Deel 1: Chereé Strydom en haar ewe talentvolle sangerman Wynand Strydom vermaak gehore al die afgelope 20 jaar met hulle countryklanke. Vanuit Langebaan aan die Weskus praat Chereé, wat Henco Kruger as Suid-Afrika se eie country girl beskryf, openhartig oor die uitdagings in haar en Wynand se lewe as ‘n egpaar wat voltyds in die Afrikaanse musiekbedryf werk, hulle huis wat afgebrand het, en wat dit verg om tussendeur optredes en lang toere op die pad suksesvolle entrepreneurs en ouers van twee dogtertjies te wees. As voltydse sangers het Chereé en Wynand al aan albei kante van die tafel gesit i.t.v. platekontrakte deur sonder ‘n platemaatskappy onafhanklik op te tree, en dan weer om bande met ‘n platemaatskappy te hê. Sy praat oor die finansiële druk wat met albei gevalle gepaard gaan. Kom vind uit hoe hulle as een van bittermin voltydse sangpare, wat ook egpare is, dit regkry om die pot aan die kook te hou, en wie in die huwelik sy of haar vinger op die huishouding se maandelikse begroting hou. En as geld die grootste oorweging was, sou Chereé iets anders in die lewe wou doen of steeds sang as loopbaan kies? En as geld en aardse besittings nie ‘n faktor was nie, waarna sou jy eerste gryp en die huis mee uitstorm terwyl jou huis afbrand? Van iemand wat dit al moes doen, mag haar antwoorde jou dalk net verbaas...