Gert vertel van 'n insident in Januarie 1983 tydens Operasie Askari waar hulle die dorpie Cuvelai moes gaan "skoonmaak". "Skoonmaak", vir diegene wat nie met die term bekend is nie, is om na afloop van 'n veldslag op te ruim: dit sluit weermagvoertuie en -toerusting, landmyne en lyke in. Toe hy op 'n FAPLA-soldaat se lyk afkom, vind hy tot sy skok 'n Bybel in sy sak. Op die vooraand van hul geveg het die SAW-kapelaan vir hulle 'n vers uit Psalm 55 gelees: "Mag die dood my vyande oorval." In die FAPLA-soldaat se Bybel is 'n boekmerkie by Fillipense 4:13: "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee." Hy sluit af met 'n gebed wat hy 30 jaar na die oorlog neergepen het:
Vader, bevry my van lankal se goed
Dit bly kleef aan my soos ou bloed
Gedagtes, flitse van onthou wat my verslind
Ek dra dit saam, ek was jonk, deur patriotisme verblind
U ken die groot plan, U ken my seer
Te veel het gesterf, nou ontneem van alle eer,
Help my God, om te vergeet, om te vergewe
Help my om aan te gaan, te lewe,
Here, ek weet U staan aan my sy,
Vat weg hierdie bloed van lankal se goed
Sodat ek kan proe, die lewe, so soet