
Sign up to save your podcasts
Or


Thomas van Aquinas (13de eeu, met die reputasie "die grootste van alle teoloë") skryf: "Gee my, Here, my God, 'n verstand om U te ken; 'n hart om U te soek; wysheid om U te vind; gedrag wat U behaag; getroue volharding om op U te wag; en 'n hoop om U uiteindelik te omhels. Amen.”
Die gebed laat my aan 'n ander Thomas dink. Ongelukkig dra hierdie Thomas 'n ander etiket om sy nek, "Ongelowige Thomas". Toe sy vriende vertel dat hulle Jesus gesien het, antwoord hy eerlik: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (Joh 20:25). Eintlik was Thomas maar soos al die ander dissipels: nie een het geglo wat Jesus voor sy dood belowe het nie. Almal moes eers sien om te kon glo.
'n Week later is die dissipels (weereens) agter geslote deure. (Nogsteeds bang?) Weereens verskyn Jesus. Weereens net met die woorde: "Vrede vir julle." Maar Jesus kyk na Thomas: jy wou mos sien … kom, vat en voel! Ja, inderdaad, "geseënd is dié wat nie gesien het nie en tog glo” (v29). Geseënd is húlle met blinde geloof en blinde vertroue.
Hy hét gesien én geglo! Daarom kon hy uitroep: "My Here en my God!” (v28). Gelowige Thomas! Ek dink hierdie Thomas sou graag sy naamgenoot se gebed ook bid: "Gee my, Here, my God, 'n verstand om U te ken; 'n hart om U te soek; wysheid om U te vind; gedrag wat U behaag; getroue volharding om op U te wag; en 'n hoop om U uiteindelik te omhels. Amen.”
GEBED: Ek is ook 'n Thomas, my Here en my God met my gelowige ongeloof. Daarom bid ek ook vandag die ander Thomas se gebed.
SKILDERY-BROM: The Incredulity of Saint Thomas deur Caravaggio, c. 1602
MUSIEK: Op Dag 6 van #Spoorlangs in Pase kyk ons na ‘n musiekvideo van Len Muller se lied “Ek Glo”.
“Ek Glo” is in die Afrikaans-akoestiese styl waarvoor Len bekendheid verwerf het en is deur die sanger self geskryf. “Die lied kom uit ’n seisoen waar ek heelwat geloofstappe moes vat om dit te doen wat ek geroep is om te doen,” vertel hy. “Die lied is in ’n sekere sin ’n uitnodiging om te glo. Om te glo in ’n Skepper wat die pad aanwys, maar ook om te glo in dit wat Hy in ons elkeen geplaas het.”
https://youtu.be/LlDCrS2p0CE
VRYDAG, 22 APRIL
SPOORLANGS IN PASE
Ek ken geen mens - myself ingesluit - wat nie 'n begeerte het na gemoedsrus nie. Is dit nie juis die chaos - of onvrede - wat ons (soos Paulus in Ef 4:7 leer) "in gebed en smeking en denksegging" voor God moet neerlê nie. Dan sal "die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan" ons denke oorheers. Christus bewerk dit, sê Paulus. In "The Holy Longing" skryf die teoloog, Ronald Rolheiser: “Daar is in ons 'n siekte ('dis-ease'), 'n heilige onrus, 'n onblusbare vuur wat in hierdie lewe nooit ten volle geblus word nie. Hierdie begeerte na vrede lê in die middel van ons lewens, in die murg van ons gebeente, en in die diep holtes van die siel."
Die dissipels het na die kruisiging van Jesus met chaotiese onrus in hul harte geleef. Die onlus-vure het in Jerusalem hoog gebrand: jag word op die Jesusvolgers gemaak. "Toe dit aand was op daardie eerste dag van die week (was) die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit" (Joh 20:19). Juis toe, midde die uiterse chaotiese onrus in hul binneste, verskyn die Christus. En Sy eerste woorde? "Vrede vir julle!" Net dit: vrede.
Het hulle Jesus se woorde daardie laaste aand toe hulle saam geëet het dan so vinnig vergeet: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. … Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie" (Joh 14:1, 27)?
Vrede is 'n werkwoord. Maar meer nog, dit is 'n Persoon: Jesus Christus. Hy is die ruspunt in chaotiese onrus. Soos die Kerkvader Augustinus kon sê, "U het ons vir Uself gemaak, Here, en ons harte is onrustig totdat dit by U tot rus kom."
GEBED: Ons leef in onstuimige tye, Here. Meer as ooit het ons nodig om U woorde te onthou: "Vrede vir julle!"
Op Dag 4 van #Spoorlangs met Pase kyk ons na die musiekvideo van ’n nuwe lied deur Vredelust Worship geskryf deur Clement Martin.
Die groep skryf ons kan nie regtig ten volle begryp wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het nie.
“Die grootste liefdesdaad wat die wêreld nog ooit gesien het. Wat ons wel weet is "deur die spykers van Golgota is ons lewens vry gemaak", en ons is waarlik vry! Mag hierdie lied jou hart opgewonde maak oor jou verlossing.”
Uit die liriek:
Jesus Christus ons Verlosser
U wat alles goed laat werk
Selfs al wil die vyand steel
Sal u liefde ons bedek
Ons is vry
Want die Lam het vir ons gely
Deur die spykers van Golgota
Is ons lewens vry gemaak
Jesus Christus ons Verlosser
Genade onbeskryflik groot
Was eers blind nou kan ons sien
https://youtu.be/uSmChpso35w
Argeoloë is onseker na watter dorpie Lukas verwys wanneer hy sê, "Twee van hulle was op pad na 'n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af" (Luk 24:13). Daar was blykbaar nege dorpies met dieselfde naam, máár - so word beweer - was daar geen dorpie in die radius waarna Lukas verwys nie. Emmaus is dalk nêrens, omdat Emmaus dalk orals is. Emmaus is dalk die reis wat almal van ons stap. Almal van ons stap soms die reis "met somber gesigte" (v17). Gesels ons nie ook soms - soos die twee Emmausreisigers - met vraagtekens tussen ons oë oor “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret" nie (v19)? Onseker oor hoe ons die gebeure van die lewe moet verstaan. Voel ons nie ook soms - soos die twee Emmausreisigers - asof alles so sinloos is: "Ons het so gehoop…" (v21).
Ongeag of die dorpie nou bestaan of nie, ontmoet Jesus ons - die "siende-blindes op die pad" - nie almal presies daar waar ons onsself bevind nie? Sê Jesus dan nie ook vir elkeen van ons, “Wat 'n gebrek aan begrip … Glo julle dan nie …" (v25)? Maar die buitengewone genade is dat Jesus, net soos met die twee reisigers destyds, in ons huise (lewens) inkom en ons gasheer word. Wanneer Jesus die Skrifte vir die Emmausgangers uitlê om hulle te laat verstaan (v27), is dit sekerlik op ons ook van toepassing: wanneer dinge vir ons hopeloos lyk (en ons selfs eerlik mag wees oor ons twyfel), dan is die beproefde riglyn steeds waar: draai terug na die Skrif. Ons sal ook daar ons antwoorde vind!
Mag dit dan vir jou ook wees, soos die Emmausinwoners getuig: “Het ons hart nie warm geword toe Hy met ons gepraat … het nie?”
GEBED: Here, dankie dat Emmaus nie vir U 'n "geen toegangbordjie" het nie! Wees ook my besoeker soos U eens daar was.
MOSAÏEK-BRON: “Third Station of the Resurrection: The Walk to Emmaus”(1070) deur Rowan LeCompte en Irene Matz LeCompte is ’n mosaïek-kunswerk in die opstandings-kapel in die Nasionale Katedraal in Washington, DC.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 4 van #Spoorlangs in Pase luister ons na “On The Road To Emmaus” deur Taylor Miller. Hy skryf die lied beskryf die gebeure in Lukas 24 en is 'n herinnering aan waaroor Paasfees werklik gaan. “Hy is opgewek en Hy het hierheen gekom om ons te verlos.”
@TaylorMillerMusic
https://youtu.be/jy0r8VnVKKA
Markus se opstandingsverhaal is baie eenvoudiger as enige van die ander evangelies s'n. Geen fieterjasies nie. Maar so herkenbaar dat jy eintlik weet, dit gaan ook oor jou wat dit lees. Sou jy anders opgetree het? Ek glo nie! In Getsemane "het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop" (Mark 15:50). Sou die vroue beter vaar? Nie volgens Markus nie! By die die graf aangekom, ontvang die vroue die boodskap wat ook húlle laat weghardloop, "terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang" (Mark 16:8).
Dit is asof Markus moeite doen om élke leser in die spieël te laat kyk: sou jy dit anders gedoen het? Ek glo nie! Selfs die brawe Petrus het dan ook uitgeroep, "Ek ken Hom nie" (14:71). Dit is nie net Judas wat Jesus verraai het nie; almal het. Almal. En ek? Jy?
Maar Markus se weergawe eindig nie by hooploos nie. Allermins! "Die een wat julle soek is nie hier nie, Hy wag vir julle… Hy gaan julle vooruit na Galilea toe" sê die jong man (16:7). Presies soos Jesus reeds vooraf belowe het in Mark 14:28. Maar waarom Galilea? Want dit is waar Jesus die eerste maal gesê het, "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie” (Mark 1:15). Ek wag vir julle "by die begin". Kry My daar, ons (Ek en julle) begin weer. Ek leer julle … wéér. "Gaan sê (dit) vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus" (16:7).
Ja, die boodskap het Petrus weldra bereik. Petrus, met jóú begin ek ook weer! Ai, ek wens so Judas Iskariot kon die woorde hoor…
GEBED: Here, as U met Petrus en elkeen van die ander wat U verraai het, nuut begin; dan weet ek U doen dit met my vandag ook.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
SKILDERY-BRON: Frans Hals se skildery “Markus” (1625-1630) in olie op doek.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 3 van #Spoorlangs in Pase luister ons na Robin Mark se lied “The Young Man.”
Uit die liriek:
Now history tells of heavy stone to bar the way
Was fixed by many soldiers on the open grave
For when she found it rolled aside and emptied tomb
She grieved the stolen body of the young man
A gardener called her by her name as she kneeled down
And asked her why she searched about the burial ground
And wiping bitter tears away with the dawns first light
She saw the risen glory of the young man.
Robin is ’n Noord-Ierse Christelike sanger en liedjieskrywer.
https://youtu.be/jF-SkmU1ikk
As die moontlikheid sou bestaan dat mense Jesus se opstanding kon bevraagteken, dan was Sy keuse om heel eerste aan 'n vrou te verskyn, 'n uiters swak keuse! Ons trek dalk wenkbroue op as ons dit hoor, maar in Jesus se tyd was vroue nie geag as betroubare getuies nie. Het Jesus maar eerste aan 'n man verskyn! Toe kies Jesus anders. Soos Jesus ook voor sy dood gedoen het. Jesus het stereotipes omvergewerp; wat onbelangrik was die eerste posisie gegee; aan vroue dieselfde status as mans voor God gegee. Is dit dan vreemd dat Jesus 'n vrou kies om aan te verskyn? Selfs al wou niemand haar glo nie (Luk 24:9-11).
Maria Magdalena het duidelik ook nie geglo toe Jesus reeds in Mark 8:31 geleer het dat Hy doodgemaak moet word "en drie dae later moet opstaan" nie. So onwaarskynlik, dat sy eerder die "twee engele met wit klere" (Joh 20:12) kon uitken. Maar hier staan die tuinopsigter voor haar. Sy herken hom nie aan sy voorkoms nie (net soos die twee Emmauspelgrims). Ook nie aan sy stem nie: "Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?" (Joh 20:15).
Dan gebeur wat in ons almal se lewens gebeur wanneer ons te staan kom voor Jesus. Waar die "oomblik van herkenning" vir ons aanbreek. Daardie oomblik wanneer Jesus ons op ons naam noem. Soos Jesaja (43:1) skryf: "Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!" Luister na Jesus: "Maria!" Net dít. Toe weet sy!
Dieselfde woord kom oor haar lippe, as die blinde Bartimeus nadat Jesus hom vra wat Hy vir hom moet doen: "Rabboenie, dat ek kan sien!" En hier gaan Maria se oë ook oop. "Rabboenie, ek kan sien!"
Mag jy vandag sy stem herken. Mag jy sê, "Rabboenie!" En mag jy vertel.
GEBED: Hoeveel keer staan U voor my dat ek U ook nie herken nie, my Here. Open ook my oë!
SKILDERY-IKOON: Rembrandt van Rijn se “Christus verschijnt voor Maria Magdalena” 1651, olie op doek, as deel van die Duitse Herzog Anton Ulrich Museum in Braunschweig se versameling.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
APR 19
MUSIEK: Op Dag 2 van #Spoorlangs in Pase kyk ons na ‘n musiek-video van “Go Tell The World, (Mary Magdalene's Song)” deur Philippa Hanna.
Uit die liriek:
She stands alone beside an empty grave
Tears of a broken woman on her face
Somebody took the one she loved away
He saw the beautiful beneath the scars
The treasure hidden in her broken heart
So empty now because her Saviours gone
But then, a voice said
'don't you cry, it is I'
Go tell the world that I'm alive
I'll never leave you I'll be by your side
https://youtu.be/VTZ6tfDE2ak
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
Anders as Advent wat 'n vier weke voorbereidingstyd het en op Kersdag eindig, begin Paasfees met die hoogtepunt, en daarna gaan Pase vir 40 dae dae voort. Dit is die langste feesseisoen in ons kerklike jaar! Ek wonder of ons genoeg maak van Pase? Die meeste mense wat ek ken beskou Paasnaweek as 'n hoogtepunt - veral met 'n ekstra lekker vakansiedag bygevoeg. En daar stop dit. Tog weet ons dat Jesus nóg 40 dae se spore vir ons nagelaat het om mense te wys dat sy profesie bewaarheid is: Hy leef! Mense moes sien; of, soos Tomas, aan Hom raak. Selfs die Joodse geskiedskrywer van daardie tyd, Flavius Josefus, en die Griekse skrywer, Eusebius, het berig van die mense wat Jesus met hulle eie oë gesien het. Soos Johannes ook skryf: "Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie" (Joh 21:35). Lukas sê dieselfde: "Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat" (Hand 1:3).
Of, soos Paulus berig: "Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn" (1 Kor 15:5-8).
Hoe kon die skeptici volhou dat dit maar bloot wensdenkery is? Daar móés waarheid agter die gerug wees - Jesus leef! Anders ja, dalk; maar steeds…
GEBED: Tweeduisend jaar later, en ons mag ook in hierdie verhaal deel en die waarheid daarvan glo, Here - dankie Here!
IKOON-BRON: Ikoon van die Opstanding van die webwerf van die Sisters of the Order of St. Basil the Great.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 1 van #Spoorlangs in Pase kyk na Constantia Kruin Musiekbediening se weergawe van “Loof God in die hoogste hemel!” en "Hoor jy die Paasfees klokke?"as deel van hulle Paassangdiens 2020.
https://youtu.be/cGy7D9DZp2M
SPOORLANGS: IN DIE SPORE GESTUIT
Sedert die vroegste eeue kom christene op Paassondag reeds om middernag bymekaargekom om te sing: "Christus het opgestaan uit die dood, die dood is self deur dood doodgetrap." Waarom nie wag tot die volgende oggend nie? Want, soos Lukas (24:1-3) verduidelik, "Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan …. Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie." Dit beteken dat Jesus gedurende die nag opgewek is. Die oomblik toe die Sabbat se laaste minuut uitloop, toe is dit soos Jesus voorspel het: "Moenie bekommerd wees nie; die dood is nie sterk genoeg om My vir altyd in sy greep vas te hou nie" (Luk 18:33, uit "Die Boodskap).
'n Woestynvader, Abba Johannes Chrisostomos (wat in 407 nC gebore is) skryf só in een van sy Paaspreke:
"O Dood, waar is jou angel?
O hel, waar is jou oorwinning?
Christus het opgestaan, en die bose het tot 'n val gekom.
Christus het opgestaan, en die engele juig.
Christus het opgestaan, en lewe het oorwin.
Christus het opgestaan, en nie 'n enkele dooie bly in die graf oor nie.
Die opgestane Christus is die eersteling om te lewe sodat niemand hoef te sterf nie."
God se skeppingswerk is weer hervat. Die "agste dag" het aangebreek (metafories gesproke). Ons lees mos in Gen 2:2 dat God, "na al die werk wat God gedoen het", op die sewende dag (die Sabbat) gerus het. En toe die rusdag verby is? Toe breek die "agste dag" aan. Van die Boom van Lewe kon geëet word.
Glo, en eet. Vandag maak dit moontlik.
KUNS-BRON: “Die Opstanding van Christus: is ‘n fries deur Piero della Francesca, 'n bekende kunstenaar van die Vroeë Renaissance.
Die fries is in 1460 as die versiering van die bou van die stadsaal in Borgo Sansepolcro geskep.
In die middel van die driehoekige samestelling is die figuur van Christus, aangebied in die vorm van 'n atleet. wat baie ongewoon was. Hy klim uit die graf met 'n banier in die hand, wat die kruis uitbeeld.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was Britse troepe van plan om die stad aan artillerievuur bloot te stel. Maar gelukkig was die bevelvoerder, Kaptein E. Clarke, redelik belese en bewus van die kunswerke en het hy die bombardement gestaak. Die daaropvolgende offensief het sonder bloedvergieting geëindig, aangesien die Duitse troepe Sansepolcro verlaat het. 'n Kosbare skildery so gered, en nou is die fries, hoewel met die behoefte aan 'n restourasie in die Pinacoteca Comunale kunsgalery van die Museum van Sansepolcro.
GEBED: Na 40 dae van vas staan ek weer voor U met oop hande: om met die vrug van ewige lewe gevoed te word.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Paassondag, as deel van #Spoorlangs, kyk ons na die pas vrygestelde musiekvideo van die Nederlandse sangers Reyer en Sera Noa se "Wat Hij deed". Dit is ’n vertaling van die gewilde “What He's Done”.
Uit die liriek:
Zing van de vrijheid die Hij gaf
Zelfs de dood verliest haar macht
Door God's opstandingskracht
Spreek van de allerhoogste Naam
over elke dode plaats
Want de Heer is opgestaan
Nu op de troon van Majesteit
Is voor Hem een plaats bereid
Waar Hij heerst in eeuwigheid
Zing Halleluja voor de Heer
Voor de Koning die regeert
Hij verdient de hoogste eer
https://youtu.be/RWYEnRmVHHA
Dit neem nie baie verbeelding om jou in die Jesusvolgers se sandale in te dink die dag na sy kruisiging nie. Die Sabbat het met skemertyd aangebreek - toe was die liggaam van Jesus reeds van die kruis afgehaal. Dit moes 'n woordlose, verslae Sabbatdag gewees het. Die mooi drome oor 'n nuwe lewe het in 'n nagmerrie geëindig. Niemand kon die reis huiswaarts onderneem nie (op 'n Sabbat mag niemand reis nie). Daar moes honderde mismoedige mense die Sondagoggend uit Jerusalem weggestap het. Die beste beskrywing is dalk die twee mense van wie Lukas vertel, op pad terug na Emmaus: "met somber gesigte" (Luk 24:17).
Somber Saterdag. Iemand het dit só verduidelik: “Iets vreemds is aan die gebeur – daar is vandag 'n groot stilte op aarde, swygsaam en bewegingloos. Die hele aarde bly stil, want die Koning swyg.”
Ons ken sulke dae: daardie tyd wat jou senuwees rou geskaaf voel. Wagtyd. Die nag wat jy deurworstel langs iemand 'n hospitaalbed. Bang. Wanneer jy wag vir die bloedtoetsuitslae … Wanneer jy by die venster staan, wagtend vir jou geliefdes wat lankal hier móés gewees het …
Donker Saterdag - Dag 40 van ons SPOORLANGS-reis - bied aan ons hierdie één geleentheid in die jaar waar ons werklik nie ligtelik moet omgaan met al die duisternis in die lewe nie. Want, ja, dit lyk soms asof die bose oorwin. Ja, daar is soveel ellende dat jy nie anders kan as om met hierdie vraag te worstel nie: is daar werklik 'n God? Waar is hierdie God? Soveel mense - wêreldwyd - "beleef" hierdie vrae vandag aan liggaam en aan gees.
Dit is die dag van wag. "Soos die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here" (Ps 130:6-7).
GEBED: Here, ek kom staan vandag - namens almal wat swaarkry - by U. Ek wag, Here, dat U hulle tegemoet sal kom.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
SKETS-BRON: "Die afkoms in die hel" uit ‘n mikro-geïllustreerde Armeense Evangelie (1609). Die oorspronklike is tans in die Bodleian Biblioteek, Universiteit van Oxford.
MUSIEK: Op Dag 40 van #Spoorlangs luister ons na “God Het Die Wêreld So Lief Gehad” gekomponeer deur Winfried Lüdemann van die Universiteit van Stellenbosch as deel van sy album “Die Kruisiging”. Die album is opgeneem deur die Ensemble AmaCantus van Düsseldorf saam met enkele soliste uit Suid-Afrika. “Die Kruisiging” is die eerste Johannes-passie in Afrikaans.
Jaco Meyer van Noordwes-Universiteit skryf: “Soos wat die titel van die werk suggereer, handel dit oor die kruisiging – dus is die opstanding van Jesus onder andere nie deel van hierdie werk se omvang nie. Dit eindig egter met Lüdemann se weergawe van Johannes 3:16: ‘Want so lief het God die wêreld gehad’, asook die slotwoorde ‘Kyrie eleison’.”
https://youtu.be/HjrBr59_Bf8
By die Woestynvaders en -moeders was daar geen twyfel oor die Godheid van Jesus nie. Kyk net na die Pasgagebeure, skryf Abba Efraim, die Sirier (gebore in 306nC):
•As hy nie vlees was nie, wie het die Jode gearresteer? En as Hy nie God was nie, wie het die afgekapte oor van die soldaat genees?
•As hy nie vlees was nie, wie se klere het die soldate uitgetrek en verdeel? En as Hy nie God was nie, wie het die kleed voor die son getrek met die verduistering?
•As hy nie vlees was nie, wie het aan die kruis gehang? En as Hy nie God was nie, wie het die aarde se fondamente geskud?
•As hy nie vlees was nie, wie se hande en voete was deur spykers deurboor? En as Hy nie God was nie, hoe het die voorhangsel van die tempel geskeur, die rotse gebreek en die grafte oopgegaan?
•As hy nie vlees was nie, wie het uitgeroep: "My God, my God, waarom het U my verlaat"? En as Hy nie God was nie, wie het gesê: "Vader, vergeef hulle"?
•As hy nie vlees was nie, wie het saam met die diewe aan 'n kruis gehang? En as Hy nie God was nie, waarom kon Hy vir die dief belowe: “Vandag sal jy saam met my in die Paradys wees”?
•As hy nie vlees was nie, wie het die apostels in die bovertrek gesien? En as Hy nie God was nie, hoe het Hy ingegaan toe die deure gesluit was?
Dit is as gevolg van Jesus se opstanding dat Goeie Vrydag "GOED" genoem kan word. Dit is as gevolg van Paassondag dat ons in Jesus se Godheid glo; anders was vandag maar net nóg 'n Vrydag.
GEBED: Here Jesus, vandag aanbid ek U vir U mensheid waardeur U God aan ons kom openbaar het.
MOSAÏEK-BRON: “Ephrem the Syrian”, mosaïek-kuns in Nea Moni van Chios, Griekeland (11de eeu).
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Spoorlangs -reeks daagliks op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
15 Apr
MUSIEK: Op Dag 39 van #Spoorlangs luister ons na die instrumentale “Karfreitagszauber” (Goeie Vrydag Musiek) uit Richard Wagner se opera Parsifal (1882). Die dirigent is Rudolf Kempe en dit word uitgevoer deur die Weense Filharmoniese Orkes. Dit is in 1960 opgeneem en in 1990 hermeester.
https://youtu.be/DTVQoUs8aWI
From the publisher's feed