Deel 1: Brümilda van Rensburg is een van Suid-Afrika se mees bekroonde akteurs. Sy is veral bekend vir haar uitbeelding van Louwna in Egoli: Plek van Goud, wat meer as 44-miljoen kykers regoor Afrika gelok het. Sy het 18 jaar lank in hierdie reeks gespeel. Die afgelope 20 jaar bedryf sy een van Suid-Afrika se mees gesogte dramaskole, en enigiemand in die bedryf sal hulle voortande gee om deur haar drama-agentskap bestuur en verteenwoordig te word. Brümilda het nooit rykdom en roem nagestreef nie, maar wel om hard te werk en sukses te behaal. Daarin was sy suksesvol, maar ‘n mens moet tog tot 'n mate bekend en beroemd wees as Madiba jou ken nog voor julle eerste ontmoeting en jou op jou naam noem. Brümilda vertel hoe sy die finansiële aspekte van haar lang loopbaan, dramaskool en drama-agentskap oor die jare met 'n ystervuis bestuur het. Sy deel haar waardevolste les in die lewe: Jy kan net in oorvloed leef as jy in oorvloed gee.