Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 1 van meditasie-reeks #Herbesoek

    Wat sal jy antwoord as God op hierdie oomblik voor jou verskyn en sê, “Dit is ’n splinternuwe jaar; wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”  Moet God vir jou dalk ’n nuwe werk gee? Van ’n siekte genees?  Skielik wonder ek of God nie op al my antwoorde sal sê, “Waarom verwag jy so min van My? Is Ek dan nie die Skepper van die heelal nie?” Moes ek nie dalk eerder vir wêreldvrede vra nie; of so iets?

    In ’n droom vra God vir koning Salomo, “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” (1 Kon 3:5).  Salomo was toe nog nie die buitengewone koning nie.   Dan was hy nog boonop bang ook – dit was immers stewige skoene om vol te staan as jou pa Koning Dawid, die geliefde van God, was.  In 1 Kon 3:11 sien ons dat Salomo enige iets kon vra - ’n lang lewe; rykdom; oorwinning oor vyande. Tog antwoord hy sonder huiwering: “Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!” (v9).  Waarop God ’n belofte maak: Hy sal álles gee, plús nog meer! 

    Vir ’n koning kan ’n mens dalk nog so ’n buitengewone Godsversoek verwag; maar sekerlik nie vir “gewone mense” nie? Tog lees ons hoe Jesus hierdie presiese vraag herhaal – die keer is dit ’n blinde bedelaar:  “Bartimeus, wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Waarop hy antwoord, “Rabboeni, dat ek kan sien” (Mark 10:50-51).  

    Ek wonder bloot of beide Salomo en Bartimeus se antwoorde nie presies is wat God hoop ons ook sal antwoord nie: laat ons in hierdie nuwe jaar U met gehoorsaamheid dien. En Here, laat ons tog kan sien. Wat meer het ons nodig?

    GEBED:  Gee my die wil om U te dien; en die gawe om U te mag sien.  

    KUNS:  Genesing van die Blinde man (1871) deur die Deense kunstenaar Carl Heinrich Bloch.

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    #Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


    MUSIEK:  Op die eerste dag van ons reeks #Herbesoek kyk ons na ‘n musiekvideo met liriek van “Bly by my” deur Niël Rademan.
    Hierdie lied is 'n samevoeging tussen 'n lied geskryf deur Niël "Bly by my" en die bekende gesang "Bly by my" – met Afrikaanse lirieke. Die Aandlied, of Gesang 297, word hier voorafgegaan met 'n eie komposisie deur die talentvolle Niël Rademan. Hy het die lied geskryf en opgeneem tydens die Covid-19 pandemie grendeltydperk in Suid-Afrika: April 2020.

    https://youtu.be/9IJZSOr6Vv0

    4 min
  • Dag 31 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur

    “Vir elke kyk na jouself, kyk eerder tien kyke na Jesus.” (Robert Murray McCheyne)


    Oujaarsdag is vir ons bykans 'n heilige dag.  More verander álles.  Dit is asof ons op Nuwejaarsdag in 'n splinternuwe en skoon boek kan begin skryf.  Van skooldae af onthou ek hoe ek met 'n bewende afwagting my pen gelig het om in 'n nuwe boek te skryf.  Die eerste bladsy was die simbool van hoop.  Met my versigtigste pogings sou ek die eerste bladsy benader – my mooiste handskrif sou vir hierdie boek beskore wees! 'n Splinternuwe avontuur lê voor.

    Oujaarsdag, daarenteen, is vir terugblaai. Oujaarsdag is die dag waar die streep op die laaste bladsy van die boek getrek gaan word. Wat is die laaste sinnetjie wat geskryf sal word? 

    Paulus twyfel nie vir 'n oomblik wat sy “laaste wens” is nie.  Eintlik nie sy “laaste” nie, wel sy “enigste”.  Hy pen dit vas:  “Al wat ek wens …”.  Net één wens: “Al wat ek wens is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind ...”  Al die ander dinge – selfs daardie dinge wat ons as bates beskou - álles is gans en al waardeloos!   Asof dit nie net eenmaal gesê moet word nie, herhaal hy dit:  “ek beskou alles as waardeloos” (Fil 3:7-8).  


    Met hierdie woorde is dit asof Paulus ons uitdaag om 'n streep deur al die ander voornemens te trek.   Niks verder te skryf nie, want wat méér is daar om te sê? Is daar in die avontuur wat ons “ons lewe” noem iets wat die waarde kan oortref as om Christus Jesus, ons Here te ken?  Is daar enige groter krag waaraan ons kan vashou, as die krag van sy opstanding? 

    Nee! 

    GEBED:  Mag daar in ons geen ander begeerte wees nie as om U, die Emmanuel van Kersfees, te ken nie. Mag daar geen ander begeerte wees as om U, die Gekruisigde en Opgestane, se krag te ondervind nie.

     
     
    KUNS:   John August Swanson se sifdruk “Peaceable Kingdom” 1994. 

    John August Swanson, 'n Los Angeles-gebaseerde kunstenaar van Mexikaanse en Sweedse erfenis, sê sy styl word "beïnvloed deur die beelde van Arabiese en  Middeleeuse sketse, Russiese ikonografie, die kleur van Latyns-Amerikaanse volkskuns en die tradisie van Mexikaanse muurskilderye." In hierdie sewe-en-veertig kleur-sifdruk herspeel Jesaja 11, 'n visioen van die skepping se herstel en vrede.


    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent


    MUSIEK:  Op Dag 31 van #AdventAvontuur luister ons na  “You Will Be Found” deur Natalie Grant en Cory Asbury.


    Uit die liriek:

    Even when the dark comes crashing through
    When you need a friend to carry you
    And when you're broken on the ground
    You will be found
    So let the sun come streaming in
    'Cause you'll reach up and you'll rise again
    Lift your head and look around
    You will be found


     https://youtu.be/Hv6uytSfjmA



    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    4 min
  • Dag 30 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur

     “Die tyd is nou ryp om terug te kyk en om uit te vind waar ons vandaan kom en waarheen ons gaan. ... Die naam van die hartskamer waarheen ons moet terugkeer is ‘Onthou’ - die kamer waar ons met geduld en met deernis onthou van die lewens wat ons geleef het.” (Frederick Buechner)

    In 'n enkele jaar kan 'n mens se ganse lewe verander. Om die mooi dinge te bedink is maklik. Maar wat maak 'n mens met daardie dinge wat jy liefs wil ontken? Hoeveel keer dink ons ooit na oor die - soos die ou nagmaalformulier dit noem - “sondes van versuim”?  Ek weet nie wat die ergste is nie: om jouself nie te kan vergewe nie, of om nooit eers na te dink oor die dinge wat jy verkeerd doen nie?  

    Wat dra jy dalk die ganse jaar steeds soos 'n albatras om jou nek waarvan God jou wil bevry? Met watter bitterheid moet jy dalk vrede maak omdat dinge dalk anders uitgewerk het as hoe jy dit beplan het?  Wie moet jy dalk vergewe wat jou geskaad het? En die moeiliker vraag: vir wie het jy dalk in hierdie jaar te ná gekom?  

    Nadenke vandag gaan nie net oor die “mooi” dinge nie; maar ook oor die pynlike dinge van jou lewe. Dit is moeilike dinge om mee te worstel. Maar, dit is in ons “Onthou-Binnekamer” waar die herstel saam met God kan begin.  Die eerlik-wees oor jou tekortkominge.  Die leegmaak, en die nuutmaak begin daar.  Sodat jy daar kan uitstap, wetend, “(Nou) maak (ek) my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is” (Fil 3:13).  

    God se pad saam met ons is die vorentoe-pad. Maar ons loop dit op die nadink-pad.  Dit is die nuut-begin-pad. Dit is die genade-pad wat God saam met ons stap. 

    GEBED: Maak my hart se binnekamers oop, Here. Bring vernuwing, en skenk U genade. 


    KUNS:  “De heilige familie” (1490 – 1510) deur Lorenzo Costa in die Rijksmuseum in Amsterdam.

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    MUSIEK:  Op Dag 30 van #AdventAvontuur luister ons na die pragtige  “Gebede en Briewe”wat in November deur Deon Meiring vrygestel is as deel van ’n gelyknamige album. 

    Uit die liriek :

    Die brief hier voor my is nooit klaar geskryf nie
    Ek wonder hoekom opgevrommelde storie?
    Maar ek is nog hier met my twee bene
    Meestal gekniel
    Wat as my gebede uitdraai soos briewe?
    Onklaar geskryf en onafgelewer
    Ek weet nie hoe ver ek kan gaan op my knieë nie
    Darem is ek nie alleen nie
    Die spieël hier voor my laat my soos ‘n spook lyk
    Deursigtig en klein asof ek in glas bly
    Mag ek ook weer sterk meer as net deurskyn
    Nog steeds gekniel
    Wat as my gebede uitdraai soos briewe?
    Onklaar geskryf en onafgelewer
    Ek weet nie hoe ver ek kan gaan op my knieë nie
    Darem is ek nie alleen nie


    https://youtu.be/WqkYQUKpSaM


    Klik op dié skakel vir sy volle album:  https://album.link/i/1651247209

    Deon se musiek is ook die agtergrondmusiek vir ons potgooie van ons #AdventAvontuur -reeks. 

    4 min
  • Dag 29 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur

     “'n Gereelde inoefening van geloofsgewoontes sal ons help om, soos Augustinus gesê het, die regte goed op die regte manier lief te kan hê.” (Aangehaal uit Woestynwysheid)

    As kinders het ons met 'n klomp lewensmotto’s grootgeword wat 'n diep inpak op my gehad het.  Een was, “paadjies wat nie geloop word nie groei vinnig toe.” 'n Ander een was, “dit wat vir jou belangrik is moet jy aan werk.” Hierdie selfde beginsels is nie net riglyne vir onsself en ons verhoudings met ons medemens nie, maar ook met God.  Een ding wat ek weet, is dat dit God se begeerte is dat ons 'n diep en intieme verhouding met God sal hê; soos 'n paadjie wat oop en wyd gestap is. Maar God “boelie” niemand om die paadjie te stap nie. God gee ons altyd 'n keuse. Daarom pleit Paulus so met die gemeente van Rome: “Ek doen 'n beroep op julle, … gee julleself aan God as lewende en heilige offers … laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (Rom 12:1-2).  

    Met die beste wil in die wêreld kan ek myself nie verander nie – dít is God se werk.  Maar, God doen dit nie sonder my medewerking nie.  Gee jouself – vrywillig - en sien wat gebeur… God sal álles vir jou doen. Hou jy terug, dan mis jy uit op die grootste geskenke wat God jou wil gee.  

    Daarom sal jou beste voorneme vir 2023 wees om die raad wat Paulus vir Timoteus gee te volg, “Oefen jouself liewer om aan God toegewy te wees” (1 Tim 4:7).  (Soos die lewensmotto sê, dit wat vir jou belangrik is moet jy aan werk). Ons “oefenprogram” behels net een ding:  “Laat julle steeds meer (en meer, en nog meer) deur die Gees beheer word” (aldus Gal 5:16). 

    Oor en oor en oor. Laat God toe. Want God wil.

    GEBED: Neem U die beheer, Heilige Gees. Oor en oor en oor.
    KUNS:   Van die werk van die Leah Newton Kunsskool in die VSA. Leah gee tans kuns aan Tk-8-leerlinge by The Crocker Art Museum, in Sacramento, Kalefornië.

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    MUSIEK:  Op Dag 29 van #AdventAvontuur kyk ons na die liriekvideo van “Saggies In Die Nag” wat pas deur die groep Midpoint Worship van Oos-Londen vrygestel is. 

    Hulle skryf: “Een aand, saggies in die nag,  is ons Redder gebore. Jesus kom en word vlees om vir ons liefde te kom wys en die dood te oorwin. Nou vreesloos rus ons saggies in die nag, met die wete dat Hy by ons is, Immanuel, God is met ons, Hy IS by ons. 'n Lied in dankbaarheid vir wat ons Jesus vir ons kom doen het.”

    https://youtu.be/ZF1w6m9XUtA
    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    4 min
  • Dag 28 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur

    “Die Kersgety eggo steeds die vreugdevolle klanke van “Vrede op aarde, welwillendheid aan die mense!”  (Carol Lewis)

    Terwyl ek oor nuwe voornemens vir 'n nuwe jaar gesels het (#26), kan ons net sowel daarmee voortgaan. Baie gelowiges se begeerte is om meer tyd “saam met God” deur te bring. Tyd vir leer en nadink. Tyd vir bid en luister.  Dalk is die beste geloofsgewoonte om in te oefen vir tyd-saam-met-God juis om te onthou dat élke oomblik tyd-saam-met-God is.  Ons vergeet dit net!

    Een rede waarom die 12 dae Kersgety (of in Engels genoem, “Christmastide”: 25 Des – 6 Jan;) gevier word, is sodat ons die “zoomknoppie” van terugdink kan instel. Ons is sulke “vorentoe-mense”: sodra Kersdag verby is, begin ons gewoonlik dadelik planne maak vir oujaarsdag. Sodra dít klaar is, maak ons dadelik planne om weer met die “regte lewe” aan te gaan. Kersdag is dan lank reeds vergete. En voor ons ons oë uitvee is Januarie verby. “Waar gaan die jaar heen?” wil almal weet. En kort voor lank is selfs jou geloofsbegeerte van “tyd saam met God” vergete.

    Die Kersgety is nie verby nie! Die vreugdeklanke beier luid, sodat die eggo daarvan in jou kop voortduur.  Moenie luister afskakel nie; skakel juis aan! Die engele het nog nooit ophou sing nie: “Eer aan God. Eer aan Hom wat in die hoogste hemel bly. En vrede vir almal hier op die aarde; vrede vir almal oor wie God nou feesvier” (Luk 2:14, Die Boodskap-vert). Ons hoor net nie meer nie; omdat ons nie onthou nie!  

    Dalk kan Dawid se voorneme ook in hierdie tyd ons voorneme word: “Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins” (Ps 77:12-13).  Wat sou God hoop dat jy onthou? 

    GEBED:  Mag geen van U dade my verbygaan nie, my Here.
    KUNS:     Andrew Gadd, Bus Stop Nativity, 2008. 
    Geskilder deur die Royal Academy goue medalje wenner Andrew Gadd, "Bus Stop Nativity" beeld die Heilige Familie uit wat snags onder 'n busskuiling saamgedrom het en probeer warm bly. Sommige verbygangers kyk hulle met nuuskierigheid aan - twee kniel selfs op die sneeu sypaadjie - terwyl ander met totale onverskilligheid sake doen. Hierdie skildery is in opdrag van die Church Advertising Network in die Verenigde Koninkryk en vertoon op plakkate by meer as duisend bushaltes in Desember 2008, gedruk met die teks "Wees deel van die aksie. Kerk, 25-12." ('n Sagte provokasie om op 25 Desember 'n Kersdiens by te woon.)
    Francis Goodwin, die voorsitter van die Church Advertising Network, het gesê: "Ons is baie gewoond aan die Renaissance-beeld van die geboorte. Maar hoe sou dit lyk as dit vandag gebeur het? Waar sou dit plaasvind? Ons wil mense uitdaag om hulle te laat heroorweeg wat die geboorte van Jesus vir hulle beteken."

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    MUSIEK:  Op Dag 28 van #AdventAvontuur kyk ons na ’n musiekvideo van die Suid-Afrikaanse sanger Abel Knobel se sielsvolle weergawe van “The Father's House”.
    Abel skryf: “Hier is 'n cover wat ek gedoen het van 'n song wat my deur onstuimige tye gedra het.  Dankie Cory Asbury dat jy dit geskryf het en soveel hoop in mense se lewens gegee het.”
    Die klank is deur Abel op ’n iPhone 6 opgeneem en Hein Botha het die video met ’n  Samsung Galaxy Note 10 geneem. 

    https://youtu.be/0CnkkCd22LM

    Klik op dié skakel vir sy volle album Refleksies: https://orcd.co/abel_knobel_refleksies


    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    4 min
  • Ronell gesels oor nuwe Herbesoek-reeks vir 2023

    Ronell nooi jou uit na #HERBESOEK, 'n Meditasiereeks Vir Januarie 2023

    Waarom 'n plek 'n tweede (of selfs 'n derde of vierde keer) besoek, as daar nog soveel plekke is wat jy nog nie gesien het nie?

    Waarom 'n boek weer en weer uit die boekrak haal om te lees, terwyl daar soveel boeke is wat nog nie gelees is nie?

    My eerste gedagte hieroor is, “want ek is nie meer dieselfde mens nie.” Insigte het ervaring. Ander ervaringe laat 'n mens nuut kyk. En, natuurlik, daar is altyd iets wat jou aandag ontglip het. Amper soos 'n teksvers in die Bybel wat jy beslis voorheen al gelees het (kyk dan net, dit is selfs onderstreep), maar dit voel asof jy dit nou, vir die eerste keer, werklik raaksien. 
    Natuurlik is daar 'n ander rede ook: in 'n verbruikerskultuur word ons gemotiveer om altyd iets nuuts te ontdek. Selde gaan sit ons net om te onthou. Nóg en nóg is nie altyd beter nie… Terugblaai en nadink mag dalk net wees wat nóú nodig is.

    2023 staan soos 'n gespanne perd, trillende spiere, gereed om uit die wegspringhokke te kom. Soveel nuwe dinge om te ervaar; soveel nuwe dinge om te leer; soveel nuwe dinge om te ontdek. Maar trek net eers die leisels in. Kom ons haal eers diep asem en sê, “hokaai …” Kom ons herbesoek 'n paar ou gedagtes. Dalk het iets ons aandag ontglip.

    En dit is presies wat ons in die nuwe meditasiereeks - #Herbesoek – gaan doen. Uit die 1429 dagstukke wat ek tussen 1 Februarie 2019 en 31 Desember 2022 geskryf het, word 31 daarvan afgestof: nie “die bestes” of die “mooiste geskryf” nie, maar wel daardie wat ons dalk die meeste uitdaag; dit wat ons dieper oor ons lewens laat nadink. 

    Klik en kyk na Ronell se video-uitnodiging:  https://youtu.be/gmojTbO3d5k

    Ek nooi jou om hierdie nuwe reeks (oor ou gedagtes) vanaf 1 Januarie saam met my te volg. 31 meditasies oor 31 dae. Jy kan hierdie dagstukke of saans, of soggens per whatsapp ontvang.  Elke dagstuk word afgerond met 'n bypassende musiekstuk.  Jy kan dit ook op my webwerf, Facebook of Instagram lees, of as 'n potgooi op alle bekende potgooiplatforms soos Spotify luister. Onthou, daar is ook elke aand 'n aandgebed op Instagram en Facebook. 

    Klik hier om meer te lees oor die reeks:

    https://ronellbezuidenhout.co.za/herbesoek

    Agtergrondmusiek:  Awesome God op akoestiese  kitaar deur Pagisahen. 
    Opname gedoen by La Crêperie koffiewinkel by Tergniet

    2 min
  • Dag 27 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur


    “Baie mense weet hoe om vir ‘n feestelikheid voor te berei, maar min weet hoe om die fees te laat voortduur.”  (Anoniem)
    In die Bybel het mense eers gevas, dan gefees.  Dink aan Lydenstyd:  vir 40 dae is dit 'n tyd van nadenke, gebed en vas. En dan, op Dag 41 breek die Paassondag aan – 'n tyd van fees.  Met Kersfees is dit dieselfde:  vir vier weke berei Advent ons voor op Kersfees. (Terloops, Advent was altyd ook 'n tyd vir bid en vas!) En dán, nadat al vier die kerse gebrand het, word die vyfde een uitgehaal - al die ander word  doodgeblaas vir die groot Christuskers om te brand, die res van die jaar lank.  Die Lig sal nooit uitgedoof word nie.   
    Moderne mense se ritme is anders:  ons vier fees, en dan vas ons.  Ons is baie goed met beplanning, en dan – uiteindelik - breek die fees aan; net om direk daarna met ons gewone lewe aan te gaan.  Laat “die regte lewe” aanbreek. Vinnig-vinnig doof ons die kersmusiek en pak ons die kersversierings weg.  Die Kersverhale van engele en herders en geboorte in 'n stal is klaar gelees tot volgende jaar.   
    Dit is 'n fout! Op ons Kerkkalender hou die seisoen van Kerstyd eers by 5 Januarie op. Eers dan word die kersversierings afgehaal en die kersmusiek sagter gedraai.  Vir 12 dae lank het ons nog tyd om weer na die verhale te luister en na te dink. Kans om te interpreteer en te integreer. Want, Kersdag mag verby wees, maar Kersfees hou nooit op nie!  Soos die digter van Psalm 136:1 sê, “Loof die Here, want Hy is goed.” En vir 26 keer (soveel soos die Hebreeuse alfabetletters) herhaal hy “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”  
    Dit is waarom Kersfees geen einde het nie. 
    GEBED:  Inderdaad, Here, aan U liefde is daar geen einde nie! 

    KUNS:  Die Metropolitan Museum van Kuns in New York se jaarlikse kersuitstalling.  Met Kerstyd elke jaar word ’n  massiewe ruimte wat soos die binnekant van ’n kerk lyk en met godsdienstige figure versier is omskep met kersbome, tot 20 voet hoog, en ’n geboorte-creche. In 'n stad wat bekend is vir sy vele Kersbome, het die een by die Met - saam met sy creche - 'n New York-tradisie geword en waarskynlik een van die grootste godsdienstige uitstallings in die Verenigde State.  
    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    MUSIEK:  Op Dag 27 van #AdventAvontuur kyk ons na ’n musiekvideo van die Estiaanse groep Noorkuu & Koit Toome se 'n nuwe vrystelling “Vaikus”. Dit is 'n a capella-weergawe van Simon & Garfunkel se "The Sound of Silence" (1964), waarvoor die Estse teks deur die akteur en regisseur Katrin Pärn geskryf is. Met hierdie liedjie wens Noorkuu & Koit Toome almal wedersydse begrip en 'n rustige Kersseisoen toe.
    https://youtu.be/EXVtGVXk0YU

    4 min
  • Dag 26 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur

    “Moenie bekommerd wees oor wat jy behoort te doen nie. Bekommer jou oor liefde. Moenie die hemel herhaaldelik en nutteloos ondervra en sê: "Watter pad moet ek volg nie?” Konsentreer op liefde. En deur lief te hê sal jy die pad vind om te loop. Liefde leer jou om te luister na God se stem. Deur lief te hê vind jy self vrede.” (Carlo Caretto)

    Die gesprek rondom ons Kerstafel het ontspoor toe iemand oor Eskom begin gesels.  Vinnig-vinnig het ons almal ons bekommernisse - soos geregte -  in mekaar se borde geskep. Gelukkig het een van die kleinkinders die ete gered toe hy vra, “Oupa, hoekom praat julle so ernstig; praat julle oor liefde?” 
    Hoe anders sou die onderwerpe geklink het as ons inderdaad oor liefde gesels het? Dink net hoe anders sou ons lewens kon wees as ons nie oor aardse dinge bekommerd was nie, maar eerder wakker gelê het met nadenke of ons genoeg liefde uitdeel? 

    “Moenie bekommerd wees oor wat jy moet doen nie, bekommer jou oor liefde,” skryf Carlo Caretto “Die woestyn in die stad.”  Met liefde leer jy om werklik te leef.  In sy woorde, “Leef liefde - en jou geloof sal groei. Leef liefde - en jou vreugde sal toeneem. Leef liefde - en jy sal uit jou eensaamheid breek. Leef liefde - en jy sal jouself nou reeds in die hemel bevind.” En in die hemel is daar geen bekommernisse.

    Ek het nog glad nie aan nuwejaarsvoornemens begin dink nie, maar dit sal waarskynlik dan my belangrikste een wees:  ek wil 'n beoefenaar van liefde word. Ek wil nou reeds elke dag voel hoe voel dit om in die hemel te woon!  

    Ja, ons glo daar sal ‘n tyd kom waar God se koninkryk op aarde volledig erken sal word. Daarvoor wag ons. Intussen leef ons die liefde!

    GEBED: Vorm my om 'n liefdesbringer te wees, my Here.

    KUNS:  Bernardo Zenale, Madonna en Kind met heiliges, ongeveer 1510. Olieverf en temperaverf op paneel; Denver Kunsmuseum

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    MUSIEK:  Op Dag 26 van #AdventAvontuur luister ons na  "God Is Love" deur Katy Nichole.

    Uit die liriek:

    How great this love 
    Oh it's faithful through my failures
    This trusted love is with me till the end 
    How great this love 
    Oh it's closer than a brother
    This is love, He died so I could live
    I know my God is love
    I know my God is love 
    This is enough

    https://youtu.be/NQ-B7YTpJLo

    4 min
  • Dag 25 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur

    “Wie anders as die Messias kan in 'n graf gebore word.” (aangehaal deur Paul Tillich)

    In sy boek, “Shaking of the Foundations,” deur een van die 20ste eeuse grootste teoloë, Paul Tillich, skryf hy 'n hartroerende hoofstuk met die naam “Born in a grave.” Tydens die Nuremburg Verhore na WW2 het een van die Joodse oorlewendes wat uit 'n gaskamer gevlug het, vertel hoe hulle vir maande daarna in grafte buite die dorp geskuil het. 'n 80-jarige grafgrawer moes in een van die grafte 'n jong vrou help om geboorte te skenk aan 'n babaseuntjie. Met sy eerste skreeu het die ou man uitgeroep, “Grote God, het U eindelik vir ons die Messias gestuur? Want wie anders as die Messias kan in 'n graf gebore word.”  
    Die seuntjie het nie bly leef nie. “Al waaraan hy kon suig om aan die lewe te bly was sy ma se trane, sy het geen melk vir hom gehad nie,” het die getuie by die verhoor – self snikkend – gesê.  
    In my kantoor is 'n Bizantynse ikoon van 'n jong Maria wat 'n babaseuntjie, toegevou in 'n kombers, vashou.  In plaas van 'n mooi biesie-gevlegde krippie lê Jesus op 'n grafsteen. Ek het dit eers raakgesien nadat ek hierdie hoofstuk van Tillich gelees het.  
    Volgens ons kerkjaar het Advent gister opgehou.  Vir eers is ons klaar met kerse aansteek. Vir sommige is dit buitendien te gewigtige gedagtes vir die Kersseisoen.  Laat ons eerder vrolik wees, roep ons met 'n glasie in ons hand. Nee, helaas nie. Eintlik hou Advent nooit op nie.  Ons sal aanhou moet uitroep, “Grote God, wie anders as die Messias kan in 'n graf gebore word?”  Want net vanuit daardie graf sal hierdie wêreld ooit vreugde en hoop leer ken; en sien hoe liefde en vrede lyk.
    Vandag, vanuit 'n graf kom Kersfeesseën.

    GEBED: Grote God, net U kan in 'n graf gebore word!

    KUNS:  Utah kunstenaar Brian Kershisnik se "Geboorte." Die skildery is 17 voet lank en 'n bietjie meer as sewe voet hoog, beeld 'n magdom engele uit wat verby Maria, Josef en die pasgebore baba Jesus vlieg.

    POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

    MUSIEK:  Op Dag 25 van #AdventAvontuur luister ons na “For Unto Us A Child Is Born from Messiah” deur die Megaron Kamerkoor. 
    Messias is ’n oratorium wat in 1741 deur George Frideric Handel gekomponeer is. Die teks is saamgestel uit die King James Bybel en die Coverdale Psalter deur Charles Jennens. Dit is die eerste keer op 13 April 1742 in Dublin opgevoer en het byna 'n jaar later sy Londense première ontvang. Na 'n aanvanklik beskeie openbare ontvangs het die oratorium gewild geword en uiteindelik een van die bekendste en mees uitgevoerde koorwerke in Westerse musiek geword. 
    Megaron Choir is een van die voorste  Europese jeugkore. Die koor is 'n inisiatief van Damijan Močnik, komponis en dirigent, en verenig voormalige studente van die Diocesan Classical Gymnasium by St. Stanislav's Institution in Ljubljana, Slowenië.

    https://youtu.be/Cw3C5EhW3Ho

    4 min
  • Kersboodskap van Ronel 2022

    Klik en luister na Dr. Ronell Bezuidenhout se kerswense.

    #kerswense #leefhoop #adventavontuur

    Agtergrondmusiek: Deon Meiring 
    Kunswerk: Rijksmuseum Amsterdam 
    Opname gedoen by La Crêperie koffiewinkel by Tergniet.


    www.ronellbezuidenhout.co.za

    2 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…