Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 38 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    "Herken hierdie brood wat aan die kruis gehang het en hierdie kelk wat van Sy kant af gevloei het…" het die Kervader, Augustinus, eens gesê.  Dalk is dit waaraan die dissipels gedink het toe hulle daardie Vrydagoggend by die gekruisigde liggaam gestaan het.  Waarskynlik, daarna, elke keer wanneer hulle saam brood gebreek en uit die kelk wyn gedrink het. Dalk het hulle dan vir mekaar gesê, "Hoe blind was ons nie! En hoe doof was ons nie!"  Johannes die Doper, het dan reeds drie jaar tevore uitgeroep: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" (Joh 1:29).

    Vandag is die sg. "Heilige Donderdag"  (of "Maundi Donderdag." Maundi - in Latyn - beteken opdrag/gebod.)  Daardie laaste aand - nadat Jesus die voete van sy dissipels gewas het - het Hy gesê, "Ek gee julle 'n nuwe 'maundi': julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê" (Joh 13:34).  Terwyl hulle die "Brood" en die "Wyn" aan die kruis sien hang, moes hulle vir die eerste keer regtig verstaan wat Jesus sou bedoel met: "Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê" (Joh 15:13).  Het Jesus hulle nie júís Sy vriende genoem nie! Só, dít is hoe Liefde lyk!

    Ek moet bieg, ek weet nie of ek, elke keer wanneer ek nagmaal gebruik - soos vanaand - onthou dat die Brood en die Wyn my oproep om my lewe vir my naaste af te lê nie.    Skryf Johannes nie juis:  "Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?"  

    Dit lyk my liefde het áltyd 'n gesig!

    GEBED:   Dankie dat U deur brood en wyn - sigbaar - kon wys hoe liefde lyk.  Vir my ook!

    SKILDERY-BRON: Laaste Avondmaal (1318) deur die Italiaanse skilder Duccio di Buoninsegna. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    Apr 14
    MUSIEK:  Op Dag 38 van #Spoorlangs,  Heilige  Donderdag,  luister ons na die koor van St. Abuscus se weergawe van “Ubi caritas” et amor Antiphona (Gründonnerstag).
    "Ubi caritas" is 'n lofsang van die Westerse Kerk, lank gebruik as musiek vir die was van voete op Maundy Donderdag. Die teks word in 796 aan Paulinus van Aquileia toegeskryf. Die tradisionele melodie spruit waarskynlik ook uit die laat 8ste eeu. 
    Die antifoniese reaksie is in 1975 verander om te lees "Ubi caritas est vera, Deus ibi est," na sekere baie vroeë manuskripte. Dit beteken: "Waar ware liefde is, is God daar”.

    https://youtu.be/x1luMSNulkc


    4 min
  • Dag 37 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Abba Antonius (251 nC) het 'n belangrike lewensles gehad: “Om die goedheid van God te ontdek, vra bloot ‘n gewillige gees.” Dit is nie God se goedheid wat meer word nie, dit is jou keuse hoeveel jy jouself oopmaak om dit te ontdek. Wil jy in geloof groei? Kies dit.  

    Oor lewensgebeure het ons nie keuses nie. Maar hoe ons na die lewe kyk, daaroor het ons keuses. Stop. Heroorweeg. Waaraan is ons so geheg dat ons nie anders kan of wil kies nie? Of waarvoor is ons bang dat ons ook nie anders wil kies nie?

    Vir Antonius was daar net een keuse: 'n lewe van absolute oorgawe en gehoorsaamheid aan God.  Maar, sê hy, “Moenie op jouself staatmaak nie.  Moenie aanhou broei oor hartseergebeure van die verlede nie."  Is dit nie waar nie: wat ons soms terughou, is nie wat voorlê nie, maar wat agtergelaat moet word..

    Kon jy sedert Aswoensdag jou lewenskeuses herbedink? SPOORLANGS nuwes maak? Kan jy, soos Paulus, sê, "Ter wille van Hom het ek alles prysgegee … sodat ek Christus as enigste bate kan verkry. … Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood" (Fil 3:7-11).  Bedoelende, as "ou mens" wil Paulus sterf, en as "nuwe mens" wil hy uit die krag van die oop graf leef.  "Ek sê nie dat ek  die doel al bereik het nie, maar ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is" (v12-13).

    Dis waar:  “Om die goedheid van God te ontdek, vra bloot ‘n gewillige gees.”

    GEBED: Here, skenk aan my 'n gewillige gees om aan die oue te sterf sodat ek meer-en-meer U goedheid kan omhels.


    IKOON-BRON:  ’n Ortodokse Kerk afbeelding van Abba Antonius van die blog Full of Grace And Truth.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    Apr 13
    MUSIEK:  Op Dag 37 van #Spoorlangs luister ons na “Daily Bread” deur die Nieu-Seelandse “folk”-psalmis Strahan.   Die lied is op Spotify se "St Anthony the Abbot"-speellys deur die Grotto Netwerk gelaai, as ’n lied wat deur Abba Antonius se lewe en leringe geïnspireer is.

    Uit die liriek: 

    I wanna know where the fortress of hope does rest
    To lay beside the banks of joy not loneliness
    I wanna feel the weight of eternal rest
    To build the walls of freedom higher than the rest
    Take everything I have
    Let it be multiplied as it's broken in your hands
    You are my daily
    You are my daily
    You are my daily bread

    https://youtu.be/ScQp-05ayxE

    4 min
  • Waar het Jesus, tussen sy opstanding en Hemelvaart oral spore getrap?

    Komende Sondag, 17 April 2022, begin 'n splinternuwe fase vir gelowiges.  Ons word in ons spore by die oop graf van Jesus gestuit.  Paasfees het aangebreek!
    Waar het Jesus, tussen sy opstanding en Hemelvaart (wat ook 'n 40-dae tydperk was) oral spore getrap?  Aan wie het Hy verskyn? Wat het Hy hulle geleer? 
    Gedurende die res van Aprilmaand sit ons, van 17 April af, hierdie SPOORLANGS-meditasiereeks voort.  Treetjie vir treetjie wil ons Jesus verder volg.  
    As jy nog nie die daaglikse whatsapp's ontvang nie, registreer gerus op my webblad.  Dit word sonder moeite - soggens of saans - volgens jou voorkeur, aangestuur:   https://ronellbezuidenhout.co.za/spoorlangs
    Verkies jy eerder 'n potgooi om rustig in die motor te luister of saam met jou oggendkoffie? Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    Dankie dat jy tot sover saamgereis het.  Ek hoop om van jou te hoor vir die laaste deel van ons reis, SPOORLANGS.
    Ronell

    BRON-SKILDERYE:
     Supper at Emmaus, Caravaggio (1601-02) d
    The miraculous catch of 153 fish by Duccio, 14th century.
    The Great Commission, stained glass window, Cathedral Parish of Saint Patrick in El Paso,
    Noli me Tangere by Antonio da Correggio, c. 1525



    3 min
  • Dag 36 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Dit vra eerlikheid om al ons eie verslawings te identifiseer.  Ons verknogtheid is nie net aan ons besittings nie, dit is veel meer.  Het jy dalk al ooit daaraan gedink dat 'n behoefte om altyd "reg" te wil wees, ook 'n verknogtheid is wat ons kan mislei.  Die manier hoe ons maklik uitgesproke krities is oor ander mense, klink vir my ook soos 'n verknogtheid aan ons eie opinies. Moet ons nie ook daardie "laste" van ons afgooi, voordat ons werklik bevry is nie? 

    Abba Matoes het eendag vir iemand geleer:  “As iemand iets sê moenie in ‘n argument betrokke raak nie.  As hy die waarheid praat, stem met hom saam en bedank hom.  As hy nonsens praat, sê eenvoudig, ‘Ek neem aan jy weet waarvan jy praat’ en moenie met hom argumenteer nie.  Want in ‘n argument gaan een altyd laat ‘verloor.  En laat dit liefs jy wees wat verloor.”  

    Om te vas van kos is maklik.  Maar, om te vas van jou vinnige woorde en jou uitgesproke opinies en jou kritiese ingesteldheid is veel moeiliker!  Abba Makarios het juis vir 'n paar broers gesê, "Vlug, my broers."  Toe sit hy sy vinger op sy lippe en sê: "Vlug hiervan."   Presies wat Dawid ook gebid het:  "Sit 'n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê. Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval nie" (Psalm 141:3-4).  Die wyse man in Spreuke leer sy seun juis ook:  "Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe" (Spr 4:23).  

    Mag jou woorde wees soos wat die Spreukedigter beskryf: "’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewens" (Spr 12:14, uit Die Boodskap).

    GEBED: Here, ek weet dat my woorde te vinnig by my lippe uitkom. Neem beheer van my hart, Here.

    SKETS-BRON:   ’n Skets van Abba Matoes deur Michael,  'n Ortodokse Christelike kunstenaar wat antieke stories in moderne mediums vertel.  Volg “Creative Orthodox” op Instagram of Facebook om die “woestyn spiritualiteit” te beleef.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/\

    MUSIEK:  Op Dag 36 van #Spoorlangs luister ons na die Janet Suhh (자넷서), ’n Koreaanse hip hop sanger en liedjieskrywer, se wêreldtreffer “In Silence”.  Die lied is ook die titelmusiek vir die TV Drama, It's Okay to Not Be Okay (2020). 

    Uit die liriek:

    In silence, no one answers
    But I still hear your voice
    If you'd only come hold me
    If you'd only come
    Tears flow
    Sorry I'm late again
    Let them fall
    Sorry I'm late again
    https://youtu.be/yvhfxMVVNgQ

    4 min
  • Dag 35 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Lydingstyd se roete begin áltyd saam met Jesus in die woestyn. Direk nadat Jesus gedoop is, bring Hy 40 dae in die woesterny deur.  Dit is ook vanuit die doodsheid van die lewe se woestyne wat ons gebring word tot by die nuwe lewe van die Oop Graf.  

    Mense wat doelbewus teruggegaan het na die woestyne om dáár wysheid te soek, was die sg. "Woestynvaders" en "-moeders".  Van die belangrikste wyshede wat vandag nog juwele is, is deur hierdie eerste 5 eeue se Abbas en Ammas opgeteken. Dink bv. aan Abba Zosimos (wat in 470 nC gebore is) - hy het geleer dat ons besittings nie die gevaar is nie; maar wel die besittings wat óns besit (m.a.w. 'n houvas op ons het).  Dit kan enige-iets wees - of soos hy geskryf het, "die nuttelose, onbeduidende en geheel en al waardelose dinge."  Sy raad: "Vervang jou verslawings met die liefde van God en die naaste."  Paulus vra (in 1 Kor 4:7): "Wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?"   

    Vandag lyk ons verslawings dalk ander.  Soos Brene Brown op 'n stadium skryf:  "Dit verg moed om 'ja' te sê vir rus en speel in 'n kultuur waar uitputting as 'n statussimbool beskou word." Het ons nie juis verslaaf geraak aan besig wees nie? Of wat van die verslaafdheid aan sosiale media?   

    Sou ons van hierdie laaste week van Lydingstyd nie dalk die woestynbeginsel van "lig leef" inoefen nie? As Lydingstyd veral te make het met nadenke en nuut-begin, dan moet ons nadink oor die greep wat ons verslawings op ons het, en waarom ons tog "skatte op aarde" bymekaarmaak, selfs al waarsku Jesus ons daarteen (Matt 6:19-21).

    GEBED:  Here, wys my waar en hoe U my ligter wil laat leef. 

    SKILDERY-BRON:  Sadao Watanabe was 'n Japannese kunstenaar wat veral bekend was vir sy afdrukke wat Bybelse beelde met die tradisionele Japannese volkskuns bekend as mingei meld. Dié afdruk verwys na Jesus in die Woestyn en is in 1969 gedoen. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    11 April
    MUSIEK:  Op Dag 35 van #Spoorlangs kyk ons na ‘n musiek-video van “Spreek Heer” deur Neil Büchner.  Neil skryf sy gebed is dat dié lied mense sal bemoedig wat nie meer hoop het nie en dat dit miskien iets kan verwoord van wat hulle graag vir God sou wou sê in hul harte.  

    Uit die liriek: 

    Heer, ontferm U oor ons, waarom het U, ons verlaat?
    Waarom voel U, dan so ver, Heer, ons roep U aan.
    Elke dag en elke nag, soek ons rus as ons U roep.
    U, die Heilige, wat woon, waar ons U prys.
    Nes ons ouers, bly vertrou ons, dat U red.
    Kom spreek, Heer, tot storms en tot wolke!
    Kom vul die hemel met ontsag,
    Vir U Naam, bo alle Name!
    Kom hoor ons, U volke en U nasies!
    Ons glo, met alles, in die krag,
    Van U Naam, bo alle Name!
    Here, red ons! Here, help ons!

    Lees gerus die agtergrond oor die inspirasie vir die lied by die YouTube skakel. 

    https://youtu.be/McIUiqQPyZM

    4 min
  • Sondag 6 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Palmsondag bly 'n vreemde dag.  'n Dag vol "Hosanna's" wat - vyf dae later - verander in "Kruisig Hom"-krete.  Op Palmsondag is Jesus die mense se held - uiteindelik is die Messias hier (Matt 21:8-9).  Enkele dae later kroon die soldate Hom inderdaad as die Koning van die Jode:  met dorings.  Hoe is dit dat die mense Jesus so misverstaan het?  Hulle verwag 'n regeerder, en intussen kry hulle 'n Jesus wat net 'n paar aande later, met 'n voorskoot om hom gebind, vuil voete was.    

    Deur die eeue maak mense steeds van Jesus iemand anders.  'n "Ons"-Jesus. 'n Suksesvolle Jesus. 'n Jesus wat in indrukwekkende katedrale en kerkgeboue woon in plaas van tussen die armes en die eenkant-gestotenes.  Het die mense vergeet wat Jesus gesê het: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie. As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie” (Joh 18:36).   

    Oor-en-oor vra Jesus:  "Maar julle, wie sê julle is Ek?" (Matt 16:15).  Die vraag laat my dink aan die dag toe Jesus gedoop word, "Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos 'n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” Ons hoor aan die begin van Jesus se reis presies wie Hy is!   Palmsondag wys dit vir ons:  "Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkie" (Sag 9:9).

    Dan maar weereens vra:  "En jy, wie sê jy is Ek?"

    GEBED:  Hou aan om die vraag vir my ook te vra, Here.  En gebruik elke Palmsondag om my te herinner wie U is.

    SKILDERY-BRON: Pietro Lorenzetti, 'n Italiaanse skilder, se mees ambisieuse werk die “Passie” fresco siklus in die Kerk van San Francesco in Assisi. Die -siklus begin met “Die toetrede tot Jerusalem” 1320.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

     
    MUSIEK:   Op PalmSondag 2022 kyk ons na musiekvideo van die bekende “Hosanna” deur die Saddleback Aanbiddingsgroep.  Hulle het die  opname  vir PalmSondag 2021 gedoen

    Uit die liriek: 


    The angels bow down at the thought of You
    The darkness brings way to the light for You
    The price that you paid gives us life brand New
    Hosanna forever we worship You
    For you are the joy that my soul longs for
    The lamb that was slain for my sins and the One I adore
    King of kings, Ruler of everything
    Hosanna forever we worship You

    https://youtu.be/5m-QB5hgMSE


    4 min
  • Dag 34 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Daar is 'n hoofstuk in die Boek van Jeremia wat oorloop van vreugdetaal.  Luister net hierna:  Daar sal 'n tyd kom dat "Jy weer jou tamboeryne dra, jy sal uitgaan om te dans saam met dié wat bly is" (Jer 31:4).  "Sing van blydskap … juig … laat hoor julle loflied" (v7).  "In trane sal hulle kom … Ek sal hulle by waterstrome bring, op 'n gelyk pad, niemand sal struikel nie, want Ek het Israel se Vader geword" (v8-9). "Hulle sal kom en op die Sionshoogte sing, hulle sal straal van blydskap oor die goeie wat deur die Here gegee word… Hulle sal floreer soos 'n tuin wat goed natgelei word …" (v12). "Dan sal die jong meisies dans van blydskap … Ek sal hul droefheid in vreugde verander" (v13).

    Dit is die taal van hoop en blydskap in oortreffende trap.  Hoe moet hierdie woorde nie hoop gee aan stukkende mense nie.  Ek dink telkens aan hierdie gedeelte terwyl ek na beeldmateriaal kyk van 'n land wat tot op die grond vernietig word. Hoe herbou mense weer alles, wat nog te sê van hul eie lewens opbou?  Hoe begin 'n mens weer lag en dans, as jou oë dof begin word het? Hoe staan 'n mens op as jy platgeslaan is? Dan onthou jy die belofte van Jeremia…

    Môre, met Palmsondag, begin ons die roete na heelheid stap, hoe hartseer ons ook al mag raak oor die pyn in die lewe. Oppad na die dag wat gewys het, die bose kan nie oorwin nie.  As ons dit nie in hierdie lewe sien en beleef nie, sien ons dit hierna.    

    Gelowiges hou altyd vas aan die "gawe van veerkragtigheid" - die wete dat die goeie sal oorwin.  Al doen mense wát aan mekaar. Trane sal afgedroog word. 

    GEBED:  Here, dankie dat hierdie Lydenspad by Hoop eindig. Hoe nodig het ek nie om dit weer te hoor nie.
     
    BRON-SKILDERY:  18de-eeuse skildery, "Die Lied van Mirjam", deur Paulo Malteis, Italië. 

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 34 van #Spoorlangs, kyk ons na ’n musiek-video van die komponis Xander Kritzinger se lied “Sing ‘n Nuwe Lied” deur Universiteit Stellenbosch Kamerkoor onder leiding van Martin Berger met Celeste Botha as begeleier.

    https://youtu.be/swjYuW9pYvc


    4 min
  • Dag 33 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Ons is op die vooraand van die donkerste week:  Heilige Week. Daardie week wat die donkerste dag van alle dae bevat:  drie ure van duisternis.  Die dag van sprakeloosheid:  Stil Saterdag. 

    Tog sal dit 'n groot fout wees as ons Lydenstyd net as 'n droewige en swaar tyd beskou.  Dit is nie wat Lydenstyd behoort te wees nie.  Immers is "Lent" juis verwysend na 'n nuwe seisoen:  die tyd van vernuwing.  Dragtige diere wat op nuwe groen gras wei.  Dit is tyd van kleurvolheid. Dit is ook die "lentetyd van die gees".  Die Heilige Gees is besig om die donker binnekamers van ons harte na buite-om te keer.  

    Dit is die grootste voorreg om met selfondersoek besig te kan wees, want die doelwit daarvan is om in ons intimiteit met God te groei, en om in die gestalte van Jesus die wêreld te dien.   Al drie geloofsgewoontes (gebed, vas, en vrygewigheid) het met stroping te make, en fokus ook op die welsyn van my naaste.  Nie net ek moet blom nie.  Húlle ook!   Die geskenk van die Heilige Gees is om alles wat oud en afgetakel is te vernuwe ...  van my beursie tot my kombuis tot my binnekamer.

    Ons stap níé - SPOORLANGS - 'n donker diepte tegemoet nie.  Ons stap die opkomende son van Opstandingsdag te gemoet.  Om daar - met 'n vernuwende hart én 'n nuwe lied - voor die oop graf te kan staan! Gesnoei om nuwe vrugte te dra, want soos Jesus leer: " Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. …Elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra" (Joh 15:1-2).

    Lydenstyd, lentetyd, vreugdetyd. Is dit hoe jy dit beleef?

    GEBED:  Heilige Gees, bring in hierdie tyd vir my die afwagting van nuutheid.  Elke dag.


    SKILDERY-BRON:  “Taille de la Vigne”, olie op doek deur Adam Cope, met Joh 15 as inspirasie.  Lees meer by https://www.artists-atelier.com/ 


    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    Apr8
    MUSIEK:   Op Dag 33 van #Spoorlangs luister ons na die pragtige “I Am The Vine” deur John Michael Talbot. 

    Uit die liriek:

    Like a tree planted by the living waters
    To stretch the fruits into the living stream
    You will show no distress
    In the heat of the drought
    But still bear fruits and leaves?

    https://youtu.be/B2S2XSvDpkE

    4 min
  • Dag 32 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    Êrens het ek 'n sinnetjie gelees wat sedertdien in my gedagtes draai:  dit is interessant dat die twee grootste vieringe in die kerklike jaar (Advent en Lydingstyd) oor die broosheid van God gaan.  Ek het nog nooit so daaraan gedink nie, maar dit is waar:  die Seun van die Mens word in die gestalte van 'n weerlose baba gebore, in 'n stal, en moet later saam met sy ouers na Egipte vlug.  Die vier weke van Advent se fokus is vreugde, vrede, hoop en liefde.  Is die afwesigheid daarvan in die wêreld nie die rede vir soveel brutaliteit onder mense nie … en in só 'n wêreld word Jesus 'n mens.

     

    Hierdie Jesus is die een wat in die Tuin van Getsemané, bloedswetend, pleit dat die beker dalk tog nie nodig sal wees om te drink nie (Matt 27:36-46).  Geen mens sal ooit die woorde hoef uit te roep wat Jesus geroep het nie:  "My God, my God, waarom het U my verlaat?" (Matt 27:46).  Daardie oomblik toe vreugde, vrede, hoop en liefde 'n laaste asem uitblaas.

     

    Dit is juis die paradoks:  wanneer ons ons swakheid en ons broosheid omhels, dan word ons sterk (2 Kor 12:9-10).  In nederigheid erken dat ons nie self kan nie, dat God se genade aan ons gegee word. 

     

    As jy nie in Lydingstyd met jou eie kwesbaarheid en broosheid gekonfronteer word nie, dan moet jy dalk nog dieper selfondersoek doen.  Dalk het jy nog nie genoeg lief nie, want soos C.S. Lewis in "The Four Loves" skryf:   "As jy seker wil maak dat jy jou hart ongeskonde hou, moet jy jou hart vir niemand gee nie.  Die enigste plek buite die hemel waar jy heeltemal veilig kan wees van al die gevare en versteurings van liefde, is die hel."

     

    Is jou hart nog heel?

     

    GEBED:  Verteer my hart met liefde, Here, dat ek nog meer kan liefhê!

     

    BRON-SKILDERY:  Hierdie pragtige olieverf op paneelskildery (1510) deur Timoteo Viti beeld Christus uit wat die aand voor sy kruisiging in die Tuin van Getsemane bid, terwyl sy dissipels slaap. Op die kronkelpad wat na die verafgeleë Jerusalem lei, kom 'n groep soldate, onder leiding van Judas, om Christus in hegtenis te neem. Die intense kleur, klein skaal en aandag aan detail herinner aan boeksketse.

     

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK: Op Dag 32 van #Spoorlangs kyk ons na die nuwe musiekvideo  van die lied “Opgestaan” deur die Nederlandse-groep Sela. 

     

    Uit die liriek:

     

    Maar de dood hield hem niet vast;

    Hij kwam levend uit het graf.

    Christus heeft het laatste woord;

    het wordt overal gehoord:

     

    Hij is opgestaan, Hij is opgestaan.

    De dood is dood, een nieuwe dag breekt aan.

    Hij is opgestaan, Hij is opgestaan.

    Hij leeft, mijn Jezus leeft.

     

    https://youtu.be/UgK2eS78UKw

     

     

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    4 min
  • Dag 31 van meditasie-reeks #Spoorlangs

    n die bekende boek van Dietrich Bonhoeffer, The Cost of Discipliship, lees ek hierdie woorde (wat ek nou baie vry vertaal): “Aangesien volgelinge van Jesus verplig is om alle misleiding van die waarheid te verwerp, mag ons geen verhouding met die 'dinge van hierdie wêreld' vertroetel nie – ter wille van Christus. Waar 'n groep, of dit nou groot of klein is, ons verhinder om staande te bly voor Christus, moet die groep verwerp word - ter wille van Christus. Gehoorsaamheid aan die verwagtinge van so 'n groep, impliseer die haat van Christus - méér nog sou so 'n groep hulself op sg. Christelike beginsels beroep."

    Dit is nie 'n sinnetjie wat 'n mens net een of twee maal lees nie!  Bonhoeffer het dit natuurlik teen die Kerk van sy tyd gehad wat gebuig het voor die eise van Nazïsme. Dit is sterk woorde:  volgelinge van Christus wat teen die waarheid van Christus kies (nl. liefde vir God en vir die naaste), kies teen Christus self. 

    Ons word elke dag voor sulke keuses gestel. Dink aan "fluitjieblaasers" wat moet kies om "die regte ding" te doen - al gaan jy self 'n prys betaal - want, “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!" (Hand 5:29). Kies ons anders, kies ons teen God. Dink aan sommige gemeentes wat tydens die inperkingstyd steeds kospakkies voorsien het, al was dit teen die amptelike regulasies, "omdat christene nie anders kan as om die armes te versorg nie."  Kies ons anders, kies ons teen God. Hier is "halfies-halfies" nie moontlik nie.  Soos Elia die volk gevra het: "Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm” (1 Konings 18:21).

    Lydenstyd is 'n tyd van onthou:  om te onthou wie ons is en wie s'n ons is. 

    GEBED: Here, ek wéét aan wie ek behoort; soms vergeet ek dit! Vergewe my dít. 

    IKOON-BRON: “Die leer van Goddelike Opdraande” of “Die Leer van die Paradys”. Die 12de-eeuse ikoon is geskryf deur John Climacus by die Klooster van St Catherine op die berg Sinai. Die monnike word deur demone versoek en deur engele aangemoedig, terwyl Christus hulle by die kruin verwelkom.



    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK:  Op Dag 31 van #Spoorlangs kyk ons na die musiekvideo van die bekende gospelsanger CeCe Winans met haar lied “Never Lost”.   Dié lied is die afgelope naweek by die Grammy-toekennings as die beste Gospellied vir die jaar aangewys.  Sy het ook die toekenning vir die beste gospel album en beste kontemporêre christelike lied ontvang.

    Uit die liriek: 

    Miracles when You move
    Such an easy thing for You to do
    Your hand is moving right now
    You are still showing up
    At the tomb of every Lazarus
    Your voice is calling me out
    And right now I know You’re able
    And my God come through again
    You can do all things
    You can do all things but fail
    Cause You've never lost a battle
    No You've never lost a battle
    And I know, I know
    You never will

    https://youtu.be/ZPHXL8Poku0

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks  daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…