Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 31 van meditasie-reeks #Verwagting


Listen Later

“Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh 14:2-3) 

Een van my liewe vriende woon al vir dekades in die buiteland.  “Wie is ek nou regtig?” het hy eenmaal vir my gesê.  “Woon ek in die buiteland is ek ‘n ‘inkommer’ - my aksent verskil, my ‘alles’ verskil.  Besoek ek Suid-Afrika hoort ek ook nie meer hier nie, want my lewe word op ‘n ander kontinent geleef.”  

Die Engelse het ‘n woord, “displacement” – dit laat my aan ‘n legkaart dink waarvan jy legkaartstukke probeer indruk in posisies waar dit nie hoort nie.  Dit is sekerlik hoe die Jode in ballingskap ook moes voel:  “Wie is ons nou regtig?” Hoe moes hulle nie vasgeklou het aan die profesie van Jeremia nie: “Ek (God) weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n VERWAGTING!”

Geleidelik, soos die lewe aangaan, vergeet ons dat ons “verplaasde” (displaced) mense is.  Dat ons “inkommers” is - ons hoort nie waar ons nou is nie.  Die belofte van Jesus dat ons na ons Moederland sal terugkeer is ook met “offerbloed beseël.”   

Die laaste hoofstuk van die Bybel eindig op die wyse soos die Bybel begin het:  in die tuin van Eden.  Die sirkel word voltooi.  In Op 22:2 lees ons, “Tussen die hoofstraat van die (hemel)stad … staan die boom van die lewe.”  Dit is waarheen ons terugkeer.  Die woonplek van God.  Soos Op 21:3 belowe, “kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly…”   

Dit is waarheen hierdie reeks - #VERWAGTING - ons wil neem: pelgrims wat tuisgekom het.

GEBED: Ek dank U dat U my herinner waarheen ek op pad is.  Hou dit asseblief my verwagting.

POTGOOIE:  Jy kan die dagstukkies van die #Verwagting-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

#Verwagting #LeefHoop #ElkeDag

MUSIEK:  Op Dag 31 van #Verwagting kyk ons na “Wolke”deur Vredelust Aanbidding in Kaapstad. 

Hulle skryf Jesus se wederkoms word soms as hierdie swaar en angswekkende gebeurtenis gesien. Alhoewel dit aan die een kant so is, is dit aan die ander kant dié gebeurtenis waarna gelowiges die meeste moet uitsien: Jesus kom om sy bruid te kom haal, daar is nie beter en gelukkiger nuus as dit nie! Dit is wat 'Wolke' wil vertel, gelowiges kan en moet uitsien na wanneer Jesus terugkom om ons te kom haal. 

Uit die liriek:

As Hy kom op die wolke
Van die hemele
Elke oog sal Hom sien
Elke tong sal bely
As Hy kom op die wolke
Van die hemele
Elke knie sal voor Hom buig
Ons Koning regeer
Op die wolke, met die septer, in sy hand
As Hy kom op die wolke
Kom Hy om ons te kom haal
Op die wit perd met die septer
In sy hand
Here Jesus U is almagtig
Ons getroue krag
Elke nasie sal buig voor U
Want die hemel is oop
Die hemel is oop        
    

Wolke is geskryf deur Clement Martin en Anneke Human.

https://youtu.be/gtaP6dQ9N54

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout