Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 10 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Onlangs het ek eers besef, wanneer Jesus die dissipels leer om te bid, “Laat u koninkryk kom” (in Matt 6:10; Luk 11:2), ons Hemelse Vader reeds daarin voorsien het. Die koninkryk van God het reeds gekom!  Jesus se eerste woorde in die Markusevangelie is, “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom” (1:15).   Die magtiges van die wêreld sou alles in hulle vermoë doen om dit te keer – ons sien dit by Golgotha, máár, onsuksesvol! Daardie Pinksterdag, met die uitstort van die Heilige Gees, het die koninkryk van God aangebreek:  met Jesus, aan die regterhand van God (die “regeerhand”) en die Heilige Gees op aarde.  Maak dit meer sigbaar, Here, pleit ons:  “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” 

    Hoe lyk die wil van God?  As God liefde is, is God se wil ook liefde. Is dit nie wat Jesus die wetgeleerde geantwoord het nie (Matt 22:36-40)?  Waar God se wil teëgestaan word, is daar magsvergrype en onderdrukking; selfsug en selfverryking; ellende en uitsigloosheid.  God se wil staan direk in stryd met die mens se sondige wil. Of soos Paulus dit stel, “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar…” (Gal 5:17).  Daarom, “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie” (v16).

    Ons sien in Handelinge 2:43-47 hoe dit lyk waar mense optree volgens God se wil:  hulle is eensgesind en mededeelsaam; hulle versorg mekaar; hulle aanbid God saam; hulle kuier saam; daar is sigbare blydskap.  Dit is hoe dit in God se koninkryk lyk.  Dit is wat die Heilige Gees moontlik gemaak het!

    KUNS-INSPIRASIE: Die Quaker-predikant en skilder Edward Hicks is veral bekend vir sy Vredeliewende Koninkryksbeelde, waarvan 62 bestaan. Die skilderye verteenwoordig 'n messiaanse profesie in die boek Jesaja (11:6): "Die wolf sal ook by die lam woon, en die luiperd sal by die kind gaan lê; en die kalf en die jong leeu en die vet saam; en 'n klein kindjie sal hulle lei." 


    GEBED:     Ons Vader wat in die hemel is, dankie dat U koninkryk gekom het!  Laat U wil al meer-en-meer geskied.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK: Op Dag 10 van #Brandpunt luister ons na Jannie du Toit se lied “Laat U Koninkryk Kom” van sy album Sing Van Geloof, Hoop En Liefde.

    https://youtu.be/P0Y-22tydD4

    4 min
  • Dag 9 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Eksodus vertel die storie van die Israeliete se groot trek deur die woestyn na die Beloofde Land toe.  In die tyd kry Moses die opdrag om die tabernakel (letterlik:  “tent van ontmoeting”) op te rig. “Dáár sal Ek die Israeliete ontmoet en daar sal hulle geheilig word deur my magtige teenwoordigheid. Ek sal tussen die Israeliete woon en hulle God wees” (Eks. 29:43, 45).  Dit sal die teken wees dat God by hulle sal wees!  

    Vier eeue later kry Salomo die opdrag om vir God ‘n tempel te bou.  Daar – so beloof God - “Sal Ek tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie” (1 Kon 16:13).  Tydens die Babiloniese ballingskap word die tempel vernietig.  Die volk is gebroke (Psalm 139).  Maar God bly getrou, en so kry Profeet Esra die opdrag om die tempel te herbou.  Vir die Jode was die tempel álles!  Dit was God se woonplek! 

    En nou is dit die Pinksterfees (Hand 2:1). Vanselfsprekend sou die tempel die ontmoetingsplek met God moes wees.  Die skielike stormwind laat ‘n groot skare buite saamdrom (v6).   Máár, (en dis belangrik!) niks gebeur by die tempel nie. Daar is “vuur wat in tonge verdeel” (v3), maar dis nie by waar die priesters offers bring  nie.  Kyk!  Dit is bo die dak van ‘n gewone huis waar ‘n groepie Jesusvolgelinge wag.  Dáár word die Heilige Gees uitgestort!  God kies om op ‘n ander plek as die tempel te werk.  God begin nuut.  Van voor af.  Kan jy jou die skok indink!

    Dit bly my vraag aan myself:  of ek (jy dalk ook?) God kan “toelaat” om anders op te tree as wat ons sou verwag?  Of is ons geskok?  Wil ons dalk steeds vir God in ‘n “boksie” hou?  

    GEBED:  Gees van God, weerhou my daarvan om U werk te wil beheer.  Hou my oop en ontvanklik vir U Goddelike verrassings.   


    KUNS-INSPIRASIE:  “The tabernacle erected in the wilderness, surrounded by an enclosure and miles of tents. Coloured etching after W. Dic



    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 9 van #Brandpunt kyk ons na die pasvrygestelde musiek-video van die Nederlandse groep Sela se nuwe lied “Alles wordt nieuw”.

    Uit die liriek:


    Geef niet op en kijk vooruit
    Altijd is er hoop
    Jezus zal de koning zijn
    God maakt alles nieuw, alles wordt nieuw
     
    Zoveel getuigen zijn ons voorgegaan
    Ook wij geven door, wat God heeft gedaan
    Door de eeuwen heen en voor altijd
    bouwt God zijn koninkrijk

    https://youtu.be/F2V8Tr33N5Y

    4 min
  • Dag 8 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Ek weet nie van enige ander geloofsoortuiging waar die afstand so verklein is tussen die Skepper en die skepsels (mense) soos die christelike geloof nie.  Met Jesus se geboorte het ons die naam “Immanuel” leer ken:  “God met ons.” Die probleem is dat Jesus - in sy mensheid - “tydgebonde” was. Daarmee bedoel ek dat Jesus, na sy hemelvaart, teruggekeer het “om te sit aan God se regterhand” (Kol 3:1); daar waar Hy reeds “voor die bestaan van alles” was (Fil 1:17).  

     

    Genesis 1:1-3 herinner ons, “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”  Later sou Jesus van Homself sê, “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12). Nóg later skryf Paulus dat “God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis’ het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (2 Kor 4:8).

     

    Iets alles-veranderend het gebeur:  die “God bo ons” het met Jesus se koms die “God met ons” geword, en met die Heilige Gees se uitstorting het dit “God in ons” geword.  Kan daar enige intiemer woonplek vir ons wees as in ons?  Wat dit so “on-gelooflik” maak, is dat ons nie eers “reg” moes wees voor dit gebeur nie.  Ons bly “brose kleipotte wat maklik breek”, maar wat in ons lewens is, is die Krag van God “wat alles oortref” (2 Kor 4:7).

     

    Dit noem ons “Genade Onbeskryflik Groot.”

     

    GEBED:  God-bo-ons, dankie dat U God-met-ons is; maar meer nog, dat U God-in-ons is.

     

    KUNS-INSPIRASIE:  “Let There Be Light” (2011) olie op doek deur Maurice Sapiro.  Hy woon en werk in Connecticut. Hy verf landskappe en stillewes, waarvan baie 'n voortdurende beheptheid met lig ondersoek. Sy skilderye vang dikwels daardie ongelooflike oomblik vas wanneer land die lug ontmoet, en hy slaag daarin om 'n sterk gevoel van atmosfeer in 'n letterlike sin oor te dra - lug en lig kom bymekaar. Hy het werk in die permanente versameling van die New Britain Museum of American Art.

    Maurice verduidelik hierdie werk deur te sê: "My tegniek is gebaseer op die 'gelyktydige kleurdruk'-metode wat deur Stanley Hayter (1901-1988) in sy etse en litografieë ontwerp is. Hayter het bevind dat oliekleure van verskillende konsekwentheid nie net gemeng het nie, maar hulle het mekaar afgeweer. Ek gooi oliekleure van verskillende digtheid op 'n plat paneel, en deur die vloei te kantel en te manipuleer, kan ek die beeld beheer en skep."

     

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

     

    MUSIEK:  Op Dag 8 van #Brandpunt luister ons na die AKApêlle-groep se inspirerende weergawe van “Genade Onbeskryflik Groot”. 

    Die groep is 'n a capella ensemble groep, gestig in Mei 2010, wat in Natal gesetel was en gefokus het op gehalte a capella musiek.  Hulle is deesdae wêreldwyd versprei maar het verlede jaar ‘n grendelmusiekvideo saam opgeneem. 

     

    https://youtu.be/9wTDT6277rw


    4 min
  • Dag 7 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Soms hoor ‘n mens iemand sê, so-of-so (of daardie gemeente) lê  te veel klem op die Heilige Gees.  Kan nie wees nie, sou ons geloofsvaders antwoord.  Dit is soos om te sê dat iemand te veel klem lê op Jesus.  Of op God, die Vader.   Neem nou maar die “Die Geloofsbelydenis van Athanasius” wat die “ingevlegtheid” van die Drie-in-Een God so verduidelik:    

    •In die Drievuldigheid is niks eerste of laaste nie, niks meeste of minste nie, maar is Vader, Seun en Heilige Gees onderling mede-ewig (en mede-ongeskape, mede-onmeetlike) en volkome aan mekaar gelyk, daarom is hulle Een Goddelike Wese.

    Dalk is dit goed om mekaar gereeld te herinner:  ons aanbid een God, ons Skepper.  Dit is nie ‘n “afwesige” God-Skepper nie; dit is ‘n liefdevolle, versorgende God - vandaar dat ons God, “Ons Vader” noem.  Maar hoe het ‘n mens ‘n verhouding met Iemand – al noem jy Hom “Vader” - wat jy nooit kan sien nie?  Dit is presies wat Filippus ook wou weet – daarom vra hy, “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg” (Joh 14:8).  Jesus se antwoord is betekenisvol:  “Wie My sien, sien die Vader.”  Daarom word Jesus die “Seun van die Vader” genoem:  Hy is m.a.w. die “ewebeeld” van die Vader. Sien jy Jesus se optrede, dan weet jy hoe God, die Vader, is.  Maar nou sit óns met ‘n probleem:  hoe kan óns (ek en jy) wat 2 millenia later leef, vir Jesus sien, as Jesus net vir 33 jaar lank die aarde bewoon het?  Daarom sê Jesus: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees…” (v16).  

    Hoor weer:  In die Drievuldigheid is Vader, Seun en Gees onderling volkome aan mekaar gelyk en daarom is hulle Een Goddelike Wese.

    Die Een kan nie sonder die Ander nie.  Soos ons nie sonder God kan nie!

    GEBED:  Heilige God, dankie dat ek U kan leer ken op hierdie Drievuldige wyse!

    KUNS-INSPIRASIE:  "Saint Athanasius", ikoon van Sozopol, Bulgarye, einde 17 eeu. Tempera op hout, 73/52 cm, Bulgaarse nasionale kunsgalery – Sofia

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:  Op Dag 7 van #Brandpunt kyk ons video-opname van Dan Andersen and Zachary Sigafoes se weergawe van "Quicunque Vult: The Athanasian Creed." 

    https://youtu.be/TySbVq37re0

    4 min
  • Dag 6 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Ek weet nie van enige leerstelling (m.a.w. geloofsoortuiging) wat soveel verdeeldheid onder gelowiges kan skep soos die uiteenlopende standpunte oor die Heilige Gees nie.  Laat ons bely, dit is nie die Heilige Gees wat verdeel nie – sonde verdeel mense!  Die Heilige Gees bind gelowiges juis saam tot ‘n eenheid.  Soos Ef. 4:4-6 (uit die Boodskapvertaling) dit stel:  “Daar is net een liggaam van Christus, waarvan ons deel is, en net een Heilige Gees. Ons almal se hoop is ook een en dieselfde. Ons dien een Here, ons geloof is dieselfde en daar is net een doop. En dan is daar ook net een God en Hy is die Vader van ons almal. Niks en niemand is soos Hy nie, want Hy is belangriker as alles en almal. Hy werk deur ons en woon in ons almal. Christus het vir elkeen van ons iets besonders gegee om in die gemeente te doen.”

    Kan ons onsself werklik wil wysmaak dat sekere gelowiges ‘n “beter greep” op die Heilige Gees het, net omdat ons aan die of daardie denominasie hoort?  Is dit nie spirituele hoogmoed nie?

    Wanneer ons oor die Heilige Gees wil nadink, is dit sommer aan die begin reeds nodig dat ons erken dat ons in ons mensheid “net ten dele” verstaan.  Ons het die rykheid van medegelowiges se perspektiewe nodig – selfs diè van wie ons sommer (te vinnig) wil verskil.  Waarom?  Omdat ons teen ons eie blindekolle vaskyk.  In plaas van iemand weg te stoot, eerder te vra, “vertel my meer…”

    Wat ek van die Korintebrief waardeer, is dat Paulus juis illustreer dat die Heilige Gees ons nie tot eendersdenkende robotte wil verander nie, maar ons menswees wil verryk met Goddelike Insig.  En daarvoor het ek jou nodig, en jy my, en ons mekaar!  

    GEBED:  HEILIGE GEES, ek bely dat ook ek soms verdelend werk in plaas van versoenend.  Vergewe my daarvoor.

    KUNS-INSPIRASIE: “In His Image” deur William Zdinak (1925-1993).

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/


    MUSIEK: Op Dag 6 van #Breekpunt kyk ons na die liriek-video van die groep The Many se lied “Broken Body of Christ”. 
    Uit die liriek:

    We are the wandering
    We are the seeking
    We are the ones left out to dry
    We are the bleeding
    Our hearts are weeping
    We are the broken
    Body of Chris
    And when we eat
    We are fed
    The love that God has given
    And when we drink
    We take it in
    This love
    This earthly heaven

    https://youtu.be/nPyx89YZLUg

    4 min
  • Dag 5 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Een van die eerste beginsels wat ons met ons geloof bely is dat, net soos wat Jesus God se versoening vir die ganse mensdom is, só is die Heilige Gees vir die ganse wêreld gegee.   Ons weet mos (uit Joh 3:16) dat God die wêreld liefhet, en daarom is Jesus as God se genadegeskenk na die wêreld gestuur!  Dit is nie God se wil dat die wêreld verlore moet gaan nie (Joh 3:17).  Die uitstorting van die Heilige Gees is die “dubbele bewys” dat God die wêreld liefhet!   

    Dit is interessant dat wat daardie Pinksterdag gebeur ‘n ander storie herroep van lank gelede:  in Gen 11:1-9 lees ons die verhaal van chaos wat uitgebreek het op die aarde na die bou van die toring van Babel. Verwarring het ontstaan, want mense kon mekaar skielik nie meer verstaan nie.   Op Pinksterdag verander dit:  “Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen” (Hand 2:4).  Of iemand nou van Persië gekom het, of van Asië, of Libië , of waar ook al; en of jy ‘n Joods was of ‘n Arabier, “ons hoor hulle (die Jesusvolgelinge) in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het” (Hand 2:11).  ‘n Boodskap sonder verwarring:  God het die wêreld lief!

    Jy mag dalk dadelik wil protesteer en sê, “maar wag, het nie net christene die Heilige Gees ontvang nie?”  Nee.  Die geskenk is gegee!  Dit is wel so dat sommige dit nie glo nie; ander nog nie daarvan gehoor het nie.  Juis daarom kry elkeen wat dit glo die opdrag om -  soos Petrus op Pinksterdag – op te staan en te verkondig:  die God van liefde stort sy liefde oorvloedig uit!

    GEBED:  Dankie dat ek die verhaal van U liefde kon hoor, Liefdevolle God.  Stuur my vandag as ‘n Petrus om die verhaal te versprei.

    KUNS-INSPIRASIE:   Die Toring van Babel (1563) deur die Nederlandse skilder Pieter Bruegel in die Kunshistories Museum in Wene.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:   Op Dag 5 van #Brandpunt luister ons na “Veni Creator Spiritus” deur die Kanadese “Sunday 7pm Choir”.  Die lied is 'n tradisionele Christelike gesang wat waarskynlik geskryf is deur Rabanus Maurus, 'n negende-eeuse Duitse monnik, onderwyser en aartsbiskop. Wanneer die oorspronklike Latynse teks gebruik word, word dit gewoonlik in Gregoriaanse gelyksang gesing. Dit is in verskeie tale vertaal en in baie musikale vorme aangepas, dikwels as 'n lofsang vir Pinkster of vir ander geleenthede wat op die Heilige Gees fokus.

    Uit die liriek:

    Veni, creator Spiritus,
    mentes tuorum visita,
    imple superna gratia,
    quae tu creasti, pectora.
    Creator Spirit, Lord of grace
    Come make in us your dwelling place
    O purest Light in darkness shine
    Fill loveless hearts, O Love divine

    https://youtu.be/DcjtO4lJX1g

    4 min
  • Dag 4 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Onlangs hoor ek ‘n nuusberig dat 50% van ons land se mense hongersnood ken.  Hoe is dit moontlik, wil ek uitroep.  Tog, dit is seker vanselfsprekend met ‘n 47% werkloosheidsyfer!  Hoe sou die berig kon klink as “lewendige en waaghalsige” gemeentes aan die werk spring om die situasie aan te spreek? (Dit dink ek sommer so in my agterkop…) Selfs net mededeelsaam te leef in elkeen se eie omgewing? (Nou raak dit ongemaklik naby aan my eie lyf…).  

    Johannes 6 is ‘n interessante hoofstuk in die Bybel.  Die “paasfees van die Jode” was naby (v4).  Die hoofstuk begin by Jesus wat met 5 broodjies en 2 vissies duisende honger mense (Joh 6:10) versadig én nog genoeg oorlaat om die hele volk te voed - dit is immers wat die 12 mandjies van vers 13 impliseer.  Natuurlik praat Jesus oor meer as fisiese hongerte – Hy verwys later herhááldelik (o.a. vers 35, 51, 55) na Homself  as “die brood wat lewe gee”.  Jesus gebruik fisieke hongerte as ‘n verduideliking vir geestelike hongerte.  Ons sal dalk maklik daarmee instemmend kan knik.  Maar, dink jy dit is moontlik om te sê, dat wanneer mense hul medemens se fisieke nood miskyk dit ook ‘n uitdrukking is van geestelike blindheid?

    Toevallig eindig die hoofstuk by geestelike blindheid – “Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie”  (v36).  Jesus praat oor geestelike doodsheid!  (Presies die teenoorgestelde as ‘n “lewende en waaghalsige” geloof.)  Die teenoorgestelde van geestelike doodsheid is mense wat “uit die dood opgestaan het” (vers 39-40).  En dan lees ons die mooi woorde:  “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe” (vers 63).

    In een hoofstuk praat Jesus oor sy naderende dood, sy opstanding, sy hemelvaart, selfs oor die “laaste dae”.  En alles is die Gees-wat-lewe-gee se werk!  Alles!

    GEBED:  Heilige Gees, bring lewe.  In my.  Ook in ons land.

    KUNS-INSPIRASIE:   ’n Waterverfskildery op geweefde papier deur die Franse skilder James Tissot. “The Miracle of the Loaves and Fishes - La multiplication des pains”, 1886-1896. Tans in die Brooklyn Museum.
    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:   Op Dag 4 van #Brandpunt kyk ons na die Koreaanse-bedieningsgroep Agapao se musiekvideo “사자와 어린양 - Lion and the lamb”.  Die oorspronklike is deur Leeland.

    Uit die liriek: 

    He's coming on the clouds
    Kings and kingdoms will bow down
    And every chain will break
    As broken hearts declare His praise
    For who can stop the Lord Almighty
    And our God is the lion
    The Lion of Judah
    He's roaring with power
    And fighting our battles
    And every knee will bow before Him
    Our God is the lamb
    The lamb that was slain
    For the sins of the world
    His blood breaks the chains
    And every knee will bow before the lion and the lamb
     
    https://youtu.be/1wld0uE7W9g

    4 min
  • Dag 3 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Wat moet ons as gelowiges (wat om dieselfde sentrale "verwarmer" leef, naamlik die Bybel) se roeping wees in 'n wêreld vol pyn en ellende?  Ek dink weer aan Martin Luther se aanhaling oor geloof (#2):  Geloof is 'n lewende, waaghalsige vertroue in God se genade, so oortuigend dat mense hul lewe duisend keer daarvoor sal prysgee. … en dit is die werk van die Heilige Gees."

    In Handelinge 2 lees ons van ‘n groepie gelowiges – waarskynlik bang met al die oproer in Jerusalem se strate. Geskiedskrywers vertel van die chaos wat uitgebreek het tussen die Jode en die owerhede na die naweek van Jesus se kruisiging, en sedertdien nog nie opgehou het nie.  Hulle wag:  Jesus het voor sy dood reeds beloof dat God sy Gees sal stuur (Joh 14-16).  God gaan met al sy krag, sy Gees, op 'n vuurherd-groepie in die bo-kamer  loslaat.  

    Aldus Heb 12:29 is God 'n “verterende vuur". Dit laat my weer aan die brandpunt van die vergrootglas dink.  DIt is presies wat Jesus was:  Jesus is die vergrootglas (die “tussenganger”), wat die velheid van die krag van God se Gees op Hom neem; wat die krag daarvan versprei na die groep in die bokamer.  Die dissipels word die fokuspunte, die brandpunte. Hulle harte “kom tot kookpunt” vir God. 

    As God jou aanraak verander jy.  Hulle ook!  Hulle word lewende en waaghalsige vertrouelinge van God.   Die res van Handelinge wys hoe  skrikkerige mense die veilige ruimte verlaat en getuies word; sommige selfs tot hul dood toe.  En deurentyd bring hulle lof aan God.  As jy ooit wonder, sê Luther, dit is wat dit beteken dat die Heilige Gees uitgestort is.  

    Daar is geen verskil tussen ons en die dissipels nie.  Hulle was ook net mense, maar hulle het lewende en waaghalsige mense vir God geword?  Is jy?  Indien nie, waarom nie?

     GEBED:  Here, maak my wie ek behoort te wees:  ‘n lewende en waaghalsige getuie.  
     
    KUNS-INSPIRASIE:  “Pinkster” is 'n skildery deur Jen Norton wat sy inn 2020 voltooi het. Sy is van in die VSA en haar werk is beskikbaar by http://www.thesacredartgallery.com.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:   Op Dag 3 van ons nuwe reeks #Brandpunt luister ons na CeCe Winans  se trefferlied “Fire”.

    Uit die liriek:

    Fire fire 
    Fall on us
    Start a new revival
    Fire fall on us

    Like it did on the day of Pentecost
    Rushing in like a mighty wind
    Fill us up with Your presence and Your power
    Lord do it again

    We are here crying out on one accord
    Let the heavens touch the earth 
    Come and light a passion in our hearts
    And Lord let it burn



    https://youtu.be/cPKFelogONw

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
    #brandpunt #leefhoop #elkedag




    4 min
  • Dag 2 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Daar is ook 'n tweede gebruik vir die woord "brandpunt" - dié een ken ons dalk beter as "vuurherd" (sien Brandpunt #1) Onthou jy daardie speletjie uit kindsdae waar jy met 'n vergrootglas in 'n lekker sonkol sit, soek-soek, die vergrootglas in verskillende grade gedraai, totdat jy die regte kolletjie vind bokant die droë blare; hou doodstil jou hand … bingo! … geleidelik begin 'n klein rookspiraaltjie optrek.  En, soos die spreekwoord sê:  waar 'n rokie is, is 'n vuurtjie.  Die fokuspunt van die vergrootglas kon die hitte van die son oor 'n klein areatjie so verhoog, totdat "brandpunt" kookpunt word!

    Ek vra myself gereeld af, wat is dit wat van sommige gelowiges werklike geloofshelde maak?  Ek ken sulke mense!  Hulle sal nooit bekendes word nie; maar - met reg - het elkeen 'n plek in die "geloofsgalery" van Heb 11!  Ook daardie mense - Noag, Abraham, Moses, Ragab, … - was gewone mense, maar voor elkeen se naam staan daar:  "omdat hulle geglo het…"  Oor-en-oor, dieselfde sinnetjie:  "omdat hulle geglo het…"!  Gewone mense wat glo.  En geloof, weet ons, "is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie" (Heb 11:1).

    Martin Luther het eenmaal gesê, "Geloof is 'n lewende, waaghalsige vertroue in God se genade, so oortuigend dat mense hul lewe duisend keer daarvoor sal prysgee. … en dit is die werk van die Heilige Gees."  Net soos ons nie met ons blote oog sonhitte kan sien nie, so kan ons ook nie die onsigbare krag van die Heilige Gees sien nie; maar, bring daardie krag oor die vergrootglas van "lewende, waaghalsige vertroue", dán kry jy die geestelike brandpunt waar dinge gebeur.  Dan kry jy geloof-in-aksie!

    Om te dink, dit is beskore vir gewone mense soos ek en jy…

    GEBED:  Krag van God, Heilige Gees, brand ook my lewe tot kookpunt vir U.
    KUNS-INSPIRASIE:  Die Chinese skilder James He Qi (uitgespreek "huh chi") beeld die evangelieverhaal uit van Jesus en sy dissipels wat skielik in 'n storm vasgevang is. Namate die golwe opkom, wend die dissipels vreesbevange na Jesus toe. Met uitgestrekte arms bedaar hy storm.
    He Qi word beïnvloed deur die eenvoudige en pragtige kunswerke van die mense in landelike China. Met vet kleure, versierde vorms en dik kwasstrepe meng hy Chinese volkskuns en die ikonografie van die Westerse Middeleeue en Moderne Kuns.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:   Op Dag 2 van ons nuwe reeks #Brandpunt kyk ons na die liriekvideo van Cecilia Dinkelman Nel se inspirerende lied “Julle sal krag ontvang”.  

    Uit die liriek:

    Vader God ek kom
    In die Naam van Jesus voor U
    Ek buig laag
    Ek dank U vir Jesus
    Ek dank U vir die Bloed
    En Sy opstanding!
    Vader God ek kom
    Herinner U aan beloftes
    U buig neer 
    Ek vra om U Gees
    Kom vul my met U Gees
    Dat ek getuie kan wees!
    Julle sal krag ontvang
    Wanneer die Heilige Gees oor jul kom
    En julle sal My getuies wees
    My getuies wees!


    https://youtu.be/92gWcrnFpgE








    4 min
  • Dag 1 van Meditasie-reeks #Brandpunt

    Die oorsprong van woorde interesseer my!  Neem nou die woordjie "brandpunt".  Aanvanklik was dit gebruik as 'n sinoniem vir vuurherd:  'n gesin het winteraande voor "die brandpunt" vergader om daar - saam - warmte te vind.  'n Brandpunt is dus 'n sentrale kuierplek.  

    Komende Sondag vier christene - wêreldwyd - Pinkstersondag.  Vir die Kerk is dit die belangrikste feesdag van alle dae, want dit is die "verjaarsdag" van die Kerk.   Dit is ons ontstaansdag.  Ons mag dalk al gewoond geraak het aan die magdom verskillende kerktradisies, elk met sy eie versplinteringe en denominasies, maar hierdie dag herinner ons dat God dit anders bedoel het.  (Anders is ons oneerlik as ons bely dat ons "glo aan een heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges".)  Ons moet dit oor-en-oor vir mekaar sê: dit is NIE God se wil dat gelowiges weg van mekaar dryf en elk hul eie geloofseilandjie vorm nie!  Soos Paulus herinner, "Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is … net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon (Ef 4:4-6).

    Daar is by God net een woonplek (Joh 14:1).  En in daardie woning is daar - metafories gesproke - net een "vuurherd", waar daar vir elke iedere een plek gemaak word.  By hierdie vuurherd kan jy inskuif, ongeag jou ras of nasionaliteit (aldus Gal 3:28).  By hierdie vuurherd sit die bevoorregtes nie op die gemaklike stoele en die diensknegte (of vroue) staan in die kombuis nie.   "Hier - in Christus - is almal één."  Of, soos Die Boodskap dit vertaal:  " Almal hier binne is nou soos een nuwe mens in Christus Jesus" (Gal 3:28).

    Mag jy in hierdie maand beleef dat daar vir jou by God se brandpunt 'n plek is.   

    GEBED:  Dankie dat U nie moed opgee met die Kerk nie, Here.  Laat ek ook nie!

    KUNS-INSPIRASIE:  Die skildery beeld die oomblik uit toe die Heilige Gees, in die vorm van vlamme, op Pinksterdag in Jerusalem uitgestort word. Die werk is in 1600 deur El Greco geskilder as deel van die hoofaltaarstuk vir die kerk van die Augustinuse Kollege van María de Aragón in Madrid.

    POTGOOIE: Jy kan die dagstukkies van die #Brandpunt-reeks daagliks ook op alle bekende potgooi-platforms luister.  Vir meer inligting: https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    MUSIEK:   Op Dag een van ons reeks #Brandpunt kyk ons na ’n musiekvideo van die Rejoice Trio se weergawe van “How Great Thou Art”.  Die groep is die violiste Eliana Kearns en Hannah Schafer en pianis Tobin Kearns.  Hierdie weergawe van hulle is ook ons agtergrondmusiek vir die reeks.
    https://youtu.be/_9V4aDVOkro


    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…