
Sign up to save your podcasts
Or


"Sien is glo." Bewys dit, dan sal ons dit glo. (Amper soos 'n ma wat uitroep, "dít wil ek nog sien…", wanneer haar tienerseun belowe hy sal die skottelgoed was…) Soms glo ons juis goed wat ons dink ons sien. Gaan kyk maar na die "Beste Illusies van die Jaar-kompetisie"* waar jy "blindelings" aan jou neus gelei word en jou brein jou sekere dinge wysmaak wat jy nie sien nie, en jy inderdaad glo jy sien. Huh? Ja, sien is glo. Al sien jy verkeerd…
Dit laat my dadelik aan Jesus se woorde dink toe Hy na sy opstanding aan Tomas (wat oortuig was "sien is glo") verskyn het: “Glo jy omdat jy My gesien het? Salig is dié wat nie gesien het nie en tog geglo het” (Joh. 20:29).
Wat ek in die Bybel leer is nie "sien is glo" nie, maar "glo laat sien". Dit is geloof in God wat die blindekolle van jou lewe na vore laat kom sodat jy soos 'n Dawid kan uitroep, "Dit is teen U alleen dat ek gesondig het" (al was die oortreding teen Urria - Psalm 51:6). Dit is deur geloof dat ons kan sien dat God se beloftes - algaande, meer-en-meer - realiseer. Ons is soos die hoogspringatleet wat visualiseer hoe sy, ligvoets, oor 'n hoë balk kan seil, en dit dan doen! God het belowe - daarom kan ons visualiseer. Of soos Paulus in Kol 3:10 sê, "Leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God." Dit is hoe God se beloftes werk: nou reeds kan jy alles visualiseer, want algaande gaan dit voor jou oë realiseer.
Daarom leer ons, dat al God se beloftes reeds waar is; ook dié wat nog moet realiseer!
GEBED: Here, laat my ook meer en meer sien wat U reeds besig is om te doen!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 21 van #LewendeHoop kyk ons na ’n video-opname van die groep Elevation Worship se akoestiese weergawe van “Give Me Faith” van hulle album “Kingdom Come”.
Uit die liriek:
I need You to soften my heart
And break me apart
I need You to open my eyes
And see that You're shaping my life
And all I am
I surrender
https://youtu.be/dNwt7LQiYck
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
Oor 'n week begin ons met 'n nuwe tydperk in ons kerklike jaar: Pinkstertyd. Daar is geen groter bewys nie van God se beloftes aan ons as die uitstorting van die Heilige Gees! Die Heilige Gees word die "deposito" beskou van al God se beloftes aan ons wat sal realiseer - of soos ons in Ef 1:14 lees, "Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het…" Jy mag elke belofte van God glo, omdat die Heilige Gees hier by ons is!
Ons lê reeds soveel klem daarop dat lewende hoop beteken dat ons aan God se beloftes kan vashou (ook aan die wat nog moet realiseer) dat ek skielik wonder, hoeveel beloftes van God is daar in die Bybel? Sommige mense beweer soveel soos 7 000. (Waarskynlik nader na 3000 sê ander). Het jy al ooit gewonder watter een van hierdie beloftes van God word die meeste herhaal? Is dit dat God ons sondes sal vergewe? Is dit dat daar vir ons lewe na ons dood is? Nee, dit is dat God ons nooit alleen sal laat nie. God is by ons!
Die belofte kom van vroeg in die Ou Testament af. Dink aan die belofte van God aan Josua: "Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (Jos 1:9). Jy lees dit oor en oor: "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou" (Jes 41:10).
Dit is presies wat Jesus se naam ook beteken: "Immanuel". Dit is die een belofte waar jy nie mág twyfel nie! Ongeag enigiets!
GEBED: Heilige Gees, dankie dat U die waarmaker van hierdie belofte is.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 22 van #LewendeHoop kyk ons na die liriek-video van “Spirit Lead Me” deur Hillsong United.
Uit die liriek:
Spirit lead me where my trust is without borders
Let me walk upon the waters
Wherever You would call me
Take me deeper than my feet could ever wander
And my faith will be made stronger
In the presence of my Savior
https://youtu.be/CHAAfC6gjnw
Maak die toekoms jou bang, of maak die toekoms jou opgewonde? Die antwoord hang seker af van wie jy vra: kleuters sal met verwondering praat oor wat hulle eendag gaan doen "as hulle groot is." Ouma's en Oupa's wonder baie keer - angstig - "wat gaan van die arme kinders word?"
Dit is interessant dat, hoe benouder die toekoms vir die gelowiges gelyk het, hoe meer het Paulus hulle aangespoor om uit te sien na wat voorlê. Die swaarkry wat hulle nou voel, is net geboortepyne - "God sal ons van die verganklikheid bevry" (Rom. 8:23). Hou net vas aan "die belofte van hoop": "dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet" (Rom 8:28).
My oog kan nie wegspring van daardie woorde van Rom 8:20 nie: God het aan ons "die belofte van hoop" gegee. Soms hoor ons mense praat van (sogenaamde) beloftes van God wat nog "in vervulling" moet gaan. Dat ons - soos 'n psalmdigter - moet saambid: "Vervul ook aan my die belofte wat U gegee het aan dié wat U dien" (Ps 119:38), asof daar nog onvervulde beloftes is? Máár, dit kan nie wees nie! Daar kan nie beloftes "uitstaande" wees nie - anders sou Jesus nie "God se 'ja'" genoem word nie (#Dag 18). Jesus is die vervulling van élke enkele belofte van God! Ons is nóú reeds erfgename van al God se beloftes (Rom 8:17 en Gal 4:7).
Dit is die spanning tussen die "alreeds" en die "nog nie". Amper soos 'n kleuter wat "alreeds" die volwassene-in-wording is, maar "nog nie" groot is nie. Alles is reeds besig om te gebeur. Die vraag is of ons dit raaksien?
GEBED: Dankie dat ek vandag reeds in U belofte van hoop kan deel omdat U, Jesus, dit vir ons moontlik maak.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
Op Dag 20 van LewendeHoop kyk ons na die musiekvideo van die groep We Are Messengers se lied “God You Are” saam met Josh Baldwin.
Uit die liriek:
When I was young You called my name
I tried to run, but still You came
And You stepped into the dark
Cause that's just the kind of God You are
When heaven seems beyond my reach
You still see eternity in me
You're turning ashes into art
Cause that's the kind of God You are
https://youtu.be/PducS0rwLkM
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
Sommer vir interessantheid tik ek die woord "hoop" ("hope") in onder die boekelys van Amazon: meer as 60 000 publikasies verskyn. Die boeke wissel van "Hoop in 60 sekondes" tot "365 dae met Hoop"; daar is hoop vir treurendes, vir geskeides; selfs hoop vir swakgemanierde troeteldiere … en, natuurlik, sou jy hoop om 'n miljoenêr te word… Uit alle godsdiensgroepe is handleidings oor hoe jy hoop kan kry, en as jy nog nie reggekom het nie, kan jy by die sielkunde-afdeling soek. By verre is die meeste is populêre christelike boeke.
Hoop is vir ons gees wat kos en water vir ons liggame is. Hoe banger die toekoms ons laat voel, of hoe moeiliker ons omstandighede raak, hoe groter is ons behoefte na hoop. Maar iets "werk" nie, die boeke word nie minder nie, inteendeel. Dis duidelik: ons sukkel "om te hoop".
Geen Bybelskrywer het meer daarvan verstaan of daaroor geskryf as Paulus nie. En geen Bybelboek verwys meer na hoop as die Romeinebrief nie (altesaam 17 keer). Dit was vreesaanjaende tye vir Jesusvolgers - Paulus verwys nie verniet na "die lyding wat ons nou moet verduur" nie (8:18). Later brei hy daarop uit: "Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard" - 8:35). Een ding het Paulus wel geweet: vrees verdryf hoop (sien #13)!
Wanneer Paulus oor hoop skryf, gaan haal hy dit ver - by God se belofte aan Abraham. Soos Abraham "ten volle daarvan oortuig (was) dat God mag het om te doen wat Hy beloof" (Rom 4:21) is dit waaraan ek en jy kan vashou. Die formule is eenvoudig: hoop = belofte + vertroue. Net dit. En dit is genoeg!
GEBED: Here, ek bid nie dat U my hoop sal laat toeneem nie; ek vra vandag dat U my vertroue in U sal versterk.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 19 kyk ons na ’n liriekvideo van Hope Darst se lied “Promise Keeper”.
Uit die liriek:
Your vow's a covenant unbroken
You made it known through history
Your love will never be unfaithful
Never walk out on me
I have no reason to doubt You
Who You've been You'll always be
And though the future's still unfolding
With everything I've seen
How could I not believe?
You are a promise keeper
Your word will never fail
https://youtu.be/LubI7EM-4DI
Vir 400 jaar het die Joodse volk gewag! En gewag! (Sien #17.) Die laaste woorde waarmee die Ou Testament afsluit, is dat God weer iemand, soos Elia, sal stuur (Mal 4:5). G'n wonder dat, toe Jesus in Matt 16:13-16 die dissipels vra, "Wie, sê die mense, is Ek?" dat hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” Een soos God beloof het. "En julle?" Petrus antwoord: “U is die Christus" (dit is bloot die Griekse woord vir Messias - die gesalfde). Maar dan kom die buitengewone: "U is die Seun van die lewende God."
In die christelike geloof sê ons, "Hoop het 'n Naam!" Hoop is nie maar net 'n idee nie - hoe edel ook al; dit is ook nie 'n filosofie nie - hoe indrukwekkend ook al. Christelike hoop leer dat jy kan vashou aan 'n iedere en elke belofte van God, want daar is 'n "Iemand" wat daarvoor "instaan."
Een van die mooiste teksverse in die ganse Nuwe Testament gaan juis hieroor: "Jesus Christus, die Seun van God … is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. …Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen kan sê" (2 Kor 1:19-20).
Soos die Kanadese teoloog, James Packer, gesê het, "Christelike hoop hoop nie maar net 'vir die beste' nie. Christelike hoop begin nou reeds uitkyk na die vervulling van al God se beloftes. Optimisme is 'n wens sonder 'n waarborg; Christelike hoop is 'n sekerheid, gewaarborg deur God self. Vir die christen beteken hoop 'n vaste wete - op grond van God se beloftes - dat vir elke dag van jou lewe, en vir elke oomblik daarna, die allerbeste nog voorlê.”
Daarop kan jy "Amen" sê!
GEBED: Ook vir my vra U, "wie sê jy is Ek?" U is die "amen" vir elke Goddelike belofte, Here!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 18 van #LewendeHoop kyk ons na ’n musiekvideo van “Yes & Amen” deur die groep Anthem Lights.
Uit die liriek:
Father of kindness
You have poured out grace
You have brought me out of darkness
You have filled me with peace
Giver of mercy
You're my help in time of need
Lord, I can't help but sing
Faithful, You are
Faithful, forever You will be
Faithful, You are
All Your promises are "Yes and Amen"
https://youtu.be/hyKfGApD53s
Min dinge stel jou so teleur soos om jou ganse hart op iets te plaas en dan realiseer dit nie. Van ganser harte het jy geglo dat die spesialis vir jou goeie nuus gaan hê … hoeveel mense het dan nie saamgebid nie! Die lewe werk inderdaad soms anders uit as wat ons dit sou wou hê. Presies soos Spreuke 13:12 leer: "'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig…" Die "ou vertaling" (1953) gee dit so weer: "'n Uitgestelde hoop maak die hart siek…" C.J. Langenhoven het dit anders gestel: "Vir die man wat sonder hoop is, is daar min hoop."
Die enigste beloftes waarvan ons werklik met oortuiging seker kan wees, so glo ons, is God se beloftes. Maar, die vraag is: hoe lank sien jy kans om te wag? Sewentig jaar? Dis hoe lank die Jode aan die belofte van Jer 29:11 moes vashou: "Ek weet wat ek vir julle beplan: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!" Dink nou maar aan die belofte waarmee die laaste boek van die Ou Testament mee afsluit: "Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers" (Mal 3:20). Die Messias sal gebore word! Maar dan neem dit nog vierhonderd jaar! Een onderdrukker volg 'n ander op … Waar is God?!
Die belofte wat die meeste in die Bybel voorkom is, klink soos Jes 41:10: "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou."
Glo jy dit? Ongeag … Ten spyte van…
GEBED: Ek wil aan elkeen van U beloftes vashou, Here, versterk U self my greep.
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag Dag 17 van #LewendeHoop kyk ons na ‘n liriek-video “Fear Not, For I Am With You (Isaiah 41:10)” deur David Kai. Die lied is op Jesaja 41:10 gebaseer en plaas die antieke teks in 'n moderne omgewing. Die sang en klavierbegeleiding is deur Chris Fischer.
https://youtu.be/oebq9nik6n0
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
'n Paar dae gelede het ek verwys na die psalm waaruit Petrus aanhaal toe hy die eerste preek lewer na die uitstorting van die Heilige Gees (Kyk #12): "Ek het die Here altyd by my gesien. Niks en niemand sal my laat wankel nie, want Hy is hier reg by my. Dis hoekom my hart bly is, en my tong jubel! Ja, nog meer: omdat ek hoop het, leef ek rustig" (Hand 2:25-26, vgl. ook Psalm 16:8-9).
Soos gebruiklik het ek 'n hele paar vertalings oop terwyl ek Bybel lees. By Eugene Peterson se vryer vertaling ("The Message") haak my oog vas. Ek lees twee maal. "Nothing can shake me; he’s right by my side" … dit is nog dieselfde…, "I’m glad from the inside out, ecstatic" … ook reg … maar wat is hierdie dan nou …: "I’ve pitched my tent in the land of hope." Vreemde vertaling!
Toe onthou ek. Dis mos 'n verwysing na die storie van Abram en Lot wie se paaie skei. Lot trek oos - Sodom (en Gomorra) toe. Abram wag dat God vir hom die pad moet aandui: noord; die vreemde roete, Kanaän toe. By Mamre "slaan hy tent op"; daar bou hy vir God 'n altaar (aldus Gen 13:19).
Kies reg!
Loop God se pad!
Glo en vertrou!
Slaan jou tent op in die land van hoop!
Elke dag van ons lewens moet ons keuses maak: Sodom en Gomorra, of Kanaän? Vandag gaan niks anders wees nie. Dinge gaan gebeur en jy gaan moet kies: gaan jy moedeloos raak en jou eie planne begin beraam? Of gaan jy op God en op God se beloftes vertrou? Of anders gestel: Kies jy om "in die land van hoop" te leef, of kies jy 'n lewe in die land van wanhoop en uitsigloosheid?
GEBED: Here, hoe kan ek anders kies as wat U wil hê! Daarom kies ek hoop!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 16 van #LewendeHoop luister ons na “I Pitch My Tent” deur Helen Yousaf van haar album "Custodians of Fire".
Uit die liriek:
I will smile a smile of faith
I will hope for things unseen
I will be glad and bless you at all times
You can take my every moment
You can have my tears of pain
You can turn them into oil for your glory
I pitch my tent in a land of hope
https://youtu.be/U1LPJK3DEFo
Dalk het jy gister (#14) gewonder waarom praat ek net oor geloof en hoop, en tog is daar 'n derde komponent wat Paulus só uitdruklik beklemtoon: "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde" (1 Kor 13:13).
Ja, dit is waar, alles begin by geloof: ons geloof in God. Dit is op grond van wie God is, dat ons glo dat daar hoop is. Maar waarom sê Paulus dat liefde selfs belangriker is as geloof en hoop? Waarom is al drie nie ewe belangrik nie? Omdat ons - vanuit ons geloof - die draers van hoop in hierdie wêreld is: ons is God se mede-werkers. God gebruik ons wanneer God sê, "Kyk, Ek maak alles nuut" (Op. 21:5).
Soos Johan Cilliers in "Solank Ek Hier Is" skryf: "Wanneer God sê: “Kyk, Ek maak alles nuut” is dit nie leë woorde nie, maar vervulde woorde. … Die oue is verby, die nuwe het gekom. Daarom kan óns ook ons skuiwe teen die ou wêreld maak, moet ons ook in die Naam van die Herskepper protesteer teen dood en hongersnood, teen trane, chaos en lyding. … Ons kan en moet iets van die toekoms in die hede sigbaar maak, iets van God se môre vandag laat deurbreek"
Elke christen het 'n tekentjie by hulle name: jou "trademark" (handelsmerk) is liefde. Nét dit! Net dít! Ek kan dit nie beter verwoord as Thomas Merton nie: "Om te sê dat ek na die beeld van God gemaak is, is om te sê dat liefde die rede vir my bestaan is, want God is liefde. Liefde is my ware identiteit. Onbaatsugtigheid is my ware self. Liefde is my ware karakter. Liefde is my naam."
Dit is liefde wat jou geloofsbelydenis en jou boodskap van hoop geloofwaardig maak.
GEBED: Vorm my en maak my, meer en meer, as U "agent van liefde."
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 15 van #LewendeHoop kyk ons na Bobby van Jaarsveld se lief “Geloof, Hoop en Liefde”.
Bobby vertel in ’n onderhou met Rooi Rose dat geloof sy en sy vrou Annetjie se anker in hul lewens is. “My hele bestaan, alles wat ons is, alles wat ons het, kom van die Here af. Ons kan alles verloor, maar Hom kan ons nooit verloor nie. Ons probeer binne ons roeping leef, en as ek nie die lewe leef waarvoor Hy my geroep het nie, bid ek dat Hy my sal uithaal en sal wys wat my roeping is.” Annatjie tree ook op in dié musiek-video.
https://youtu.be/VPlmnM1TIVY
Dit wat jy glo bepaal wat jy hoop. So eenvoudig soos dit. Heb 11:1 sê ook so: "Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak" (Uit die Nuwe Lewende Vertaling.)
Ons kan nie oor hoop praat sonder om oor geloof te praat nie. Maar ons kan ook nie oor geloof of hoop praat, as ons nie ook oor liefde praat nie. Dit is nie verniet dat Paulus hierdie drie as die kern van ons christelike geloof uitgesonder het nie: "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde" (1 Kor 13:13).
Kom ons maak dit prakties: die primêre eienskap van die christelike geloof is dat ons in lewe en nie in die dood glo nie. Net God kan uit die dood (Jesus se dood, maar ook ons doodsheid - soos ons dit daagliks om ons sien afspeel) 'n nuwe lewe bring. Dáárom (omdat dit ons geloof is) mag ons nóóít-óóít vrede maak met die gebrokenheid wat ons in en om ons sien nie. God wíl dit anders hê! Ons wéét (m.a.w. glo) dat God alles gaan nuutmaak, en ons glo dat God nóú reeds besig is daarmee. Dit is hoop! God wíl en sál en ís reeds besig! In enige situasie van gebrokenheid het ons hoop (a.g.v. ons geloof) dat dit anders kan wees.
Alles begin by wat jy glo. Of om die bekende woorde van Martin Luther King aan te haal: "Geloof is om die eerste tree te gee, selfs al sien jy nie al die trappe nie."
GEBED: Here, dankie dat hoop nie van my afhang nie, maar van U af. Dit glo ek!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 14 van #LewendeHoop luister ons weer na die pragtige lied wat op YouTube gelaai is. Dr Jacob van Zyl is geinspireer deur Jesaja 43:19 om hierdie lied se woorde en musiek te skryf. Hy is ook die sanger. Die verwerking en klavierspel is deur Reon van Aardt en Arno Marais speel viool. #DrieKruise. Dankie aan Ds Jurgens de Jager van die NG Gemeente Witrivier wat die video gedeel het.
https://youtu.be/QvpxwfSH_KM
Ek ken nie mense wie se lewe net maanskyn en rose is nie. Nee, nie almal beleef die trauma van 'n langdurige oorlog nie; of is 'n slagoffer van brutale geweld nie. Maar, soos vreugde en lewe hand-aan-hand loop; so loop dit ook hand-aan-hand met swaarkry. Ja, soms is dit deur ons eie toedoen; en soms is ons onskuldige slagoffers. Maar swaarkry, so lyk dit my, is dít wat ons vorm. Amper soos Michelangelo geantwoord het, nadat iemand wou weet hoe hy uit 'n blok marmer gestalte aan 'n engel gee: "kap alles weg wat nie 'engel' is nie." Dit is wat swaarkry met ons kan doen.
Iemand wat met integriteit oor swaarkry kon praat, was Paulus. God het by sy bekering vir Ananias reeds uitgewys: "Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Hand 9:16). Daar was tye wat die kleur so uit sy lewe verdwyn het, dat hy kon sê, "Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word" (Hand 27:20). Wanneer Paulus dus sê, "Swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop", dan het hy uit ervaring gepraat!
Die resep vir hoop, so leer ek uit Rom 5:3-4, is: swaarkry + volharding + geloof = hoop. Máár, daar is nog één "bestanddeel" wat skort; dit noem Paulus heel eerste: moenie vergeet dat ons "vrye toegang" (v2) tot God het nie! Moenie vergeet, "God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het" (v5).
Kry jy nou swaar? Kyk terug! Ondersoek die geskiedenis! Was daar ooit 'n tyd waar God nie teenwoordig was nie? Onthou terug … tot by die oop graf! Is Hoop dood? Néé! Hoop lewe!
GEBED: Dankie dat ek vrye toegang tot U het, Heilige God. Daarin lê my hoop!
POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #LewendeHoop-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms volg. Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
MUSIEK: Op Dag 13 van #LewendeHoop kyk ons na Snyman-produksies bekend as Die Broers, se pas vrygestelde musiek-video van Leandri Martin se lied “Droom Groot”.
Leandri skryf: “Die song is baie na aan my hart. Sang was die lig in my lewe na ’n harde en moeilike tyd. Ek is so dankbaar vir die rol wat musiek in my lewe speel en so dankbaar vir die geleentheid om musiek te kan maak. Baie dankie ‘Die Broers’ vir die geleentheid om saam met julle te kan werk.”
https://youtu.be/WLpKCJAYhaA
From the publisher's feed