlede jaar die tribunaal genader nadat die arbitrasiehof bevind het dat Wêreld Atletiek se regulasies nodig is vir vroue-atlete met verskille in geslagsontwikkeling. Die regulasies geld vir die 400-meter, 400-meter hekkies, 800-meter, 1500-meter en die myl. Die oogmerk van die regulasies is om mededinging meer billik te maak. Semenya het vroeër laat blyk dat sy op die 200-meter sal fokus, wat nie deur die regulasies geraak word nie. Jody Hendricks praat hieroor met Danie Cornelius van Tuks Atletiek.