Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 20 van Meditasie-reeks #Verwagting


Listen Later

“Ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het … Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen.” (Rom 6:17-18)

Onlangs het ek ‘n interessante opmerking gehoor:  jy kan net stap as niks jou jaag nie.  Hoe waar!  ‘n Mens wat geen gevaar verwag nie, loop nie omkyk-omkyk nie. So is dit ook net mense wat vry is wat self keuses kan maak. Slawe het geen seggenskap oor hul eie doen-en-late nie.  Soos Paulus sê, “Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is” (Rom 6:16). 

Eintlik is daar net twee keuses:  óf jy is ‘n slaaf van sonde, óf jy is ‘n slaaf van God.  Ons praat deesdae nie graag oor sonde nie, maar – soos Thomas Merton geskryf het – “Sonde is om te weier om te word waarvoor jy bestem is om te wees:  beeld van God.  Sonde laat jou vlug weg van ware vryheid.” Net iemand wat die “slaaf van God” word, kan vir die eerste keer verstaan wat dit beteken om volwaardig mens te wees.  Sonde maak jou minder-mens! Vryheid maak van jou ‘n mens.  

In Efesiërs 2:10 skryf Paulus, “In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”  Petrus sê dieselfde: “Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien” (1 Pet 1:16).

Soos Martin Luther gesê het, “Of sonde lê op jou skouers, of dit lê op Christus, die Lam van God, s’n. As dit op Christus rus, is jy vry en sal jy gered word. Kies nou wat jy wil hê.”  Dit is goed as ons gereeld ons keuse herbesoek!

GEBED:  Ek wil U dien omdat ek bedoel is om U te dien, my Here.


KUNS:  Gerestoureerde oorspronklike van die Aanbidding van die Mistieke Lam altaarstuk (1432) deur die broers en Vlaamse kunstenaars Hubert van Eyck en Jan van Eyck in Museum vir Beeldende Kunste Gent in Gent.

POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


MUSIEK:  Op Dag 20 van #Verwagting luister ons na die lied Agnus Dei deur die Nederlandse groep Sela. Dit is van hul album Via Dolorosa.


Uit die liriek:

Lam van God,
dat de zonde der wereld draagt.
Heer, ontferm U over ons.
Lam van God,
dat de zonde der wereld draagt.
Heer, geef vrede overall

https://youtu.be/ojtUQXId7uI

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout