Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 17 van Meditasie-reeks #AdventAvontuur


Listen Later

“Laat 'n drankoffer van trane nie die enigste offer by die heiligdom van Jesus wees nie; laat ons ook juig met onuitspreeklike vreugde." (Charles Spurgeon)

Die paradoks van geloof is dat goed-gaan nie die teenoorgestelde is van sleg-gaan nie. Dit kan met jou sleg gaan, en steeds gaan dit met jou goed.  Dit is wat ons by die profeet Habakuk leer, “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, …, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder” (Hab 3:18)  

Een plek waar klaagliedere hand om die lyf staan met lofliedere is in die Psalmboek.  Dink byvoorbeeld hoe die digter in Psalm 30:12 verklaar, “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.”  Vreugdetye laat ons dartellend leef, maar, klaagliedtye dwing ons siel se wortelstelsel om al dieper in geloofsgrond ingroei tot dáár waar  ons die onuitputlike belofte van lewenswater ontdek.  

Iets “gebeur” met 'n mens wanneer jy ontdek dat dit “om’t ewe” is of dit met jou goed gaan en of dit – volgens wêreldse standaarde – met jou sleg gaan. Jy ontdek dat die genade van God se goedheid as 'n onuitputlike bron waaruit jy kan leef.  Dan ontdek jy – te midde van jou klaagliedtyd – dat jy ook kan uitroep, “Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop” (Hab 3:19).

Soos Henri Nouwen kon skryf, “As jy jou hartseer gedurende tye van vreugde kan onthou, sal jy ook jou vreugde in hartseertye kan onthou.”  Advent help ons om beide te onthou, en in beide situasies te bid: “laat my wortelstelsel dieper groei, Here.”

GEBED: Mag ook my geloofswortels in hierdie tyd groei, al dieper in die bron van lewende water, Here.
KUNS:  Utah kunstenaar Brian Kershisnik se "Geboorte." Die skildery is 17 voet lank en 'n bietjie meer as sewe voet hoog, beeld 'n magdom engele uit wat verby Maria, Josef en die pasgebore baba Jesus vlieg.

POTGOOIE:  Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent

MUSIEK:  Op Dag 17 van #AdventAvontuur luister ons na “Hoor Die Blye Eng'lelied” deur Danie Niehaus saam met Christo en Cobus van die Broers.

Uit die liriek: 

Hoor die blye Eng'lelied
Aan die Koningseun gebied
Vrede op aarde aan God die eer
God daal tot die sondaar neer
Wil met elke Hemeling
Ook aan God die loflied bring
Hoor die blye Eng'lelied
Aan die Koningseun gebied
Hoor die blye Eng'lelied
Aan die Koningseun gebied


https://youtu.be/JAUJWxHQGlY

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout