Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 30 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur


Listen Later

 “Die tyd is nou ryp om terug te kyk en om uit te vind waar ons vandaan kom en waarheen ons gaan. ... Die naam van die hartskamer waarheen ons moet terugkeer is ‘Onthou’ - die kamer waar ons met geduld en met deernis onthou van die lewens wat ons geleef het.” (Frederick Buechner)

In 'n enkele jaar kan 'n mens se ganse lewe verander. Om die mooi dinge te bedink is maklik. Maar wat maak 'n mens met daardie dinge wat jy liefs wil ontken? Hoeveel keer dink ons ooit na oor die - soos die ou nagmaalformulier dit noem - “sondes van versuim”?  Ek weet nie wat die ergste is nie: om jouself nie te kan vergewe nie, of om nooit eers na te dink oor die dinge wat jy verkeerd doen nie?  

Wat dra jy dalk die ganse jaar steeds soos 'n albatras om jou nek waarvan God jou wil bevry? Met watter bitterheid moet jy dalk vrede maak omdat dinge dalk anders uitgewerk het as hoe jy dit beplan het?  Wie moet jy dalk vergewe wat jou geskaad het? En die moeiliker vraag: vir wie het jy dalk in hierdie jaar te ná gekom?  

Nadenke vandag gaan nie net oor die “mooi” dinge nie; maar ook oor die pynlike dinge van jou lewe. Dit is moeilike dinge om mee te worstel. Maar, dit is in ons “Onthou-Binnekamer” waar die herstel saam met God kan begin.  Die eerlik-wees oor jou tekortkominge.  Die leegmaak, en die nuutmaak begin daar.  Sodat jy daar kan uitstap, wetend, “(Nou) maak (ek) my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is” (Fil 3:13).  

God se pad saam met ons is die vorentoe-pad. Maar ons loop dit op die nadink-pad.  Dit is die nuut-begin-pad. Dit is die genade-pad wat God saam met ons stap. 

GEBED: Maak my hart se binnekamers oop, Here. Bring vernuwing, en skenk U genade. 


KUNS:  “De heilige familie” (1490 – 1510) deur Lorenzo Costa in die Rijksmuseum in Amsterdam.

POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

MUSIEK:  Op Dag 30 van #AdventAvontuur luister ons na die pragtige  “Gebede en Briewe”wat in November deur Deon Meiring vrygestel is as deel van ’n gelyknamige album. 

Uit die liriek :

Die brief hier voor my is nooit klaar geskryf nie
Ek wonder hoekom opgevrommelde storie?
Maar ek is nog hier met my twee bene
Meestal gekniel
Wat as my gebede uitdraai soos briewe?
Onklaar geskryf en onafgelewer
Ek weet nie hoe ver ek kan gaan op my knieë nie
Darem is ek nie alleen nie
Die spieël hier voor my laat my soos ‘n spook lyk
Deursigtig en klein asof ek in glas bly
Mag ek ook weer sterk meer as net deurskyn
Nog steeds gekniel
Wat as my gebede uitdraai soos briewe?
Onklaar geskryf en onafgelewer
Ek weet nie hoe ver ek kan gaan op my knieë nie
Darem is ek nie alleen nie


https://youtu.be/WqkYQUKpSaM


Klik op dié skakel vir sy volle album:  https://album.link/i/1651247209

Deon se musiek is ook die agtergrondmusiek vir ons potgooie van ons #AdventAvontuur -reeks. 

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout