Genade-deurdrenkte verhoudings
Daar was ’n tyd toe Hansie Cronjé een van die mees gerespekteerde mense in Suid-Afrika was.
Hy was nie net die kaptein van die Proteas nie. Hy was ’n volksheld. Onder sy kapteinskap het Suid-Afrika 99 eendagwedstryde gewen. Hy was bekend as ’n sterk leier, ’n man van beginsels en iemand wat openlik oor sy Christelike geloof gepraat het.
En toe, in April 2000, stort alles in duie.
Die nuus breek dat Hansie kontak met beroepswedders gehad het en geld van hulle ontvang het. Aanvanklik het hy dit ontken. Mense het hom geglo. Mense het hom verdedig.
Maar Hansie het geweet hy vertel leuens. Uiteindelik kon hy nie langer met die leuens saamleef nie.
Hy erken dat sy aanvanklike ontkennings leuens was. Hy hét geld van beroepswedders ontvang en ander spelers by sy optrede probeer betrek. Hy het erken:
“Ek was nie eerlik nie en ek vra onvoorwaardelik om verskoning.”
En toe sê hy iets wat ’n mens iets van sy gebrokenheid laat sien:
“Woorde kan nie begin beskryf hoeveel skaamte, vernedering en pyn ek ervaar nie.”
Later het Hansie erken wat eintlik agter sy ondergang gelê het: ’n liefde vir geld.
Die groot kaptein was gebreek.
Die held was verneder.
Die man wat deur duisende bewonder is, kon skielik skaars mense in die oë kyk.
Op die oggend toe sy bekentenis bekend geword het, het hy vir pastoor Ray McCauley op die Kaapstadse lughawe ontmoet. ’n Ooggetuie beskryf Hansie as stil en in trane; hy kon McCauley skaars in die oë kyk.
En wat doen McCauley?
Hy sê nie: “Hansie, dit maak nie saak wat jy gedoen het nie.”
Want dit het saak gemaak.
Maar hy sê ook nie:
“Hansie, jy het ons teleurgestel. Jy het die kerk se naam skade aangedoen. Daar is nie meer plek vir jou tussen ons nie.”
Nee.
Hy moedig hom aan:
“Vertel net die waarheid. Vertel alles.”
Maar hiervoor is genade-deurdrenkte verhoudings onder gelowiges nodig.
Paulus skryf in Galasiërs 6:1:
“Broeders, as iemand deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so iemand reghelp met die gees van sagmoedigheid…”
Let op wat Paulus nie sê nie.
Hy sê nie: Ignoreer die sonde.
Hy sê nie: Maak asof dit nie gebeur het nie.
Hy sê nie: Verskoon dit.
Maar hy sê ook nie:
Gooi die sondaar weg nie.
Hy sê:
“Help hom reg.”
Herstel hom.
Bring hom terug.
Doen dit met sagmoedigheid.
En dan volg vers 2:
“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”
Dít is hoe ’n gemeente met mooi harte lyk, ‘n gemeente wie se verhoudings met mekaar genade-deurdrenk is.
’n Gemeente met mooi harte is nie ’n gemeente waar sonde nie ernstig opgeneem word nie.
Dit is ’n gemeente waar sonde ernstig opgeneem word, maar genade nóg ernstiger.
Dit is ’n plek waar iemand wat geval het, nie net vingers sien wat na hom wys nie, maar hande wat na hom uitreik.
’n Plek waar iemand kan sê:
“Ek het gesondig.”
“Ek het mense seergemaak.”
“Ek is skaam.”
…en dan ontdek:
Hier is mense wat my nie gaan los waar ek geval het nie.