Oom Hannes Coetzee het die verbeelding van menige Suid-Afrikaner aangegryp met sy unieke optel-en-knyp kitaarspeelstyl. Hy het in Amerika selfs meestersklasse aangebied by 'n glykitaar-byeenkoms. Die unieke lepel-en-snaar metode is ongekend in die wêreld. Wat min mense egter weet is dat hy ongeletterd is en nie kan lees of skryf nie. Hierdie program is 'n laaste poging van RSG om iets te verewig uit 'n geslag plaaswerkers wat ontneem is van skoling en blootstelling omdat die swerwersbestaan so uitdagend was. Troostelose en droefgeestige wêrelde word dikwels opgehef deur kuns en musiek, en dit is wat Hannes Coetzee gered het van totale vergeteldheid.