Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 12 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur


Listen Later

“Vreugde is ernstige Hemelse besigheid.” (C.S.Lewis) 
 
Vreugde is God se handelsmerk.  Dit is waarmee God geassosieer word.  Soos Paulus in Rom 14:17 skryf, “Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”  

As vreugde God se handesmerk is; waarom lyk ons wêreld soos dit lyk? Dawid het dit ook gewonder en hy het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord” (Ps 36:2).  Opstand teen God is die teenpool van gehoorsaamheid aan God.  

“Gehoorsaamheid aan God” word in die 1953-Bybel vertaal met “geregtigheid.” (n.a.w. regverdigheid).  Ons weet dit, onregverdigheid is onbillik.  Kyk maar net hoe reageer selfs 'n kind wanneer hulle onregverdig behandel word.  Daar is dadelik trane!  

God se besigheid is regverdigheid.  Die bekendste woorde hieroor is sekerlik die Profeet Miga s'n: “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God” (Miga 6:8). Dít is hoe gehoorsaamheid aan God lyk.  Alles behalwe dit is opstand teen God.

Waar regverdigheid heers, heers vrede. Om die waarheid te sê, Psalm 85:11 sê hierdie twee – regverdigheid en vrede – loop altyd hand-om-die-lyf.   Hoor hoe pleit die volk van God:  “Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?” (Ps 85:7). Kan regverdigheid en vrede mekaar tog hier in ons lewe (in ons land) omhels nie? Sal gehoorsaamheid aan God nie weer hand-aan-hand kan loop met vreugde nie? 

Dalk is dit die enigste gebed wat ons in Advent moet bid:  “Kan U nie maar die lewe vir ons weer nuut maak dat ons vrede en vreugde kan ervaar nie, Here.”


GEBED: Here, laat ek 'n draer van U handelsmerk wees.

KUNS:  Sandro Botticelli, The Mystical nativity, 1500, National Gallery, Londen

POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent


MUSIEK:  Op Dag 12 van #AdventAvontuur kyk ons na die Drakensberg Seunskoor se pas vrygestelde musiekvideo van hulle weergawe van "The Little Drummer Boy".

Die koor skryf die weergawe is met 'n bietjie rock and roll en baie Afrika soul. Die lied is oorspronklik deur die Trapp Familie.  Die verwerking is deur die koor se direkteur van musiek,  Vaughan van Zyl.  Tristan Trent (mengingenieur), Tjaart van der Walt (instrumentasie)  en  Zakhele Nkosi (choreografie) is verantwoordelik vir die video.  Die soliste is : Wade Breedt, Khazimla Kubheka, Mish Cato en Ashim Lawson.

https://youtu.be/3NxGOsdEzVw

#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent


...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout