Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 16 van Meditasie-reeks #Herbesoek


Listen Later

Dit bly ’n wonderwerk dat ’n klaaglied ’n loflied kan word, veral omdat ’n klaaglied gebore word in doodloopstraat-omstandighede. 

Doodloopstraat-stories hoor ons gereeld om ons: Suid-Afrika is ’n doodloopstraat-land. Of waar daar eens oor ’n lang-en-gelukkige huwelik gedroom is, eindig die romanse in ’n doodloopstraat.  Broodwinners wat in die laaste jare oorbodig verklaar is weet presies hoe hierdie doodloopstraat voel.  Voor jou lê ’n berg met 'n dik donker wolk daaroor – hoe gaan jy daaroor kom? Alles het in duie getuimel. 

Ek leer in die Psalms dat klaagliedere en lofliedere pasmaats is. Dink aan Psalm 30:12, “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.”  Geen mens kan die soet smaak van vreugde waardeer sonder om nie soms die aalwynbitter van pyn en teleurstelling ook te moet sluk nie. 

'n Klaaglied kan net gebid word wanneer 'n mens raaksien wat om jou gebeur.  Dit vra dat jy met oop oë leef – veral om oor ander se pyn namens hulle te kla.  Dit is ook so interessant hoeveel klaagliedere ook woede-emosies beskryf:  “Here, wanneer gryp U dan in. Doen tog nou iets, Here!”

Klaagliedtye dwing ons wortelstelsel om al dieper in geloofsgrond in te groei tot dáár waar die belofte van water is.  Ja, die vaskyk in die uitsigloosheid van doodloopstrate kan mense hul van geloof beroof as hulle nie ook die beloftes van uitkoms kan vertrou nie.   Dit is dan dat jy jou klaagliedere eerder na mense by die braaivleisvure neem om daar te wil oplos.  Steen en been kla ons.  Teen die einde van die aand is ons goed opgesweep oor alles wat sleg is.  Behalwe, dat ons mekaar se klaagliedere nooit self in dankliedere kan verander nie. Maar neem dit na God toe, dan sien jy wat gebeur…    


GEBED: Here, kyk ek om my ween ek oor alles wat verkeerd is.  Dankie dat ek by U mag kom kla daaroor.      

KUNS: “Jehova es mi luz” (Jehovah is my lig), San Blas-eilande, Panama, 1980's. Omgekeerde borduurwerk.


POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


#Herbesoek #LeefHoop #ElkeDag


MUSIEK:  Op Dag 16 van ons reeks #Herbesoek kyk ons na Louis Brittz se musiekvideo “Psalm 30 – Feesklere”.

Uit die liriek:

Ek het benoud U hulp gevra
U het my deur die nag gedra
En U’t genade my betoon
O Here, heilig
U het my rouklere uitgetrek, my feesklere aangetrek
Daarom sal ek sing vir U, sal ek nie stilbly nie
My rouklere uitgetrek, my feesklere aangetrek
Daarom sal ek hulde bring
Daarom sal ek aanhou sing


https://youtu.be/HP7hcz1_DbE

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout