Die broer-duo, Droomsindroom, het kort na die pandemie se grendeltyd groot opslae gemaak met hulle debuutenkelsnit, Hey Sonneblom. Dis ’n goedvoelliedjie en die sonneblom waarna daar verwys word is ’n metafoor vir die persone in elkeen van ons se lewe wat somer én sonskyn gedurende jou donkerste tye bring. Hierdie liedjie van die Schlebusch-boeties, Kirsten (23) en Kyle (16), boer die afgelope jaar boaan Apple Music se Afrikaanse trefferlys. Dit het hulle ook ‘n plek op verlede jaar se uiters gewilde en suksesvolle Afrikaans Is Groot-verhoog besorg. Henco Kruger het Kirsten en Kyle se bestuurder en ma saam genooi om ook by haar uit te vind wat dit verg om die groep finansieël en operasioneel suksesvol te bestuur.