Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 25 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    Werklik!  Werklik!

    Die Romeinse soldate was beslis bewus daarvan die Jesus nie 'n "gewone" man was nie.  Iemand wat aan níks skuldig was nie, sou homself beslis in Getsemane teëgesit het.  Maar nie Jesus nie!  Die soldate moes gewis probleme met die kruisiging van hierdie man verwag het, want "die hele leërafdeling" (Matt 27:27) was ingeroep om Jesus te laat kruisig.  Met 'n enkele hemelse woord sou Jesus onmiddellik 'n volledige einde kon maak aan die spottery van die soldate - en tog swyg Jesus.  “Ons groet u, Koning van die Jode,” roep hulle spottend terwyl hulle "op Hom gespoeg en hom met 'n stok oor die kop geslaan het" (27:27-31).  Wetend dat hierdie man onskuldig was - het die goewerneur hom nie immers drie maal vrygespreek nie!

    Die woorde van Jesus aan die kruis - wat die soldate ook almal sou kon hoor - het beslis nie soos 'n "gewone" mens s'n geklink nie:  wie sou soos hierdie Man uitroep, "Vader, vergeef hulle"?  Niks van die dag was "gewoon" nie:  die drie ure van donkerte moes die soldate beangs gehad het, dan ook nog 'n aardbewing!  Is dit dan vreemd dat ons - nadat Jesus sy asem uitblaas - lees, "Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: Hierdie man was werklik die Seun van God” (27:54).

    Nooit eenmaal was daar 'n enkele mens wat Jesus herken het vir wie hy was nie - tot hierdie oomblik. Dit uit die mond van Romeinse soldate!  Dit het Jesus inderdaad sy lewe gekos voor mense Hom herken het vir wie Hy was! 

    Oor enkele dae begin ons met Lydenstyd. Die tyd vir nadenke.  Die tyd waar net een woord saak maak:  "Werklik!" "Werklik!"

    GEBED:  Jesus, maak my oë oop, sodat ook ek al mee ren meer begryp hoe groot U liefde werklik is.

    SKILDERY-BRON:   The Roman Centurion deur Nathan Greene.   Lees meer by https://nathangreene.com/pages/about

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 25 van #Ontmoetings kyk ons na die pas vrygestelde musiek-video van die Drakensberg Seunskoor se “Lacrimosa”.  Die koor skryf dat ter ere van die Wolfgang Amadeus Mozart se 266ste verjaardag (einde Januarie), wou hulle dit graag vier deur hul weergawe van sy Lacrimosa uit die Requiem vry te stel. “Aangesien Mozart so voor sy tyd was, het ons gedink ons sal 'n moderne klank by hierdie beroemde werk byvoeg.”

    Uit die liriek:
    Lacrimosa dies illa
    Qua resurget ex favilla
    Judicandus homo reus.
    Huic ergo parce, Deus:
    Pie Jesu Domine,
    Dona eis requiem. Amen.

    Full of tears will be that day
    When from the ashes shall arise
    The guilty man to be judged;
    Therefore spare him, O God,
    Merciful Lord Jesus,
    Grant them eternal rest. Amen.

    https://youtu.be/EiFGKejaiQs


     

     
     

    4 min
  • Dag 24 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    Dumas, aan jou sal gedink word.


    Vir my is hierdie die roerendste ontmoeting tussen Jesus en enige mens. Dit is Joh 3:16-17 wat hier in aksie voor ons oë uitspeel:  “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word."  

    In die Apokriewe boek van Nikodemus leer ons die man se naam ken:  Dumas.  In sy tyd was hy 'n berugte skelm.  Die kans is groot dat hy vir mense se dood verantwoordelik was - hy sou nie andersins sommer 'n doodstraf ontvang het nie.  Dumas weet dat hy skuldig is.  Anders as sy mede-veroordeelde weet hy ook dat daar een gestraf word wat dit nie verdien nie: "In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie" (Luk 23:41). 

    Dit sou natuurlik vir ons nie vreemd gewees het as Jesus (wat daar in die middel van die twee misdadigers hang) vir hom geantwoord het: "Jammer, spyt kom altyd te laat" nie. (Dit is hoe ons mos sê: "dit help nie om nou lang trane te huil nie!") Maar Jesus se styl is anders as ons s'n.  Soos iemand eenmaal skryf:  “Selfs hier teen die bitter einde, by die deur van die dood, kon Jesus nie anders as om die lewe uit te deel nie”.  Moet tog nie van my vergeet nie, Jesus.  Waarop Jesus antwoord: "Vandag sal jy saam met my in die paradys wees” (Luk 23:43).   

    Ek wonder of dit nie die enigste gebed is wat ons hoef te bid nie: Moenie van my vergeet nie, Jesus?

    GEBED: Jesus, dankie dat ek weet dat U altyd aan my ook dink.
     


    SKILDERY-BRON: Kreuzigung Christi (1430) deur die Oostenrykse kunstenaar Hans von Tübingen.  Die skildery is tans in die Kunshistoriese Museum in Wenen. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 24 van #Ontmoetings luister ons die vroue vokaalgroep, Kharizma se “Jesus o dink aan my”.  Onder musikale leiding van gospel sangeres, Alwena van der Vyver,  het Kharizma die produksie "Volbring - Verkondig en Besing" in 2013 vrygetsel. Alwena, het as  hoofsanger, samesteller, en musiekverwerker opgetree. Sy en haar mede-sangers, Liamé Deminey en Michelle Hough, is bygestaan deur Marié du Toit Austin, voorleser en regisseur. Die naam "Kharizma", is geïnspireer deur die Griekse sinoniem vir "Genade" en "Grasie".

    https://youtu.be/H7i5EZAO_K4

    4 min
  • Dag 23 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    Speletjies met die waarheid


    Dit is so maklik om van iemand 'n karikatuur te maak totdat jy jouself in sy gedrag leer ken.  Soos Judas Iskariot ons tot selfondersoek dwing, so geld dit ook van Pontius Pilatus.  

    Die taak van 'n Romeinse goewerneur was om belasting vir Rome in te samel (dit het hom alreeds 'n gehate figuur gemaak onder die onderdruktes).  Hy moes toesien dat wet en orde gehandhaaf word - ongelukkig vir Pilatus was dit reeds 'n onmoontlike taak, want in Jerusalem het die onrus kokend geborrel.

    Al die evangelieskrywers gee breedvoerig verslag van die gesprek tussen Jesus en Pilatus, ook tussen Pilatus en die Joodse leiers.  Hier sien 'n mens iemand wat weet wat die regte ding is om te doen, maar steeds kies om die teenoorgestelde te doen.  Wanneer jy in 'n hoek vasgekeer voel, is die risiko altyd daar dat jy 'n uitkoms soek wat tot jou voordeel sal wees.  Jou ego gaan jou grootste struikelblok wees.  Vir Pilatus ook.  Hy wou orals gewild wees.  Hoor net hoe "speel" die Jode hom:  "As u hom loslaat, is u nie 'n vriend van die keiser nie" (Joh 18:12).  'n Politieke doodskoot!  

    Hoe maklik is dit nie vir ons ook om speletjies met die waarheid te speel nie!  Hoe maklik is dit nie vir ons om die waarheid te draai dat dit ons pas nie.  Hoe maklik verontskuldig 'n mens jouself nie wanneer die water vir jou te warm word. Heel gerieflik was jy jou hande in die einste water en stap weg, asof dit nou jou onskuld bewys (sien Matt 27:24). 

    Nee, ek dink nie Pilatus was 'n "slegte" man nie - hy is maar soos enige een van ons.   Ons almal se integriteit word gereeld getoets.  

    Ek weet dat daar in my ook 'n Pilatus is.

    GEBED:  Here, dankie dat U dood ook vir Pilatus bedoel was.


    SKILDERY-BRON: Muurskildery van Christus voor Pilates in die St George-kerk op die Sveti Djordje Eiland van Montenegro. Dié skildery is tussen 1295 en 1317 deur Michael Astrapas en Eutychios geskilder. 
    Die eiland is die tuiste van die St George Benediktynse klooster uit die 12de eeu en die ou begraafplaas vir die ou adel van Perast en verder van die hele Baai van Kotor. Dit kon 'n inspirasie vir die bekende skildery Isle of the Dead gewees het.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 23 van #Ontmoetings kyk ons na ‘n video-opname van 'Pilate's Dream' as deel van die Broadway-musiekblyspel Jesus Christ Superstar gesing deur Tom Hewitt. 
    Jesus Christ Superstar is die eerste musiekblyspel deur Andrew Lloyd Webber en Tim Rice wat vir die professionele verhoog vervaardig is. 

    Uit die liriek:

    I dreamed I met a Galilean
    A most amazing man
    He had that look you very rarely find
    The haunting, hunted kind
    I asked him to say what had happened
    How it all began?
    I asked again, he never said a word
    As if he hadn't heard
    And next, the room was full of
    Wild and angry men
    They seemed to hate this man
    They fell on him, and then disappeared again
    Then I saw thousands of millions
    Crying for this man
    And then I heard them mentioning my name
    And leaving me the blame

    https://youtu.be/EIuPTfEnuu4

    4 min
  • Dag 22 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    Die woord "ken" het in die Bybel 'n baie intieme betekenis.  Dawid weet dat God hom "deur en deur ken" - selfs sy gedagtes; selfs wat hy gaan sê of waarheen hy gaan (Psalm 139:1-5).  Augustinus, die Kerkvader, het weer gesê, "God is nader aan ons as wat ons aan ons self is."  Só intiem is God in die mens se lewe betrokke.  Só mag ons God ook leer ken.

    Die teendeel is natuurlik ook waar:  jy kan iemand "ken", sonder om hom/haar regtig te ken.  Só iemand was Judas Iskariot (Judas van die dorpie Kariot).  Vir drie jaar het hy Jesus gevolg: saam brood gebreek; gesels; saam van Galilea na Jerusalem gestap.  Tog het hy niks van Jesus verstaan nie!  Hoe pynlik dat iemand wat Jesus só goed kon leer ken, onthou sal word, bloot, as "die verraaier."  

    Was Judas maar aan sy naam getrou (in Hebreeus het sy naam - Juda - beteken "om God te loof.")  Maar toe word hy "die uitverkoper".  Die een wat na die priesterhoofde gaan en sê, "Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom" (Matt 26:15). Waarom? Want Jesus het nie in Judas se verwagtinge voldoen nie.  Hy wou 'n ander "tipe" Messias hê. Hy wou 'n magtige Messias hê, een wat vir Rome kon verslaan.  Jesus se praatjies oor sy eie dood het nie by Judas se planne ingepas nie.   

    Almal van ons het 'n Judas in ons binneste.  Die dissipels het dit self besef.  Juis daarom vra elkeen - toe Jesus aankondig dat een Hom gaan verraai - "Is dit ék" (Matt 26:22)?  Ook óns moet leer dat Jesus nie by óns planne moet inpas nie, maar ons by Jesus s'n.  En dit is nie altyd maklik nie.  Soos Judas ontdek het.

    GEBED:  Here, wees U groter as my planne, en maak my klein om U te vertrou.

    SKILDERY-BRON: Italiaanse skilder Cimabué se “The Capture of Christ” uit die 13de eeu. Cimabue word beskou as een van die eerste groot Italiaanse skilders om van die Italo-Bisantynse styl te breek. Terwyl Middeleeuse kuns tonele en vorms relatief plat en hoogs gestileerde verbeeld, is Cimabue se figure uitgebeeld met meer gevorderde lewensgetroue verhoudings en skaduwee as ander kunstenaars van sy tyd.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:   Op Dag 22 van #Ontmoetings kyk luister ons na Franz Xaver Brixi , Praag se mees hoog aangeskrewe komponis gedurende die 18de eeu, se oratorio Judas Iskariot. Alhoewel hy 'n relatief kort lewe geleef het en op 41 aan tuberkulose gesterf het, was hy ongelooflik produktief, veral in sy uitset vir die kerk, wat nie minder nie as 400 werke tel. Die oratoria ios saamgestel vir die Heilige Fees van Goeie Vrydag, en dateer uit die 1760's toe Brixi op die hoogtepunt van sy kreatiewe vermoëns was.
    https://youtu.be/bn0vfbI-yX8

    4 min
  • Dag 21 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    Van die besonderste ontmoetings vind plaas in die laaste week voor Jesus se dood.  Die spanningsvlak loop nou al hoog: "Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na 'n plan om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak" (Mrk 14:1). 
    En dan stap die naamlose vrou die huis van Simon, die melaatse, binne - tot waar Jesus aan tafel saam met die ander gaste sit (v3).  Sy breek die "fles egte, baie duur nardusolie" oop en gooi die ganse inhoud oor Jesus se kop uit.  Wat 'n totale mors van waardevolle parfuum!  Die reuk moes oorweldigend gewees het; die olie drup oor Jesus se gesig; waarskynlik mors daarvan op die tafel.  Dis verstaanbaar:  "(almal) het teen haar uitgevaar" (v5).  Behalwe Jesus.
    Vir die eerste maal ontmoet Jesus iemand wat werklik verstaan.  'n Paar hoofstukke vroeër het Jesus vir Petrus-hulle gevra, "Maar, julle, wie sê julle is Ek?" (Lees Mrk 8:29.)  Al gee Petrus die regte antwoord, verstaan nie hy óf die ander dissipels as Jesus oor sy komende dood praat nie.  Petrus wil Hom selfs keer!
    Maar jy, naamlose vrou, jy verstaan!  Hier is "deernis-in-aksie", leer Jesus hulle.  Is dit nie die mooiste woorde wat dan volg nie:  "Wat sy kon, het sy gedoen" (v8)?  Niks meer nie.  Net dit.
    Is dit nie al is wat God van ons vra nie?  Doen wat julle kan, niks meer is nodig nie.
    Soms kan die ellende van die wêreld ons oorweldig.  Wat moet ons maak…  Dan hoor ek die woorde: "wat sy kon, het sy gedoen."  Sy het verstaan; en dit het haar hart in beweging gebring.  Toe doen sy wat binne haar vermoë was.
    Dit is wat God van jou vra. Niks meer nie.
    GEBED:  Heilige Gees, bring my hart ook so in beweging dat ek deernis-in-aksie kan word.

    IKOON-BRON: “Gastmahl des Simon” uit die St Albans Psalter. Die manuskrip, ook bekend as die Albani Psalter of die Psalter van Christina van Markyate, is in die 12de eeu by die St Albans klooster geskep.
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    MUSIEK:  Op Dag 21 van #Ontmoetings kyk ons na die liriekvideo van Christy Nockels se “Find Me At The Feet Of Jesus”.
    Uit die liriek:
    Lord, here I am 
    You have all of me 
    Take the world 
    You are all I need 
    Find me, find me at the feet of Jesus 
    Savior, find me with my heart bowed down 
    Find me on my knees 
    Find me close to Thee

    4 min
  • Dag 20 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    Deur wegkyk sien jy raak

    (Vandag se gasskrywer is Neels Jackson, bekende skrywer en joernalis van Pretoria).    


    Uit Jesus se gesprek met die ryk jong man (Matteus 19, Markus 10, Lukas 18) is dit waarskynlik daardie vreemde, ongemaklike woorde van Jesus wat almal bybly: “Gaan verkoop alles wat jy het en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê.”  Dit is egter Jesus se volgende woorde wat eintlik van belang is: “Kom dan terug en volg My.” Hierdie oproep, “Volg My!” is die universele oproep wat Jesus op alles mense doen.


    Die opdrag om sy goed te verkoop en die geld aan die armes uitdeel, is ’n opdrag wat Jesus net hierdie een keer gee. Van niemand anders vra Jesus dit nie.  Jesus gebruik dit egter om ’n beginsel te toets wat geld vir almal wat Hom wil volg: om weg te kyk van jouself en die nood van die mense om jou raak te sien. Dit is ’n beginsel wat ons keer op keer by Jesus hoor.

    As Johannes en Jakobus in die koninkryk wat Jesus gaan herstel, aan sy linkerkant en regterkant wil sit, dan verduidelik Jesus vir hulle dat dit nie is hoe dit in die koninkryk van God werk nie. As jy daar belangrik wil wees, moet jy die minste word en ander dien. Die twee dissipels het gedink aan hulle eie eer en invloed, maar Jesus roep hulle op aan ander se behoeftes te dink.


    Dít is wat ons moet raakhoor in die gesprek tussen Jesus en die ryk, jong man: die beginsel dat ons moet wegkyk van onsself en ander se nood moet raaksien. Want dit is ’n kernelement van die oproep wat Jesus op elkeen van ons doen, om Hom te volg.


    GEBED:  Jesus, help ons asb om weg te kyk van onsself en ander se nood raak te sien, sodat ons U kan volg.

    Vandag se gasskrywer is Neels Jackson, skrywer van (o.a) "Drie Dekades van Verandering" en "Jesus vir almal".

    IKOON-BRON:  Ikoon “Christ and the Rich Young Ruler” geskryf deur Katherine Sanders 2015. Klik gerus en lees oor die proses wat sy gevolg het: 
    https://orthodoxartsjournal.org/a-new-icon-composition-christ-and-the-rich-young-ruler/
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:   Op Dag 20 van #Ontmoetings kyk ons na die gewilde Nederland Zingt se pas vrygestelde musiek-video van die Nederlandse vertaling van  'Ancient Words' as 'Vertrouwde woorden'.  Dit is in die Martinikerk in Doesburg opgeneem.

    Uit die liriek: 

    Oude taal, lang bewaard
    voor ons leven op aard’,
    waar je ’t hart van God in hoort.
    Geef die vertrouwde woorden door.
    Woord van leven - geeft kracht.
    Woord van hoop - biedt houvast.
    Waar wij dwalen, oost of west,
    woorden wijzen ons de weg.

    https://youtu.be/x3kJ_R19N2E

    4 min
  • Dag 19 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    Maak die bande los en leef!

    Terwyl ons gister (Dag 18) oor Marta gesels het, is dit dalk goed om die storie voort te sit.  In die Johannesevangelie is Jesus se laaste wonderteken wat hy doen, die opwekking van 'n reeds-vier-dae-afgestorwe Lasarus.  Daar moet 'n rede wees waarom die Johannesskrywer dit juis hier in sy evangelie plaas (Joh 11:1-44).  Die volgende dood sal Jesus s'n wees. Die volgende liggaam wat uit die graf sal verrys sal Jesus s'n wees.  Só waarom speel hierdie insident hier af?  Wil dit ons maar net voorberei op wat vir Jesus wag?  Of gaan dit dalk oor iets meer?  Gaan dit dalk oor ons?
    In die eerste paragraaf sê Jesus aan sy dissipels, "Ons vriend Lasarus slaap, Ek gaan om hom wakker te maak" (Joh 11:11).  Helaas, Lasarus is al reeds dood.  In die tweede paragraaf praat Jesus met Marta, "Jou broer sal uit die dood opstaan" (v23).  Maar Marta verstaan nie heeltemal nie - Ja, Here, eendag, ek weet (v24).  Maar Jesus praat nie eers van "eendag" nie, Hy praat van nóú.  "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit" (v25-26)? 
    Hoe min het Marta verstaan dat Jesus opstanding wat voorlê die weg voorberei vir ons om híérdie lewe reeds voluit te mag leef leef, en nie te wag met 'n ééndag-gesindheid nie! Dat haar broer Lasarus se uitstap uit die graf juis oor hierdie lewe gaan!  Hoor Jesus se woorde aan die mense, "Maak hom los dat hy kan huis toe gaan" (v44).  Maak vir Lasarus los dat hy sy lewe kan gaan leef.  

    Dit is danksy Jesus se opstanding uit die dood dat ek en jy - soos in Lasarus se geval - die opdrag hoor:  maak los die bande, dat julle kan leef!  

    GEBED:  Here, soos Marta wil ek vandag ook bely:  Ek glo vas, Here!  Help my glo!

    IKOON-BRON: Ikoon: “Wonderwerk van Lasarus wat uit die dood opgewek is”, St. Katherine's Klooster, Sinai, 12de eeu
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 19 van #Ontmoetings kyk ons na ‘n video-opname van “Dis 'n wonderwerk” deur die Bryanston Parallel Medium Skool se Juniorkoor by die Louwtjies Koorfees 2019 (Laerskool LS Louw Geldenhuys). 
    https://youtu.be/VPDLxl4vwgI
    Luister gerus na die ander kore wat by die  praggeleentheid opgetree het: https://youtube.com/playlist?list=PLmDdcWAYOa9C933a0ZvZPdx9YOUzbu-dM









    4 min
  • Dag 18 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    Die prioriteit van reg kies

    Elke keer wanneer ek Jesus se woorde - “Marta, Marta...” (in Luk 10:41) lees, krimp my hart
    ineen vir haar part. Hoe gemaklik dat Maria, haar jonger sus, haar met al die verantwoordelikhede los.  Wie moet vir al die gaste sorg!  Gasvryheid was juis een van die belangrikste eienskappe van ‘n goeie Joodse huisgesin!  

    As oudste suster was Martha die verantwoordelike een. En dit lyk vir my alte veel of haar sus, Maria, lekker lyf wegsteek.  Sy wat Marta was, sou seker ook wou sit en luister as sy kon, maar
    wat dan van die gaste?  En dan kom daardie veroordelende woorde, “Marta, Marta...”. 

    Ek het later jare eers besef hoe verkeerd ek die teks in Luk 10:38-42 lees. Dit gaan inderdaad oor
    prioriteite, maar nie soos Marta dink nie. Dit was met goeie rede dat Marta haar suster weg van Jesus se voete wou lok. Dis nie dat Maria moes help nie bedien nie.  Daarvoor was hulle welaf genoeg om 'n klomp dienshulpe te hê.   Marta was bekommerd oor hulle goeie naam!  Oor haar suster se reputasie! ‘n Vrou mag nie deur rabbi’s geleer word nie. ‘n Vrou kan nie in die geselskap sit
    waar ‘n klomp mans sit nie. ‘n Vrou moes haar plek ken. Wat sou die inwoners van Betanië van Maria dink!  "Maria, Maria, kom help my", probeer sy haar suster daar wegkry.

    Jesus wys hoe ons selfgemaakte menslike reëls kan skep waarmee ons ander (en onsself) uit God se geselskap kan weghou.  Hoe ons "die regte" dinge wil doen (ook in ons godsdiensbeoefening), maar eintlik so min verstaan. Maria het dit ingesien.  Jesus was so belangrik dat niks haar van Jesus se lering sou weghou nie.  Dit moet ook ons prioriteit wees!

    Dit laat my oor myself wonder:  is daar dinge wat my van God af weghou?

    GEBED:  Here, wys tog vir my waar ek dalk hindernisse oprig tussen U en myself.


    SKILDERY-BRON: “Christ in the House of Martha and Mary”  (1886) is ‘n skildery deur Henryk Hektor Siemiradzki, 'n Poolse skilder wat in Rome gewoon het. Hy was veral bekend vir sy uitbeeldings van tonele uit die antieke Grieks-Romeinse wêreld en die Nuwe Testament, wat vandag deur baie nasionale galerye van Europa besit word. 


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK:  Op Dag 18 van #Ontmoetings kyk ons na die musiekvideo “Ringing Them Bells” deur die Britse The Spirituals -koor.  Die lied vier van die beste “spiritual”-musiek uit die geskiedenis onder meer “O Mary, O Martha”. 


    https://youtu.be/M3wzlwUztd4

    4 min
  • Dag 17 van meditasie-reeks #Ontmoetings

    'n Vrygewige vergeefde

    Vergifnis impliseer nie sommer net vergeet-alles-wat-verkeerd-was nie.  Dink nou maar, wanneer 'n verhouding tussen jou en 'n ander persoon skade gely het (a.g.v. jou verkeerde gedrag), en jy vra vergifnis, dan gaan jy nie net aan asof niks gebeur het nie.  Nee, jou grootste begeerte is om dinge te herstel.  "Wat kan ek doen om dinge reg te maak?"  

    Saggeus het dit verstaan!  

    Die armstes van die armes is altyd die broosste van 'n samelewing.  Presies so was dit die geval met die meeste Jode in Jesus se tyd.  Hulle was reeds verarm as onderdane van Rome.  Hoe erg is dit om in jou armoede dan nog deur "jou eie mense" verder verdruk te word.  Dit is waarom tollenaars sulke gehate mense was: hulle het belasting vir Rome ingesamel; en boonop kon hulle 'n lekker vet bonus vir hulself byvoeg.  So is hulle verryk, en hulle landgenote het verder verarm.  G'n wonder almal was verbaas-geskok toe Jesus in Saggeus se huis ingaan nie:  “Hy gaan by 'n sondige man tuis" (Luk 19:7)!

    Saggeus het verstaan!

    Sonde het altyd implikasies.  Sonde doen skade.  Sonde breek verhoudinge af:  of dit jou verhouding met God; die kosmos; jouself; of jou naaste is.  

    Saggeus het verstaan!

    Wanneer God "by jou begin tuisgaan", dan begin jy deur God se oë na jou eie lewe kyk.  Leer jy genade ken, dan raak jy eerlik oor jou lewe.  DIt is wat vergifnis impliseer.  Daarom verklaar Saggeus:  “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” (Luk 19:8).  Vergifnis beteken nie om maar net aan te gaan nie; dit beteken herstel. 

    Dit is waarom Saggeus so vrygewig geraak het:  hy het vergifnis ontvang.  Hy het verstaan. Ek hoop jy ook.

    GEBED: Here, wys my waar moet ek dinge met iemand regmaak?   

    FOTO-BRON: Die Deense skilder Niels Larsen Stevns se 1913 olie-op-doek-skildery “Kristus og Zakæus”.  Die skildery is tans in die Randers Kunsmuseum in Denemark. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK: Op Dag 17 van #Ontmoetings kyk ons na ‘n musiekvideo van die Suid-Koreaanse groep Yeram se lied “He Calls My Name - Song of Zacchaeus”.   Die groep skryf dat die leegheid in Saggeus se hart deur Jesus herstel is. “Die Here praat vandag met ons. Dit is genoeg om my te ontmoet net soos ek is."

    https://youtu.be/o6GZutZn_aU

    4 min
  • Dag 16 van meditasie-reeks #Carpe Diem

    'n Nuwe kans vir oor begin  

    Om verdink te word van iets is erg, maar om op heter daad betrap te word is doodsake - veral as dit egbreuk was.  Die Wet van Moses het bepaal dat beide owerspele man én die vrou gestenig moet word (aldus Deut 22:22).    Hierdie verhaal in Joh 8:2-11 hou vir Jesus soveel slaggate in.  Die Skrifgeleerdes en die Fariseërs is vir eens oortuig van hulle saak:  die Wet sê mos sy moet gestenig word!  Sê Jesus "nee, laat haar gaan", dan oortree Hy die wet van Moses.  Sê Hy "ja, stenig haar", dan is al sy prediking ongeloofwaardig in die oë van sy volgelinge.  Is hy dan nie die een met al die genade-storietjies nie, sou hulle kon sê.  Catch 22!  

    Já, sê Jesus.  Dit is reg.  Die Wet moet gehoorsaam word:  stenig haar (en per implikasie die man). Máár onthou ook wat die Wet verder sê, die getuies moet die eerste klippe gooi, en daarna moet die volk voortgaan (Deut 17:7).  Almal daar in die skare sal moet deelneem aan haar vonnis, maar dit begin by die Fariseërs en die Skrifgeleerdes.  En teloops, voeg Jesus by:  "tel die klip op … as jy 'n skoon gewete het."   Oeps!   

    Op die ou end bly net twee oor:  die vrou (wat weet sy verdien haar veroordeling), en die Man (met die "skoon gewete").  En tussen hulle is die eggo van Joh 3:17,  "God het nie sy Seun na die wêreld gestuur het om die wêreld te veroordeel nie…"  Jy is vry!  Leef 'n rein lewe.

    Hier sien ons hoe "Sola Gratia" in aksie lyk.  Die God van tweede en derde kanse en vierde kanse.  G'n wonder ons word genooi om mede-sondaars ook met genade te beoordeel nie.  Immers hoor ons self die woorde:  Jy is vry.  Leef 'n rein lewe.

    GEBED: Vergewe my dat ek so vinnig 'n oordeel oor ander uitspreek, Here.  Leer my om self 'n rein lewe te leef sonder oordeel, Genadige God.
        
    SKILDERY-BRON:  Woman Taken In Adultery deur Bruce H. Smith (2002) Gemengde media op doek. 
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Ontmoetings -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK:  Op Dag 16 van #Ontmoetings kyk ons na ‘n musiek-video van “U Genade” deur Johnny Davids.  Hy skryf: “My inspirasie is die genade en guns van die Here. Hy is die begin en einde van alles. Ek is dankbaar dat ek die besonderse geleentheid gegun word om op so ’n manier my lewensverhaal te kan vertel.” 
    https://youtu.be/xAFUSrAjhR8

    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…