Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 13 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Petrus bou voort op gister (Dag 12) se tema van "heiligmaking":  gee dieselfde oproep tot heiligheid in sy brief:  "As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees" (1 Pet 1:14-16).  Ons lewenswandel is dus wat wys of ons aan die heilige God behoort.    

    Dit laat my dink aan Jesus wat die mense tydens die bergpredikasie geleer het hoe werklik gelukkige mense leef, en toe die gedagtes afsluit met:  “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matt 5:48).  

    Die opsomming van die hele Matteus 5 is dalk in die laaste verse, wanneer Jesus die "werklike gelukkiges" (Matt 5:3-12) leer hoe werklike liefde lyk.  (Weet ons nie reeds intuïtief dat mense wat liefhet gelukkig sal wees nie…).  Maar Jesus bring 'n nuwe prentjie aan liefde:  om lief te hê soos wat God lief het.  "Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen" (Matt 5:46-47). 

    As God goeies en slegtes liefhet (en klaarblyklik nie voortrek nie), so doen die "kinders van God" ook.  Daar is geen kuns daaraan om net jou eie mense lief te hê nie (aldsus 5:46-47).  Máár diegene wat aan God behoort, tree anders op. 

    As jy dus wonder of jy "heilig soos God" leef; of " volmaak soos God" is, is die maatstaf bloot: tree jy anders op as mense wat nie aan God behoort nie?

    Doen jy?

    GEBED:   Here, dankie dat U dit vir my moontlik maak om "heilig" te leef, omdat U my wýs hoe heiligheid lyk  

    VENSTER-BRON:  Detail van loodglasvenster geskep deur Louis Comfort Tiffany  (1848 –1933)  in die Arlington Street Kerk in Boston (VSA) wat die Preek op die Berg uitbeeld. 


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:   Op Dag 13 van #Spoorlangs kyk ons na die pas vrygestelde musiek-video van “Heilig is die lewe” deur Riku Lätti.  

    Uit die liriek: 

    heilig is berge
    want hul wys ons hoe klein ons is
    met hul pieke in die wolke
    maar hul voete op die grond
    heilig is die winde
    want hul waai ons sondes weg
    hulle bring die nuwe wolke
    hulle bring die nuwe reën

    https://youtu.be/Sifkxg2NBuU

    4 min
  • Dag 12 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Soms is daar woorde wat vir ons - gewone gelowiges - bietjie soos "kerktaal" klink:  soos "regverdigmaking" en "heiligmaking".  Tog is dit belangrike SPOORLANGS-taal.  Dit herinner jou aan wie jy is; en ook wat van jou verwag word.      

    Die een het te maak met "alreeds" en die ander een met "nog nie". Maar dit bly vreemd dat ons worsteling baie keer eerder oor die "alreeds" gaan en ons minder moeite doen met die "nog nie" … terwyl dit heeltemal andersom moet wees.   Lydenstyd wil ons juis hiermee help.

    Jy is - "alreeds" - 100% regverdig!  Op hierdie reis, SPOORLANGS, is dit jou wegspringblokke. In Bybeltaal beteken regverdig om "vrygespreek" te wees. Soos Hand 13:39 beloof:  "Elkeen wat glo, word deur Hom vrygespreek van alle sondes." Of soos Paulus leer, ons is "vrygespreek op grond van sy versoeningsdood" (Rom 5:9).  Niks kan jou status by God verander nie!  Tog is daar soveel gelowiges wat dit steeds net nie kan glo nie:  het God hulle werklik vergewe?  Het God hulle werklik lief?   

    Wat ewe onverstaanbaar is, is dat "vrygespreekte" ons status is; en steeds hou ons vas aan 'n ou manier van leef.  Dit is asof ons vrede maak met ons sondigheid, in plaas daarvan om te streef na heiligmaking.   'n Vrygespreekte strek hulle hande (en hulle gedrag) altyd in die rigting van 'n heilige lewe (m.a.w. "afgesonder vir God'). Om "soos Christus" op te tree - dit is ons doelwit.  Om soos Hy lief te hê.  Ons het 'n doelwit: "Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe…" (Heb 12:4).   

    Christus is ons "heilige vredemaker".  In Christus is ons bedoel om ook "heilige vredemakers" te wees.  M.a.w. ons moet "soos Christus" wees.  Dit is vandag se uitdaging vir jou en my.

    Gebed:  Here, ek dank U dat die bloed van Jesus van my 'n vrygespreekte mens maak; maar laat die Heilige Gees dan nou my gedrag bepaal sodat ek as 'n al heiliger vredemaker kan leef.

    BRON-SKILDERY:  “Preek van Jesus” in die Joriskerk, Antwerpen, 19de eeu.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/



    MUSIEK: Op Dag 12 van #Spoorlangs kyk ons na ‘n musiek-video van die Deon Meiring se lied “Maak My Vry”.  Die video is deel van Deon se  Einde van die Maand-sosiale media video-reeks. 

    Uit die liriek: 

    ja, ek smag na 'n vaste burg
    al is ek ook 'n wegloopkind
    langs 'n lankal vergete kus
    vind ek 'n bottel met 'n tikmasjien in
    waarop ek alles wat ek weet kan tik
    sodat die see dit weer in kan sluk
    en my herinner ek is tydelik
    ek moet van tyd tot tyd weer oor begin
    maak my vry
     

    https://youtu.be/W9EUdjjjuOc


    4 min
  • Dag 11 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Ek lees hierdie sinnetjie raak in 'n boek:   "Lent is 'n oproep om jou verbintenis te hernu wat dalk deur tyd verdof het - miskien a.g.v. 'n lewe wat meer gekenmerk word deur roetine as nadenke."   Net dít is reeds motivering genoeg vir my om op hierdie Maandag, van voor af toegewy, met die Lydenstydreis voort te gaan.  Hoe maklik word my lewe nie maar net roetine nie.  Hoe selde neem ek tyd vir nadenke. Ek wil my roetine verbreek - en Lydenstyd help daarmee!

    Afskakel en - soos die Engelse sê - "unwind" is nie maklik nie. Selfs 'n vakansie is soms te kort! Jy bly vasgevang in al die dinge wat nog gedoen moet word. Hoe moeilik is dit nie vir mense wat met soveel geraas leef nie (bv. televisies; sosiale media; musiek in die motor, ens.) om in Lydenstyd te kies om op 'n "geraas-vas" te gaan. Tog weet ons, net stilte bring introspeksie.  Soos die skrywer skryf, "Self daag Lydenstyd my uit om te besluit of ek steeds glo wie Jesus is.  Veral wanneer die adventsliedere van engele in my lewe al verder wegkwyn en die ster van Bethlehem vir my dof geword het."
    Ek weet dat ek ook soms die "lied vir die lewe" se wysie verloor.  Spoorloos voel. Lydenstyd is die tyd van soek-en-vind.  Daarom mag ons bid, "Ek het my vreugde verloor, Here, hernu dit in my. Maak my weer heel."  Ek mag in hierdie tyd God aan sy woorde in Jer 18:4-6 herinner:  "U (die Pottebakker) het toe iets anders gemaak soos U dit wou hê."  Doen dit met my ook!

    Wat in jou lewe het dalk dof geword, of weggekwyn? Wat wil jy (en God) anders hê?

    GEBED:   Soos klei in die pottebakker se hand, só is ek in U hand. Vorm my na U hand.

    SKILDERY-BRON:  Potter’s Hands deur Melani Pyke van Kanada.  Skilder in akriel en olie op doek.   Beste; afdrukke by https://www.melpyke.com/works/2021536/potters-hands.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    *Joan Chittester in "The Liturgical Year"

    Mrt 14
    MUSIEK: Op Dag 11 van #Spoorlangs luister ons na “U is die Pottebakker” deur Kirsten Rossiter. 

    Uit die liriek: 

    U is die Pottebakker,
    Ek is die klei.
    Rowwe stukkies steek uit by my,
    Neem u hand, en maak met my . . .
    Bewerk my.
    Sodat ek ’n pot kan bly,
    Na aan u sy . . .
    Wat U kan vul.
    Oorweldig my.
    Oorwin my.
    Versadig my.

    https://youtu.be/0khDFT5rEAY

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    3 min
  • Sondag 2 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    SPOORLANGS: 'n RUSDAG

    In die Vroeë Kerk het die tweede Sondag van Lydenstyd 'n interessante naam:  "Reminiscere". As 'n mens die Latynse woord ("Reminiscere") vertaal, dan is dit iets soos "Onthou-Sondag". Of "Herinnering-Sondag".  Dalk is "Dink terug aan… Sondag" 'n beter woord.  

    Soms is terugdink-gedagtes nie altyd lekker nie.  Maar hierdie dag se terugdink is anders - dit is terugdink aan die mooiste tyd wat jy kan onthou.  

    My ouers is pas 62 jaar getroud.  Ek vra uit oor daardie dag:  "kan hulle dit nog ooit onthou?" wil ek weet.  "Natuurlik, asof dit gister was", antwoord hulle bykans gelyk.  Ons blaai deur die trou-album met die mooi swart en wit foto's.  As jy nie self daar was nie (soos ek nou) dan is dit 'n dag waaroor jy nie kan saampraat nie.  Maar, as jy self daar was, is dit 'n dag wat herleef word.  

    Só 'n dag is vandag.  Die verrassing is dat dit 'n dag is waar God gevra word om te onthou.  Soos die digter vir God vra, "Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het" (Ps 25:6).  Ek weet wat Dawid vra, want ek voel ook soms so:  Moenie dink aan my sonde nie, dink asseblief verder terug, Here, en herroep die beloftes wat U gemaak het in 'n tyd toe ek nie daar was nie.  Dink terug, maar laat die gedagtes vol sagtheid en deernis wees.  

    Anders as ons wat skuldgevoelens oor selfs lank-gelede se afdwaalpaae met ons saamdra; is God anders.  God grawe nie "ou koeie" uit die sloot en slaan ons daarmee oor die kop nie.  Ons doen dit.  Maar God is anders!  Wat verby is, is verby.  Behalwe God se liefde en Sy trou! 


    Gebed:  Here, help my onthou wat U onthou. Laat ek vergeet dit wat U vergewe het. 

    SKILDERY-BRON: “Die instelling van die Nagmaal” is ’n skildery deur Nicolas Poussin (1647), Rome.  

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK:  Op die Tweede Sondag van Lent, as deel van ons reeks #Spoorlangs, luister ons na Consortium Vocale Oslo, 'n vokale ensemble gebaseer in die Oslo-katedraal. Sedert 1998 spesialiseer die ensemble in Gregoriaanse gelyksang onder leiding van Alexander M. Schweitzer. Onder Schweitzer se leiding het die groep hom toegewy aan die paleografiese studie van Middeleeuse manuskripteen aan 'n interpretasie van Gregoriaanse gelyksang volgens semiologiese beginsels.  Hulle bid en gelyksang die lied “Introitus Reminiscere”. 


    https://youtu.be/WfqAcQF4q9w

    3 min
  • Dag 10 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Vandag is ons tiende dag op hierdie geloofsreis tussen Ashoop en Hoop.  Of noem dit tussen Spoorloos en SPOORLANGS.  Op Aswoensdag het ons die pad begin stap met verlede jaar se verbrande as op ons voorkop. "Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer."  Hoe langer ons op hierdie pad loop, hoe meer leer ons om alles van die "ou mens" te laat gaan.  Dra jy dit met jou saam, kan jy verseker weet gaan dit jou van vreugde beroof.

    Wonder jy ook soms wat Jesus regtig bedoel het, toe Hy die twaalf dissipels uitstuur om die goeie nuus te gaan verkondig.  Niks mag hulle saamneem nie, behalwe 'n paar skoene.  Dan kom die opdrag, as mense hulle nie wil ontvang nie, moet hulle aanbeweeg:  "Gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle” (Mrk 6:11).  Sommige teoloë vra die vraag:  Gee God dan so vinnig met mense moed op?  Of beteken dit dat jy moet doen wat jy kan en as iets nie volgens plan werk nie, moet jy aanbeweeg.  Gee ook die mislukkings terug aan God.  

    Jesus het uit ervaring gepraat.  Net voor hierdie gedeelte lees ons hoe die inwoners van Nasaret Jesus verwerp.  Gee Hy moed op?  Nee.  Hy het na die dorpies in die omtrek gegaan en ander mense begin leer (Mrk 6:6).  Jesus het beslis geweet dat verwerping ons maklik van koers af kan gooi.  Ook van God se koers vir ons. 

    Die een ding wat ons nie kan doen nie is om te "broei" oor dit wat anders uitdraai as hoe ons geglo het dit sou.  Skud "elke las, ook die sonde wat so maklik verstrik" (Heb 12:1) soos stof af en gaan voort om jou "te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het" (Ef 2:10).

    GEBED:  Here, ek wil maak soos U die dissipels geleer het.  Afgooi en nuut begin.  Elke dag.

    BRON-SKETS : ’n Skets verskaf deur Sweet Publishing bedieningsondersteuning. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    12 mrt
    MUSIEK :  Op dié Saterdag, Dag 10 van #Spoorlangs, kyk ons na die musiek-video van die rock-sanger Sean Curran se treffer  “Shake The Dust Off”.

    Uit die liriek:

    Let the fear fall
    Turn the light on 
    Take heart take heart 
    Let the praise rise
    Lift the King high 
    This is how we fight 
    Take heart take heart 
    Shake the dust off

    https://youtu.be/W0CyZF3FCzk

    4 min
  • Dag 9 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Vir baie mense is Lydingstyd 'n "moeilike" tyd.  Dalk gee die omstandighede in die wêreld nog 'n swaarmoediger toon aan.  Ons leef midde 'n pandemie wat ons almal affekteer.  Om nie te praat van 'n oorlog wat op die vooraand van Lydingstyd uitgebreek het nie!  Natuurlik voel die lewe vir ons deurmekaar, selfs donker.  Moet ons dan juis nóú "masochisties" wees en vir 40-dae 'n Lydenspad saam met Jesus stap?  

    'n "Deurmekaar-lewe" was vir die vroegste eeue se christene 'n vanselfsprekendheid. Nie net weens  die "gewone" alledaagse pyn wat alle mense op aarde beleef nie.  Nee, dit was spesifiek die lyding a.g.v. geloofsvervolging.  Tog, so leer die geskiedenis ons, was die christene van die blymoedigste mense in die gemeenskap.  Hulle het die minste gehad, en tog was hulle van die vrygewigste.  Vreude - selfs humor - was een van die grootste kenmerke tydens hulle byeenkomste.    

    Paulus skryf aan die gemeente in Korinte van die moeilike omstandighede waarin hy en die jong Timoteus hulself bevind het: "Ons is geslaan, in die tronk gegooi … het honger gely."   Tog tree hulle steeds "onberispelik, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid" op (2 Kor 6:5-6).  Ek wonder sommer skielik, of dit die prentjie is wat mense van ons as christene het:  werklik blymoedig, dankbaar en gevul met hoop?  Tree ons regtig anders op as mense wat nie glo nie?   

    David Steindl-Rast leer dat, vreugde nie van omstandighede, goed óf sleg, afhang nie.  Vreugde is die gevolg van dankbaarheid.  "Dit is die dankbare reaksie op die geleentheid wat die lewe jou op hierdie oomblik bied.” 

    Is Lydingstyd nie juis een van die geleenthede in ons lewe wat ons juis so baie rede vir dankbaarheid gee nie!  Die grootste daarvan is om God toe te laat om ons te hervorm tot die mens wat God wil hê ons kan wees.

    GEBED:  Here, leer my om te midde van alle omstandighede met 'n gesindheid van dankbaarheid te leef.

    IKOON-BRON: Paulus het deur sy sendingreise verhoudings met kerkgemeenskappe ontwikkel. "Paulus preek vir die Jode in die sinagoge in Damaskus," uit tonele uit die lewe van St Paul (mosaïek), Bisantynse Skool, 12de eeu. Duomo, Monreale, Sisilië, Italië.
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 9 van #Spoorlangs kyk ons na die musiekvideo van Zach Williams se  “No Longer Slaves”. 

    Uit die liriek: 

    No Longer Slaves
    You unravel me, with a melody
    You surround me with a song
    Of deliverance, from my enemies
    Till all my fears are gone
    I’m no longer a slave to fear
    I am a child of God

    https://youtu.be/bDnA_coA168

    4 min
  • Dag 8 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Dit was Francis van Assisi wat gesê het dat christene áltyd die evangelie moet verkondig, en as dit nodig is moet hulle woorde gebruik.  Ons gedrag praat harder as die hardste skreeu.   Pagomius, die Grote ('n man wat in die 4de eeu in Egipte geleef het - en later as 'n heilige verklaar sou word) sal kan getuig hoe waar dit is. Hy en 'n paar ander jongmanne was - onskuldig - onder haglike omstandighede in die tronk gestop.  'n Hongerdood was hulle voorland!  Op een of ander manier het 'n groep mense van die dorp van die toestand in die tronk gehoor en kos en water en medisyne gebring.  Wie is die ontfermende "engele"?  Dit moet die christene wees, is vir hom gesê.  Hulle is bekend vir hul barmhartigheid, selfs teenoor vreemdelinge.  Ná sy vrylating het hy hom by die christene aangesluit en hom laat doop.  En mettertyd het hy een van die invloedrykste christene van die land geword.

    Vir die vroegste eeue se christene was hul medemens se lyding hul lyding.  Elke geleentheid waar hulle barmhartigheid kon bewys, is aangegryp … want het Jesus nie aan húlle die grootste barmhartigheid bewys nie!  Was die lyding van Jesus dan nie die grootste bewys daarvan nie!  Soos Jesus self die opdrag gee:  "Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is" (Luk 6:36).  Geseënd sal die sagmoediges en die barmhartiges wees (aldus die saligspreke). 
     
    As Lydenstyd die seisoen in die Kerk is wat ons uitnooi om selfondersoek te doen, dan moet ons seker by ons dade van liefde (of die afwesigheid daarvan) begin.  Omdat ons - soos die Fariseërs - die regte woorde kan gebruik, maar van binne af koud is (Matt 23:27-28).  

    Mag ons almal die waagmoed van selfondersoek hê.

     GEBED:  Here, gee my 'n hart soos U hart:  vol liefde en deernis.   

    SKILDERY-BRON: Philip Fruytiers se St Francis van Assisi is olie op doek,  geskilder in die 17de eeu. Tans in die Koninklike Museum van Beeldende Kunste, Antwerpen. 
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    10 mrt
    MUSIEK:  Op Dag 8 van #Spoorlangs kyk ons na ’n musiekvideo van Sarah McLachlan en haar studente se uitvoering  van die Prayer of St. Francis.

    Uit die liriek:

    Lord make me an instrument of your peace
    Where there is hatred let me sow love
    Where there is injury, pardon
    Where there is doubt, faith
    Where there is despair, hope
    Where there is darkness, light
    And where there is sadness, joy
    O divine master grant that I may
    not so much seek to be consoled as to console
    to be understood as to understand
    To be loved as to love
    For it is in giving that we receive
    it is in pardoning that we are pardoned
    And it's in dying that we are born to eternal life
    Amen

    https://youtu.be/agPnMxp5Occ

    4 min
  • Dag 7 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Waarskynlik is die bekendste klaagpsalm vir Lydenstyd die een van Dawid in Psalm 51.  Dalk is die eenvoudigste opsomming van hierdie psalm:  "Breek my hart oop, Here."  Oopgebreek en gebroke is verskillend.  Gebrokenheid is behoorlik flenters.  Dit kan nie herstel word nie.  So stukkend dat jy dit maar kan weggooi.  Dawid se gebed is anders:  Breek dit oop, Here, sodat dit júís reggemaak moet word.  

    Onlangs het iemand vir my 'n sakkie makadamia-neute gegee.  Helaas, ek het die neutekraker intussen gebreek; daarna 'n hamer probeer - sonder sukses.  Die sakkie lê nou vergete op 'n rak.  Dit is amper asof ek Dawid hier hoor sê, "Here, moet tog nie met my moed opgee asof ek 'n versteende macadamia-neut is nie;  en moet nie daarom van my vergeet nie.  Breek oop, Here, breek oop."

    Die lewe het die geneigdheid om ons met rowe en letsels agter te laat -  of dit nou bitterheid of teleurstelling, swaarkry of seerkry en verwerping is.  Algaande begin ons verdedigingsmeganismes soos doringdraad om ons seergemaaktheid te span.  Seerkry wat ons ontvang, begin ons self uitdeel aan ander.  Ons raak meer en meer "getraumatiseerde" mense, wat juis die oopbreek van ons harte nodig het.  Self kan ons nie heel word nie.

    Daarom moedig Paulus ons aan om onsself aan God te gee om oopgebreek te word, en van binne af getransformeer te word.  Moenie gewoond raak aan die verharde buitekant nie. "Nee", leer Rom 12:2 ons, "Laat God julle van binne af nuutmaak.  Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag.  Dan sal julle ook weet wat sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee" (uit die Boodskapvertaling).

    "OOPGEBREEK" en "NUUTGEMAAK" - dit is waarheen die reis, SPOORLANGS, ons wil neem. 

    GEBED:   Here, gee aan my vandag die eerlike, selfontblotende hart van 'n Dawid.  

    IKOON-BRON: ‘n Miniatuur-ikoon van Koning Dawid wat bid in die Theodore Psalter, 1066, Konstantinopel (Die Britse Biblioteek)

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/



    MUSIEK: Op Dag 7 van #Spoorlangs  luister ons na die Nerderlandse “Witter dan sneeuw” (Psalm 51) as deel van die The Psalm Project.
    https://youtu.be/vph6EqZe42k

    4 min
  • Dag 6 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Hoe vertaal 'n mens "mindfulness" in Afrikaans?  Is dit bewustelik leef?  Klink amper soos Paulus wat skryf:  "Word wakker jy wat slaap" (Ef 4:14).  As jy nie doelbewus oplet wat in jou lewe/gedagtes aan die gang is nie, word jy dalk een oggend wakker, en besef skielik jou lewe het by jou verbygegaan…

    Ek het nie besef dat die woord "SPOORLANGS" vir my 'n oefening van bewustelik-leef gaan word nie. Male sonder tal besef ek dat ek - onnadenkend - SPOORLOOS skryf.  My gedagtes het koers gekry terwyl my vingers tik … dan moes ek op my spore terugstap om die fout te herstel.  Vir my is dit 'n lewensles:  die lewenspad tussen SPOORLANGS en SPOORLOOS lê eintlik vreeslik na aan mekaar.  Dit is nie asof ons doelbewus die pad byster raak nie.  Dit gebeur so al "mindlessly" in plaas van "mindfully."  

    Lydenstyd gaan oor hierdie ander manier van leef! Wakker-wees. Bewustelik kry ons kans om ons geloofstemperatuur te meet. Op 3:1-2 waarsku mos: "Was julle tog maar koud of warm. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het."

    Charles Spurgeon het eenmaal gesê dat daar waarskynlik geen beter bepaler vir jou geestelike temperatuur is as die intensiteit van jou gebedslewe nie.  G'n wonder nie dat gebed juis dié geloofsgewoonte vir Lydenstyd is nie!   Daar is waarskynlik geen beter termometer om naasteliefde te meet as die gewilligheid om jou lewensmiddele te deel nie.  Die gom wat hierdie twee geloofsgewoontes - gebed en vrygewigheid - aan mekaar bind, is om jou eie "verslawings" prys te gee.  Vas is dalk die beste oefening van bewustelik lewe!  Hongerte maak jou van elke oomblik bewus; dit maak jou bewus van honger mense om jou, en ook jou eie honger na God. 

    Sien jy kans om jou temperatuur vandag te meet?

    GEBED:  Heilige Gees, gee my 'n eerlike gees om vandag my lewe te ondersoek.


    BRONFOTO:  Kerkklok in La Rochelle, Frankryk afgeneem deur Rafael Garcin op Unsplash. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    8Maart 
    MUSIEK: Op Dag 6 van #Spoorlangs kyk ons na die liriekvideo van “Waking Up” deur die groep We The Kingdom. 
    Uit die liriek: 

    I’m waking up
    I’m waking up
    I can feel my heart beating and breath in my lungs
    I’m on fire, finally free
    I am alive in the land of the living
    Here I am
    Moving on
    We’re gonna take back all that the devil stole
    I found my healing

    https://youtu.be/DZhCFKFOZYk

    4 min
  • Dag 5 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    MAANDAG, 7 MAART

    SPOORLANGS:  DAG 5

    'n Paar jaar gelede het ek 'n boek aan 'n uitgewer voorgelê.  Soos gebruiklik het ek ook 'n titel vir die boek voorgestel:  Van Ashoop na Hoop.  "Bietjie te negatief" het die uitgewers laat weet.  'n Boek moet verkoop - en die naam moet daarmee help.  'n Naam met 'n "negatiewe ondertoon" is nie 'n bemarkbare naam nie, het hulle gesê.  

    Ek wonder tog daaroor - dalk lyk die wêreld juis soos dit lyk omdat ons nie te veel aan ons eie ashoop-lewe herinner wil word nie? Is die eerste tree op ons 40-dae reis dan nie met 'n kruis van as op ons voorkop getrek nie?  Is die woorde waaraan ons herinner word wanneer ons na 'n Aswoensdag-erediens uitstap dan nie, "Stof is jy, en jy sal weer stof word” (Gen 3:9)?  Is die laaste woorde in die begrafnisformulier - in Engels - dan nie "Ashes to ashes"? nie?  

    Ek is nog altyd verstom dat God ons presies ontmoet, dáár waar ons onsself bevind.  Of dit in die varkhok is van 'n wegloop-seun (Luk 15:15-16), en of dit op die ashoop is waar 'n Job sit en homself met 'n potskerf krap, nie net om van die heukende velsiekte ontslae te raak nie, maar om te krap tot die bloed loop van pyn oor jou ellende (Job 2:7).  Of dit 'n veroordeelde man aan die kruis langs Jesus was - God ontmoet mense presies waar hulle is … en vandaar neem God ons verder.  

    Dank God ons kan eerlik wees oor ons ashoop-lewens.  Want hoe sou dit wees as ons eers "reg" moes wees, voordat God Godself oor ons kon ontferm? Daarom verstaan ek dat die psalmdigter sy woorde - "wat is die mens dan dat U aan hom dink" - as 'n loflied gesing het (Psalm 8:5).  

    Van Ashoop tot Hoop is vir my inderdaad 'n loflied.

    Daarom kan ons bid, "Here, verbreek tog ons ashoop-kettings."


    SKILDERY-BRON:  “Isle of the Dead” (Duits: Die Toteninsel) is die bekendste skildery van die Switserse simbolistiese kunstenaar Arnold Böcklin (1827–1901). Afdrukke was baie gewild in Sentraal-Europa in die vroeë 20ste eeu. ". Böcklin het tussen 1880 en 1901 verskeie verskillende weergawes van die skildery vervaardig. Die spesifieke weergawe hang in die Alte Museum in Berlyn.


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK 
    Op Dag 5 van #Spoorlangs kyk ons na die liriek-video van Psalm 8 (How Majestic Is Your Name) deur die groep Shane & Shane. 

    Uit die liriek:

    When I look at Your heavens
    The moon and stars
    You set in motion Oh God
    I sing all glory and honor
    What is man that You are mindful
    The son of man
    That you would care for Him
    We sing all glory and honor

    https://youtu.be/bPSv8vredVs


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/





    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…