Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 23 van Meditasie-reeks #Verwagting


Listen Later

#VERWAGTING - DAG 23
 
“LOOF die Here, want Hy is goed, sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” (Psalm 136:1, 1953 vert.)

As daar een vaste sekerheid is, is dit dat God onwankelbaar is. God is nie wispelturig van aard nie.  Maleagi 3:6 leer pertinent dat God die onveranderlike God is.  Jakobus het dit in sy brief herhaal:  “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie” (Jak 1:17).  Dag en nag verander.  Seisoene verander! Daar is Een wat nie verander nie:  die immer Onwankelbare God.  Ons dink maklik aan onveranderlikheid as rigied. Rigiedheid is hard, selfs liefdeloos.  Dít is God allermins.  Wat onwankelbaar is, is God se karakter.  Wat onwankelbaar is, is God se beloftes. God kan nie anders nie. Daarop kan jy jou VERWAGTINGE stel:  soos God deur die geskiedenis getrou was, so gaan God ook in die toekoms wees, en dieselfde is God vandag.

Psalm 136 is ‘n unieke Psalm:  22 keer word daar uit die geskiedenis aangetoon hoe getrou God was.  Dit is nie toevallig dat dit 22 keer is nie – dit is die getal van die Hebreeuse alfabet.  Niks kan bygevoeg word nie!  22 redes en elke keer word dit opgevolg met die refrein:  “Sy goedertierenheid is tot in ewigheid.” Die 1983 vertaling gee dit as, “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”  Vier maal word almal opgeroep om God te loof – en elke keer volg die refrein weer. Dit word so ritmies herhaal, dat dit later soos ‘n hartklop voel … doef-doef … geen einde … doef-doef … geen einde … 

Het ons nie in hierdie tyd weer ‘n Psalm 136 nodig nie? Dinge voel vir ons so onseker, maar onthou: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 
 

GEBED:  Hoe kan ek anders as om U dan nie te loof nie!

KUNS:  Alphonse Mucha se “Praise the Lord” 1912


POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag


MUSIEK:  Op Dag 23 van #Verwagting kyk ons na ’n video-opname van ’n baie unieke uitvoering van Psalm 136 “Give thanks to God” deur die Skotse musikant Pete Crockett. 
Hy skryf:

“(Versoek) ...
(Reaksie)  Sy nimmereindigende liefde is standvastig en seker
(Versoek)...
(Reaksie)  Dank God, want Hy is goed. 

Alle versoeklyne is geskryf deur diegene wat dit op die opname gesing het.  Reaksielyne en melodie is geskryf deur Allan McKinlay en myself.
Hierdie formaat leen daartoe dat mense 'n gebed sing of praat en dan reageer almal op 'n liturgiese wyse. Ek wil jou aanmoedig om jou eie lirieke hiervoor te maak, hetsy bepland of spontaan, sodat jy en jou kerk Sy poorte kan binnegaan met danksegging in jou harte, deur Hom te dank vir spesifieke situasies en dade wat Hy in jou lewens gedoen het.”
https://youtu.be/vTKQTgVHuuA

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout