
Sign up to save your podcasts
Or


"My 'pistons' werk nie meer nie." Hierdie is die sinnetjie waarmee my vriendin, reeds jare verlam, 'n seuntjie antwoord, toe hy - met kinderlike naïwiteit - vra waarom sy nie kan loop nie. As jy verlam is, verduidelik sy, kan jy met jou brein só hard probeer soos wat jy wil, maar die boodskap kom nie by haar voete uit nie. Sy kan nie haar bene oplig nie, al wil sy hoe graag. Haar masjien se "pistons" het gebreek. Ek bars uit van die lag! Dit is mos van almal van ons waar: jy kan die kragtigste enjin voor onder die kap hê; mense kan die vorm van die motor bewonder; jy kan selfs jou rit beplan hê, maar as die boodskap nie by die wiele uitkom nie, is jy gestrand!
"Pistons" laat my dink aan 'n Griekse woordjie: "elpis." Soos ons nie sonder ons "pistons" kan leef nie, so kan ons ook nie sonder "elpis" leef nie. "Elpis" is die Griekse woord vir "hoop". Dit is die hoop van Heb. 11:1, "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Die Bybel se hoop wipplank nie tussen "dalk", of "dalk nie." Inteendeel! "Elpis" is om oortuig daarvan te wees dat jou "kragbron" werk! Só seker is jy dat jy nou al kan oorloop van vreugde. Wanneer Petrus - na die uitstorting van die Heilige Gees - begin preek haal hy uit Psalm 18:6 aan: "Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie." Só seker mag ons wees!
Laat maar kom wat moet kom, ons "pistons" werk!
GEBED: Ek loof U, Goeie Vader, dat ek op elke belofte van U mag staatmaak, wetend dit is versekerde waarheid.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 12 van #LewendeHoop kyk ons na die liriek-video van “Overcome - Psalm 18” deur James Block.
Uit die liriek:
You give me feet like a deer
So I can climb these mountains
You raise me up on the heights
So I can overcome
I can run, against a troop
I can leap over walls
Train my hands for war
And I'll bend a bow of bronze
For You are my strength!
James is oorspronklik van Kanada, maar het 10 jaar gelede na Israel verhuis. Dit was hier waar hy sy Israeliese vrou, Liz, ontmoet het, en hulle woon in Jerusalem.
Hy skryf: “Om in Jerusalem te woon, is 'n plek van nuwe uitdagings, maar ook 'n groot inspirasie. Dit is ongelooflik om te dink dat baie van die groot Psalms 3000 jaar gelede in hierdie plek geskryf en gesing is en steeds relevant is vir vandag. Ek dink nie ek kon my musiek op 'n meer inspirerende plek skryf en opneem as hier in Jerusalem nie.”
“My passie is om te sien hoe die Psalms en ander Skrifgedeeltes weer in ons persoonlike en gemeentelike aanbidding herstel word soos in die tyd van koning Dawid. Ek glo dat musiek 'n baie kragtige manier is om ons gees te versterk en ook om ons denke te beïnvloed sodat ons gedagtes en emosies met die waarheid ooreenstem.”
https://youtu.be/I5zY3odoE5E
Die 20ste eeu was 'n verstommende eeu: die pendulum swaaiend tussen "rampspoed" en "verwondering." Dit was 'n eeu van "eerstes": eerste keer die buitenste ruim in; eerste orgaanoorplantings; eerste selfoon-soos-'n-rekenaar wat jou kinders dalk beter van verstaan as jy; en so sou ek kan aanhou. Dit was egter ook 'n eeu van ellende en mislukkings: twee Wêreldoorloë (en 'n dreigende); 'n eerste atoombom; grootskaalse aardverwarming. Met sommige gaan dit al beter en beter; en dan is daar die res wat moet probeer oorleef…
Daar is een Psalm wat 'n tydige Psalm is - dit klink só: "Moenie op magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen" (Ps 143:3-4). Blywende hoop lê nie in menslike hande nie! Soek jy dáár, is jou soektog "koud"! Hierdie afgelope 100+ jaar het dit oor en oor bewys. Soos piramideskemas tuimel al ons aardse sekerhede ineen. Maar hoe dan verder? "Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God" (v6). Daar is net Een wat nie kan "asem uitblaas" nie: God, die Skepper. Die Een wat "die hemel en die aarde gemaak (het), die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou" (v6). Blywende hoop kan dus wel gevind word: by die Lewende God!
Dit moet belangrik wees dat Jesus - wat blywende hoop verkondig het, en selfs die lewende hoop geword het - se heel eerste preek (in Luk 4:16-21) soos Psalm 143 klink. Dit is genoeg rede om vandag die Psalm te gaan lees!
GEBED: Ek wil my nie laat verblind deur aardse standaarde vir "goed gaan" nie, Here; U is my hoop en my "goed gaan".
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 11 van #LewendeHoop kyk ons na die musiekvideo van “Hy Is” deur wyle Adam Barnard. Adam was veral bekend as deel van die groep Romanz en is Vrydag oorlede. “Hy Is” is deel van sy eerste solo-album “Ruk my tot stilstand”.
Uit die liriek:
Vir Stiltes deur die Storms
Vir Vrede in my siel
Vir gawes uit U hand
Hy is my God
My Rots
Hy is die Allerhoogste God
My genoegsame God
Adam het destyds geskryf: “Ek bedien deur my musiek. Stylvol, ’n hart vir God en als in Sy naam, is hoe ek my loopbaan wil beskryf.” Ons bid vir sy gesin, familie en vriende.
https://youtu.be/vYG-hcTQF8w
Wetenskaplikes stem alom daarmee saam: 'n Baba word net met twee vrese gebore. Alle ander vrese leer ons dus geleidelik aan. Ons het almal die vrees vir harde klank (dink net hoe koes jy as jy 'n onverwagse harde slag agter jou hoor), en die vrees om te val (omdat dit pyn of selfs die dood kan veroorsaak).
Ons vrees vir die toekoms is eintlik 'n illusie. (Ons kan sekerlik voorspellinge maak, maar ons voorspellinge kan ook verkeerd wees.) Ons vrees vir "Die Ander" (of dit nou die "Rooi Gevaar"; die sg. "Nuwe Wêreld Orde"; of sommer alles bo die Limpoporivier) is ook selfgemaak. Ek is nie naïef om te dink dat die lewe net rooskleurig is nie. Glad nie! Maar wat ek in die Bybel leer, is dat môre, met al sy moontlike vrese, aan God behoort. Of soos Francois de Fenelon (17de eeu) in 'n brief geskryf: “Die toekoms is nie joune nie; dit sal ook nooit wees nie. Leef in die huidige oomblik. Môre se genade word nie vandag reeds aan jou gegee nie."
In Hebreeus is daar twee woorde vir hoop: die een (soos ons reeds gesien het) is "tikvah": "om vas te hou aan 'n belofte" (Kyk by Dag 7). Daar is ook 'n sinoniem in Hebreeus vir hoop, "Jakal": om te wag. Van hierdie hoop lees ons gereeld in die Psalms. Dink aan Psalm 71 waar Dawid skryf: "Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...! Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!" (v1-2, 13-14).
GEBED: Leer my om geduldig te wag op U, Here, en nie om blindelings op my eie vrese te reageer nie.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 10 van #LewendeHoop kyk ons na die liriek-video van “Psalm 71 - I Will Sing of Your Salvation” deur Francesca LaRosa.
Uit die liriek:
In you, O LORD, I take refuge;
let me never be put to shame.
In your justice rescue me, and deliver me;
incline your ear to me, and save me.
I will sing of your salvation.
https://youtu.be/QrroOxq-WMQ
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
Die meeste mense wat ek ken (en jy mag beslis 'n uitsondering wees) se gesprekke oor die toekoms gaan baie meer oor vrees as oor hoop. Neem byvoorbeeld gesprekke oor ons land: baie van ons vrese en bekommernisse wat uitgespreek word, is uit besorgdheid en liefde vir ons kinders en kleinkinders. Onlangs het ek 'n interessante opmerking gelees van Brenda Smith ("Bible.org") wat sê, dat dit eintlik 'n baie vreemde manier is om liefde en besorgdheid vir jou kinders te demonstreer. Dit is soos om teen slaaptyd eers vir jou kind te vertel hoe vreesaanjaend die donkerte van die nag is, en om daarna te sê, "lekker slaap", en dan die lig afskakel. Alhoewel die "donker nag" (metafories vir baie van ons vrese) 'n realiteit is, sou dit baie meer gerusstellend vir jou kind wees om te sê, "Mamma en pappa is reg in die gang af. Roep ons as jy iets nodig het, ons sal daar wees." In plaas daarvan om vrees vir die donkerte (of enige onsekerheid) by jou kind te versterk, is dit veel beter om jou kind toe te rus daarvoor.
Dalk is dit wat Dawid sy kinders ook saans geleer het voordat hulle gaan slaap het: "Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie … Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, Hy sal jou gee wat jou hart begeer" (Psalm 37:1,3).
Iemand wat die "vrees van donkerte" geken het, was die kerkvader, Martin Luther. Tog is dit hy wat gesê het, "Selfs al sou ek weet die aarde vergaan môre, sal ek vandag steeds 'n appelboom plant." Is dit dalk 'n voorbeeld van "woon en werk rustig voort"?
GEBED: Wanneer die donker my omring, weet ek U is my Vader! Daarom hoef ek nie bang te wees nie.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 9 van #LewendeHoop luister ons na die Drakensberg Seunskoor se weergawe van “10 000 Reasons (Bless the Lord)”. Die lied is deur Matt Redman and Jonas Myrin geskryf met Psalm 103: 1-5 as inspirasie:
Uit die liriek:
Bless the Lord, O my soul, O my soul
Worship His holy name
Sing like never before, O my soul
I'll worship Your holy name
The sun comes up, it's a new day dawning
It's time to sing Your song again
Whatever may pass and whatever lies before me
Let me be singing when the evening comes
https://youtu.be/0h9YHT9L9x4
Ons het allerande gesegdes oor beloftes, soos "beloftes maak skuld", tog sê ons ook "beloftes is gemaak om gebreek te word." Moenie mislei word deur mense se "goue beloftes" nie, maar ja, soms is dit ons wat ons vingers agter ons rug kruis terwyl ons leë beloftes maak.
In Genesis lees ons 'n verhaal oor 'n belofte tussen God en 'n mens - Abram. Maar dit is nie net 'n belofte nie - dit is 'n verbond! ('n Verbond is "groter" as 'n belofte - daar moet getuies wees as bewys dat dit bindend is. En offers as 'n seël.) Maar, "hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God" (Gen 15:8)? Hier is dan geen getuies nie! Hier is nie eers offers nie! Waarop God antwoord? “Bring vir My die offerdiere", sê God (v9). Maar dan gebeur die wonder: God ken ons feilbaarheid; en ons wisselvalligheid. Daarom maak God vir Abram aan die slaap (v12). "Toe dit donker was, gaan daar skielik 'n oond wat rook en 'n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur" (v17). En daar "stap" God toe tussen die offerandes deur - van die eenkant tot by Abram se kant. Namens Abram ook. Namens ons ook.
Daarna lees ons dwarsdeur die Ou Testament van God as die God van beloftes! Dwarsdeur tot in die Nuwe Testament: ons ganse geloof is op die beloftes van God gebou. As daar enige greintjie twyfel bestaan dat God se woord nie betroubaar is nie, is ons ganse geloof op dryfsand gebou.
Maar ons kan vashou aan een vaste wete: God kan nie teruggaan op God se eie woorde nie, want God sluit 'n belofte met God Self! Soos Num 23:19 leer: "Want, God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie, 'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie."
Jy kan vandag vir God met alles vertrou!
GEBED: U is die betroubare! U is die getroue! Dankie dat ek aan geen van U woorde hoef te twyfel nie
KUNS-BRON: "Abram kyk na die Sterre" by http://www.pomegranatestudios.com/
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 8 van #LewendeHoop kyk ons na die pas vrygestelde musiekvideo van die lied “Worthy Of My Song” deur Phil Wickham.
Uit die liriek:
I'm gonna live
Like my King is risen
Gonna preach to my soul
That You've already won
And even though I can't see it
I'm gonna keep believing
That every promise You’ve made
Is as good as done
I give You my worship
You still deserve it
You're worthy of my song
Phil se treffer “Living Hope” is ook die agtergrondmusiek vir ons video’s en potgooi-uitspele vir ons #LewendeHoop-reeks.
https://youtu.be/xC6YjpQSHBY
Warum haben Sterbefälle in der amerikanischen Arbeiterklasse zu Beginn des neuen Jahrhunderts so plötzlich zugenommen? Diese Frage beschäftigte zwei Professoren der Princeton Universität im Jahr 2015. Ein neuer Begriff wurde aus dieser Studie geboren: „Verzweiflungstod“ (‚Deaths of Despair‘). Arbeitslosigkeit hatte drastisch zugenommen und die Möglichkeit Arbeit zu finden wurde geringer. Das Leben wurde nach und nach aussichtsloser und leider haben die Menschen sich „zu Tode gesoffen“ (welchen Einfluss die jetzige Pandemie auf solche „Sterbefälle aus Verzweiflung“haben wird, wissen wir jetzt noch nicht...).
Der Ursprung des englischen Wortes „despair“ bedeutet „ zu niedergeschlagen um hoffen zu können.“ Dies ist allerwenigst ein modernes Problem. Wenn ich Klagelieder 3 lese, dann höre ich die Geschichten der niedergeschlagenen Menschen. Jeremia schreibt im Namen des Volks im Exil. Dies Elend welches sie getroffen hat, muss von Gott kommen (oder, er hat es mindestens zugelassen). Im 3. Hauptstück beschreibt er seine äußerste Verzweiflung: „Er hat mich geführt und gehen lassen in die Finsternis und nicht ins Licht“(V.2) Damals wussten die Menschen schon, dass man ohne Hoffnung nicht leben konnte! “Ich sprach: Mein Ruhm und meine Hoffnung auf den Herrn sind dahin“ (V.18)
Und dann ist da das einzelne Wort, welches den großen Unterschied macht: „Aber...“Dieses Wort, das dich festhalten lässt. „Tikvah“, das hebräische Wort für Hoffnung, heißt „um einen Seil festzuhalten“. Dieses Seil ist dein „aber...“ So lange wie du dieses Seil in der Hand festhältst, so lang kannst du anhalten. „Aber...“ schreibt Jeremia,“Der Herr ist mein Teil, spricht meine Seele; darum will ich auf ihn hoffen. Denn der Herr ist freundlich dem, der auf ihn harrt, und dem Menschen der nach ihm fragt.“ (V.24-25)
Hältst du dieses Seil steif fest in deiner Hand?
GEBET: Herr, wer von us kennt kein Leid! Möge mein Leid aber nie in Mutlosigkeit enden.
Een van die redes waarom daar in oorgangstye (bv. die "Y2k" op oujaarsaand van 1999) of in krisistye (soos die wêreldwye pandemietyd) soveel "doemprofete" na vore tree is dat "profesieë van vrees" gewilder is as "profesieë van genade". Ek skrik as ek dink dit die waarheid is.
Tog weet ons almal hoe sterk die krag van vrees is. Hoeveel gelowiges loop steeds met 'n vrees of hulle "reg" lewe? Hoeveel gelowiges leef nie met 'n vrees nie, júís omdat hulle nie kan vergeet van dinge wat hulle in die verlede verkeerd gedoen het nie. 'n Godsbeeld van vrees skud ons nie so maklik af nie, al is daar meer as 300 Bybelverwysings wat ons leer: "Moenie vrees nie!" Dink net aan Rom 8:15-16: "Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is." Of wat van 1 Joh 4:18, "Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie." Vrees en geloof is nie karperde nie. Vrees en hoop ook nie. Vrees en liefde ook nie.
Soos Philip Yancey sê, "Genade beteken dat daar niks is wat ek kan doen om God vir my lief te maak nie; maar ook dat ek niks kan doen om God vir my minder lief te maak nie. Selfs wanneer ek die teenoorgestelde verdien, word ek steeds genooi om my plek aan God se tafel in te neem.”
Moet jou Godsbeeld dalk vandag vernuwe word?
GEBED: Genadige God wat die ganse wêreld liefhet; dankie dat dit my insluit.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 6 van #Lewende Hoop kyk ons na die liriek-video van ReGen Harmony-groep se a capella weergawe van "Romans 8". ReGen Harmony is die bekende Acappella Company se nuwe jong-volwasse aanbiddingsprojek.
https://youtu.be/6S47UvrRPZ4
"Moenie bang wees nie!". Die woorde lees ons gereeld in die Bybel raak - dink byvoorbeeld aan Jes 41:13: "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou." Met hierdie drie woordjies - "Moenie bang wees nie!" - begroet die engel vir Maria by die oop graf. Die engel begroet die skaapwagters ook só, daardie aand met Jesus se geboorte (Luk 2:10a). Tog, mag ek maar erken, ek ís bang… (Met my bejaarde pa in die waakeenheid, is ek wraggies bang! En sommer oor baie ander dinge ook!)
Dit klink vreemd as die engel byvoeg, "Kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap…" (Luk 2:10b). As ek om my kyk sien ek nie veel blydskap nie. Oral is mense kwaad: die manier hoe mense bestuur illustreer die woede; in die kommentaarkolomme van koerante lees ek die woede raak; die onluste wys mense se woede! Mense is "vuis"voos: Covid19 het alles omvergewerp. Toe kom die oorlog in Europa… Dit is asof daar 'n donker wolk oor ons gemoedere hang! "'n Goeie tyding van groot blydskap…" Waar?
Maar dan begin ek die boodskap van die engel verstaan: dit is nie die wêreldomstandighede om ons, of die chaos in ons wat eers tot bedaring moet kom sodat ons blydskap kan ervaar, of voordat ons vrese besweer moet word nie. Dit is midde-in dit alles dat die engel uitroep: daar is 'n alternatief. En dié alternatief hang van niks of niemand anders af as van God self nie!
En dit is presies wat hoop is: om seker te wees dat daar 'n Alternatief is!
Gebed: Here, dankie dat die engel se boodskap van U Goddelike alternatief ook vandag die boodskap aan my is.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 5 van #LewendeHoop kyk ons na die musiekvideo van Joe Niemand se bekende lied “Ek Sal Nie Bang Wees Nie”.
Uit die liriek:
Ek sal nie bang wees nie
Vir die onheil in die nag
Of verwoesting in die dag
Ek sal nie bang wees nie
Al val 'n duisend aan my sy
Of tienduisend hier langs my
Ek sal nie bang wees nie
En hier kruip ek weg
In die hoogtes by die Hoogste
Alles veilig in U hand
Buite die bereik van die vyand en sy magte
Omring deur engele aan elke kant
https://youtu.be/9p8Lef6IdoM
'n Mens se lewe kan in 'n oogwink verander! Een dag nog vol drome, die volgende dag het alles in duie getuimel. Dit kan 'n ongeluk wees wat alles verander het; iemand anders se dwaasheid wat jou lewe verander; siekte; die dood … wat ook al. Daarom durf niemand ooit ligtelik oor hoop praat/skryf nie. Mense se lewens is heilige grond - dit verdien al ons respek. Geloof wat nie die dieptes van Job se wanhoop erken nie, bied net 'n tydelike "ontvlugting." Dit is wat ons "goedkoop teologie" kan noem.
Die man wat bekend was vir sy "teologie van hoop" - Jurgen Moltmann - het eenmaal gesê dat die christen se hoop nie 'n belofte is van "nog meer suksesvolle dae aan die rykes en die sterkes" nie, maar dat dit "opstanding en lewe bied aan diegene wat in die skaduwees van die dood moet bestaan." Dan skryf hy hierdie belangrike sinnetjie: "God se ander naam is nie 'Sukses' nie. Dit is 'Geregtigheid.'" Mense wat hul lewens daaraan wy om "wat verkeerd is" reg te stel, húlle is die mense wat die opstandingshoop verstaan. So het God ons verantwoordelik vir mekaar se lewens gemaak. Jy mag dus nie jou medemens aan sy/haar genade oorlaat nie. Dan verstaan jy nie wat hoop beteken nie. Hoop word áángegee: van een mens na 'n ander mens.
Jy verstaan wat LEWENDE HOOP is wanneer jy jou tyd en jou aandag afstaan om by daardie één mens wat uitsigloos is te gaan sit, sommer net om te luister. Wanneer jy één mens se arms hoog hou wat nie meer self krag het nie; één mens laat verstaan dat hulle nie alleen in hierdie donker is nie; maar wys dat hulle op jou sal kan vertrou.
Hoop wat lewe bring is 'n werkwoord.
GEBED: Here, U is my hoop; nie om te hou nie, maar om uit te deel.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 4 van #LewendeHoop kyk ons na ‘n grendeltyd-musiekvideo van die Nederlandse-lied “Lied van hoop” deur Marco den Toom.
Marco skryf dit het begin met 'n e-pos aan Judith Verwaard: "Juut, in hierdie inperkingstyd kan ons nie eens saam 'n hoopvolle liedjie maak nie. As jy nou 'n teks skryf, sal ek 'n paar note reël...'
'n Paar weke later het 'n deel van jubelende ‘Deo Woudenberg’ elk hulle deel tuis gesing. Net met ’n selfoon. Aan die einde is meer as twintig orkestrale dele Marjolein de Wit (fluit) Evelyn Heuvelmans (oboe), Laura van der Stoep (vioolsolo (en al 12 ander snaardele), Hans van Wingerden (trompet), Eric Westerink (tromboon en bastromboon).
https://youtu.be/xE-mtiPF_p4
In 'n tyd toe die Jode op hul moedeloosste was as ballingsvolk in Assirië, het die profeet Jesaja 'n boodskap van hoop gebring: "Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring" (Jes 43:19). Toe die Joodse volk op hul moedeloosste was as onderdruktes van Rome, het Johannes, die Doper, die profesie kom vervul: "Ek is die een wat in die woestyn roep: 'Maak die pad vir die Here reguit'" (Joh 1:23). En toe die hoogtepunt - Jesus wat verklaar: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (Joh 14:6).
Uiteindelik kan ons eie lewenspad die "hoofpad" volg - selfs sou die roete ons deur die woestyn neem. Woestyntye is ontwrigtend. Ons almal ervaar tye waar ons gedisoriënteerd voel deur ons eie (of ander se) omstandighede. Een ramp na die ander tref jou! Dit is dan dat jy in moedeloosheid sê, "ek hou asem op vir wat nóg alles kan gebeur…."
Het jy al agtergekom dat wanneer ons gespanne is, ons asemhaling verander. Ons leef met ingehoue asem. Spanning laat 'n mens oppervlakkig en onreëlmatig asemhaal. Wetend dat God se Gees elke nano-sekonde by ons is, dink ek deesdae aan LEWENDE HOOP as "GODDELIKE ASEM". Immers is dit God wat die "LEWENSASEM in die mens (Adam) se neus geblaas het, sodat die mens 'n LEWENDE WESE geword het" (Gen 2:7).
Is jy tans gespanne? Herinner jouself dat jy die gawe van hoop ontvang het, soos jy die gawe van asem ontvang het. Maak jou oë toe, en voel die suurstof soos jy dit diep intrek. Dit word deel van jou bloedstroom. Dit is hoe LEWENDE HOOP voel. Soos asem, 'n diepe teenwoordigheid! Asem in - hoop. Asem uit - vrees …
GEBED: Dankie dat elke asemteug my aan U kan herinner.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 3 van #LewendeHoop luister ons na Jo Black se nuwe treffer “Staan Vas.” Hy skryf sy nuwe musiek is uit gebrokenheid gebore. “'n Soeke na hoop - ja, selfs vir myself - en 'n hoop om met een hand deur die storms vas te klou, maar ook een hand beskikbaar te hê vir die wat om my verdrink. Ons is dit aan mekaar verskuldig.”
https://youtu.be/U3I6KfIxB0g
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
From the publisher's feed