
Sign up to save your podcasts
Or


Ek het 'n vriendin wat, vandat ek haar leer ken het, nog nooit 'n dag verby laat gaan, sonder om nie 'n stringetjie pêrels wat sy by haar ma geërf het te dra nie. Elke dag. “Ek dra my ma se liefde teen my lyf”, verduidelik sy. “Dit herinner aan wie sy is, en dit herinner my wie ek is: my ma se dogter.”
Dit laat my elke keer dink aan die raad wat Paulus ons gee: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid” (Kol 3:12, 1953-vertaling). Paulus bedoel daarmee, dat ons die eienskappe kenmerkend aan die lewe van Jesus Christus as die eienskappe kenmerkend van jou lewe moet hê. Trek die klere uit wat nie pas by jou identiteit nie, “en beklee jul met die nuwe mens wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol 3:10 – 1953 vertaling).
In Spreuke 3:21-24 lees ons dat jy wysheid soos 'n juweelstuk om jou hals moet dra. “Dit sal vir jou 'n mooi lewe verseker en soos 'n pragtige halssnoer vir jou wees; jy sal jou pad veilig loop en jou voet nie stamp nie; jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan slaap nie; as jy gaan lê, sal jy rustig slaap.”
Ons lewe as gelowiges gaan oor 'n unieke “styl” wat ons uitkenbaar maak, ongeag die oomblik van die dag, of die omstandighede waarin ons ons mag bevind. Dit is nie 'n styl wat soms – soos 'n kosbare halssnoer om ons nek gedra word, net om by ander geleenthede af te haal en vir 'n ruk lank in 'n kluis te versteek nie. Nee, klee jou met 'n string pêrels wat nooit afgehaal kan word nie. Om jou te herinner aan Wie jy behoort en wie jy is!
GEBED: Net U kan die ou kleed vernietig en my met die nuwe kleed beklee, Here.
KUNS: Miki de Goodaboom, moderne Bybelskilderye, "Preek op die berg Sinai"
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 11 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die musiekvideo van “Hope of the World” wat pas deur Ben Pearson vrygestel is.
Uit die liriek:
Light pieced the darkness
A babes cry was heard
A way made for mankind
The promise fulfilled
Love like no other
He came to save
Hope of the world
https://youtu.be/_RXVLQp3SaE
Alle mense leef met “prentjies” van God. Ons ook. Ons het almal verwagtinge oor wie God (volgens ons) behoort te wees. Bekering impliseer juis ook dat God daardie prentjies wil regstel.
Ek wonder baie keer wat het die omliggende bure van Israel gedink wanneer hulle getuienisse van die God van Abraham, Isak en Jakob gehoor het. As die gode waarin jy glo met goud en silwer gepaai moes word om rampe te voorkom, hoe verstom moes jy nie wees nie om te hoor dat God, die barmhartig en genadig is, goedhartig en lankmoedig (aldus Eks 34). Wat sou die volk gedink het as hulle die eerste keer koning Dawid van die Allerhoogste as “my herder” praat. Vele stoere Israeliete het seker regop gesit! So besorgd oor ons wel en weë soos 'n herder wat ter wille van sy kudde saam oor berge en dale loop. So geliefd dat God ons selfs soos eregaste ontvang. Gewone mense, tuis in die geselskap van God. Meer nog, dat God mense se geselskap opsoek!
Dit is sekerlik waarom dit ook so onmoontlik vir mense was om te glo dat Jesus die Messias was. Die profesie van Jesaja was dat Hy die troon van Dawid sou bestyg (Jes 9:6), en hier kom Jesus op 'n donkie Jerusalem binne. Aan sy kruis hang daar 'n bordjie: “Koning van die Jode”. Dit kan mos nie! G'n wonder Paulus skryf, “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God” (1 Kor 1:22-24).
Het jy dalk prentjies van God wat weer ondersoek moet word? Dalk is dit iets waaroor ons almal biddend moet nadink.
GEBED: Drie-Enige God, openbaar aan my waar ek U dalk in my boksie wil laat pas.
KUNS: “Liefde van God” deur Gregorio Sweet (2017)
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 10 van ons reeks #Herbesoek luister ons na die pragtige lied "Greater is He" deur een van die nie-hoofstroom (Indie) Christelike musiek kunstenaars, LOVKN.
Uit die liriek:
'Cause greater is He
Greater is He
Greater is He that's in me
Than he that's in the world
When sorrow takеs my hands
Inviting me to run
I bury both my feet
And pray my healing comes
Run ahеad, let me be
Only Jesus sets me free
https://youtu.be/s_8lFy10OAg
Êrens lees ek hierdie definisie van liefde raak: Liefde is om jou eie agenda opsy te stoot ter wille van die welsyn van iemand anders. Dit is dalk 'n vanselfsprekende gedagte as jy 'n huwelikspaartjie is wat voor die kansel staan. Dit is egter iets heel anders as die harde werk van lief hê op jou wag. Die Hebreeuse woord wat die meeste vir liefde gebruik word, is afgelei van 'n ander werkwoord: “om te gee.”
Waar ons spontaan aan liefde as 'n emosie dink, beteken “om te gee” dat jy kan kies aan wie jy jou liefde wil uitdeel en vir wie wil jy jou liefde ontneem. Vir die meeste van ons is liefde transaksioneel, met ander woorde, jy is bereid om energie in ‘n verhouding te belê, omdat jy self iets daaruit kry. Liefde vir die meeste van ons is ‘n tweerigting-aktiwiteit. Maar hierdie definisie van liefde skuif die transaksie-deel (dat ek ook daarby sal baat) op die agtergrond. Werklike liefde is wanneer jy prysgee, sonder enige verwagting of bymotiewe. Waarom sal jy dit wil doen? Omdat jy bloot kies om dit te doen.
Soos Dawid destyds aan Mefiboset, die seun van Jonathan, bewys het. Gaan lees 2 Samuel 9:1-7, en jy sal waarskynlik daar een van die mooiste liefdesverhale teëkom. Die verhaal van “hesed-liefde” (wat ons in Afrikaans met barmhartigheid vertaal.) Maar dit is veel meer. Hesed-liefde is om aan iemand onverdiende vriendelikheid en vrygewigheid te bewys – sommer net. Daar is geen ander wyse waarmee ons God se goedheid vir iemand kan demonstreer as deur barmhartigheid nie. Omdat dit is hoe God is. Soos Paulus (in Ef 2:4) skryf: “God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak.” Waarom? Omdat God wou!
Dit is ware liefde!
GEBED: U is ons Hesed-God: liefdevol en genadig; standvastig en goed. Maak van my ‘n hesed-mens, asseblief!
KUNS: “Liefde van God” deur Gregorio Sweet (2017)
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 9 van ons reeks #Herbesoek luister ons na “Hou Aan Met Glo” deur Dewald Gouws en Jannie Moolman.
Dewald Gouws en Jannie het dié lied in grendeltyd geskryf met die doel om mense te bemoedig met die boodskap in hul harte deur musiek.
“Die lied is ’n hierdie treffende opdrag wat gelowiges herinner aan die mosterdsaadgeloof en die diep wete en verstaan dat die Here steeds in beheer is ongeag uitdagings,” skryf hulle.
https://youtu.be/xhw1oy67SeI
Onlangs het ek die uitnodiging gekry om 'n erediens in 'n informele nedersetting ('n plakkerskamp) te gaan hou. Dit is nie 'n plek waar ek gereeld kom nie; daarom kon ek my blind hou vir die onbeskryflike armoede wat mense beleef. Maar nou kan ek nie meer nie. Ek het gesien; ek sal nooit weer kan sê, ek het nie geweet nie!
Ek hoor mense sê, “die armes sal ons altyd met ons hê.” Ek hoor ook mense sê, “ons kan nie net uitdeel nie.” En ek hoor ook, “dit is maar hoe dinge is.” As gelowiges kan ons nooit mense aan hulle eie lot oorlaat nie. Jou swaarkry is my swaarkry. Juis daarom het Jesus vir die dissipels gesê, “Ek kry hierdie mense innig jammer. As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk.” Jou naaste se honger is jou honger, al wonder jy ook: “Waar sal 'n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?” Dan kom die eenvoudigste antwoord: “Hoeveel brood het julle?” (Mark 8:1-9).
Die filosoof, Edward Schillebeeckx, het gesê, “Dit wat jy alleen droom, bly 'n droom; wat jy saam met ander droom, kan van 'n droom 'n werklikheid maak.” Een druppel water beteken niks. Maar hou ‘n emmer onder daardie druppende kraan en kyk dan! Dalk voel jy ook oorweldig deur al die ellende. Maar stel jou voor dat jou gemeente op 'n Sondag van die nood in julle omgewing hoor. En stel jouself voor iemand staan op en sê, “ons moet iets doen.” Nóg iemand staan op, “ek stem saam!” Stel jou voor die hele gemeente staan op…
Alleen hoef ek nie alles te doen nie. Gelukkig verwag God dit ook nie. Daarom leer ons, “Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer in hulle werk” (Pred 4:9-12 NLV).
GEBED: Here, durf ek nog wag as ek weet wat U verwag?
KUNS: Mosaïek bewaar uit die Bisantynse tydperk by die Kerk van die vermenigvuldiging van die brode en die visse in Tabgha, aan die See van Galilea.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 8 van ons reeks #Herbesoek luister ons na “Five Loaves and Two Fishes” deur Corrinne May.
Uit die liriek:
The hours passed so quickly, the day turned to night
Everyone was hungry but there was no food in sight
The boy looked in his lunchbox at the little that he had
He wasn't sure what good it'd do, there were thousands to be fed
But he saw the twinkling eyes of Jesus
The kindness in His smile
And the boy cried out
With the trust of a child
He said:
"Take my five loaves and two fishes
Do with it as you will
I surrender
Take my fears and my inhibitions
All my burdens, my ambitions
You can use it all to feed them all"
https://youtu.be/h_ri3nI3tHQ
Corrinne May is 'n Los Angeles-gebaseerde Singapoerse musikant, sanger en liedjieskrywer.
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
Sola Gratia. Genade alleen. Dit is die kern van ons geloof: daar is niks wat ons kan doen dat God ons liewer sal hê nie; en daar is niks wat ons kan doen dat God ons minder lief sal hê nie. Ek wonder net waarom is ons steeds soms “sê-nou-maar-net”-gelowiges? Sê nou maar net ek glo nie reg nie. Sê nou maar ek leef nie toegewyd genoeg nie. Dan verstaan ons nie genade nie!
Selfs 'n groter mis-verstaan van genade is wat Dietrich Bonnhoeffer noem, “goedkoop genade.” Dit is wanneer ons onsself mislei deur te dink ons kan steeds aanspraak maak op genade, terwyl ons ons eie selfgerigtheid en selfverryking vertroetel. Dit is juis waarvan God ons wil bevry: om vry te wees van die verslawing aan onsself en ons eie vernietiging! Eers wanneer jy daardie vryheid aanvaar, verstaan jy dat genade nooit vir jouself gehou kan word nie. Genade is soos liefde: dit moet gedeel word.
Genade breek die kettings van slawerny. Daarom sê Paulus, “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees” (Gal 5:1). Geen mens is só vry soos die een wat hulself vrywillig prysgee ter wille van ander nie! Soos Elvis Blue sing: “Dis net die een wat bereid is om als op te gee wat kan sê ek het meer as genoeg.” Ons beste voorbeeld van “vry om prys te gee” leer ons by Jesus self ken: “Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak … en begin om sy dissipels se voete te was …” (Joh 13:3-4).
Sola Gratia! Daarom kan ons mekaar met genade dien!
GEBED: Here Jesus, geen Mens was vryer as U nie, en steeds het U gekies om 'n slaaf ter wille van mense te word. Wys my ook hoe.
KUNS: Lucas Cranach the Elder se “Wet en Genade”, 1529. Tempera op lindehout. Tans in die Kasteelmuseum Schloss Freidenstein, Gotha, Duitsland.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 7 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na 'n inspirerende kunsmusiekvideo geskep deur Zach Stewart van die lied “Grace Alone (Sola Gratia)” Die woorde en musiek is deur Langa Mbonambi en Ndumiso Manana.
Uit die liriek:
Whilst hearts were far and hard as stone
To sin and violence predisposed
The kindness of the one offended
With nail pierced hands the chasm mended
’Twas God who reached to draw us close
’Twas he alone that none may boast
Salvation’s work we cannot own
’Twas grace alone that none may boast
His grace alone that none may boast
https://youtu.be/iPdnVEsOT9A
’n Doolhof noem mense soms ’n verdwaaltuin (dalk meer bekend in Engels as ’n “maze”). 'n Doolhof is iets anders as 'n labirint ('n heilige sirkel). Hierdie is die twee woorde waaraan ek skielik dink. Wat gaan 2023 vir ons wees? Doolhof of labirint? Dit neem nie juis 'n glasbal vir die analiste om 'n voorspelling te maak nie: “maak julle gereed vir 'n moeiliker jaar.”
“Dalk” is ‘n goeie naam vir ‘n dwaaltuin. Dalk hier … nee wag, dit is 'n doodloopstraat. Hierdie gangetjie? Nee, dis waar ons dan begin het. Al moedeloser. Tyd vir handdoek ingooi?
’n Labirint, daarenteen, is nooit ’n “dalk” nie - al voel dit soms so. Links-om, regs-om. Ja, soms voel dit asof dit nooit gaan stop nie. Maar een ding weet jy: daar is net één ingang, net één middelpunt en net één uitgang. Jy sal die wenstreep bereik met “die oog gevestig op Jesus” (Heb 12:2). Vertroue en geloof leer jy algaande terwyl jy aanhou neurie, “Jesus, U gaan voor - ons volg in u spoor.”
In die boek, “Thunder Dog” word die ware verhaal vertel van Michael Hingson, wat ’n noue dood op 9 September 2001 ontkom het. Enkele minute voordat een van die torings van die World Trade Centre in duie gestort het, het hy veiligheid bereik. Die uniekheid van die storie is dat Michael Hingson blind is. Dit is danksy sy gidshond, Roselle, dat hy - vanaf die 78ste vloer - tot by “Ground Zero” kon kom. Met geen sekerheid vooraf waar sy hom heen gaan lei nie; maar hy het Roselle vertrou.
Mag ons leer om ook met blinde geloof die Heilige Gees toe te laat om ons te lei. Met hoopvolle sekerheid die “Middelpunt van ons Verlange” as Reismaat te hê. Die pad wat begin by die Alfa en eindig by die Omega.
GEBED: Nog altyd het U ons gelei. Dankie dat hierdie jaar nie anders sal wees nie, ons Here.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 6 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na ’n musiekvideo van Nederland Zingt se opvoering van “Middelpunt van ons verlangen”. Begelei deur klavier, hobo en fluit sing die Mannekoor Albatros saam met die gehoor. Hierdie lied is op 26 Maart 2013 in die Martinikerk in Groningen opgeneem.
Uit die liriek:
Middelpunt van ons verlangen,
trooster van 't ontrust gemoed,
Jezus, onze dankb're zangen,
loven Uwe liefdegloed.
Gij woudt van de hemel dalen,
op deez' diep bedorven aard',
en voor ons de schuld betalen,
die ons bang gemoed bezwaart.
https://youtu.be/Ps_xv4AsIyc
Soveel dinge ontglip ons aandag bloot omdat ons “op honderd plekke” gelyktydig is. “Multi tasking,” spog ons. Maar, vra jouself af, wat gaan dalk alles by jou verby terwyl jy so doenig-doenig-doenig is?
Soveel kere leef ons ook so met God. Soms luister ons aandagtig. Maar, soms is ons aandag op ander plekke. C.S Lewis het eenmaal geskryf, “God fluister in ons plesierigheid; God roep uit na ons in ons pyn; maar lyding is God se luidspreker wat ’n dowe wêreld wakker wil maak.” Die wysheid sê nie iets van God nie – God is altyd daar! Maar wat neem dit God nie alles voor ons luister nie. Waarom het ons eers 'n ramp nodig om op ons knieë te kom?
Was dit nie ook die profeet Elia se probleem nie. Hy wou God so graag sien. As God tog net met hom sou praat. Daarom het hy homself gereed gemaak om die “magtige dreuning” van God te beleef. Dit is immers God, die Almagtige! Maar hoe verstom moes Elia nie wees toe God in die alledaagse, soos ’n fluistering in die windstilte, verskyn nie (1 Kon 19:12).
Paulus bid in Fil 1:9-10, “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.” Laat die belangrike van die lewe ons tog net nie ontglip nie! Mag die liefde ons die gawe van 'n sensitiewe hart en 'n sensitiewe oor gee, sodat ons werklik kan luister én hoor! Mag ons ook gestroop word van al ons vooropgestelde idees van hoe en waar God behoort te wees; of deur wie God met ons sal praat. En mag ons aanhou om die God vol verrassings te soek. Immers leef ons met die belofte, “Julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart” (Jer 29:13).
GEBED: Ek bid vir die gawe van luister en sien, my Here.
KUNS: Pierre Édouard Frère, Franse kunstenaar: “Kind bid by Moeder se knie” (1864) grafiet en waterverf met dik, gladde geweefde papier.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 5 van ons reeks #Herbesoek luister ons na “10,000 Reasons” deur die Drakensberg Seunskoor. Oorspronklik deur Jonas Myrin en Matt Redman.
Uit die liriek:
Bless the Lord, O my soul, O my soul
Worship His holy name
Sing like never before, O my soul
I'll worship Your holy name
The sun comes up, it's a new day dawning
It's time to sing Your song again
Whatever may pass and whatever lies before me
Let me be singing when the evening comes
https://youtu.be/ET53Q7O4wAM
Ons het allerande cliché’s, soos, “jy het twee ore en een mond - daarom moet jy twee keer luister alvorens jy praat.” Dink ek na oor die tipe mens wat ek is, dan wonder ek wel of ek nie dalk meer aandag aan dié lewenswaarhede moet gee nie.
Neem nou maar die voorbeeld van luister: alle mense het 'n storie om te vertel. Nie oor almal s’n sal ’n tv-drama gemaak word nie, en nie almal s'n kom op die voorblaaie van tydskrifte nie. Van sommige stories kan ons nie genoeg kry nie; die probleem is, dat die meeste van ons nie regtig genoeg belangstel om na al die mense wat ons paaie kruis se stories te luister nie. Veral nie die randfigure s'n nie…
Om te luister vra dat jy iemand eers moet raaksien. (Seker waarom jy ook twee oë het, en nie net een nie!) Kyk ek na Jesus, leer ken ek Iemand wat moeite gedoen het om raak te sien en te luister. By Jesus leer ek die waarde van stil staan en nie weg stap nie. Want dit is waarskynlik wat mense met “die kleine Saggeus” (in Luk 19:1-10) gemaak het. As 'n geldinvorderaar was hy iemand om te vermy. Maar Jesus gaan staan stil. Hy sien raak. So belangrik is Saggeus vir Jesus dat Hy tyd saam met hom wil spandeer; daarom gaan eet Hy by Saggeus.
Hierdie verhaal leer ons meer van Jesus as van Saggeus. Raaksien en luister is tekens van genade. Deur raak te sien en te luister (m.a.w. om tyd vir mense te maak) is lewensveranderend. Kan jy jou indink hoe Saggeus se lewe (of ons s’n) sou lyk as Jesus verbygestap het?
Jy kan nie aan ’n medemens 'n groter geskenk gee as jou aandag nie. Dit is hoe 'n mens genade bewys.
GEBED: Here, U sien my raak. Leer my om ander raak te sien en genade te bewys.
KUNS: “Jesus en Saggeus” deur die Japanese kunstenaar Soichi Watanabe. Die kunstenaar toon die vreugde van Saggeus in die vorm van 'n geel blom.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 4 van ons reeks #Herbesoek luister ons na ’n Country-musiek weergawe “Zacchaeus” deur Jim Lauderdale, Ralph Stanley en The Clinch Mountain Boys. Dis op hulle album “Lost In The Lonesome Pines”.
https://youtu.be/YoQRzwSO1qQ
Ons ken almal die uitdrukking: “blom waar jy geplant is.” Om te blom waar jy geplant is, het net soveel te make met watter tipe mens jy as wat dit te make het met wat jy doen. Dit is mos só: die tipe mens wat ek is, bepaal hoe en waarom ek doen wat ek doen.
Dit is dalk goed om so aan die begin van die jaar na te dink oor hoe mense ons beleef. Dink mense byvoorbeeld aan jou as ‘n vriendelike mens? Of is jy vinnig met jou tong? Word jy gesien as 'n geduldige mens? Is jy iemand in wie se geselskap ander graag wil wees?
Gedragswetenskaplikes beweer dat een van die belangrikste eienskappe wat mense aantreklik vir ander maak, is as hulle as deernisvol beleef word. Deernis is ‘n moeilike woordjie om te definieër. Albert Schweitzer het gesê, “soos die son ys kan laat smelt, kan ’n deernisvolle mens misverstande, wantroue en vyandigheid laat verdamp.” Mark Twain het weer gesê, dit is “die taal wat selfs dowes kan hoor en blindes kan laat sien.”
Francis de Sales het eenmaal geskryf, “Niks is so sterk soos sagmoedigheid nie, niks so sag soos ware krag nie.” “Leer van My”, sê Jesus gesê, “want Ek is sagmoedig en nederig van hart” (Matt 11:29).
In een van my dagboeke het ek 'n lewensmotto neergeskryf: “Die mens wat sy deernis met sy medemens verloor het, het sy eerbied vir God verloor.” Ek weet nie wie dit gesê het nie, maar mag dit ons laat dink. Mag ons nie met 'n harde hart leef nie - daarvan is daar genoeg in die wêreld. As ons kan blom daar waar ons geplant is, droom ek van ’n tuin volle “blomme-van-deernis.” Dalk sal dít Suid-Afrika kan verander? Dalk kan ek en jy – met deernis – ‘n rol speel?
GEBED: Here, maak van my 'n deernisvolle mens; sagmoedig en nederig. ’n Mens met ‘n goeie hart.
KUNS: Swewende blomtuin: “Ek en blomme” deur TeamLab, 2015./ ’n Interaktiewe kinetiese installasie.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op die Dag 3 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na die liriekvideo van “Bloom Where You Are Planted” deur die St Catherine's Koor onder leiding van J L Mercier.
Uit die liriek:
Bloom, bloom, bloom where you’re planted,
You will find your way.
Bloom, bloom, bloom where you’re planted,
You will have your day.
Look at the flowers, look at them growing:
They never worry, they never work;
Yet look at the way our Father clothes them,
Each With a beauty all of its own.
Some plant the seeds that others will water, But in all things God gives the growth,
Come, let Him garden the flowers within you, Come and discover some you’ve never known.
https://youtu.be/WL2250ax8tI
From the publisher's feed