Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 30 van meditasie-reeks #Pelgrims


Listen Later

“U ontvang my soos ˊn eregas. Ek word oorlaai met hartlikheid.”  (Ps 23:6)

Elke pelgrimsroete het 'n eindbestemming - ook hierdie reis wat ons ons lewe noem.  Psalm 23 beskryf ons aardse reis dalk die beste:  deur groen weivelde het ons gestap, maar ons ken ook die paadjies deur die dale-van-droefheid.  Daar was tye wat ons verlangend uitgesien het na water om ons dors te les (ook ons geestelike dors), en weer-en-weer is ons na die Bron van Water gebring.  Op ons paadjie - net soos die Prediker leer - is daar 'n tyd om die volle teenpole van die lewe te ervaar: om gebore te word en te sterf.

Deur hierdie lewensreis gaan ek nie gesig- of naamloos nie – ek is nie 'n “niemand” nie want, “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne”, sê God (Jes. 43:1). “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (Ps 139:15-16 1953-vert.).  

Soos Paulus skryf, “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here” (Rom 14:7-8). En is dit nie elkeen van ons se groot gebed, dat ons ons lewe as 'n “Soli Deo Gloria” lewe sal leef nie.  Tot op die laaste oomblik. 

En dan is daar die belofte van die “Grande Finale” – waar ons met hartlikheid oorlaai sal word.  Uitgenooi word om aan te skuif aan die Tafel-van-Goedheid-en-Liefde (Ps 23:5-6).

Dit is die storie van ons lewe.  Dit is ons pelgrimsgeloof.  Daarom roep ons elke dag, saam met al die gelowiges, die laaste woorde in die Openbaringboek:  “Kom, Here Jesus!

GEBED:  Amen, Here, Amen.


 KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. 

POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag


MUSIEK:  Op Dag 30 van #Pelgrims kyk ons na ’n video-opname van Amanda Strydom  se “Pelgrimsgebed”.  Opgeneem op 25 September 2008 tydens die klanktoets  in die Koninklike Teater in Amsterdam.


Vader God U ken my naam
My binnegoed en buitestaan
My grootpraat en my klein verdriet
My vashou aan als wat verskiet.
 
U ken my vrese en my hoop
Die pad wat ek so kaalvoet loop
Die pad het U lankal berei
Elke swerwer kom weer tuis
 
Alle pelgrims keer weer huistoe
Elke swerwer kom weer tuis
Ek verdwaal steeds op U grootpad
Soekend na U boardinghuis.

 https://youtu.be/fTsYx8W_2w0
#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout