“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom (Jesus) ken… die kosbaarste en allergrootste geskenk wat Hy belowe het.” (1 Pet 1:3-4)
Ons het begin met die Beloftemakende Verbondsgod. Ons het die Genadige God leer ken wat die belofte van sy seën aan ons gee. Ook die Barmhartige God wat sorg; sowel as die God van Nuwe Kanse. Soos ons in Josia 21:45 lees, “Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom.”
Vir eeue lank was daar die VERWAGTING van die koms van die Messias. Daarom is dit so betekenisvol dat Andreas vir sy broer Simon Petrus sê, “Ons het die Messias gekry” (Joh 1:41). Die Samaritaanse vrou praat ook oor die VERWAGTING van die Messias, waarop Jesus antwoord: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat” (Joh 4:25). Later skryf Paulus hierdie belangrike woorde, “Jesus Christus, die Seun van God … is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God” (2 Kor 1:19-20). En soos Petrus sê, Jesus Christus is “die kosbaarste en allergrootste” geskenk wat God aan die mensdom belowe het.
Al God se VERWAGTINGE vir die mensdom word weerspieël in die lewe van Jesus. Hoe beter jy Jesus leer ken, hoe beter leer jy God se beloftes ken! Die beloftes dat God sal sorg; dat God omgee; dat God nie afwesig is nie; dat God elke haar op jou hoof ken; jou gebede sal beantwoord; jou sal beskerm; jou bewaar; jou sal vertroos, versterk en sal vergewe; krag sal gee wanneer jy swak is; rus sal gee wanneer jy oorlaai is; leiding sal gee … élke enkele belofte van God is waar. Waarom? Want Jesus is waar.
GEBED: Dankie vir U, Here Jesus, ons kosbaarste en allergrootste geskenk!
KUNS: “Die Brandende Bos” deur Darius Gilmont. “I’ve been working for more than twenty years in educational publishing. I’m not sure that sounds so great in an artist’s biography, but it makes a certain sense in an earning-a-living kind of way! My inner saviour continues to be my art. When I finish work every day, this is the real work I’ve been waiting to do. This is my Promised Land. I paint Biblical subjects, and recently have been returning to my first love; cars!” Meer by: https://www.darius-art.com/
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 21 van #Verwagting kyk ons na ’n musiekvideo van Frieda van den Heever se toonsetting van N.P. van Wyk Louw se gedig “Die Ambag”.
Uit die liriek:
Van God durf ek skaars praat: ek ken Hom min,
al ken Hy my tot in die laaste sel
en laaste selfbedrog; ek roer ‘n vin
deur goue waterwortels, moer en bel,
en sien die buiteglans maar ken dit nie.
Min moet my woorde oor dié dinge wees
– ek, hard van helderheid en styf van knie –
maar ánder woorde durf ek tog laat lees:
dat van die dinge wat die mens bedink,
ons smet se krag, ons wankele bestaan
die swaarste hoeke afgrond toe laat sink,
en, buite wete, weet ek: daarvandaan
trek ons iets op wat ryk is soos die sin
van daardie woord van God in die Begin.
Die musiek word InVia Stellenbosch se dienste Sondae gebruik word. Vir enige navrae kontak
[email protected]https://youtu.be/elEmQU5EK3M