Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 22 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Alles in my protesteer wanneer ek sulke "memes" hoor dat lyding veronderstel is om "nuttig" te wees.  "Lyding maak jou sterk!"  Kan vreugde dit nie ook doen nie?  "Die lyding wat God gee is nooit meer as die krag wat God gee nie."  Kom lyding en swaakry dan van God af? En so hou kan ek aanhou.  Die realiteit is, dat ek nie die pyn en hartseer van  lyding wil beleef nie!  Totdat die lewe sy pad met my - soos met elke ander mens - ook loop en "die lewe gebeur…".

    In 1981 is ek 'n blinkoog skooldogter, vol drome. Hoe sou ek weet dat 1 Pet 1:6-7 "my" teks in die hospitaal sou word?  'n Motorfiets-ongeluk: beide ek en my pa (elk) met 'n geamputeerde been; 'n gebreekte lyf; en ons eiesoortige gebroke harte.  Maande aaneen, in traksie, lees ek die Bybel om my eie "waarom's" te verstaan.  Al wat troos is Petrus se belofte:  "Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan."  Ons gesin treur saam oor ons hartseer, maar ons leer saam groei.  Ons ontdek hoe ons geloof sterker groei en kosbaarder raak.  Hoe gebroke liggame boodskapdraers van "lof en heerlikheid en eer" (v8) aan God kan word. 

    Was dit die laaste beproewing?  Nee, glad nie!  Maar die woorde van Petrus - "nou het ons 'n lewende hoop" - bring lyding in perspektief.  Lyding het 'n sperdatum. Selfs oorloë kom tot 'n einde. Die lewe ook. Wat níé 'n vervaldatum het nie, is lewende hoop!  Dit word - inteendeel - sterker!  En algaande leer jy:  die hoop beskaam toe tog nie! Die hoop is God self.

    GEBED:  Dankie, Here! Dankie dat U Uself vir ons aanbied as ons Hoop!

    IKOON-BRON: Skets van die gesang "On Thee Hails" in die laat 16de eeu deur Georgios Klontzas. In hierdie ikoon word verskeie temas gekombineer met dioe Maagd Maria, wat uitgebeeld word in die middel van die komposisie, in heerlikheid, met Christus in haar arms en op 'n troon van serafs. Rondom dit, in konsentriese sirkels wat 'n toenemende breedte, is daar onder meerdie gérubs, die engele, die sterretekens, tonele uit Genesis die Kruisiging. Onderaan, in 'n strandmeer wat aan Venesië herinner, word die Bo-Jerusalem uitgebeeld.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK:  Op Dag 22 van #Spoorlangs kyk ons na die groep For KING & COUNTRY se nuwe  musiekvideo, “Broken Halos”.

    Uit die liriek: 

    Got off of this high horse
    Couldn't find a way back down
    Tryna find a true north
    But everything's the wrong way round
    Busy breaking down the walls
    Just to build defenses
    Try to see the other side
    But no one's bending
    Way too shy to bare our souls
    So we shout opinions
    But nobody listens
    For Heaven's sake, we're missing hope
    Been saving face and throwing stones, so
    Take your mistakes, just let 'em go
    'Cause don't we all wear those
    Broken halos?

    https://youtu.be/WW6YidH0kYk

    4 min
  • Dag 21 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Die boodskap van Lydingstyd is nie lyding nie.  Al fokus Lydingstyd ons aandag op dit wat verkeerd is, nl. die implikasie van sonde (in ons eie lewens en in die wêreld)…  Al is die geloofsgewoontes van Lydingstyd (vas, skuldbelydenisgebede, barmhartigheid) gefokus op selfprysgawe... Al is die roete van Lydingstyd na Golgota en die kruis…  Ongeag hoeveel "al …"-sinnetjies bygevoeg word (wat die indruk laat dat Lydingstyd oor "swaarkry" gaan), is die boodskap van Lydingstyd nie lyding nie, maar HOOP te midde van lyding.  

    Die dissipels het dit nie verstaan nie.  Die belofte van verlossing het uiteindelik realiseer.  Net soos Jesaja dit voorspel het: "Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit …van nou af en vir altyd" (Jes 9:6).  Het jy al ooit gedink wat Jesus se volgelinge se verwagting van Jesus was toe Hy Jerusalem toe wil gaan?  Sou hulle so naïef wees om te dink dat Rome maar net sou oorgee?  Geen bloedvergieting nie?  Petrus was dan gereed om Jesus met sy eie swaard te beskerm (Joh 18:10) toe "’n groot skare met swaarde en knuppels" Jesus in Getsemane wil gevange neem (Matt 26:47). 

    Hoe min het hulle die boodskap verstaan van liefde vir alle mense teenoor nasionalisme; van vrede in plaas van vergelding. Hoe min het hulle verstaan dat Jesus se lyding deel van die GOEIE NUUS is.  Dat die lyding van Jesus deel van die engelesang vir die herders in die ope velde was: vrede op aarde het uiteindelik aangebreek.  Die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

    Hoe min het hulle (en ons?) verstaan dat HOOP nie deur "dood of lewe, of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping" (Rom 8:38-39) vernietig kan word nie!  

    GEBED:  Here, laat my in hierdie Lydingstyd HOOPVOL leef.

    GRAFIESE-BRON:  Visuele ontwerp deur Christianity.com by artikel oor Rom 8:38-39. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 21 van #Spoorlangs kyk ons na die musiekvideo van "Living Hope" deur Phil Wickham. 

    Uit die liriek:

    The cross has spoken
    I am forgiven
    Praise the one who has set me free
    Death has lost his grip on me
    You have broken every chain
    There's salvation in your name
    Jesus Christ, my living hope

    https://youtu.be/u-1fwZtKJSM

    4 min
  • Dag 20 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Jy het dalk gister (Dag 19) gelees dat die pad na God twee "roetes" het: al dieper jou hart in; en dan al wyer die wêreld in.  Die intieme kennis van God is soos die vertikale kruishout wat diep in die grond geplant is en hoog bo die grond uitstrek.  Hoe dieper jou geloofswortel in Christus geanker is (Kol 2:7), hoe intiemer groei jou kennis van God.  Máár, daar is ook 'n ander dimensie aan die kruis:  'n horisontale lyn.  Dit is soos twee arms wat uitgestrek staan - van oos na wes - om die ganse uitspansel te omarm.  So anders as mense wat (metaforiese) met "gevoude arms" staan.  Met ons gevoude arms staan ons apaties; of ons kruis ons arms oor ons bors om onsself te beskerm; of selfs om ons vyandigheid teen ander te wys.  Nie God nie. Oop … ontbloot … weerloos - só is Jesus oopgesper.  Om ons te herinner dat, as jou Godsbeeld jou nie toelaat om teenoor elke mens genade en liefde en deernis te wys nie,  jy jou "god" met 'n kleinletter moet skryf.  Want, hoe jy jou medemens liefhet, is hoe jy God sien. 

    Noord en Suid kruis Oos en Wes in die kruis.  Soos ons geloof van ons vereis.  Die een kan nie sonder die ander nie.  Nooit kan jy maar net "aan die voete" van die kruis bly sit nie - altyd word jy gedwing om terug na die wêreld toe.  Soos Johannes leer: "Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: … in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus" (1 Joh 4:17).

    Só loop die roete, al dieper na God toe, en al nader na jou medemens. Aanbiddend-dienend.  

    Gebed:  Dankie, Heilige God, dat U met die kruis vir ons wys hoe liefde geleef word.

    FOTO-BRON:  Rowan Heuvel se foto op Unsplash van die sogenaamde Stasie van die Kruis by Triqta' Pinu op Malta. Dit is ‘n pad teen 'n heuwel waarlangs 14 lewensgrootte standbeelde die Stasies van die Kruis uitbeeld.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK:  Op Dag 20 van #Spoorlangs luister ons na Wynand Strydom se weergawe van “Houtkruis”.

    Uit die liriek:

    Daar was ´n houtkruis
    My redder aan ‘n houtkruis vasgeslaan
    Daar was ‘n houtkruis
    En daarom sal ek sing
    Ek vra nie hoe jy voel nie
    As gevoelens hoegenaamd die besluite kon raak
    Dan was daar nooit die pyn nie

    https://youtu.be/EFXJxGKWsFc

    4 min
  • Dag 19 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Jaar na jaar herinner die Lydenstydseisoen ons dat ons pelgrimsreisigers is.  Nie 'n pelgrimsreis met stewels-en-wandelstok nie, maar 'n innerlike geloofsreis.  Soos Ignatius van Lyola (16de eeu) herinner het:  daar is net twee moontlikhede vir ons lewe -  loop ons ná God toe, of lei ons pad ons weg van God af?          

    Die pad na God toe het twee "roetes" - al dieper jou hart in; en al wyer die wêreld in.  Dadelik visualiseer ek die lyne van die kruis:  vertikaal en horisontaal.  'n Intiemer verhouding met God is wat Paulus vir die gemeente van Efese ook bid:  "Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God" (Ef 3:19).  Dit bly altyd die verstommendste gedagte dat mense God se hart "ten volle" kan ken.  Dit is nie 'n "ten dele" of "bietjies-bietjies" nie.  Luister net na Paulus se woordkeuse:  "heeltemal"; "vervul"; "volheid."  God hou niks terug nie!    Wat dit nog meer aangrypend maak, is dat dit nie net vir spesiale mense beskore is nie.  Enige mens het toegang om die volheid van God se liefde ("wat verstand te bowe gaan") te mag ken!  Dit word vrylik geopenbaar:  "In Hom (Jesus Christus) woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle hét die volheid in Hom … deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het" (Kol 2:9-10, 1953-vert.). 

    Daar is níks versluier nie:  leer Christus ken en jy leer God ken.  Leer Christus beter ken en jy leer God beter ken.  Soos Charles Spurgeon verduidelik het: "Jy sal nooit die volheid van Jesus Christus kan ken as jy nie ook ontdek hoe leeg alles is behalwe Christus nie."

    Word leeg om vol te word.

    Gebed:  Heilige God, laat ek nooit met minder tevrede wees as die meeste van U nie.
    SKETS-BRON:   Skets uit “The Annotated Pilgrim’s Progress” gebaseer op “The Pilgrim’s Progress” deur John Bunyan (1678).

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 19 van #Spoorlangs luister ons na die Drakensberg Seunskoor se verwerking van die gewilde lied “In Die Hemel Is Die Heer” deur Thomas Hiemstra wat deur Louis Brittz en Jaconell Mouton vrygestel en bekendgemaak is. 

    Uit die liriek:

    In die hemel is die Heer
    En Sy glans is soos kristal
    Hy's die Heilige van God
    En Hy heers oor die heelal, daar is mag
    In Sy Woord, soos die waters druis Sy stem
    Soos die son op die see se blou
    So die rykdom van Sy trou

    https://youtu.be/2T1m-0Zt7e0

    4 min
  • Dag 18 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    In 'n Bybelstudiegroep vra iemand hierdie vraag: wat help dit dat ons - hier onder aan die suidpunt van Afrika - vir die oorlog in Europa bid, terwyl ons self niks aan die oorlog kan doen nie?   Die vraag gaan nie oor die krag van gebed nie; dit gaan oor die intense ellende wat sy in nuusberigte sien.  Ons ken mos die ou gesegde:  bid asof alles van God afhang, en werk dan asof alles van jou afhang.   Want leer Jakobus nie ook nie:  "'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood" (Jak 2:26).  

    Is daar iets wat ek en jy kan doen om die vlugtelinge van Ukraïne te help?  Ja, gebedsondersteuning, dalk finansiële hulp.  Iets anders?  Waarskynlik nie. Máár… as die situasie wat in Europa afspeel nie in ons 'n groter bewustheid wakkermaak van ellendige situasies wat daagliks in ons eie omgewings rondom ons afspeel nie, dan "werk" ons gebede nie.  Moeder Teresa van Kalkutta het dit juis geleer:  nadat jy God in gebed opgesoek het, staan daar op en gaan dien God in die strate.

    Die een ding wat in Lydenstyd met ons kan gebeur is dat die Heilige Gees bewus maak van daaglikse lyding rondom ons.  "Waar is God in die lyding", wonder ons baie? Dáár waar die lydendes is.  Dáár is God!  Ons kan dalk niks aan 'n oorlog in Europa doen nie, maar die oorlog in Europa kan baie aan ons doen.  Dit kan ons - híér - dring om die hande en die voete van God wees.  
     
    GEBED:  Here, ek bid vir die ellende in die wêreld, wetend net U kan werklik 'n verskil maak.  Maar dankie dat U my híér wil gebruik om dit "in U Naam" te doen.

    KUNSWERK-BRON:  Gebedsondersteuningsfoto op die webblad van die Kerk van Skotland.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    22 mrt
    MUSIEK:  Op Dag 18 van #Spoorlangs kyk ons na ’n video van die uitvoering van“’n Gebed vir Ukraine („Bozhe, Ukrayinu khrany…“ , „Herr, schütze die Ukraine…“) deur die koorlede van die Sing-Akademie van Berlyn, die Instituut van die Universiteit van die Kunste Berlyn en die Staats- en Katedraalkoor van Berlyn. Die opname is op 26 Februarie in die Berliner Katedraal gedoen. 

    Uit die liriek: 

    Oh Lord, Great and Almighty,
    Protect our Ukraine,
    Shine on her your blessings
    Of freedom and light.
    With the light of learning and knowledge, 
    Enlighten us, your children.
    In pure love everlasting
    Let us, oh Lord, grow.
    We pray, oh Lord Almighty,
    Protect our Ukraine.
    Grant our people
    All your kindness and grace.

    https://youtu.be/Ne0fmGBcXTQ
     
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
         

    3 min
  • Dag 17 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Toe ek 'n kind was, was daar in my ouma-hulle se huis 'n afdruk van 'n bekende skildery uit die 1860's, getiteld:   "Die Breede en die Smalle Weg".   Ek kon my verwonder hieraan:  hoekom moet die smal pad dan nou ook die verveligste wees?  Daar was dan duidelik meer "lewe" op die ander pad:  meer mense; mooier kleure, selfs 'n koets.  Dit het bykans gelyk asof die pad deur 'n pretpark kronkel.  Daarenteen was die smal paadjie vol hindernisse; steil trappe wat uitgeklim moet word; die min voetgangers het almal so ernstig gelyk.  Selfs 'n leeu het reisigers bedreig. Wie sal so 'n pad kies!

    Soos my verhouding met Jesus ontwikkel het  en ek die Bybel self kon begin bestudeer, het ek wyshede teëgekom wat my uitgedaag het oor my idee van 'n vervelige geloofspad. Ek het 'n teks soos Joh 10:10 ontdek:  "Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed." Jakobus 1:17:  "Dit is Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet: dit kom van God af" (Die Boodskap-vertaling). Wat van Psalm16:11, "U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is."  

    Ons begin vandag die derde week van Lydenstyd.  Daar is een woordjie wat sinoniem moet wees met Lydenstyd naamlik, vreugde!  Dit was juis die ou Kerkvader, Benediktus (5de eeu) wat geleer het, dat as jy deur Lydenstyd nie groter vreugde ontdek nie, sal dit altyd vir jou weggesteek bly.  

    GEBED:  Here, ek het ook soms "idees" oor hoe ons geloof "behoort" te wees. Dankie dat dit nie 'n geloof vol wette en bangpraat is nie, maar wel van oorvloedigheid blydskap en sorg. 

    KUNSWERKBRON: Die prent “Der Breite und der schmale Weg” se idee is oorspronklik van Charlotte Reihlen wat daarna deur Paul Beckmann geskets is in 1866. Hierdie weergawe is deur  Peter Millward van Caucaia in Brasilië.


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK: Op Dag 17 van #Spoorlangs kyk ons na ’n video-opname van die liedjie "Because He Lives" deur Matt Maher, wat in die lente van 2019 regstreeks oor verskeie plekke opgeneem is.

    Uit die liriek:

    Because He lives
    I can face tomorrow
    Because He lives
    Every fear is gone
    I know He holds my life my future in His hands

    https://youtu.be/KVHH3E7--Zg

    4 min
  • Sondag 3 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    In die vroegste eeue is die derde Sondag in Lydenstyd "Oculi Sondag" genoem.  Die christene van daardie tyd het die erediens op dié Sondag met die woorde van Psalm 25:15 begin:  "My oë (of dan in Latyn, "oculi mei") is altyd op die Here gerig".   
    Dit bly ons lewenslange roeping om ons oë op God te hou.  Hoe goed sal ons almal nie weet hoeveel dinge daar is wat juis ons aandag van God af wil beroof nie!  Wat is die dinge wat ons lewens so kan insuig, dat ons soms voel asof ons voete in dryfsand vasgewikkel is.   Wat is die "versoekinge" wat ons van sielsvreugde beroof?  
    Dawid noem hierdie dinge in Psalm 25 'n strik wat die bose vir ons stel.  As jy nie behoorlik oplet nie, is jou voet netnou-netnou vasgeknyp in 'n vangnet.  Soos te verwagte is versoekinge en verleiding gewoonlik goed gekamofleer.  Geen mens kan die bose se planne met die blote oog raaksien nie.  Jy moet "met God se oë" kan kyk as jy die vermomde "Engel van die Lig" (aldus 2 Kor 11:14) wil systap.  Daarom sê Dawid, "My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou."  
    Wees verseker, God sal help … máár hou God voor oë.  Of soos Jakobus leer, "As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word" (Jak 1:6-7).
     
    Mag jy vandag 'n geseënde "Oculi Sondag" beleef.

    GEBED: Here, laat my oë ook, soos 'n Dawid van ouds, op U gevestig bly.

    BRON-SKILDERY:   ’n Afdruk van die skildery “Oculi Mei” deur die Spaanse-kunstenaar Jose Luis Castrillo wat in 1959 gebore is. Dit is deel van “Gesigte van Jesus”-reeks en is beskikbaar deur Society6.com.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Ons luister vandag na drie verwerkings van “To You O Lord I lift up my soul (Psalm 25)”. Eers deur Graham Kendrick, dan na die ‘n verwerking van die lied deur Scott Soper en laastens die van Marty Haugen.

    https://www.youtube.com/watch?v=iQgZAg8QwX4

    https://youtu.be/pzy407DLZpQ

    https://www.youtube.com/watch?v=zoH0ubV7JZw

    4 min
  • Dag 16 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Praat 'n mens oor sonde, dan moet die gesprek opgevolg word met gedagtes oor 'n veranderde lewe.  Of "bekering", soos ons daarna verwys.  Paulus leer ons dat 'n veranderde hart eintlik by veranderde gedagtes begin.  God verander jou denke (aldus Rom 12:1-2) en dit bring veranderde gedrag teweeg.  Ek wonder sommer nou skielik of die "slotsinnetjie" van my gebed, aand na aand, regtig hierdie bedoeling impliseer:  verander my, Here?  Of is dit bloot, "ek is jammer"?  

    Die ou Kerkvader, Tertullianus, het gesê dat die woord vir bekering ("metanoia") baie meer inhou as bloot "jammer sê."  Met daardie woordjie, "metanoia",  pleit jy dat God jou tog genadig moet wees en jou sal help om nuut te dink.  Mag jou nuwe denke dan vir jou nuwe gedrag bring.  Méér nog, dit moet van jou 'n totaal nuwe mens maak.  Bekering (wat die gevolg is van sondebelydenis) beteken dus dat jy 'n nuwe blaadjie omslaan - op alle terreine van jou menswees!   

    Petrus herinner ons dat bekering van mense vir God so belangrik is, dat God selfs die wederkoms terughou:  "Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer" (2 Pet 3:9).
     
    Sondebelydenis het dus altyd met 'n koersveranderinge te make - in plaas van SPOORLOOS raak jy weer koersvas.   

    Volg dus vandag Heb 10:22 se raad: “Laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”
     

    GEBED:   Reinig my, Here, was my silwerskoon.  Gee vir my 'n nuwe uitkyk op die lewe en 'n nuwe gesindheid.  Maak van my 'n nuwe mens.

    SKILDERY-BRON:  ’n Afbeelding van die bekende “Heilige Hart van Jesus” -skets deur Pompeo Batoni. In 1760 het Batoni die skildery van die Heilige Hart van Jesus vir 'n kapel in die Jesuïete Kerk van die Gesù in Rome geskilder. Ons gebruik dié uitbeelding in die middel van 'n roosvenster in die Santa Ifigênia Kerk, São Paulo, Brasilië.
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    19 MRT

    MUSIEK: Op Dag 16 van #Spoorlangs luister ons na “Change My Heart Oh God” deur Roby Duke. 

    Uit die liriek:
    Change my heart Oh God, make it ever true.
    Change my heart Oh God, may I be like You.
    Change my heart Oh God, make it ever true.
    Change my heart Oh God, may I be like You.
    You are the potter, I am the clay,
    Mold me and make me, this is what I pray.
    Change my heart Oh God, make it ever true.
    Change my heart Oh God, may I be like You

    https://youtu.be/joyx18AgPDY

    4 min
  • Dag 15 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Dit het so effens "uit die mode" gegaan om oor sonde te praat.  Maar as daar één tyd in die kerklike jaar is waar ons beslis oor sonde mag - nee, móét - praat, is dit in Lydenstyd.  Sonde is veel meer as verkeerd doen.  Dit is maar die "puntjie" van die ysberg. Wat onder die punt versteek is, is die regte probleem - daar lê ons "protes teen God".  Dít is sonde!
    Die presiese betekenis van sonde is, "om jou doel te mis."  Maar watter doel?   Om die "beeld van God" te wees.  In jou gedrag moet mense vir God raaksien.  Iemand het eenmaal gesê, “Sonder die heiligheid van God het sonde geen betekenis."  Sonde is dus die skade wat ons aan die heiligheid van God doen.   
    Deut 30:19–20 nooi ons uit: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang...“ Gehoorsaamheid (as teenoorgestelde van sonde) is dus om "die lewe" te kies.

    Moses se "kies die lewe" beteken nie (soos ons maklik dink) "kies die hemel" nie.  Nee!  Vir Moses het "kies die lewe" 'n toewyding aan God beteken waar God se beloftes vir hulle in hierdie lewe kon realiseer.    Jesus sê nie verniet van Homself, "Ek is die Lewe" (Joh 14:6) nie.  As dit waar is dat "sonder die heiligheid van God sonde geen betekenis het nie"; dan is dit waar dat sonder Jesus genade geen betekenis het nie! .  

    Juis daarom is Lydenstyd so 'n ingrypende tyd vir ons:  dit konfronteer ons met ons keuses.  Nie die puntjie van die ysberg-keuses nie, maar dit wat onder die puntjie lê...

    Hoe lyk jou keuse?
     
    GEBED:   Heilige God, deurgrond my en wys my waar ek verkeerd kies dat ek dit voor U kan bely.  

    SKILDERY-BRON: “Jeremiah Listens to God” deur die Italiaanse skilder Bonifazio Bembo in die 15de eeu. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    18 Mrt
    MUSIEK:  Op Dag 14 van #Spoorlangs kyk ons na ’n tuis-video van “Dear Lord, I give completely” deur Tyral-Lee Miggels.  Tyral-Lee is oorspronklik van Somerset-Oos en in die finale groep van die musiekprogram Die Kontrak.  
    Die musiek is is deur die Duitser Ernst H Gebhardt (1832-1899) geskryf en die woorde deur Mary D James (1810-1883).

    Uit die liriek:

    Dear Lord, I give completely my body, heart and soul;
    Thou High Priest, I entreat Thee, my mind and will control.
    With holy fire igniting my longing, Lord, for Thee, 
    behold how I am waiting; hide not Thy light from me.

    https://youtu.be/YS4RgSpKPf0

    4 min
  • Dag 14 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Gehoorsaamheid aan God is ononderhandelbaar vir mense wat aan God behoort.  Verlosde mense is gehoorsame mense.   Kan ek dit nóg sterker stel:  selfs jou gehoorsaamheid is 'n gawe van God.  Hoe so?  Want jy ontvang die Gees van God.  Hoor hoe mooi verduidelik Titus 3:5-7 dit: "Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser."  In oorvloed ontvang jy álles wat dit vir jou moontlik maak om gehoorsaam te wees!

    So paar dae gelede het ons gesels oor "al reeds regverdig", maar "nog nie heilig" nie.  Of dalk eerder "alreeds" en "algaande".  Want heiligmaking word algaande 'n realiteit hoe meer die Gees gevolg word.  Onthou, die moontlikheid van nuwe lewe is oorvloedig op jou uitgestort! Paulus skryf in Rom 12:11, "Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here." Vir Paulus was geesdriftig gelyk aan "kokend warm" (vurig - aldus 1953-vertaling). Net die Heilige Gees kan "vuur" op mense uitstort.   Daarom is dit ook net die Gees wat jou die begeerte tot gehoorsaamheid kan kweek, en jou vul met "(vurige) krag en liefde en selfbeheersing” (2Tim.1:6). Niemand van ons kan dus uitroep,"eureka, ek kry dit reg" nie.  Selfs ons gehoorsaamheid is genade.

    Dit is 'n skokkende ontdekking om te moet maak dat ék en ék alléén die pad van "vurige gehoorsaamheid" blokkeer.  Dus, as jy wonder oor jou pad na heiligmaking, dan vra jy jouself hierdie vraag af:  hoe groot is my passie dat die Heilige Gees my lewe moet beheer?  

    GEBED:  Here, gee aan my 'n gees van gewilligheid om my deur die vurigheid van U Gees te laat beheer.

     SKETS-BRON:  Pentecost deur Simon Marsh

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    17 Mrt 
    MUSIEK: Op Dag 14 van #Spoorlangs kyk ons na die musiekvideo van "Ever Be" deur Kalley Heiligenthal van die album, "We Will Not Be Shaken.

    Uit die liriek: 

    Your Love Is Devoted Like A Ring Of Solid Gold
    Like A Vow That Is Tested Like A Covenant Of Old
    And Your Love Is Enduring Through The Winter Rain
    And Beyond The Horizon With Mercy For Today
    Faithful You Have Been And Faithful You Will Be
    You Pledge Yourself To Me And It's Why I Sing
    Your Praise Will Ever Be On My Lips

    https://youtu.be/byEUIzfVLAs

    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…