Die Nasionale Vervolgingsgesag wou nie berigte bevestig dat die aanklagte van bedrog teen die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, teruggetrek gaan word nie. Gordhan en twee voormalige senioramptenare van die inkomstediens, Oupa Magashule en Ivan Pillay, moet Woensdag in die landdroshof in Pretoria verskyn. Verskeie organisasies en kommentators sê egter die aanklagte het min om die lyf en behoort teruggetrek te word. 'n Burgerregte-organisasie wat onlangs gestig is, Save SA, het besluit om Woensdag by die hof te gaan betoog. 'n Woordvoerder vir die organisasie, Anso Thom, het aan Hendrik Martin gesê hulle gaan voort met die betoging al word die aanklagte teruggetrek.