David Fourie het beslis geen bekendstelling nodig nie. Sedert hy in 2002 sy buiging op die SA IDOLS-verhoog gemaak het, het hy diep spore in die plaaslike musiekbedryf getrap, en kan hy spog met ’n hele rits treffers, hoogtepunte en toekennings. Oor die jare het hy verskeie loopbaanhoogtepunte bereik, waaronder openingsvertonings vir Westlife tydens hulle Suid-Afrikaanse toer, en om uitgenooi te word om as spesiale gas by die Eurovision-sangkompetisie op te tree in 2011. Verder het hy ook al die voorreg gehad om die Suid-Afrikaanse, Australiese en Skotse volksliedere te sing tydens toetsrugby.