
Sign up to save your podcasts
Or


Thomas van Aquinas (13de eeu) was ‘n wyse man. (Immers het hy gesê, die beste raad vir jou hartseer is ‘n glas wyn, ‘n lekker warm bad, en ‘n goeie nagrus.) Hy het ook gesê dat God se bedoeling met mense was - en steeds is - om “die goeie in dinge te bewaar.” (Of, soos Paulus lank voor hom reeds geweet: “Beproef alle dinge; behou die goeie. Onthou julle van elke vorm van kwaad” - 1 Tess 5:21).
Alles wat van God kom; daarvan is ons die oppassers. (Dit leer ons uit die skeppingsverhaal: “bewoon en bewerk” beteken nie vernietigende heersers nie, wel versorgers namens God). Dit is ‘n ongelooflike gedagte: álles wat in jou gedagtes geskep word; en wat deur jou hande en woorde vorm aanneem, moet só gedoen word dat die volgende geslagte ook sal kan ontdek dat God die Goeie God is.
Met reg is (die meeste) mense in ons land geskok oor al die korrupsie! (Aquinas het gesê, “mense wat níé kwaad word oor onreg nie, pleeg self onreg.”) Dalk moet ons met dieselfde skok en afkeer nadink oor die “korrupsie van ons denke”? Of die “korrupsie van ons selfsug”! Mag ons tevrede wees met ‘n lewenstyl van “maar okay’erig?” Of is dit werklik my passie om álles wat ek doen as “die beste” (vir God) te doen. Omdat God vir my “die beste” gee om in te woon en te werk.
Toe Petrus met Kornelius praat het hy gesê dat Jesus rondgegaan het en oral “goeie werke” gedoen het. Dieselfde Heilige Gees wat die krag vir Jesus se goeie werke was (Hand 10:38), het die vrug van goedheid (Gal 5:22) in ons nagelaat.
Vind vandag jou inspirasie oral waar jy goedheid van mense beleef. Daar ontdek jy afsplitsings van Die Goeie God.
GEBED: Goeie God wat oral om my sigbaar is – maak my U afsplitsing sodat ander U in my kan ontdek.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 29 van ons reeks #Herbesoek luister ons na “I'll walk with God” gesing deur Marvin Kernelle met Erik Dippenaar as orrelis by die St. Andrew's Presbyterian Church, Somersetweg, Kaapstad.
Uit die liriek:
I'll walk with god
From this day on
His helping hand I'll lean upon
This is my prayer my humble plea
May the lord be ever with me
https://youtu.be/axKEmfwLD2A
Charles Spurgeon, die groot 19de eeuse teoloog, het geskryf,
“Sonder die Gees van God kan ons niks doen nie;
ons is soos skepe sonder wind of waens sonder perde;
soos takke sonder sap, is ons verdroog;
soos kole sonder vuur, is ons nutteloos;
‘n offer sonder die offervlam."
'n Maand in die nuwe jaar in en ons sien dit reeds om ons: mense wat “soos takke sonder sap” is. Ons sê dit soms selfs (veral so aan die begin van 'n jaar): “As ons nou reeds so voel, hoe gaan ons teen die einde van die jaar voel?” Vir sommige is die oorwerktheid al reeds 'n risiko; ander dobber weer rond met 'n doelloosheid. Passieloos – “kole sonder ‘n vuur.” Ons raak maklik slawe van die lewe (wat nie maklik 'n “nee” wil aanvaar nie). Maar, daar is 'n erger slawedrywer: wanneer daar niks is om voor “ja” te sê nie. Beide veroorsaak by mense neerslagtigheid.
Nie een van hierdie toestande kan die werk van die Heilige Gees wees nie! Dit is die Heilige Gees wat ons inspireer om na ons stil binnekamers te gaan waar ons onsself afsonder om voor God te buig. Nooit kan ons so besig wees dat ons nie tyd het vir “tot-bedaring-kom” voor God nie. Gelykertyd is dit die Heilige Gees wat ons inspireer om van die rusbank af op te staan, en gewapen met ‘n handdoek, voete te gaan was van hulle wat moeg is.
“Weerhou my van 'n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys,” bid die psalmdigter in Psalm 119:37. Dit is die gebed van ‘n mens wie se knielbankie van sy binnekamer blink deurgeslyt is, want so leer jy God se Stem ken. En dan opstaan en die deur oopstoot: gereed om lief te hê.
GEBED: Inspireer my, Heilige Gees, om “nee” te sê vir die verkeerde en onnodige dinge en “ja” te sê vir die regte en die nodige.
KUNS : Linda S. Schmidt, Pentecost, 1991. Kwiltwerk
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 28 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die liriekvideo van MercyMe se lied “Even If”.
Uit die liriek:
They say sometimes you win some
Sometimes you lose some
And right now, right now I'm losing bad
I've stood on this stage night after night
Reminding the broken it'll be alright
But right now, oh right now I just can't
It's easy to sing
When there's nothing to bring me down
But what will I say
When I'm held to the flame
Like I am right now
I know You're able and I know You can
Save through the fire with Your mighty hand
But even if You don't
My hope is You alone
https://youtu.be/7Z6mS_BHxg8
‘n Lewe bruisend van geloof. Of, stel dit anders: 'n geloof bruisend van lewe. Daarvoor is ons bedoel. Nie om die wêreld met ons geloof te “bepreek” nie, maar om die wêreld vanuit ons geloof te “bedien.”
Godsdiens het vir baie mense te make met “reg” doen, of “reg” lewe. Maar, jy kan reg lewe (m.a.w. niemand skade aandoen nie), en steeds impliseer dit nog nie dat jy hulle lief het nie (aldus 1 Joh 3:18-19). Wanneer “reg” en “verkeerd” jou fokus is en nie liefde nie, raak godsdiens maklike ‘n ideologie. Dit verdeel die wêreld in “ons” en “hulle.” Dit is hoe dit gebeur dat iemand soos 'n Gandhi kon sê, “Ek hou van julle Christus; maar ek hou nie van julle – die christene – nie. Was julle maar soos die Christus wat julle verkondig…”
Só beskryf Paulus die lewe van 'n Christen: “in Christus Jesus (is) ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef 2:10). Wat ons glo en hoe ons leef kan mekaar nie weerspreek nie! Die twee is interafhanklik van mekaar. Ek is 'n christen, daarom wy ek my aan goeie werke. Nie omdat ons dink God ons dan liewer sal hê nie; maar juis ómdat God ons liefhet. Omdat God barmhartig is, is ons ook die versorgers van hulle wat barmhartigheid nodig het. Omdat God onreg nie verdra nie; staan ons ook op daar waar onreg in die samelewing gepleeg word. Soos Jesus, is ons liefde ook nie net woorde en lippetaal nie, maar word dit met die daad bewys, dan in opregtheid. Dit is die bewys dat ons “aan die ware God behoort” (1 Joh 3:18-19).
Godsdienstige mense, daarvan het die wêreld báíe. Maar nooit genoeg van mense wat hul lewe wy aan die goeie dade waarvoor hulle bestem is nie.
GEBED: Here, mag ek vandag my beste self vir U wees. Al meer, en al meer deur U Gees.
KUNS : Andrea Büttner, “Dancing Nuns”, 2007
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 27 van ons reeks #Herbesoek luister ons na “Offer” deur Deon Meiring.
Uit die liriek:
As jy my siel uit trek
En sien hoe splinter ek
Kyk hoe is my swak plekke gevlek
Daar's plek heers wat my breekbaarheid bedek
Maar ook verkondig
Versigtig waar jy raak ek val dalk uit mekaar
So is ons almal maar of so hoor ek
Sal ek my oë oop maak die balk weer kleiner saag
En brandhout daarvan maak om my blinde kol te offer
https://youtu.be/VZtDqf7LI3A
“God wil my nie spoggerig hê nie – God wil my nuut hê”, só skryf Nadia Bolz-Weber, 'n Lutheraanse predikant in die VSA. Ons hou van spoggerig: dit lyk soos paleise en *****hotelle – nie soos kripgeboortes nie. Soos suksesvolle televisiepredikers - nie soos angsbevange dissipels wat hulle Rabbi verraai nie.
Maar, wanneer God nuut maak, dan vryf God nie blink nie. God verander! Soos Bolz-Weber skryf, “Nuut-maak is morsig: dit lyk soos alkoholiste wat herstel” (en sal sy nie weet nie; immers is sy self ’n gereabiliteerde alkoholis wat ’n pastor geword het). “Nuut is die ding wat ons nooit sien kom het nie - nooit eers voor gehoop het nie - maar uiteindelik is dit alles wat ons nodig gehad het," verduidelik sy.
Nuut lyk soos ’n land wat bloedneus-geslaan word deur politici, maar waar die mense “op straat” met liefde na mekaar kyk. Dit lyk soos gewone mense wat slaggate reg maak – al hoef hulle nie; selfs in woonbuurtes waar hulle self nie eers bly nie. Nuut lyk soos vyande wat mekaar leer ken en vrede met mekaar maak.
Jesaja het reeds eeue gelede daaroor geprofeteer: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom…” (Jes 43:18-19).
Dit vra geloof om nuutheid te visualiseer. Veral waar dinge nou nog vir jou donker lyk en jy net aan God se belofte kan vashou.
God is in die “Besigheid van Nuwe Dinge Doen.” Ons is God se advertensieborde, want, soos ons ou mens saam met Jesus begrawe is; is ons nuwe mens saam met Hom uit die dood opgewek (aldus Rom 6:4).
Ons sien maklik die verkeerde dinge om ons raak. Mag ons oë oopgaan ook te sien dat God reeds besig is met vernuwing!
GEBED: Heilige Gees, maak van my 'n lewende advertensiebord vir die God van Nuutheid.
.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 26 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die video-opname van “Go The Distance” deur die One Voice Children's Choir.
Uit die liriek:
I have often dreamed of a far off place
Where a heroes welcome would be waiting for me
Where the crowds will cheer when they see my face
and a voice keeps saying this is where I'm meant to be
I'll be there someday I can go the distance
I will find my way if I can be strong
I know every mile would be worth my while
When I go the distance I'll be right where I belong
https://youtu.be/5xhDdTiHKoE
Francis de Sales was 'n Biskop van Geneve uit die 16de eeu. In 'n tyd waar daar sterk en rigiede reëls en regulasies vir die samelewing was, was hierdie Biskop bekend daarvoor dat hy die kerkleiers aangemoedig het om met 'n sagmoediger hart met mense te werk. Dit is hy wat die sinnetjie - “Blom waar jy geplant is” – gevestig het. “Wees die beste self wat jy kan wees; én wees dit op jou beste,” het hy mense aangemoedig.
Dit klink amper soos ’n meme wat jy op ’n koffiebeker kan vasplak. ’n Goedvoel-sinnetjie. Die probleem met hierdie tipe wyshede is dat dit mooi klink, maar dat jy dit net so vinnig weer vergeet. Dit was nie hoe Francis de Sales dit bedoel het nie. Volgens hom kan net mense wat “hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig” het (aldus Gal 5:24) werklik hul beste self wees. Wat Paulus die gemeente van Galasië geleer het, is dat jy nie jou “beste self” sal kan wees as jy nie aan Christus Jesus behoort nie. Alles wat jou daarvan weerhou om “soos Christus Jesus” te leef, was jou nie waardig nie! Hoor hoe stel Paulus dit: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie” (Gal 5:16).
Self kan jy nie jou eie lewe laat blom nie. Net die Heilige Gees maak van jou lewe 'n blomtuin. Waar die vrug van die Heilige Gees die blomme laat blom met soeter reuke as enige roos of lelie of jasmyn. Geen aroma kan die aroma ewenaar van “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Gal 5:22) nie.
“Wees die beste self wat jy kan wees!” Leef soos jou Jesus Christus!
GEBED: Here, mag ek vandag my beste self vir U wees. Al meer, en al meer. Dankie dat U Gees dit vir my moontlik wil maak.
KUNS: Paulus, Rembrandt (1633)
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 25 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na Maren Morris se lied “Humble Quest”.
Uit die liriek:
I’m on a humble quest
And damn I do my best
Not gonna hold my breath
‘Cause I still haven’t found it yet
No I still haven’t found it yet
https://youtu.be/ZRM4oq0auaU
Onlangs skryf iemand vir my (n.a.v. Psalm 23): “’n Pessimis is iemand wat glo die beker is halfpad leeg; ’n optimis glo weer die beker is halfpad vol; ’n wyse mens weet sy beker loop altyd oor”.
Optimiste is mense wat op die positiewe moontlikhede van ’n situasie fokus (m.a.w., daar is altyd 'n silwer randjie, ongeag hoe donker die wolk is). Pessimiste sien hoe donkerder die wolk nog kan raak. Beide optimis en pessimis hou die situasie fyn dop; maar nie een gaan moue oprol om dinge te verander nie. Hoopvolle mense leef nie met die verwagting dat dinge – eendag – dalk beter (of slegter) sal gaan nie. Hoopvolle mense leef met die wete dat híérdie oomblik aan God behoort, ook dat ons medewerkers van God wat nóú verandering wil bring, nie eers eendag nie.
Optimisme is goed. Hoop is beter! Optimisme kan verdwyn as dinge nie verbeter nie. Hoopvolle mense fokus nie op die omstandighede nie. Wanneer Moses met Josua en die volk praat, vertel hy vir hulle dat daar moeilike tye voorlê. Die Beloofde Land wag om ingeneem te word. Oor-en-oor sê Moses, “Moenie bang wees nie!” (So, asof hy eintlik wil sê julle het alle rede om bang te wees). “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir die Amoriete skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie”. Dan weer, “Wees sterk, wees dapper!” En weer, “Moenie bang wees nie, moenie skrik nie” (Deut 31:6-8).
Soms wil ons hê dat die legkaart se stukke net “sommer-so” perfek moet inpas, anders verloor ons belangstelling. Maar as jy iets wil verloor, verloor eerder jou optimisme as jou hoop! Want, met optimisme vertrou jy op omstandighede wat moet verbeter. Hoop is wat jy nodig het om op God te vertrou!
GEBED: Dankie dat ek aan hoop kan vashou, my Here!
KUNS: Moses en die brandende bos, 6de eeuse mosaïek, Basiliek van San Vitale, Ravenna, Italië
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 24 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die video-opname van “You've Already Won” deur Shane & Shane."
Uit die liriek:
There’s peace that outlasts darkness
Hope thats in the blood
There’s future grace thats mine today
That Jesus Christ has won
So I can face tomorrow
For tomorrow’s in Your hands
All I need you will provide
Just like you always have
https://youtu.be/sM0ovt_nbd4
Die Brenthurst Stigting het in 2021 'n opname onder Suid-Afrikaners gedoen en gevind dat slegs 36% van hulle hoop het vir die toekoms. Ook is ons tiende op die ranglys van lande waar mense hul eie lewens neem. 'n Derde daarvan is onder ons tieners. As hierdie statistieke waar is, is ons werklik moedeloos en uitsigloos. Toekomslose mense op 'n ashoop. (Waar sou jy jou kruisie getrek het, as die vraelyste by jou sou geland het?)
My groot probleem met hierdie bevindinge is dat 79.7% mense (ook aldus die statistieke) hul kruisie by “Christen” trek. Iets pas nie lekker nie! So min mense met hoop, en die meerderheid van hulle moet dan christene wees? Onmoontlik! Is ons dan nie juis die verteenwoordigers van Hoop nie? Besit ons nie 'n "vrede wat alle verstand te bowe gaan" nie? Is ons nie Paasfeesmense nie?
Soms praat ons oor hoop asof dit iets is wat ons in "aaklige" tye moet deurdra; amper soos 'n reddingsboei op 'n rowwe see. Maar hoop is véél meer! Hoop is gegrond op 'n onfeilbare belofte. Die vraag is nie of jy hoopvol is nie; die vraag moet wees: glo jy die Beloftemaker?
Hoopvolle mense kyk nie die slegte dinge om hulle mis nie. Inteendeel! Hulle sien júís raak! Maar hulle draai nie hulle rug op dit wat verkeerd is nie. Dit is juis hulle wat help aan die heelmaak van 'n stukkende wêreld omdat dit God se wêreld is. Hoop is onblusbaar omdat dit deur die Heilige Gees aangesteek is.
Hoopvolle mense bid daagliks vir mekaar en vir hulself die seëngebed van Rom 15:13, "Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!"
Soos ek dit vandag vir my en jou ook bid!
GEBED: Here, maak ons hoop ook al sterker deur die krag van die Heilige Gees.
KUNS: “Lesse van gehoor” toon 'n jong vrou alleen in 'n skaduagtige huishoudelike ruimte wat aandagtig luister na die Gees. 'n Kruisbeeld en 'n ikoon van die Maagd en Kind hang bo haar aan die muur. Lessons of Hearing, 2021, fotokuns deur Poolse kunstenaar Laura Makabresku.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 23 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die video-opname van "Way Maker" deur Jeremy Riddle en Priscilla. Dit is ’n opname by ’n stadionkonsert in Brasilië.
Uit die liriek:
You are here
Moving in our midst
I worship you
I worship you
You are here
Working in this place
I worship you
https://youtu.be/miPSimQa1DY
Een van my goeie vriende – 'n uiters kranige tuinier – woon in Engeland. Ek vra gereeld vir hom foto’s van sy (werklik besonderse) tuin. Natuurlik, in my domheid, vra ek dit weer die anderdag, waarop hy my inlig dat daar niks in die tuin is om te wys nie. Dit is mid-winter en die wêreld lê dik toegevou onder die sneeu. Maar toemaar, sê, wag geduldig, dit is hierdie sneeu wat juis vir 'n mooi tuin gaan sorg.
Daardie woorde “wag geduldig” het my laat nadink. Hoeveel keer mis ons nie die “rykdom” van die wintertyd nie in ons lewens nie. Tyd om te wag en te dink. Ongeduldige mense gryp maklik in en dink hulle moet self 'n situasie red. Sulke mense verleer om soos Dawid te sê, “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!” (Ps 27:14, 1953-vert). Ongeduldige mense probeer die ysige ongemak van die lewe vinnig “uitsorteer.” En tog is dit juis die ysige koue fronte in die lang winterslaap wat die saad in die grond laat ontkiem om te kan groei.
Dalk het jy ‘n begeerte dat iets in jou lewe moet gebeur. Dalk bloot dat jy weer geloofsvreugde kan ervaar; of dat die pyn en trane, dalk teleurstelling, weer in vreugde kan verander; dalk bloot om weer hoop te vind. Moenie ophou wag nie, want wag bied jou die kans om te ontdek: “Slegs as julle julle bekeer en julle vertroue in My stel en rustig op My wag, sal julle gered word. Julle krag lê daarin dat julle stil op My vertrou.” (Jes 30:15a – Die Boodskap)
Soos Pete Greig geskryf het, "Soos ek op God wag, so wag God op my; God wag om te sien of ek regtig vir Hóm wag, en nie net dinge van Hom wil hê nie."
GEBED: HEMEL-VADER, op U alleen is my vertroue, en op U alleen wag ek.
KUNS: “Wag op God” www.fineartamerica.com
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 22 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die musiekvideo van Ons Lieflinge se uitvoering van “Die Here Wag Reeds Daar” soos opgeneem by die Shack in Pretoria, 2017.
Uit die liriek:
Moenie bang wees vir môre nie
Elke nuwe dag het son
Môre bring dalk engele
Môre draai als om
Moenie wegraak in gister nie
Hou aan glo en hou aan hoop
En as jou hart nie langer kan nie
Laat die Here voor jou loop
Jy gaan seer kry in jou lewe
Jy gaan baie lesse leer
Jy moet weet daar is 'n rede
Dat die Here dit nie keer
As jy voel of jy alleen is
En jou skippie doelloos vaar
Moenie bang wees vir môre nie
Want die Here wag reeds daar
Nie almal hoef te weet nie
Net jy hoef te verstaan
Omdat die ware waarheid
Met God se spore gaan
https://youtu.be/j6761s0LsuE
RUDI CLAASE & CHARNÉ HUGO
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
From the publisher's feed