Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 13 van Meditasie-reeks #Verwagting


Listen Later

Die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.” (Num 6:25)

 

Wanneer iemand wat belangrik is met ons praat, dan stop jy alles wat jy doen en lig jou kop op.  Vir iemand wat nie belangrik is nie, sê ‘n mens dalk, “wag net ‘n bietjie”, en dan maak jy eers klaar waarmee jy besig is.  Presies wat God níé doen nie! Is dit nie die verstommendste gedagte nie:  God gee onmiddellik aandag aan ons wanneer ons praat.  Dit is letterlik wat hier staan, “God lig sy kop op.” En wanneer God luister, dan kan alles in jou tot bedaring kom.  Dan kom daar vrede in ons gemoed.  

 

Die woord sjalom (Hebreeus vir vrede) dui op heelheid en volledigheid; niks kom kort nie. Alles is soos dit bedoel is om te wees!  Die mens het nie die vermoë om dit te bewerk nie; dit kan net by God gevind word.  Daarom was dit so gewigtig dat Jesus kon sê, “Ek het gekom om vir julle die lewe te gee, en dit in oorvloed” (Joh 10:10).   

 

God lig sy kop vir jou op en jou lewe sal volkome heel wees.  Gebed en vrede loop dus altyd hand-aan-hand.  G’n wonder Paulus kon skryf, “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:6-7). 

 

Ses keer lees ons in Num 6:24-26, “Die Here sal …” Net JHWH – die God met die onuitspreeklike naam – kan dit alles vir ons beloof.  Ses keer lees ons in dieselfde verse, “julle”. Gewone, alledaagse, tydelike aardbewonertjies – ek en jy – aan wie JHWH Homself so volledig verbind dat God alles prysgee. Soos Jesus met sy lewe gewys het.

 

GEBED: Met VERWONDERING en VERWAGTING ontvang ek vandag U seën, Here, my God.

 POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

 

#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout