Ons kyk na Paulus se 29 opdragte in Romeine 12.
Schalk deel ook met ons 'n FGK parafrase:
Ek wonder hoe lyk opregte liefde, hoe voel dit om te sien en te voel by mense van wie ek dit nie verwag nie. Opregte liefde is daai liefde wat my nader trek as ek dit nie verdien nie.
Verbeel jou ‘n land waar ons verafsku wat sleg is (tot by die wortel) en wegbly daarvan; waar ons, al raak dit hoe donker, moeilik en seer vashou en soms vasklou aan wat goed is, juis omdat ons desperaat is.
Dink net as broederlike liefde so hartlik word dat broers en susters klas en kleurgrense oorbrug. Naasteliefde wat so hartlik uit die hart kom dat dit elke dag soek vir kanse om dit te wys en bewys.
Verbeel jou die prentjie van ‘n groep mense wat in elke situasie eerbied aan mekaar toon, selfs op facebook en in gesprekke waar die ander persoon nie kan hoor nie. Dink net hoe sal so voorbeeld lyk, waar ons mekaar leer eer.
Ons praat mekaar moet in en sê: kom aan, moenie opgee nie, moenie verslap nie, ons kan aanhou want aanhouers wen. Ons help mekaar om nie te kla nie, want ons is gedissiplineerd in ons toewyding.
Ons groepie Christene is vreemd, want as als ons depressief wil maak en laat stres is dit juis die tyd om bly te wees in ‘n hoop wat beter verwag al voel dit onlogies. Ons hoop gaan verstand te bowe want dit kom van bo af.
Omdat ons die nuwe hemel sien, Eendag en vandag, leer ons vas en vasberade staan in verdrukking en selfs onderdrukking. Ons staan vas.
Ons kry dit reg omdat ons aanhou gesels, nie met mekaar nie, maar met God. Ons ’go to’ is om te volhard in gebed.
Uit hierdie sterk-staan en voortdurende praat met God, raak dit vanselfsprekend dat ons medegelowiges help wat in nood is.
Ons lê ons toe op gasvryheid. Nie die gasvryheid waar ons vriende onthaal met masterchef disse nie, maar waar ons oop maak vir vreemdelinge, waar ons vreemde, anderse gaste innooi en ontvang soos familie.
Soos ons ons vyande (dink maar net oor wie jy lelik praat, wie frustreer jou, wie beledig jy) soos ons hierdie vyande leer liefkry en ons vervolgers die beste toebid trek ons die vervloekdheid uit ons eie lewens.
As mens-mense is ons bly saam die wat bly is, al is dit oor wat. Ons treur saam die wat treur, al is dit oor wat. Ons skryf nie voor oor hoe of waaroor iemand moet treur nie, ons kom langsaan en treur saam. Ons leer luister, al is die stem gebroke. Daar was die jaar ‘n duidelike stem van treur. Kom ons spits ons ore.
Kom ons verbeel ons hoe sal ‘n kerk lyk waar ons leer om eensgesind te wees? Ons leer dit deur ons missie te verstaan, en omdat ons leer om nie hooghartig te wees nie. Deur ons eerder by nederiges te skaar besef ons dat mag bestaan om gegee te word. Ons leer om nederig te luister wat wys ons is nie eiewys nie.
Soos die nuwe hemel deurbreek vergeet ons van kwaad met kwaad vergeld al voel ons lus om spiteful te wees.
Ons leer ontdek hoe ‘n houding lyk wat goedgesind is teenoor almal, selfs die wie ons nog nie ken nie. Selfs daai mense wat so anders is. Wat ‘n revolusionêre manier om te kyk na almal om jou, deur hulle goed gesind te wees: in verkeer, in die parkie, op die TV, by die werk, by die huis.
Met als wat ons het, praat en doen ons op ‘n manier wat vrede maak en bring; altyd. Vrede bewaarders en vredemakers... dis ons roeping! Hoe ambisieus.
- Kom ons onthou dat God dinge sal reg maak, ons hoef niemand te fix of te wys nie. God is God, kom ons onthou dit. Kom ons wees versigtig om nie perongeluk God te speel nie.
Voor Covid gedurende covid en na covid gee ons kos. Blikkies, nkosi bars en maaltye by ons huise. Ons gee kos vir die hongeres en ons help mense om hul dors te les, met water en baie ander dieper dinge waarvoor mense deesdae dors is.
Deur te gee, veral as ons nie so voel nie, maak ons van vyande vriende.
Al hierdie praktiese voorbeelde wys ons hoe ons die kwaad deur die goeie kan oorwin.