Die Nasionale Vervolgingsgesag het gister bekendgemaak dat hulle lede van die polisie se destydse spesiale tak in Soweto in verband met 'n apartheidsmisdaad gaan vervolg. Die voormalige polisiebeamptes word vervolg vir hulle beweerde aandeel in die moord in 1983 op Nokuthula Simelane, 'n ANC-lid. Volgens die mediaverklaring het die beskuldigdes tydens die Waarheid- en Versoeningskomissie om amnestie aansoek gedoen vir die ontvoering, marteling en verdwyning van Simelane, maar nooit vir die moord nie. Die uitvoerende direkteur van die Instituut van Geregtigheid en Versoening, dr. Fanie du Toit, sê selfs jare ná 'n apartheidsmisdaad, kan persone nog vervolg word.