Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Dag 9 van Meditasie-reeks #Pelgrims


Listen Later

“Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” (Rom 12:11 – 1953) 

Lees ek deur die naamlys van die geloofshelde in Hebreërs 11, sien ek mense wat werklik passievol deur die lewe gegaan het.   Teen alle hoop in het hulle bly glo!   Waar ander sekerlik sou wou handdoek ingegooi het, het hulle – die des nie teenstaande’s – aangehou!  Waar ander lankal na die ou bekende kospotte van Egipte sou verlang, het die geloofspelgrims vorentoe gebeur.  Niks kon hulle vurige sekerheid - dat God aan God se beloftes getrou sal bly - demp nie.

Wat die geloofshelde van Hebreërs by my wakkermaak, is ‘n dringende passie om ook my lewe met krag en durf te leef.  Dit is wat geloof met ‘n mens maak:  dit maak van ‘n louwarm-mens ‘n kookwater-mens.  Hoe kom die woorde van Jesus oor Homself dan dadelik in my gedagtes op:  “Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!” (Luk 12:49).  Ons praat immers daarvan om “aan die brand” vir God te wees.  Is dit nie hoe gelowige mense behoort te wees nie?    

Die woord “vurig” word dwarsdeur die Bybel gebruik om ons “kookpunt-geloof” in God te beskryf.  Soos die Boodskap-vertaling van Rom 12:11 herinner, “Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef.  

Ons sien daagliks genoeg vurige mense rondom ons:  vurig kwaad wanneer hulle verontreg is; vurig geïrriteerd as hulle te na gekom word; vurig krities op ander.  Laat ons ‘n ander vurigheid aan die brand steek. Vurig aangevuur deur die Heilige Gees. Vurig om die wil van God te doen. Vurig in ons naasteliefde. Vurige gehoorsames.

GEBED:  Heilige Gees, vuur my met U krag en liefde aan om voluit vir God te leef.
KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die negende dag se skildery is The Transfiguration (La transfiguration).  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/4516

POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

MUSIEK:  Op Dag 9 van #Pelgrims kyk ons na die musiekvideo van “Holy Ghost Fire”deur Vinesong.

Uit die liriek:

Lord we’ve been so far from You
Caught up in the cares of life
Our hearts have been so very full Lord
Filled with trouble and strife
We have turned our eyes away from You Lord
Knowing that we’ve needed You
Jesus bring Your presence
Fire deep inside 


https://youtu.be/uvbar_Au7Uo

...more
View all episodesView all episodes
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoudeBy Ronell Bezuidenhout