Die ANC vra president Jacob Zuma om streng op te tree teen die Minister van Mineralebronne, Mosebenzi Zwane. Dit volg nadat Zwane 'n verklaring uitgereik het wat aandui dat die regering 'n regterlike kommissie van ondersoek na Suid-Afrika se grootste banke van stapel gaan stuur. Zwane het Vrydag die verklaring uitgereik wat sê dat die kabinet ooreengekom het op 'n aanbeveling dat die president die regterlike kommissie moet aanstel om ondersoek in te stel na waarom die banke bande met die Guptabeheerde Oakbay Investments verbreek het. Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa, sê die regerende party vra Zuma om Zwane te berispe oor die verwarring wat hy geskep het deur sy irrasionele en onverantwoordelike verklaring. Suzanne Paxton praat hieroor met prof. Susan Booysen van die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Regeerkunde.