Jakob kom met hierdie pyngedagte : Alles is teen my. En hy sê dit nie ligtelik nie. In sy lewe het baie dinge gebeur wat tot hierdie uitspraak gelei het. Wat Jakob in sy lewe eerste stel, word laaste deur God geplaas en andersom. Wat vir Jakob die dierbaarste in sy lewe is, word die verste van hom weggeskeur.
Is alles teen ons? Dit bring ons by die uitspraak van Paulus in Romeine 8. Die apostel Paulus leer ons dat niks teen ons is nie, maar alles ten goede meewerk. In groot kontras met Jakob stel Paulus dat alles, nie net voorspoed en vreugde nie, maar alles ten goede meewerk. Nie net die geboorte nie, maar ook die sterwe, ook die oop graf, ook die gebroke lewensideaal wat aan skerwe aan jou voete lê.
Is die apostel Paulus nie werklikheidsvreemd nie. Ken hy swaar. Beslis, hy ken vervolging, tronkstraf, geseling, marteling, bespotting, veragting, maar desondanks stel Paulus dat alles ten goede meewerk.
Dit gebeur dat ons in tye van hartseer en swaar soos Jakob kan voel alles is teen ons, daar is waaroms in die lewe, waarom so, waarom het dit gebeur. Hierdie waaroms kan egter nie opweeg teen die grootste waarom van alle eeue nie. Dit is die waarom aan die kruis, ‘n waarom wat al ons waaroms omvat. : “My God, my God, waarom het U my verlaat.”
https://youtube.com/live/44n1dwPZ6lw