Vers en Klank

Vers en Klank

By RSGTV & Film
Download on the App Store

Vers en Klank episodes

  • Vers en klank: Anri Botha en Melanie Grobler
    6 Oktober 2026: Henriëtta Gryffenberg lees voor uit Anri Botha se bundel, Bakeliet. Sy het in 2018 met die bundel Wolfram gedebuteer. In hierdie nuwe bundel gebruik sy bakeliet – die eerste volledig sintetiese plastiek – as ’n uitgebreide metafoor vir die kunsmatigheid van die moderne bestaan. Henriëtta lees ook verse uit Melanie Grobler se nuutste genaamd Alles van waarde is weerloos. Melanie Grobler skryf vanuit die baie persoonlike ervaring van weduweeskap en verlies. Twee vroue, twee uiteenlopende bundels, twee heeltemal verskillende poëtiese stemme – maar albei skryf sonder ’n beskermende laag. En miskien is dit juis die interessantste raakpunt: hulle albei gebruik poësie om dinge wat nie maklik verstaanbaar is nie, te probeer begryp.
    24 min
  • Vers en klank: Vriendskap
    29 September 2026: “Jou vriend is die vervulling van jou behoeftes. Hy is jou akker wat jy met liefde saai en met danksegging maai. En hy is jou maaltyd en jou vuurherd. Want jy kom na hom as jy honger het en jy soek hom vir vrede.” Só skryf Kahlil Gibran in sy boek, Die Profeet, oor vriendskap. Sophia van Taak en Karli Heine verken dié tema. Daar is gedigte deur – onder andere – Antjie Krog, Helena Ewert, Tom Dreyer en Rocco de Villiers.
    18 min
  • Vers en klank: Die expat, Elisabeth Eybers
    22 September 2026: Hierdie episode is spesifiek vir die expats bedoel – daardie Suid-Afrikaners in die buiteland wat sekerlik van tyd tot tyd wonder: Wat het ek nou eintlik hier kom soek? En: Sal ek ooit régtig kan tuis voel in hierdie land? As daar iemand is wat dié gevoel baie goed geken het, dan was dit die digter Elisabeth Eybers. Sy het vir 46 jaar in Suid-Afrika gewoon en daarna vir óók 46 jaar in Nederland. Kom blaai saam met Joanie Combrink deur Eybers se digbundels wat sy in Nederland geskryf het om uit te vind hoe sy as buitestander haar voete daar in die vreemde gevind het.
    23 min
  • Vers en klank: Koorsboom - Jakes Möller
    15 September 2026: Sophia van Taak en Lochner de Kock blaai deur die debuutbundel, Koorsboom. Dis die pennevrug van Jakes Möller, en ’n verrassend sterk eerste versameling – vol deeglike skryfwerk en eksperimente met vaste digvorme soos die haikoe, villanelle, kwatryn en sonnet.
    26 min
  • Vers en klank: Joan Hambidge
    Die digter Joan Hambidge vier op 11e September haar 70ste verjaarsdag. Sophia van Taak hou vir haar ’n partytjie! Die gesprek gaan oor die grootste invloede op Hambidge se skryfwerk, haar gunsteling wêreldstede, wat sy doen wanneer sy saans uitgaan en waarom die Afrikaanse letterkunde met ’n akwarium vergelyk kan word.
    25 min
  • Vers en klank: William Rowland
    1 September 2026: Komende Vrydag is dit Loslitdag. Dan kan die mense wat gewoonlik netjies moet aantrek vir werk, ook ’n slag sommer in jeans en tekkies werk toe gaan. Maar dié dag gaan nie eintlik oor net lekker gemaklik aantrek nie – dit is ’n groot bewusmakingsveldtog waarin die behoeftes van mense wat met gestremdhede saamleef, ’n slag weer onder ons almal se aandag gebring word. Eben Genis lees gedigte voor van William Rowland, wat as klein seuntjie sy sig verloor het. Sy blindheid het hom nooit teruggehou nie. Inteendeel, hy was een van Suid-Afrika se grootste kampvegters vir die regte van gestremdes.
    24 min
  • Vers en klank: Danie Marais - Ek is nie Danie
    25 Augustus 2026: Daar het onlangs ’n bloemlesing van die digter Danie Marais se werk verskyn. Die gedigte vir hierdie versameling, Ek is nie Danie, is só keurig gekies dat dit amper soos ’n lewensverhaal lees, waar elke gedig voortbou op die vorige. Sophia van Taak gesels met Marais oor sy baie persoonlike skryfstyl. Die gedigte is verhalend en soms humoristies of ironies, maar daaronder lê ernstige vrae oor identiteit, skuld, liefde en waar ’n mens behoort.
    26 min
  • Vers en klank: Die skaduwee van siekte
    18 Augustus 2026: Dit is seker een van die moeilikste gedagtes waarmee 'n mens gekonfronteer kan word - dat daar sekere dinge is wat eenvoudig buite jou beheer is. Jy kan byvoorbeeld sommige siektes probeer voorkom deur gesond te eet, meer te oefen en minder te stres. Maar partykeer skuil ’n gróót siekte in jou gene, en maak nie saak wát jy doen nie, dit sal op ’n dag maar net sy verskyning maak. Hierdie soort kwale raak selde net die een wat dit dra. Dit sprei sy skaduwee ook oor geliefdes en vriende. Ons luister na gedigte wat dié rimpels van ’n mediese uitdaging beskryf. Die voorlesers is Erica Wessels en Carel Nel.
    24 min
  • Vers en klank: Mediese mankemente
    11 Augustus 2026: ’n Mediese ondersoek is selde net ’n ondersoek van die liggaam. Dit is ook ’n ondersoek van die gees. Dit vra iets van ’n mens se moed, jou geduld en jou vermoë om met onsekerheid saam te leef. Digters het nog altyd hierdie oomblikke probeer vasvang – die weerloosheid van ’n liggaam wat nie meer heeltemal gehoorsaam is nie; die vreemde taal van mediese terme; die menslike behoefte om sin te maak van lyding... Maar hulle skryf ook oor die humor wat, selfs in ’n spreekkamer, kan opduik. Carel Nel en Erica Wessels doen voorlesings van gedigte oor mediese mankemente.
    24 min
  • Vers en klank: Lina Spies
    4 Augustus 2026: ’n Huldigingsbundel ter ere van die digter Lina Spies het onlangs by Naledi Uitgewers verskyn. Sophia van Taak praat met Alwyn Roux, een van die samestellers en redakteurs van ONTHOU IS DIE DAG WAT BREEK, oor Spies se digterlike nalatenskap, en hoe haar stem vandag steeds relevant is, en jong digters daarmee in gesprek tree.
    26 min

About Vers en Klank

From the publisher's feed

Voorlesings van gedigte, afgewissel met gepaste musiek.

More shows like Vers en Klank

Radioteater by RSG

Radioteater

0 Listeners