Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 21 van Meditasie-reeks #Herbesoek

    Ons ry almal wipplank in ons geloof.  Daar is tye van heldere sekerheid; selfs braafheid.  Dan is ons soos Tomas wat ander kan aanmoedig.  Johannes vertel dat, toe die dissipels bang was toe Jesus sê hulle moet teruggaan Judea toe om vir Lasarus te gaan opwek, was dit Tomas wat hulle aangemoedig het om saam te gaan.  Hoor hoe protesteer die dissipels: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en nou gaan U weer daarheen?” (Joh 11:8).  Waarop Tomas antwoord, “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe” (v16).  

     

    Ander kere moet ons eerlik bely, ons weet bloot net nie! Ook soos Tomas.  Dit is hy wat, net soos die ander, nie verstaan wat Jesus bedoel het toe Hy sê, "Julle moet nie ontsteld wees nie. Ek gaan om vir julle 'n plek voor te berei" (Joh 14:1-4). Maar, waar die ander stilbly, het Tomas dadelik gevra: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken” (Joh 14:5).  Ons mag vrae vra; want kyk hoe lei hierdie vraag tot een van die belangrikste geloofswaarhede, toe Jesus antwoord:  "Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (v6). 

     

    En dan is daar tye van halstarrige ongeloof! Wanneer die dissipels getuig dat hulle die opgestane Jesus gesien het, weier Tomas om te glo.  Bring die bewyse! (Aldus Joh 20:15.) Sonder om 'n masker op te sit is hy bloot eerlik oor sy ongeloof.  In plaas van om hom te verwerp (wat seker sou kon gebeur), verskyn Jesus aan hom, hou sy wonde uit en sê, “voel dan self, Tomas!”  

     

    Dalk moet ons meermale die masker afhaal en bloot eerlik wees! Want dit is wat daartoe gelei het dat Tomas kon uitroep, "My Here en my God” (v28).  Wat 'n getuienis:  nie net die Kurios (“Here”) nie, maar God self!

     

    GEBED:  Here, soos 'n Tomas roep ek ook uit, kom my ongeloof tegemoet.  

     

    KUNS:  Die ongeloof van Saint Thomas deur Caravaggio, 1602

     

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

     

     

    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag

     

     

    MUSIEK:  Op Dag 21 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die musiekvideo van die Nederlandsegroep Sela se nuwe lied “Gods verhaal gaat door”.

     

     

     

     

    Uit die liriek:

     

     

    Als onze wegen leiden 

    naar een nieuwe horizon,

    zal God zijn trouw bewijzen;

    Hij houdt vast wat Hij begon.

    Ook straks als onze paden

    niet langer samengaan;

    wij blijven diep verbonden

    in zijn Geest en in zijn Naam.

    Gods verhaal gaat door;

    Hij geeft een nieuw begin.

    Zo stappen wij de toekomst in.

    Gods verhaal gaat door;

    samen zingen wij

    met een hart vol dankbaarheid.

     

    https://youtu.be/TfKhZJkE1tk

     

    4 min
  • Dag 20 van Meditasie-reeks #Herbesoek

    Dit is 'n gegewe dat ons in hierdie jaar wat voorlê in ongemaklike storms gaan beland (ons noem dit bloot “die lewe.”) Die waardevolste les wat ek reeds as 'n klein dogtertjie geleer het was hoog in die lug:  my pa het 'n vlieglisensie gehad vir 'n ligte vliegtuig.  Etlike kere het ons in 'n storm beland wat vir ons passasiers soos 'n ewigheid gevoel het.  Waar jy kyk is net donker donderwolke; maar oor-en-oor het my pa herhaal: “ons kyk nie na die wolke nie; ons vertrou die vliegtuig se instrumente.” So het ek geleer, jy kom nie deur ’n storm danksy jou eie vaardighede nie; jy herroep alles wat jy geleer het.    

    Elke keer wanneer een van die profete ’n boodskap van hoop aan die volk gegee het was dit omdat hulle hulself juis in ’n situasie bevind het waar hulle moes kies: óf vrees gaan hulle verlam;  óf hulle kan die beloftes vertrou.  Vrees neutraliseer vertroue!  Vrees laat jou of in jou eie vermoë twyfel, of dit laat jou te veel op jou eie vermoë fokus.  Vrees maak van ’n slegte situasie ’n ondraaglike situasie.  Dit ontneem jou jou perspektief.

    Dit is in sulke situasies waar dit jou werklik baat om die Skrifbeloftes goed te ken!  My spirituele begeleier het altyd gesê, “Die Heilige Gees kan jou net herinner aan iets wat jy al gehoor het.” Hoe beter jy die Woord ken, hoe helderder kan jy dit in daardie oomblik wanneer jy dit nodig het, herroep.  Dawid het dit ook geweet, daarom bid hy: “Al oorval angs en benoudheid my, in u gebooie bly ek my verlustig” (Psalm 119:143).

    Vertrou die instrumente! Of soos die Spreukeskrywer dit stel, “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie” (Spr 3:5). Dit sal jou deur die storms begelei.
      
    GEBED: Here, soms is alles om my donker.  Dankie dat ek na U toe kan kom daarmee. 

    KUNS: Die storm op die See van Galilea is 'n olie-op-doek-skildery uit 1633 deur die Nederlandse Goue Eeu-skilder Rembrandt van Rijn. Dit was voorheen in die Isabella Stewart Gardner-museum in Boston, maar is in 1990 gesteel en word steeds vermis.

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op Dag 20 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die liriekvideo van Dewald Wasserfall se treffer  "Jy is die storm".


    Uit die liriek:

    Wees die lig
    Diep in die nag
    Want daar’s soveel wat vir hoop lê en wag
    Kom wys die pad
    Oor die berge
    Want op eie einde van die dag het ons mekaar
    En die storm sê hy gaan vir jou verniеl
    Daar gaan niks oorbly
    Nie eers n stukkie siel
    Maar jy moеt weet
    Jy is die storm (Jy is die storm)

    https://youtu.be/_FJhINkVCyQ

    4 min
  • Dag 19 van Meditasie-reeks #Herbesoek

    Net gister skryf ek oor vreugde, en vandag kry ek kennis van buitengewone hartseersituasies in twee (nie-verwante) gesinne se lewens. En dit wil my dadelik weer oor klaaggebede laat nadink.  

    Bykans ’n derde van die Psalmgebede gaan oor kla!  Hoeveel van ons kan nie assosieer met hierdie woorde nie:  “Ek is heeltemal gedaan. U laat al u golwe oor my breek. Hoe lank nog, Here! Hoor tog my hulpgeroep”(Ps 6:4).

    Walter Brueggemann het eenmaal gesê, daar is drie soorte psalms, presies soos daar drie lewenstoestande ook is:  psalms van oriëntasie (daardie tye waar ons bloot op gladde water vaar); psalms van disoriëntasie (daardie tye van ruwe storms en hulpkrete) en reöriëntasie (al het alles verander, sien ons weer kans om aan te gaan).  

    Dit is juis in die disoriëntasietye waar ons die eerlikste gebede bid; omdat ons – soos Jakob – met God worstel.  Selfs die Heilige Gees is sugtend in die disoriëntasietyd, en roep namens ons om uitkoms (aldus Rom 8:26).

    ’n Klaaggebed impliseer nie ’n gebrek aan geloof nie.  Geloof is nie om dapper te wees nie.  Geloof word gebore daar waar ons juis nie weet nie. Maar een ding weet ons wel, ons weet daar is Een Wat Weet.  

    Jy mag die waagmoed van terugpraat by God hê.  Dit is veral mense wat ’n lang pad reeds met God stap wat kan neersak en sê, “My God, o my God. Nee!” 

    Wie sou nou ooit kan dink dat klaagliedere ook troosliedere is.  Tog is dit wat gebeur met die mens wat bereid is om eerlik by God te gaan kla.  Dit bring verligting.   

    Jy mag dalk in 'n “tyd van oriëntasie” wees, maar gaan kyk om jou en sien die geweldige storms wat ander mense se lewens oorweldig.  Word jy die een wat by God pleit om sy arms oor die storms uit te steek soos Jesus van ouds.


    GEBED: Here, soms is alles om my donker.  Dankie dat ek na U toe kan kom daarmee.

    KUNS: “Psalm 6” (1694) ’n etsdruk deur die Frans gebore Brit,  Louis Chéron. 
     
    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op Dag 19 van ons reeks #Herbesoek luister ons na die groep Poor Bishop Hooper se Psalm 6.

    Uit die liriek:

    But the lord has heard the sound of my weeping
    the lord has heard my cry for his help
    the lord accepts my prayer no matter how its broken
    the lord will make my enemies turn and run


    Poor Bishop Hooper bestaan uit Jesse and Leah Roberts.

    https://youtu.be/UoZA_EwtYB4

    4 min
  • Dag 18 van Meditasie-reeks #Herbesoek

    Die profeet Nehemia beskryf een van die grootste feeste waarvan ek nog ooit gelees het:  “Met die oog op die inwyding van die muur om Jerusalem is die Leviete oral in hulle woonplekke opgespoor en na Jerusalem toe gebring. Hulle moes die inwyding feestelik vier met lofliedere en met die musiek van simbale, harpe en liere.  Die sangers is ook bymekaargebring ... Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly God het hulle groot blydskap gegee. … Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor”  (uit Neh 12:27-43).

    Ons kom pas uit een van die grootste feestye van ons kerklike jaar:  Kersfees.  Ons is ook vinnig besig om na die allergrootste feestyd te beweeg – Lydenstyd wat uitloop op Paasfees.  Maand na maand hoor ons in ons gemeentes, met die gebruik van die nagmaal die woorde:  “hier is My liggaam, neem, eet en dink daaraan en glo” (1 Kor 11:23-26).  Geen offer kan groter vreugde as dit verskaf nie! G'n wonder in Engels is die woord vir nagmaal “eucharist” nie:  'n goeie geskenk (of “eu” + “charis”). Die dankbaarheidsfees oor die groot genade. Dankbaarheid oor die goeie geskenk.

    Die grootste kenmerk van Christene is sekerlik dat hulle dankbare mense is! Hier is een van ons geloofsbeginsels:  dankbaarheid vloei die sterkste wanneer ons wortels  in die wortels van Christus vasgroei.  So sê Paulus:  “Aangesien julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul” (Kol 2:6-7).

    Dit is altyd vir my betekenisvol dat ons nie net aangemoedig word om te “bid sonder ophou” nie, ons word ook aangemoedig om “altyddeur bly te wees” (1 Tess 5:16-17). Biddende mense staan van hul knieë af op as blymoedige mense. Mense met rede om groot fees te vier. Meer selfs as in Nehemia se dae!

    GEBED:  U gee álles. Ek gee my dankbaarheid, Here.

    KUNS: Illustrasie uit die 13de eeuse Morgan Bybel van Dawid wat die ark na Jerusalem gebring het.

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op die Dag 18 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die liriek-video van Chris Tomlin se lied  “Jesus Messiah”.

    Uit die liriek:


    His body the bread, his blood the wine
    Broken and poured out all for love
    The whole earth trembled, and the veil was torn
    Love so amazing, love so amazing, yeah
    Jesus Messiah, name above all names
    Blessed redeemer, Emmanuel
    The rescue for sinners, the ransom from Heaven
    Jesus Messiah, Lord of all

    https://youtu.be/tdxSC1tHJn0

    4 min
  • Dag 17 van Meditasie-reeks #Herbesoek

    Iemand het eenmaal gesê, “Tyd alleen saam met God is nooit tyd alleen nie.”  Ek het dit onlangs ervaar.  Erens het ek die GPS se leiding verkeerd gehoor, en voila, daar land ek op ’n grondpad – reg deur die Karoo (of so het dit gevoel!)  Aanvanklik was ek doodsbenoud, en skielik het die woorde van Paulus by my opgekom:  “God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” Ek het ’n keuse gehad:  óf ek bly angstig, óf ek gee myself aan die ervaring oor, ontspan en geniet die omgewing.  Elke kilometer raak ’n loflied!   Die woorde word my “mantra”:  wonderbaarlike rykdom… wonderbaarlike rykdom…


    Daardie aand het ek die teks gaan opsoek:  “Dit gaan nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. … Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen” (Fil 4:17-20).
     

    Jesus Christus is God se “wonderbaarlike rykdom”:  Immers sal God self, “in die tye wat kom (vir die wêreld) laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het” (Ef 2:7).  Soos Christus God se wonderbaarlike rykdom aan ons is, so is die Heilige Gees weer Christus se wonderbaarlike rykdom aan ons (aldus Hand 14:26).  Die Heilige Gees gee weer aan ons die grootste gawe van alles:  liefde (aldus 1 Kor 13:13); en dan nog boonop hoop en geloof ook!  Wonderbaarlike rykdom, inderdaad.  Jy het geen groter gawe om die wêreld te bied nie as liefde – só bied jy God self aan die wêreld.  

    Mag jou reis “deur die Karoo” jou dan ook so verras!

    GEBED:  Here, ek is ryk deur die wonderbaarlike rykdomme wat U aan my skenk! 


    KUNS: “Faith, Hope, Love” (1995) deur Alexander Pechatnov in olie op doek.

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op die Dag 17 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die musiekvideo van die “He’s got the whole world in His Hands” deur die Stellenbosch Universiteitskoor. Die verwerking is deur Cedric Dent en die koor is onder leiding van André van der Merwe.

    Uit die liriek:

    He’s got the whole world in his hands.
     He’s got the wind and the rain in his hands.
    He’s got the little bitty baby in his hands.
    He’s got you and me sister in his hands.
    He’s got ev’rybody in his hands.
    He’s got the whole world in his hands 
    https://youtu.be/slI2wbv98Lw

    4 min
  • Dag 16 van Meditasie-reeks #Herbesoek

    Dit bly ’n wonderwerk dat ’n klaaglied ’n loflied kan word, veral omdat ’n klaaglied gebore word in doodloopstraat-omstandighede. 

    Doodloopstraat-stories hoor ons gereeld om ons: Suid-Afrika is ’n doodloopstraat-land. Of waar daar eens oor ’n lang-en-gelukkige huwelik gedroom is, eindig die romanse in ’n doodloopstraat.  Broodwinners wat in die laaste jare oorbodig verklaar is weet presies hoe hierdie doodloopstraat voel.  Voor jou lê ’n berg met 'n dik donker wolk daaroor – hoe gaan jy daaroor kom? Alles het in duie getuimel. 

    Ek leer in die Psalms dat klaagliedere en lofliedere pasmaats is. Dink aan Psalm 30:12, “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.”  Geen mens kan die soet smaak van vreugde waardeer sonder om nie soms die aalwynbitter van pyn en teleurstelling ook te moet sluk nie. 

    'n Klaaglied kan net gebid word wanneer 'n mens raaksien wat om jou gebeur.  Dit vra dat jy met oop oë leef – veral om oor ander se pyn namens hulle te kla.  Dit is ook so interessant hoeveel klaagliedere ook woede-emosies beskryf:  “Here, wanneer gryp U dan in. Doen tog nou iets, Here!”

    Klaagliedtye dwing ons wortelstelsel om al dieper in geloofsgrond in te groei tot dáár waar die belofte van water is.  Ja, die vaskyk in die uitsigloosheid van doodloopstrate kan mense hul van geloof beroof as hulle nie ook die beloftes van uitkoms kan vertrou nie.   Dit is dan dat jy jou klaagliedere eerder na mense by die braaivleisvure neem om daar te wil oplos.  Steen en been kla ons.  Teen die einde van die aand is ons goed opgesweep oor alles wat sleg is.  Behalwe, dat ons mekaar se klaagliedere nooit self in dankliedere kan verander nie. Maar neem dit na God toe, dan sien jy wat gebeur…    


    GEBED: Here, kyk ek om my ween ek oor alles wat verkeerd is.  Dankie dat ek by U mag kom kla daaroor.      

    KUNS: “Jehova es mi luz” (Jehovah is my lig), San Blas-eilande, Panama, 1980's. Omgekeerde borduurwerk.


    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op Dag 16 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na Louis Brittz se musiekvideo “Psalm 30 – Feesklere”.

    Uit die liriek:

    Ek het benoud U hulp gevra
    U het my deur die nag gedra
    En U’t genade my betoon
    O Here, heilig
    U het my rouklere uitgetrek, my feesklere aangetrek
    Daarom sal ek sing vir U, sal ek nie stilbly nie
    My rouklere uitgetrek, my feesklere aangetrek
    Daarom sal ek hulde bring
    Daarom sal ek aanhou sing


    https://youtu.be/HP7hcz1_DbE

    4 min
  • Dag 15 van Meditasie-reeks #Herbesoek

    Dit is dalk goed om in die begin van die jaar na te dink oor gebed. Gebed is ons lewensaar na God toe!  

    Die Psalms was Jesus se gebedeboek.  Daarin vind jy vir elke liewe situasie 'n gebed.  In die Psalms leer jy dat al wat van jou gevra word, is eerlikheid!  Eerlikheid oor jou omstandighede en eerlikheid oor jou emosies.  Oor enige-iets kan gebid word.  Daar is nie beperkinge of jy gebede saam met mense kan bid, en of dit alleen gedoen kan word nie.  Sommige gebede is openbare gebede (byvoorbeeld tydens ’n erediens).  Sommige word namens iemand gebid wat voel asof hulle nie meer kan bid nie.  ‘n Sterfbed-gebed is net so kragtig soos ’n gebed by ’n geboorte.  Daar is klaaggebede en dankgebede; voorbiddingsgebede en aanbiddingsgebede.  Daar is gebede wat deurnag-lank gebid word, en dan is daar ook ’n skietgebed - soos Nehemia s'n - waar jy in ’n oomblik van benoudheid na God uitroep.  Daar is die gebed wat in ’n oomblik van vrees gebore word; ook die dankgebed teenoor die Lewende God wat gehoor het.  

    Gebed het nie grense nie:  jy kan bid vir hulle in lande waar jy nooit sal kom nie; mense wat jy nooit sal leer ken nie.  Soms bestaan gebed uit woorde, ander kere uit stilte, selfs die taal-van-engele.  Soms gee jy jou kos prys, sodat jou honger jou aan God kan herinner en jy, in plaas van eet, daardie tyd sal bid. Ander kere sit jy juis by ’n etenstafel saam met jou gaste en bid.  Kniel, of hardloop, of loop in 'n reuse winkelsentrum.  Die vraag is nie die plek nie, die vraag is of jy maak soos Paulus in Efesiërs 6:18 leer:  “Doen alles wat jy doen biddend.”   

    Stop met wat jy doen, en bid eers.  Staan dan op en doen waarvoor jy gebid het!

    GEBED:  Here, waarom bid ek so min!  Maak 2023 vir my 'n jaar van bid.

    KUNS: Frederic Leighton se skildery van Dawid  (1865)

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op Dag 15 van ons reeks #Herbesoek luister ons “Gebed” deur Koos du Plessis gesing deur die Acapella koor onder leiding van Elize Rautenbach. 

    Uit die liriek: 

    Wat ek is, is net genade.
    Wat ek het, is net geleen.
    Eintlik smag ek na U waters van rus.
    Lei my Heer vanaand daarheen.

    https://youtu.be/EJni3HknnbI

    3 min
  • Dag 14 van Meditasie-reeks #Herbesoek


    Die bekende teoloog, Dallas Willard, het eenmaal grappenderwys gesê, “Min mense staan in die oggend so honger vir God op soos vir graanvlokkies, of roosterbrood en eiers.”  Is die brandende begeerte na God jou dryfveer? Soos die digter in Psalm 63:2 skryf: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water.”

     

    In Joh 7:37-39 sê Jesus, “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Net daarna verduidelik Johannes dat Jesus spesifiek hier na die Heilige Gees se uitstorting verwys het). Ons ken hierdie woorde uit Jesaja 43:1-2: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe … Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?”

     

    Die kragtige werking van die Heilige Gees is volledig tot ons beskikking. Maar, of ons van die uitnodiging gebruik wil maak om daaraan te deel, dit is ons keuse!  Jesus belowe, “Vra, en vir julle sal gegee word … Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee? As julle wat sondig is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra” (Luk 11:11-13).

     

    Dit laat my wonder presies wat is dit wat my grootste wens van God af is? Allerande dinge? Goeters? Dat dit met my voorspoediger moet gaan? Of is my verlange na God se teenwoordigheid die allesoorheersende? Om die die krag van die Gees te mag ervaar?

     

    GEBED:  Hou my smagtend na U, Here.

     

     

    KUNS:  Grafika by Soundcloud Revelationsinart Heidi Mitchell

     

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

     

     

    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag

     

     

    MUSIEK:  Op Dag 14 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na ’n musiekvideo van “Psalm 63” deur die Duitse kunstenaar Marc Burger.

     

    Uit die liriek:

     

     

    Englischer Liedtext (mit deutscher Übersetzung):

    God, you are my God

    (Gott, Du bist mein Gott)

    and I long for you.

    (und ich sehne mich nach Dir.)

    My soul desires you.

    (Meine Seele verlangt nach Dir.)

    Dry and waterless land

    (Ausgetrocknetes und dürres Land)

    my soul is thirsty,

    (meine Seele ist durstig)

    thirsty for you.

    (sie dürstet nach Dir.)

     

    Marc is ‘n student in Teologie en Musiek aan die St. Chrischona Teologiese Seminarium.

     

    https://youtu.be/rORbbeawqH8

    3 min
  • Dag 13 van Meditasie-reeks #Herkoms

    Dit gaan 'n mens se verstand te bowe dat God van mense gebruik maak om God se medewerkers te wees. Sou dit nie beter gewees het om maar van die begin af eerder engele te gebruik nie? Van die eerste bladsye van die Bybel lyk dit asof hierdie storie op 'n ramp gaan afloop, want die mens en sy vrou was duidelik nie geskik nie!  God kies bangbroek-profete (gaan kyk maar hoe hardloop Elia vir Koningin Jesebel weg). Later kies God bangbroek-dissipels (de laaste een het weggehardloop toe Jesus gevange geneem was). Paulus – wat geroep is om die Kerk te vestig - sou beslis nie ons eerste keuse gewees het nie!  

    Moeder Teresa van Kalkutta was duidelik reg toe sy gesê het, “God roep ons nie om suksesvol te wees nie; God roep ons om gehoorsaam te wees.” 


    In 1 Kor 4:6 staan daar, “God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis,’ het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” Net vir ingeval ons oorverseker voel, skryf Paulus: hierdie lig skyn vanuit ons – die breekbare kleipotte.  'n Mens sou dink dat God “beter” sou kon beplan:  is ysterpotte nie sterker as kleipotte nie?  Is kristalglase nie indrukwekkender as kleipotte nie.  Waarom dan?  Want, “die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie” (v7).  

     
    Einste Moeder Teresa het eenmaal gesê, “Nie almal is geroep om groot dinge te doen nie, maar almal is geroep om die klein dinge getrou te doen.” Bloot daar waar jy leef, of dit in Midrand of Makwassie of Malmesbury is: jy is geroep! Of jy 'n suksesvolle sake-onderneming het, en of jy sonder werk is:  laat die Lig skyn, al is daar krake in jou lewe!   God sal jou toerus, wees jy net gewillig.
     

    GEBED:  Skepper-God; dankie dat ek bruikbaar vir U is, soos ek is!



    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op Dag 13 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na ’n musiekvideo van die groep We The Kingdom se lied “Light of the World”.


    Uit die liriek:


    Light of the world
    Treasure of Heaven
    Brilliant like the stars
    In the wintery sky

    Joy of the Father
    Reach through the darkness
    Shine across the earth
    Send the shadows to flight



    https://youtu.be/tWeXVnRm6R8


    3 min
  • Dag 12 van Meditasie-reeks #Herbesoek

    Ek kan nie aan erger woorde dink as hierdie wat Naomi, die skoonma van Rut, gesê het nie, “Die Here het teen my gedraai” (Rut 1:13). Die Here kyk anderpad en sien nie meer my ellende nie! Al leer Num 6:22-24 presies die teenoorgestelde:  “Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee” (1953-vertaling). So “goedgunstig” voel God oor ons!

    Dit neem nie lank om die hele Rut-boek in die Ou Testament te lees nie.  Hoe is dit nie met deernis geskryf – juis om ander in moeilike omstandighede ook te bemoedig nie.  Dit is ’n storie wat vertel dat God baie verder beplan as hoe ons ooit sal kan begryp.  Hoe sou Naomi kon weet dat haar lewe 'n draai via Moab moes maak om daar vir Rut as ’n skoondogter te kry; en dat juis Rut met haar mede-menslikheid Naomi sou help terugkeer na haar eie mense. Hoe sou die twee vroue vooruit God se plan kon insien dat dit juis danksy Boas was by wie die twee vroue hulp sou ontvang nie.  God wat juis raaksien en nie wegkyk nie!  Nou – in die dowwe spieël – lyk die vallei soos 'n dal van doodskadu, en tog sou Naomi en Rut moes  saamstem: God is die enigste een wat in die vallei van moeilikheid 'n deur van hoop kan oopmaak. 

    Hoe goedgesind was God Naomi tog nie inderwaarheid nie.  Haar seuns het gesterf, maar sy het 'n kleinkind gekry!  Mag jy vandag hierdeur bemoedig word:  dat vanuit ’n storie wat met pyn begin het, ’n klein babaseuntjie gebore is wat later die stamvader sou wees van ’n ander Babaseuntjie wat ook gebore sou word. 

    GEBED: Here, dankie dat ek onder U vleuels kan kom skuil, soos Rut en Naomi, wetend U draai nie weg van ons nie.


    KUNS: ‘Rut en Naomi’, William Blake, 1795

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op Dag 12 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na ’n musiekvideo van die Passion-musiekbeweging  se lied “Christ Our King” saam met Rachel Halbachm.

    Uit die liriek:

    We wait for You Lord
    We wait for You Lord
    For Your justice, Your mercy
    Revival in our city
    We wait for You Lord
     
    Christ Our King
    Be enthroned, be lifted high
    Christ Our King
    Be forever glorified

    https://youtu.be/ftWREuAn1nM

    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…