65 jaar later!
Vandag het twee ware legendes op Gister se Grotes kom kuier – The Staccatos se Steve Ashley en Brian Le Gassick. Die band het reeds in 1961 by Damelin College ontstaan en sou later bekend staan as die “Beatles van Suid-Afrika.”
Wat as ’n studenteband begin het, het vinnig gegroei tot een van die mees invloedryke groepe in die land se popmusiekgeskiedenis.
Een van hul grootste treffers, Cry to Me, het in 1969 ’n ongelooflike 38 weke op die Springbok se treffersparade gepronk – ’n rekord wat tot vandag toe nog nie deur enige plaaslike of internasionale lied verbeter is nie. Die lied het meer as 400 000 kopieë verkoop, vier goue plate ontvang en selfs nóg groter geword nadat dit in die film Katrina verskyn het.
Maar The Staccatos was nooit net ’n een-treffer band nie. Hulle lied Butchers and Bakers het ook groot sukses behaal en is selfs deur kunstenaars in Amerika en Engeland gecover. Ná 65 jaar in die musiekbedryf tree hulle steeds op en bewys hulle dat goeie musiek eenvoudig tydloos is.