
Sign up to save your podcasts
Or


In die boek Second Calling skryf Dale Bourke dat sy jare gelede ’n konferensie bygewoon het. Toe dit verby was, het haar vriend Bruce aangebied om haar lughawe toe te neem. Net toe hulle wou vertrek, het ’n ander man gevra of hy saam met hulle kon ry.
Terwyl hulle van die hotel af weg gery het, het sy en Bruce die man gevra waar hy werk, en hy het genoem dat hy by ’n spesifieke Christelike organisasie betrokke is. Bruce het gesê: “Ek het goeie herinneringe aan daardie groep, want ek het eenkeer ’n konferensie van hulle bygewoon, en dit is waar ek ’n Christen geword het. Dit was in 1972 in New Hampshire.”
Bruce het verder verduidelik dat sy hele familie uiteindelik Christene geword het en aktief in Christelike bediening is. Sy suster was ’n Wycliffe-sendeling, en Bruce self het die uitgewer van ’n groot Christelike Uitgewer geword.
Die man was stil. Dale en Bruce het gedink hulle verveel hom dalk.
Toe sê die vreemdeling sag: “Ek het daardie retreat gelei. Dit was my eerste keer as konferensieleier, en ek het gevoel soos ’n totale mislukking. Tot vandag toe het ek geglo dit was een van die grootste mislukkings van my lewe.”
Dale Bourke skryf verder: “Wat gelyk het na ’n eenvoudige daad—om ’n rit vir ’n vreemdeling aan te bied—het verander in ’n kragtige herinnering dat God ons pogings gebruik, of ons dit besef of nie. Ek mag die res van my lewe dinge doen wat glad nie suksesvol lyk nie. Tog ken net God die doel. Ek is eenvoudig geroep om getrou te wees.”
Ons roeping is nie om die uitkoms te ken nie, maar om getrou te wees.
Hier is ‘n Skrifgedeelte vir elkeen wat voel hul diens aan die Here was tevergeefs.
Hebrews 12:1-3 OAV
1 DAAROM dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
3 Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.
Ek deel graag ‘n paar gedagtes hieroor.
Die spesifieke Sondag is die kerk gepak. Dis kindertoewyding die oggend en daar is baie familie en vriende om die geleentheid met die gesin te deel. Ek is dankbaar om die oggend die geleentheid te hê om die evangelie te deel met mense wat moontlik selde in die kerk kom. Een van die ouderlinge maak later sy beswaardheid aan my bekend. “Ons hou nie van jou styl van bediening nie. Jy trek mense na die kerk wat nie pas by ons nie. Mense wat ruik na rook en drank. (Ja, kan jy dit glo!). Ons dink nie jy is die regte een om ons gemeente te lei nie.”
In die storie wat die Here Jesus vertel in Lukas 15 oor die verlore seun, is daar nog ‘n seun, die ouer broer. En daar is groot ooreenkoms tussen my ouderling van destyds en hierdie ouer broer. En jammer om te sê, ook tussen die ouer broer en baie mense wat elke week baie prominent in die kerk is. Of ten minste, baie mooi leef en bekend is vir hulle betrokkenheid by liefdadigheid, al is hulle nie so aktief betrokke by die kerk nie.
Kom dink bietjie saam met my oor hierdie saak en laat weet my wat jý dink.
Rosaria Butterfield was ’n universiteitsprofessor, ’n ateïs, en openlik gekant teen die Christelike geloof. Sy het geglo dat Christenskap skadelik is vir mense en intellektueel minderwaardig. Nadat sy ’n artikel geskryf het waarin sy Christelike oortuigings gekritiseer het, het sy talle reaksies ontvang. Een brief het uitgestaan — dit was respekvol geskryf deur ’n predikant wat haar uitgenooi het tot gesprek. Uit nuuskierigheid het sy die uitnodiging aanvaar. Mettertyd het Rosaria en haar lewensmaat maaltye gedeel met die predikant en sy vrou. Daar was geen druk nie — net eerlike gesprek, vriendskap en die lees van die Skrif. Terwyl sy die Bybel ernstig bestudeer het, het sy Jesus leer ken — nie die karikatuur waaraan sy gewoond was nie, maar as Here en Verlosser. Na twee jaar het sy tot geloof in Christus gekom. Haar bekering was haar baie gekos en het groot lewensveranderinge ingehou, maar sy beskryf dit nie as verlies nie — sy noem dit redding. Sy het later geskryf: “Ek het nie ’n Christen geword omdat dit maklik was nie. Ek het ’n Christen geword omdat dit waar is.” Dis altyd so mooi om ’n opregte bekeringsverhaal te hoor. Soos die een in die storie wat die Here Jesus in Lukas 15 vertel, wat ons ken as die gelykenis van die verlore seun. Ons ontmoet die jong man wat geen respek het vir sy pa nie. Hy eis dat sy pa hom laat erf – dis nog voor sy pa dood is. Dis so goed asof hy vir sy pa sê, jy beteken vir my meer dood. Ek soek jou goed; nie vir jou nie. Ons sien sy (1) verkeerde gesindheid teenoor sy pa. Dit kom na vore as hy sê, “Gee my...” Maar dan kom hy opreg tot bekering. Maar iets groots is verkeerd in wat hy glo hom te doen staan. Ons sien (2) sy verkeerde oortuigings van wat sy vader van hom verwag. Dit wys as hy met homself praat oor wat hy alles vir sy pa gaan sê. Vroeër het hy gesê, “Gee my...” Nou sê hy, “ Maak my...Maak my ‘n dagloner.” Mense kom steeds tot bekering. Maar hulle val so maklik in dieselfde slaggat as die seun as hulle nie gesonde geestelike leiding kry nie. Hulle dien God met opregte bedoelings maar met verkeerde oortuigings. Hulle glo hulle moet so leef dat God hulle sal kan aanvaar. Hulle het (3) ‘n verkeerde siening van die Vader se hart. Hy wil nie hê sy seun moet werk vir aanvaarding nie. Vir die pa gaan dit om wat hý vir die seun wil doen. Ware bekering gaan nooit oor in wat ons nou alles vir die Vader moet doen om Hom gelukkig te maak nie. Ware bekering maak dit moontlik vir God om dinge vir ons te doen wat Hy nie kon voor ons bekering nie. Ek het ‘n paar gedagtes hieroor wat ek graag met jou wil deel. https://www.facebook.com/francois.bredenkamp https://www.youtube.com/@HoopNogtans
Aljazeera berig op 21 Julie 2025 uit Palkistan dat die owerhede minstens 13 mense, insluitende ‘n stamleier, in hegtenis geneem het op wat as ‘n eerwraakmoord (“honour killing”) beskou word. Bano Bibi en haar man Ehsan Ullah is vermoor as wraak omdat hulle getrou het teen die wense van hulle familie. Hulle het daardeur skande oor die familienaam gebring.
Daar is in 2024 landswyd in Pakistan 547 eerwraakmoorde aangemeld, en baie word nooit aangemeld nie, met slegs een skuldigbevinding gelei het.
Wat ons hier kry, is ‘n voorbeeld van hoe sterk die eer van die familienaam vir mense in hierdie lande is. Die eer van die familie word belangriker beskou as die individu se vryheid om te kies. As jy iets doen wat skandalig is en oneer bring vir jou familie, glo hulle jy verdien om doodgemaak te word.
Om die volle impak van die Here Jesus storie oor die verlore seun in Lukas 15 te verstaan, moet ons besef dat die eer van ‘n vader baie hoog aangeslaan is. Wat die jong man in die storie doen, sou in ander lande met die dood gestraf word, selfs vandag nog.
Kom besin gerus saam met my oor Lukas 15:12-24.
https://www.bible.com/bible/117/LUK.5.12-24
https://www.facebook.com/francois.bredenkamp
https://www.youtube.com/@HoopNogtans
Onthou jy nog die liedjie “Nobody likes me, everybody hates me, I guess I’ll eat worms!”
Die liedjie gee nogal weer hoe baie mense voel. Oor hulself. Hoeveel mense voel niemand is lief vir hulle nie. Hulle voel onwaardig. Hulle kan nie eens dink dat iemand van hulle sal hou nie.
Die evangelie van Jesus Christus vertel ‘n heel ander storie oor ons. Ons is kosbaar in God se oë. Hy kies om ons lief te hê, ten spyte van al ons foute en tekortkominge.
Ek praat vandag met jou oor: ONTDEK – OF HERONTDEK – DIE HART VAN GOD VIR JOU
‘n Pa stap ‘n vertrek binne en sien sy geliefde kind. Die pa se gesig verhelder. Hy glimlag breed. Die kind weet: My pa is bly om my te sien. Want die pa is inderdaad bly om sy kind te sien. Sy gesig sê vir die kind: Ek is so lief vir jou. Jy beteken so baie vir my! Kom hier na my toe. Ek het jou só gemis! Jy is vir my so spesiaal.
Dit is die prentjie wat opgeroep word deur die woorde in die bekende priesterlike seën opgeteken in Numeri 6:25 AFR1953: die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees..
Ons mis die trefkrag in die meeste vertalings. Dis moeilik om die volle Hebreeuse betekenis te verwoord in ‘n ander taal.
Die New Living Translation kom naby. May the Lord smile on you and be gracious to you.
Dis God se hart vir jou. Ek deel graag ‘n paar gedagtes hieroor met jou.
In die Griekse mitologie is daar die storie van Sisyfus, die stigter en koning van Korinte (Efyra). As mens was hy aanmatigend en arrogant, en die gode straf hom. In die onderwêreld kry hy die taak om ‘n groot rots teen ‘n bult uit te stoot, en net soos hy amper bo is, dan rol die rots al die pad terug, en dan moet hy oor begin. So hou dit vol, dag vir dag, tot in ewigheid. Stoot. Amper daar. Tevergeefs. Stoot. Amper daar. Tevergeefs.
Sisyfus se straf beskryf so baie mense se lewens. Alles wat hulle doen, voel vir hulle tevergeefs. Sonder die seën van die Here op ons lewens rus daar ‘n groot tevergeefsheid oor alles wat jy aanpak.
Dis wat Salomo ons leer in Psalm 127:1-2 (NLV).
“As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak die wagte tevergeefs. 2Tevergeefs werk julle so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos julle swoeg om te bestaan. Maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap.”
Jy is welkom om saam met my hieroor te besin.
Katarina die Grote, keiserin van Rusland het in 1787 ’n grootskaalse inspeksiereis onderneem langs die Dnieper River. Die reis is gereël deur Grigory Alexandrovich Potemkin (Potjomkin), een van Katarina se mees vertroude staatsmanne, wat haar wou beïndruk met sy bestuur van die provinsies. Dit word vertel dat Potjomkin vals papier- of kartondorpe langs die rivier opgerig het om Katarina doelbewus te mislei. Miskien het hy nie regtig so ver gegaan nie, miskien het hy. Daar is teenstrydige sienings hieroor. Wat wel gebeur het: • Bestaande dorpe is skoongemaak, versier en verfraai • Boere is soms bymekaar gebring om bevolkingsdigtheid te suggereer • Feesvieringe, seremonies en toneelspel is gebruik Dis duidelik hy wou haar beïndruk. Die uitdrukking “’n Potjomkin-dorp” het ’n vaste plek in Europese tale gekry as metafoor vir: ’n Bedrieglike vertoon wat ’n minder aantreklike werklikheid verbloem. Die vraag vir elkeen van ons is die volgende: Is my navolging van Christus niks meer as ‘n papierdun voorgee of is dit eg? Kom dit uit my hart uit omdat ek regtig glo dat Jesus Christus die Here is? Wie jy regtig dink Jesus Christus is, is al wat regtig saak maak. Want wat jy glo oor Jesus Christus gaan bepaal hoe jy gaan leef.
https://www.facebook.com/francois.bredenkamp
Dis maklik om ‘n front voor te hou en te maak asof alles reg is, terwyl jy so moedeloos is dat jy nie kans sien vir aangaan nie. ‘n Gewilde sanger Sia sing die volgende: Unstoppable All smiles, I know what it takes to fool this town I'll do it 'til the sun goes down and all through the night time Oh, yeah Oh, yeah, I'll tell you what you wanna hear Keep my sunglasses on while I shed a tear It's never the right time, yeah-yeah I put my armour on, show you how strong I am I put my armour on, I'll show you that I am I'm unstoppable, I'm a Porsche with no brakes I'm invincible, yeah, I win every single game I'm so powerful, I don't need batteries to play I'm so confident, yeah, I'm unstoppable today Unstoppable today, unstoppable today Unstoppable today, I'm unstoppable today Unstoppable today, unstoppable today Unstoppable today, I'm unstoppable today Maar, waarmee het die liedjie begin? “All smiles, I know what it takes to fool this town” Hoeveel hartseer sit agter daardie woorde? Daar kom ‘n punt wat jy nie meer die werklikheid kan ontken nie. Vandag se boodskap is vir jou as dit waar is oor jou lewe.
n Klein seuntjie, so tien jaar oud, het die dinêr binnestap en by ’n tafel kom sit. Die kelnerin, reeds moeg ná ’n lang skof, kom vra wat hy graag wil hê.
Die seuntjie kyk na die spyskaart en vra:
“Hoeveel kos ’n roomys-sundae?”
Sy gee vir hom die prys.
Hy tel sy muntstukke stilletjies.
Toe vra hy:
“Hoeveel kos net gewone roomys?”
Die kelnerin sug — daar wag baie klante — en sy noem die laer prys. Die seun dink oomblikkie, knik toe en sê:
“Ek sal die gewone roomys neem.”
Sy bring dit vir hom, effens geïrriteerd dat hy soveel tyd neem oor iets so klein. Ná hy klaar geëet het, betaal hy by die toonbank en stap weg.
Toe sy terugkom om die tafel skoon te maak, staan sy doodstil.
Langs die leë roomysbak lê ‘n paar muntstukke — presies genoeg om die verskil te maak tussen die roomys-sundae en die gewone roomys.
Die seuntjie het die goedkoper roomys gekies sodat hy vir haar ’n fooitjie kon los.
Op daardie oomblik besef sy hoe verkeerd sy hom beoordeel het — en hoe volkome sy sy hart misverstaan het.
Ek weet nie hoe akkuraat hierdie storie is nie. Maar ek weet ons verstaan God se hart baie keer verkeerd.
In die Spaanse stad Valladolid waar Christopher Columbus in 1506 sterf, staan ‘n monument ter ere van die ontdekkingsreisiger. ‘n Stukkie simboliek ingebou in die monument is ‘n aardbol met ‘n band oor, met die volgende woorde Ne Plus Ultra. Vir jare was Spanje se leuse: Ne Plus Ultra. Dit beteken, niks anderkant nie. Daar is geen land anderkant Spanje nie. Ingebou in die monument is ‘n leeu wat die woordjie ne wegskeur van die res. Ne is die woordjie wat sê daar is niks anderkant nie. Wat ‘n mens nou lees, is Plus Ultra. Columbus het bewys, daar is land anderkant Spanje. Vir eeue glo hulle as mens deur die stukkie see wat Europa en Afrika skei, genoem die Straat van Gibraltar, wes sou vaar, gaan jy niks verder vind nie. Daar is geen land nie. Columbus het ontdek daar’s ‘n hele wêreld anderkant Spanje wat ons vandag ken as Noord-Amerika en Suid-Amerika. Jesus Christus het bewys dat daar lewe anderkant die dood is. Hy het die ne weggeskeur. Plus Ultra bly oor. Ewige lewe. Die kind van God kan die grootste gemoedsrus hê oor die dood en die lewe na die dood. Ons kan verklaar soos ‘n Simeon van ouds in Luk. 2:29 “Here, nou kan u dienskneg in vrede sterf...” Ek deel graag ‘n paar gedagtes hieroor met jou. https://www.bible.com/bible/117/LUK.2.29 https://www.facebook.com/francois.bredenkamp
From the publisher's feed
Hoop Nogtans bediening deur Francois Bredenkamp
https://www.facebook.com/francois.bredenkamp/