Soldate van 10 SA Infanteriebataljon wat tans in Ladybrand in die Vrystaat gestasioneer is, het onlangs 'n huis ontwerp en gebou om dit vir 'n 106-jarige man en sy 84-jarige vrou te gee. Tydens 'n besoek aan die plaaslike gemeenskap het hulle gesien onder watter moeilike omstandighede die Mosenya-egpaar bly. Die bevelvoerder van die eenheid, luitenant-kolonel Tienie Slabber, sê die soldate het tussendeur hulle grenspatrollies en ander werk geld ingesamel vir die huis en later self die huis ontwerp en gebou.