Hoop Nogtans
Download on the App Store

All Hoop Nogtans episodes

  • JOU DOEN-DIT-SELF GELOOF GAAN JOU NIKS BAAT NIE (Psalm 46) ep. 2638

    Psalm 46 – JOU DOEN-DIT-SELF GELOOF GAAN JOU NIKS BAAT NIE

    Ons was gewoond daaraan as jy meubels koop, dan gaan kies jy jou meubels by die winkel, jy betaal daarvoor – of jy reël hoe jy dit gaan afbetaal – en dit word by jou huis afgelewer – volledig. Nie in stukke nie. Nie in bokse nie. Nie met instruksies wat lyk soos hiërogliewe nie. Of QR Codes wat jy moet scan om te sien hoe om dit aanmekaar te sit nie. Dit was een van die groot aanpassings vir ons in Nieu-Seeland en in Australië. Of jy wil of nie, of jy tegnies aangelê is of nie, Doen-Dit Self word op jou afgedwing. Dis asof dit deel van die kultuur is. DIY (Doen-Dit-Self) is groot besigheid. ‘n Markstustudie van die DIY kleinhandelmark in huisverbetering deur die Business Research Company in verskeie lande waardeer die wêreldmark in 2025 op US$920.91 miljard en ‘n stewige groei word verwag in die volgende paar jaar. Dit maak sin. Jy kan baie dinge self doen en kostes bespaar.

    As dit kom by innerlike vrede in moeilike omstandighede, is dinge anders. Dis nie iets wat jy by die winkel kan gaan koop of aanlyn bestel en self aanmekaar sit nie. Die psalmdigter van Psalm 46 het baie dinge hieroor te sê. Die psalmis het geleer dat God daar is vir ons, ongeag alles wat aangaan om ons en in hierdie wêreld.

    https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/

    https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/

    34 min
  • STAP WEG VAN JOU TELEURSTELLING ‘N MOOI TOEKOMS BINNE! (Kol. 4:10) ep. 2637

    STAP WEG VAN JOU TELEURSTELLING ‘N MOOI TOEKOMS BINNE!

    “Chuck” Colson iemand wat vinnig opgang gemaak in die Amerikaanse politiek totdat hy een van die magtigste mense in Washington geword het. In 1969 het hy as spesiale raadgewer van president Richard Nixon direkte toegang tot die president van die VSA gehad. Maar toe kom Watergate, een van die grootste politieke skandale in die Amerikaanse geskiedenis.

    Colson se wêreld stort in duie. Sy reputasie was aan skerwe. Sy politieke loopbaan was verby. In 1974 het hy skuld beken op ’n aanklag van dwarsboming van die gereg. Die man wat eens met soveel aansien deur die gange van die Withuis gestap het, is tronk toe.

    Gedurende die moeilikste dae van die Watergate-ondersoek het ’n vriend vir Colson C. S. Lewis se bekende boek “Mere Christianity” gegee. Diep geraak deur wat hy gelees het, het Colson besef hoe sy hoogmoed, ambisie en morele kompromieë sy lewe oorheers het. Die keerpunt in sy lewe het gekom een aand terwyl hy alleen in sy motor gesit het. Hy het in trane uitgebars en tot God geroep. Maar sy bekering het nie beteken dat die gevolge van sy verlede skielik verdwyn het nie. Hy moes steeds die gereg in die oë kyk, verantwoordelikheid vir sy verkeerde optrede aanvaar en tronk toe gaan.

    En so het een van die magtigste mans in Amerika in 1974 gevangene nommer 22326 geword.

    Chuck Colson is in April 2012 op 80-jarige ouderdom oorlede. By sy gedenkdiens in die Washington National Cathedral het voormalige gevangenes skouer aan skouer met politici en ander prominente openbare figure gesit. Wat ’n merkwaardige getuienis van die verandering wat God in ’n mens se lewe kan bewerk!

    Toe Colson later op sy gevangenisstraf teruggekyk het, het hy hierdie aangrypende woorde gesê:

    “God het my grootste nederlaag tot sy eer gebruik!”

    En miskien is die merkwaardigste van sy verhaal juis dít:

    God het Colson nie bloot van die gevolge van sy verkeerde optrede gered nie.

    God het hom juis te midde van daardie gevolge ontmoet en begin om hom in ’n ander mens te verander. Vir die eerste keer het Colson na die wêreld deur heeltemal ander oë begin kyk.

    Die trotse man wat mag nagejaag het, het begin omgee vir magtelose mense.

    Die man wat eens vir sy genadeloosheid bekend was, het bekend geword vir sy deernis.

    Dít is wat die genade van God kan doen!

    Dit beteken nie dat ons sonde onbelangrik is nie.

    Dit beteken nie dat die skade wat ons aangerig het, sommer vanself verdwyn nie.

    En dit beteken ook nie dat bekering ons van verantwoordelikheid of die gevolge van ons dade vrystel nie.

    Maar dit beteken wel dat ons mislukkings nie die laaste woord oor ons lewe hoef te spreek nie.

    Jou verlede hoef nie jou toekoms te bepaal nie. Jou mislukkings hoef nie jou identiteit te wees nie. Deur God se genade kan jou grootste mislukking die begin van ’n heeltemal nuwe lewe word.

    Ons ontmoet vlugtig in Kolossense 4 iemand met die naam Markus. Hier het ons ‘n man bekend vir sy mislukking - en vir sy herstel tot ‘n positiewe, vrugbare lewe tot eer van die Here. ‘n Hele storie lê verskuil agter ‘n paar woorde.

    Kol. 4:10 (NLV), van wie ons lees, “Aristargus, wat saam met my ’n gevangene is, stuur groete, en ook Markus, Barnabas se neef. Oor hom het julle reeds opdragte ontvang. As hy daar kom, moet julle hom verwelkom.”

    Dis moeilik om te glo Paulus skryf hierdie woorde as ons die hele storie ken. Markus het persoonlik beleef wat beteken om weg te stap van mislukking ‘n mooi toekoms in. Ek praat hieroor in my boodskap oor Markus. Jy is welkom om saam te luister.

    https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/

    https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/

    34 min
  • SPEEL KLAAR MET KOMMER - DIE ENIGSTE EFFEKTIEWE MANIER (Kol. 4:12-13) ep. 2636

    Ons assosieer die naam Mark Twain met stories soos Tom Sawyer en Huckleberry Finn. Mark Twain was ‘n gewilde spreker en het wêreldwyd gereis. ‘n Groep van sy bewonderaars wou hom graag met sy verjaarsdag gelukwens een jaar, maar hulle het geen idee gehad waar hy hom bevind nie. Onthou, om te reis was destyds tydrowend. Die posdiens was stadig. Maar skynbaar meer betroubaar as vandag. Dit was nog die era voor vliegtuie, selfone, rekenaars en internet. ‘n Brief moes persoonlik afgelewer word. Mark Twain se lesers adresseer die brief, “Mark Twain. God knows where.” Na ‘n paar weke kry die ondersteuners antwoord van Mark Twain. He did. God het geweet waar ek is. Miskien tong in die kies bedoel, want Twain was nie ‘n gelowige nie. Maar hy wou laat weet, hy het die gelukwense ontvang. God weet waar jy is. Hy ken jou situasie. En God weet waaroor jy bekommerd is. Vandag se boodskap is SPEEL KLAAR MET KOMMER - DIE ENIGSTE EFFEKTIEWE MANIER. In Kolossense 4 maak ons kennis met ‘n aantal van Paulus se medewerkers terwyl hy in aanhouding is. Een van hulle is Epafras. Ons staan stil by Kol. 4:12-13. Epafras is saam met Paulus waar die apostel Paulus as gevange aangehou word ter wille van Jesus Christus. Wat Paulus oor hom skryf, hier aan die einde van sy brief aan die gemeente in Kolosse, sê so baie oor die soort mens wat Epafras is. Epafras was die persoon wat die Here gebruik het om die gemeente in Kolosse te vestig. Hy is die leier van die groep gelowiges in Kolosse, en ook skynbaar die naburige plekke, Laodicea en Hiërápolis. Die jong gelowiges in Kolosse word gekonfronteer deur valse leraars. Hierdie valse leraars kom met allerlei idees wat die jong gelowiges heeltemal verwar. Epafras reis al die pad om by Paulus uit te kom sodat Paulus hulle die waarheid kan leer. Epafras waag sy lewe om hom saam met Paulus te skaar. Wat skryf Paulus oor Epafras? Kol. 4:12-13 NLV 12Epafras stuur vir julle groete. Hy is een van julle en ’n dienskneg van Christus Jesus. Hy bid altyd ernstig vir julle dat julle as volwasse gelowiges met volle oortuiging in alles die wil van God sal bly doen. 13Ek kan regtig daarvan getuig dat hy hom baie oor julle bekommer, en ook oor al die gelowiges in Laodisea en Hiërapolis. AFR1953 12 Épafras wat een van julle is, 'n dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God. 13Want ek getuig van hom dat hy 'n groot ywer het vir julle en vir die wat in Laodicéa en die wat in Hiërápolis is. Wat Paulus opmerk van Epafras is hoeveel hy vir die gelowiges tuis omgee. Hy bekommer hom oor die gelowiges tuis is. Maar Epafras het geweet wat om met sy kommer te doen, en ons gaan by hom leer hoe om klaar te speel met kommer. https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/

    26 min
  • AS ONS MAAR NET SOU LEEF WAT ONS PREEK ep. 2635

    AS ONS MAAR NET SOU LEEF WAT ONS PREEK

    In haar outobiografie Climbing, memories of a misionary's wife, vertel Rosalind Goforth van haar 47 jaar as 'n sendeling saam met haar man, Jonathan in China. In 1889, 18 maande nadat hul in China arriveer, sterf hul 11-maande-oue dogtertjie. Die naaste begraafplaas vir buitelanders is meer as 100km weg, en haar man moet dieselfde dag die tog aanpak om sy dogtertjie se liggaampie te gaan begrawe. Rosalind is gebroke. Twee Chinese vrouens sit net buite die venster en praat oor die tragedie wat die sendelinge getref het. Hulle weet nie sy sit op 'n rusbank aan die ander kant van die venster nie.

    Die vrouens is baie simpatiek. Hulle praat oor Rosalind se mooi eienskappe. Sy praat hulle taal so goed. Sy preek so vurig, sê die een. Die ander voeg by, sy is lief vir die Chinese. Dis net jammer oor haar vinnige humeur! AS SY MAAR NET SOU LEEF WAT SY PREEK!

    Rosalind is eers baie kwaad; dan oorval die hartseer haar. Maar sy begin dink oor die woorde wat so seermaak: As sy maar net sou leef wat sy preek. Vir jare daarna probeer sy verbeter, maar dit gaan maar swaar. Jare later, in 1916, moet sy en haar man siekverlof neem toe hy baie siek word. In daardie tyd weg van die sendingveld begin sy fokus op 'n waarheid in God se Woord: dat Christus in ons moet werk; ons kan nie Sy karakter in eie krag openbaar nie. Die Here begin haar verander.

    In 1917 keer hulle terug na China. Na 'n paar maande ontvang hulle besoek van 'n paar vername Chinese kerkleiers. Hulle wil alleen met haar man praat. Na hulle vertrek, lig hy Rosalind wat die doel van hulle besoek is: Hulle wil weet, wat is die geheim, hoekom is sy vrou soveel anders?

    Jesus wat deur haar werk het haar verander. Sy preek nie net iets nie. Sy leef dit. Jesus leef dit deur haar.

    Christen-wees gaan nie bloot daaroor om die regte dinge oor Christus te glo nie, maar om al hoe meer soos Christus te word in die manier waarop ons dink, praat, optree en ander mense behandel.

    Ongelukkig is Christene dikwels die swakste advertensie vir die Christelike geloof.

    Wat sien die wêreld wanneer hulle na Christene kyk?

    In 2007 het die Amerikaanse Barna-navorsingsgroep 'n studie gepubliseer oor hoe jong Amerikaners wat nie Christene is nie, die Christendom beskou.

    • 87% van die deelnemersd aan die navorsing het die Christendom as veroordelend beskryf.

    • 85% die Christendom as skynheilig beskryf.

    Die werklikheid is dat daar dikwels 'n groot teenstrydigheid in baie Christene se lewens is.

    Ons verkondig 'n Verlosser wat liefdevol, vol deernis, nederig, sagmoedig, vergewensgesind en genadig is. Tog ervaar mense soms juis diegene wat beweer dat hulle Hom volg as veroordelend, hoogmoedig, hardvogtig, onvergewensgesind en skynheilig.

    Ons verkondig genade, maar sukkel om genade aan ander te bewys.

    En miskien die ontstellendste van alles: Ons kan so gewoond raak aan hierdie teenstrydighede dat dit ons nie eens meer pla nie.

    Dit konfronteer ons met 'n ongemaklike vraag:

    Hoe is dit moontlik dat mense wat Jesus Christus volg—die liefdevolste, genadigste en mees deernisvolle Persoon wat ooit geleef het—soms ervaar word as die presiese teenoorgestelde van Hom?

    Natuurlik is Christene nie volmaak nie. Ons is sondaars wat uit genade gered is. Niemand behoort volmaaktheid te verwag van mense wat nog besig is om deur God verander te word nie.

    Maar daar is 'n wêreld se verskil tussen 'n Christen wat met sonde worstel en nederig God se genade soek, en 'n Christen wat gemaklik geraak het met gesindhede en gedrag wat lynreg teen die karakter van Christus indruis.

    Dit is presies die saak wat Paulus in Kolossense 3 aanspreek. Ek deel graag 'n paar insigte met jou hieroor:

    https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/

    https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/

    45 min
  • LEEF IN OORWINNING OOR DIE LEUENS VAN DIE DUIWEL ep. 2634

    Leef in oorwinning oor die leuens van die duiwel. Die Sydney Morning Herald berig op 10 Julie 2014 oor die Raëliane in Australië, in ‘n artikel, “Raelians and other UFO cults stand firm on their 'out-there' ideas.” Dis ‘n godsdienstige groep met aanhangers van oor die hele wêreld, insluitend sowat 400 aanhangers in Australië, wat glo dat die mensdom nie deur God geskep is nie, maar deur hoogs ontwikkelde ruimtewesens (“extraterrastials”), die Elohim. Elohim is die woord in die Ou Testament vir God. Hulle glo nie in die God van die Bybel nie, maar in ruimtewesens. Hulle stigter is ‘n Fransman met die naam Claude Vorilhon (Raël), beweer dat hy deur die Elohim gekies is as ’n profeet en dat Yahweh die biologiese vader van beide Raël en Jesus is. Hulle verwag uiteindelike kontak met die Elohim en wil selfs ’n diplomatieke “ambassade” bou waar hierdie wesens ontvang kan word.

    Daar is baie ander UFO-godsdienste. Meeste het gewoonlik een oortuiging in gemeen: nie alleen is die mensdom se oorsprong te danke aan buiteaardse wesens nie, maar die geestelike ontwikkeling van die mensdom en die mens se uiteindelike redding word bepaal deur hierdie buiteaardse wesens.

    Mense is bereid om die vreemdste dinge te glo, want hulle wil nie die eenvoudige boodskap van Jesus Christus glo nie.

    Die apostel Paulus rus die jong gemeente in Kolosse toe om vas te staan teen die misleiding van valse leraars.

    Kolosse is ‘n gemeente wat tot stand gekom het nadat Epafras en Filemon wat in Kolosse woon in Efese was en daar vir Paulus hoor preek het. Nou kom leraars van elders na Kolosse en hulle is besig om groot verwarring te saai. Hulle leer hierdie jong gelowiges, in enkele woorde saamgevat: Dis mooi dat julle in Jesus glo. Ons glo ook in Jesus. Maar jou geloof in Jesus gaan jou nie help om geestelik vooruit te gaan nie. Ons kan jou inlei in die dieper dinge van God, ons kan julle leer hoe om die volheid van God te bemeester. Daar’s meer as Jesus. Daar is verborge kennis en wysheid en openbarings en mistieke belewenisse wat julle niks van weet nie. Dis verborge vir gewone mense soos julle. Kom leer by ons. Ons kan julle inlei in die diep dinge van God.

    En die mense val vir die misleiding! Die voorganger van die gemeente, Epafras, weet nie hoe om hulle te antwoord nie. Hy vra raad by Paulus. Paulus skryf hierdie brief wat ons Kolossense noem om die vrae van die gelowiges te beantwoord. In die tweede hoofstuk van sy brief fokus hy op geestelike misleiding. Hy wil hulle leer: Leef in oorwinning oor die leuens van die valse leraars. Leef in oorwinning oor misleiding.

    https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/

    https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/

    40 min
  • GOD SE PLAN VIR JOU IS ‘N VERANDERDE LEWE (Kol. 1:28) ep. 2633

    Robert Robinson is in die 1700's in Engeland gebore. As 'n jong man het hy onder die invloed van die bekende Metodiste-prediker, George Whitefield, gekom. Robert het 'n Christen geword en toe sy lewe aan die bediening gewy. Hy was ‘n baie gewilde prediker en mense het toegestroom om na hom te luister. Later kom hy sterk onder die invloed van mense wat ‘n valse leerstelling oor die Godheid van Jesus verkondig het.

    Daar is ‘n storie dat hy eendag op 'n poskoets sit langs 'n vrou wat verdiep was in die lees van 'n boek. Sy het oor en oor na een spesifieke bladsy in die boek teruggekeer. Uiteindelik het sy na Robinson gedraai en gewys na dit wat sy gelees het. Dit was 'n gesang. Dit begin met die woorde:

    Come, thou Fount of every blessing;

    tune my heart to sing thy grace;

    streams of mercy, never ceasing,

    call for songs of loudest praise.

    ‘n Lied wat vandag nog in kerke oor die wêreld heen gesing word.

    Toe Robinson die eerste reël lees, het hy dadelik van haar af weggekyk. Sy het die gesang weer voor hom gedruk en vir hom vertel hoeveel dit haar geseën het. Uiteindelik het hy na haar gedraai en met trane in sy oë gesê: “Mevrou, ek het daardie gesang geskryf, en ek sou 'n duisend wêrelde gee, as ek hul gehad het, om weer te ervaar wat ek toe gevoel het.”

    Ironies genoeg het die laaste woorde van die gesang 'n beskrywing gebied van wat skynbaar met hom gebeur het. Die laaste woorde is:

    “Prone to wander, Lord, I feel it,

    Prone to leave the God I love;

    Here’s my heart, O take and seal it;

    Seal it for thy courts above.”

    Ons kom na Christus as sondaars. Ons kom as gebroke mense. Seergemaak deur die sonde – ons sonde, en die sondes van ander mense. Ons kom as mense wat verniel is deur omstandighede. Die evangelie gaan om herstel; dit gaan om groei om te word wat God wil hê ons moet wees. En Jesus Christus staan absoluut sentraal in ons redding en in ons geestelike groei en in ons werk vir Hom.

    Daar is ‘n direkte verband tussen wat die kerk verkondig en wat in mense se lewens gebeur: As Jesus Christus verkondig word – wat Hy gedoen het, wie Hy is – dan verander mense se lewens. As Jesus nie meer die middelpunt is nie, dan word mense nie meer gered nie, dan groei mense nie in hulle toewyding aan die Here Jesus nie, dan word hulle karakter nie meer verander om meer en meer soos die Here Jesus te word nie, dan verflou hulle liefde vir Hom. Dis onvermydelik.

    GOD SE PLAN VIR JOU IS ‘N VERANDERDE LEWE

    In die eerste hoofstuk van Paulus se brief aan die Kolossense het hy die Godheid van die Here Jesus so treffend verduidelik. Dit het spontaan gelei tot sy lieflike gebed vir hulle. Dan kom hy in Kol. 1:28, “Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel.”

    27 min
  • HOE OM SINVOL TE BID (Kol. 1:9-14) ep. 2632

    Bronnie Ware (gebore in 1967) is ‘n Australiër wat mense versorg gedurende die laaste fase van hulle lewe hier op aarde. Sy het jare lank na mense geluister wat juis in hierdie fase van hulle lewe was. Wat haar opgeval het, was dat hulle diepste spyt gewoonlik nie gegaan het oor spesifieke dinge wat hulle nie bereik het nie. Later het sy die temas wat telkens in hierdie gesprekke na vore gekom het, saamgevat in haar boek The Top Five Regrets of the Dying.

    So baie mense staar die dood in die oë met spyt dat hulle nie geleef het volgens dit wat werklik belangrik was nie. Dink net daaraan: Jy kom aan die einde van jou lewe en skielik sien jy hoe onbelangrik die meeste van die dinge is wat jou besig gehou het - die opgang wat jy gemaak het in jou werk, die besittings wat jy vergader het, hoe belangrik ander mense se goedkeuring was... Jy kyk terug oor jou lewe en besef: Jy was my hele lewe lank besig. Jy het hard gewerk. Jy het baie bereik. Maar het jy ooit stilgestaan om te vra, “Wat maak regtig saak?”

    Vir die kind van God is daar een belangrike vraag wat alles in perspektief plaas:

    “Is die lewe wat ek besig is om te leef, in lyn met die doel waarvoor God my geroep het?”

    Dit begin deur vir die Here te vra, “Here, watter soort persoon wil U hê ek moet word? Hoe gaan die tipe mens wat ek besig is om te word, eer aan U bring?”

    Kom ons leer by Paulus, in Kol. 1:9-14, hoe om sinvol te bid – vir onsself, vir ander mense. Hier dis die dinge wat ons lewens in lyn bring met die wil van God.

    NLV 1:9-14 9Van die dag af wat ons dít oor julle gehoor het, hou ons daarom nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê. 10Ons bid ook dat julle leefstyl tot eer van die Here sal wees om Hom te behaag deurdat julle lewe vol goeie werke sal wees en dat julle God al hoe beter sal leer ken.

    11Ons bid dat Hy deur die krag van sy goddelike heerlikheid julle sal toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard terwyl julle met blydskap 12altyd die Vader dank dat Hy julle geskik gemaak het om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat volgens sy wil lewe. 13Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun. 14Deur die Seun het ons verlossing verkry, naamlik die vergewing van sonde.

    https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/ https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/

    38 min
  • VOORKOMING VAN SEERKRY IN DIE KERK

    VOORKOMING VAN SEERKRY IN DIE KERK: Ek onthou nog goed die Saterdagoggend voordat ek verwelkom sou word deur die nuwe gemeente wat my beroep het. Ek is vinnig by Game in om ‘n paar goedjies vir ons nuwe blyplek te kry. Twee mans staan en gesels, en my oor vang, “By watter gemeente aanbid julle nou?” Waarop die ander man antwoord, “Ons gaan nie meer kerk toe nie; ons het seergekry in die kerk...” ‘n Ongemaklike stilte het in die lug bly hang. Wat sê mens vir iemand daar in die middel van ‘n besige winkel?

    Dis amper al soos ‘n idioom in die volksmond om te praat van ‘seerkry in die kerk’, so algemeen is die gevoel by so baie mense dat hulle getraumatiseer is in die kerk. Mense beleef dieselfde simptome wat iemand beleef wat deur ‘n intense traumatiese ervaring gegaan het. Die simptome is baie soos dié van post-traumatiese stres steurnis - intense angs en paniek, nagmerries, gedagtes wat oor en oor maal oor ‘n saak, flashbacks, en ander onaangename simptome. Wat met hulle in die kerk gebeur het oefen steeds ‘n wurggreep uit op hul emosies. Hoe meer hulle daarvan wil wegkom, hoe minder suksesvol is hul hierin.

    Die één plek waar mense veilig en gekoester moes voel, waar hulle liefde, aanvaarding en vergifnis moes beleef het, het die plek van trauma vir hulle geword.

    Kerk was veronderstel om die plek te wees waar hulle met liefde omring word. In plaas van liefde, daardie gesindheid van “ons is hier vir jóú; hoe kan ons jou help?” beleef mense dat hulle in die gemeente is vir die voordeel wat hulle vir die kerk bring. Hulle word met oop arms verwelkom, solank hulle van waarde is. Die boodskap wat hulle hoor, is nie een van ware omgee vir húlle nie, maar een van ‘Gee!” Gee jou tyd, gee jou tiende, gee jou talente, gee jou teenwoordigheid.

    Kerk is waar hulle ware aanvaarding moes aanvaar, daardie gesindheid van “ons oordeel jou nie; ons gaan jou liefhê en God toelaat om in jou lewe te werk soos Hy wil en teen Sy tempo en soos jy gereed is daarvoor.” Maar wat hulle ervaar het is dat hul eerder verdoem word vir die tekortkominge in hul lewe. Hul voel min aanvaarding; eerder skande en verwerping.

    Kerk is waar vergifnis uitgeleef moet word. In plaas van vergifnis, “God vergewe jou sonde en ons ook; ons gee jou nog ‘n kans, en nog ‘n kans, en weer nog ‘n kans, want dit is hoe God met óns doen,” kry hulle eerder te doen met ‘n gedurige foutvindery, genadelose kritiek, verdagmakery, en die kwetsende skindertong.

    En so word die plek van aanbidding ‘n toksiese plek, wat sleg vir jou kan wees; gevaarlik vir jou, nie alleen vir jou geestelike lewe nie, maar vir elke aspek van jou lewe. Traumatiese ervarings in die kerk sny ‘n baie diep seer in mense se harte.

    Ons kom aan die einde van Paulus se brief aan die Galasiërs. Met ‘n boodskap vir die kerk vandag. As ons die boodskap verontagsaam, word die bymekaar kom van God se mense toksiese plekke waar mense diep seerkry. Uit wat hy die apostel Paulus skryf in sy laaste paar sinne kry ons ‘n goeie idee hoe lyk ‘n kerk wat mense misbruik en gaan seer maak. En dit hoef nie so te wees nie.

    38 min
  • JESUS CHRISTUS TROON UIT BO ALLES EN ALMAL! ep. 2631

    JESUS CHRISTUS TROON UIT BO ALLES EN ALMAL! In die jaar 1893 bied die Amerikaanse stad Chicago, Illinois ‘n wreldklas skou aan om Christopher Columbus se vaart na Amerika te vier. Meer as 21 miljoen mense woon die skou by. Een van die uitstallings word genoem die Wêreld Parlement van Godsdienste. Verteenwoordigers van verskillende gelowe van oraloor probeer die beste aspekte van hulle geloof voorhou. Die Amerikaanse evangelis D L Moody sien die skou as a fantastiese geleentheid vir evangelisasie. He preek in kerke, teaters en selfs ‘n sirkustent. Mense naby aan hom moedig hom aan om die sg. Wêreld Parlement van Godsdienste aan te vat. Hy weier. Hierdie woorde van D L Moody is vandag nog net so nodig om te hoor en miskien selfs nog belangriker: “Ek gaan Jesus Christus se aantreklik maak dat mense na Hom sal draai.” D L Moody is ten volle oortuig dat Jesus Christus die enigste Redder op aarde is. Jesus Christus is nie maar net een geestelike leier tussen baie ander nie. Moody se benadering het duisende mense in Chicago tot geloof in Jesus Christus gebring. Mense moet hoor van Jesus Christus; die waarheid oor Jesus Christus oortref by verre enigiets wat enigiemand anders kan leer. MY NUWE REEKS IS OOR PAULUS SE BRIEF AAN DIE KOLOSSENSE: JESUS CHRISTUS TROON UIT BO ALLES EN ALMAL!

    https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/

    https://rss.com/podcasts/hoop-nogtans/

    33 min
  • Genade-deurdrenkte verhoudings

    Genade-deurdrenkte verhoudings

    Daar was ’n tyd toe Hansie Cronjé een van die mees gerespekteerde mense in Suid-Afrika was.

    Hy was nie net die kaptein van die Proteas nie. Hy was ’n volksheld. Onder sy kapteinskap het Suid-Afrika 99 eendagwedstryde gewen. Hy was bekend as ’n sterk leier, ’n man van beginsels en iemand wat openlik oor sy Christelike geloof gepraat het.

    En toe, in April 2000, stort alles in duie.

    Die nuus breek dat Hansie kontak met beroepswedders gehad het en geld van hulle ontvang het. Aanvanklik het hy dit ontken. Mense het hom geglo. Mense het hom verdedig.

    Maar Hansie het geweet hy vertel leuens. Uiteindelik kon hy nie langer met die leuens saamleef nie.

    Hy erken dat sy aanvanklike ontkennings leuens was. Hy hét geld van beroepswedders ontvang en ander spelers by sy optrede probeer betrek. Hy het erken:

    “Ek was nie eerlik nie en ek vra onvoorwaardelik om verskoning.”

    En toe sê hy iets wat ’n mens iets van sy gebrokenheid laat sien:

    “Woorde kan nie begin beskryf hoeveel skaamte, vernedering en pyn ek ervaar nie.”

    Later het Hansie erken wat eintlik agter sy ondergang gelê het: ’n liefde vir geld.

    Die groot kaptein was gebreek.

    Die held was verneder.

    Die man wat deur duisende bewonder is, kon skielik skaars mense in die oë kyk.

    Op die oggend toe sy bekentenis bekend geword het, het hy vir pastoor Ray McCauley op die Kaapstadse lughawe ontmoet. ’n Ooggetuie beskryf Hansie as stil en in trane; hy kon McCauley skaars in die oë kyk.

    En wat doen McCauley?

    Hy sê nie: “Hansie, dit maak nie saak wat jy gedoen het nie.”

    Want dit het saak gemaak.

    Maar hy sê ook nie:

    “Hansie, jy het ons teleurgestel. Jy het die kerk se naam skade aangedoen. Daar is nie meer plek vir jou tussen ons nie.”

    Nee.

    Hy moedig hom aan:

    “Vertel net die waarheid. Vertel alles.”

    Maar hiervoor is genade-deurdrenkte verhoudings onder gelowiges nodig.

    Paulus skryf in Galasiërs 6:1:

    “Broeders, as iemand deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so iemand reghelp met die gees van sagmoedigheid…”

    Let op wat Paulus nie sê nie.

    Hy sê nie: Ignoreer die sonde.

    Hy sê nie: Maak asof dit nie gebeur het nie.

    Hy sê nie: Verskoon dit.

    Maar hy sê ook nie:

    Gooi die sondaar weg nie.

    Hy sê:

    “Help hom reg.”

    Herstel hom.

    Bring hom terug.

    Doen dit met sagmoedigheid.

    En dan volg vers 2:

    “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”

    Dít is hoe ’n gemeente met mooi harte lyk, ‘n gemeente wie se verhoudings met mekaar genade-deurdrenk is.

    ’n Gemeente met mooi harte is nie ’n gemeente waar sonde nie ernstig opgeneem word nie.

    Dit is ’n gemeente waar sonde ernstig opgeneem word, maar genade nóg ernstiger.

    Dit is ’n plek waar iemand wat geval het, nie net vingers sien wat na hom wys nie, maar hande wat na hom uitreik.

    ’n Plek waar iemand kan sê:

    “Ek het gesondig.”

    “Ek het mense seergemaak.”

    “Ek is skaam.”

    …en dan ontdek:

    Hier is mense wat my nie gaan los waar ek geval het nie.

    42 min