Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 24 van Meditasie-reeks #Verwagting


Listen Later

“Dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here…” (Klaagl 3:26)

 

My vriendin vra gister, “hoe lank moet ‘n mens wag op die Here?”  Nee, dit is nie ‘n ongeduldige se vraag nie, dalk eerder ‘n moedelose, desperate s’n.  Eintlik is dit nie ‘n vraag nie; dit is eerder ‘n uitroep! Wat het van U geword, Here! Soos Dawid sou sê,  “Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?” (Ps 6:4).   Of soos Israel in ballingskap gemurmureer het, “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby” (Jes 40:27).

 

Soms is God inderdaad “weg” – of soos Jesaja skryf, “U is die God wat U verborge hou, die God van Israel, die Redder!” (Jes 45:15).  “Deus Absconditus,” het die teoloë van vervloë dae dit genoem. (Of in Engels: “The Hidden God”.)  Martin Luther het eenmaal gesê, “Soms is God verborge omdat mense God op plekke soek waar God nie te vind is nie.” Of anders gestel, dalk wil God juis hê dat ons oop moet wees om God te soek (en te vind) op die onwaarskynlikste plekke.  Het Jesus dan nie tereg gesê, “Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie” (Matt 25:43).  Wie sal nou ooit glo dat God onder die “geringstes” (v45) gevind sou word!  

 

Wees oop vir antwoorde wat dalk anders is as wat jy sou wou hoor.  Wees oop vir roetes wat dalk anders is as wat jy sou wou stap.  Wees oop om God op vreemde plekke te ontmoet.  En as jy dan nog steeds wonder hoe lank jy moet wag? So lank as wat dit nodig is. Want van een ding kan ons seker wees, en daarop stel ons ons VERWAGTING:  God is getrou! 

 

GEBED: Dan wag ek op U, Here. 

POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag

 

MUSIEK:  Op Dag 24 van #Verwagting kyk ons na ’n video-opname van “I wait for the Lord” gekomponeer deur James Bourne en verwerk deur Clyde Davids deur die Nuwe Apostoliese Kerk kamerensemble in Kaapstad.   Die solis is  Sharé-Anne Walkers. 

https://youtu.be/8oSfH5k8XK8

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout