Die Sweedse Koninklike Akademie vir Wetenskappe het die 2016 Nobelprys vir Fisika aan drie Amerikaners toegeken. Die een helfte van die prys gaan na David Thouless. Die ander helfte word gesamentlik aan Duncan Haldane en Michael Kosterlitz toegeken. Hulle ontvang die prys vir die teoretiese ontdekkings van die topologiese fase-oorgange en topologiese fases van stowwe. Die Dekaan van Navorsing en Nagraadse Studies by die Department Natuurwetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg, prof. Andre Strydom, sê dit is die mees opwindende tyd in die vakrigting. Hy sê baie nuwe ontdekkings word gemaak wat verreikende gevolge vir die mensdom kan hê.