Nagsê Here

Nagsê Here

Download on the App Store

All Nagsê Here episodes

  • Nagsê Here #25
    Goeie Naand,

    Ek bid dat dit goed gaan met jou vanaand. Ons gesels weer oor geloof.
    Geloof in God is een waarheid maar volharding in geloof, absolute geloof, is iets heeltemal anders. Dink maar aan jou eie lewe, hoe jou geloof getoets, beproef, gelouter en selfs uitgedaag word, elke dag. Jy bevind jou in hierdie wêreld, in ‘n land, op ‘n plek en besef dat die reëls, die wette, die strukture, die omstandighede, jou vervreemd laat voel. Dit is anders as wat jy met jou geloof verwag.

    Gisteraand het ons gelees van Nataneal, van wie Jesus gesê het “Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” Ook Nataneal het Die Verlosser verwag wat hulle kon bevry van die Romeinse oorheersing maar nie iemand, uit Nasaret nie. Jesus het ook aan hom gesê dat hy nog groter dinge sal sien en Nataneal het. Hy het wonders gesien wat Jesus doen, maar die Romeine is steeds in beheer van die land en die volk Israel.

    In Lukas 7 lees ons die verhaal, Nataneal was waarskynlik teenwoordig, van die Romeinse offisier wie se slaaf siek was, hy het Jode na Jesus gestuur om te kom en die slaaf te genees. Inteendeel het hy later gesê “Spreek net ‘n woord en my slaaf sal genees word.” Dit van ‘n ongelowige.

    Kan jy die toets van geloof hoor? Hoe kan die Redder ons vyand help, hoe werk God dan nou? Dan sê Jesus nog in vers 9 “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so 'n groot geloof teëgekom nie.”

    Vanaand sit jy dalk alleen, of in ‘n vreemde plek, jou emosies en geloof ry wipplank, jy het nie antwoorde nie en wonder hoekom laat God sekere dinge toe.
    Mag jy vanaand volharding in geloof ervaar want Jesus is as Redder gestuur om ‘n Koninkryk van God binne in jou te vestig waar Hy kan heers. Jou geloofsdaad sal dan wees ‘Spreek Heer, ek luister’. Dit verander nie omstandighede nie maar dit sal jou verander.

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #24
    Goeie Naand,

    Ekself het nog nooit onder ‘n vyeboom gesit nie en dink nie. Mens se gedagtes en omstandighede het baie keer ‘n velammende effek op jouself en eie motivering.
    In Johannes 1, die laaste gedeelte van die hoofstuk, lees ons van die roeping van die apostels, hoofstuk 2 begin met die bruilof in Kana. Jesus het Fillippus gesien en net gesê “Volg my”.

    Met die saamloop na Galilea, Kana ontmoet Fillippus vir Nataneal en opgewonde sê hy vir hom “Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret.” Nataneal, opreg in geloof volgens die Joodse tradisie, antwoord droog met ‘n teenvraag “Kan daar uit Násaret iets goeds wees?” Die mens se nuuskierigheid of hoop kan nogals die oorhand kry, dalk moet ons eerder sê God roep mens uit ‘n ander wêreld na ‘n besonderse doel. Nataneal was so oorrompel.

    Toe Jesus vir Nataneal sien aankom sê Hy “Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” Soos Nataneal geantwoord het sou jy dalk ook, want hoe ken iemand jou wat jy die eerste keer ontmoet. Jy weet self hoe draai en dartel stories rond oor mense en hulle doen of late. Maar Jesus ken hom, het God dan nie elkeen wat Hy roep en liefhet se naam in Sy Handpalm geskryf nie. Jesus het die naam en persoon Nataneal geken en bevestig dat Hy hom onder die vyeboom sien sit het.
    Het jy al so ‘n ontmoeting met Die Here HERE gehad, Hy wat vir jou ook sal sê “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien? Jy sal groter dinge sien as dit.”

    Die Here wil saam met jou ook die groter dinge laat sien wat Hy in Sy Almag vir jou voorberei het. Hy ken jou, Hy roep jou en Hy stuur jou, die mooiste en grootste dinge wat jy aan kan dink, begin met Sy Liefde vir jou. Hy sien jou raak onder jou spreekwoordelike vyeboom en weet waartoe jy in staat is, die wêreld is jou saailand met sade van liefde.

    Lekker slaap

    AMEN Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #23
    Goeie Naand,

    Het jy al gewonder hoekom mense gemeet word aan sosiale deelname en normes.
    Jy ken mense wat jyself in groepe sal verdeel.

    Die stil mens, doen wat gedoen moet word, wanneer dit gedoen moet word, en rus daarna.Die syfer mens, analiseer en kritiseer alles maar het geen mense verhoudings nie. Die mense-mens wat almal gelukkig wil sien, tevrede wil stel en deur naïwiteit telkemale in die moeilikheid kom. Die ongeluksvoël, as daar iets verkeerd kan gaan dan gebeur dit met hulle. Die avonturier wat nie kan stilsit nie en baie stories kan vertel. Elke familie het die soorte, jy ken en herken hulle.

    Met hierdie mense word nie bedoel die introverte of ekstroverte nie, die suksevolles of onsuksesvolles nie, die linkerbrein of regterbrein tipes nie, maar hoe jy mense meet of beoordeel in terme van jou eie leefstyl, jou sosiale omgang. Hoe dink jy sien Die Here hulle raak? Spreuke 15 het my baie diep laat dink oor die mense soorte, vers 3 “Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop.”

    Dan lees ons verse 13-15, dit skep die norm van die sosiale maatstaf, hoe jy dalk ook mense opsom, elke iedere een wat jou pad kruis, hulle wat jou lewe beïnvloed.
    “Blydskap laat 'n mens se gesig straal; smart maak 'n mens terneergedruk. 'n Verstandige mens is op soek na kennis; 'n dwaas voed homself met dwaasheid.
    Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees.”

    Mag jy vanaand besef dat Die Here aan jou ‘n feestelike lewe bied sodat jy met jou stralende gesig van blydskap elkeen wat jou raaksien of dophou nader aan Hom kan bring. Jou lewe is jou fees, jou kennis van ervaar en aanvaar, word jou antwoord van dankbaarheid aan jou Skepper, Hy hou jou dop!

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #22
    Goeie Naand,

    In ‘n wêreld waar ons so baie slegte nuus verneem raak dit moeilik om hoop te bied, want hoop met woorde het ‘n weerklank van “Jy verstaan nie”. Met woorde van hoop kan jy tog iemand anders aanspoor, aanmoedig, waardigheid skep sodat hulle nie doelloos voel nie. Maar wat van jou, hoe baie voel jy net asof woorde van ander jou geensins kan help nie?

    Jy soek ook vanaand dalk na die antwoord op die Goedheid van Die Here, deur mense vind jy dit nie. Die Bybel is vol getuienis daaroor, maar die gelese woorde klink so ontoereikbaar. Dit is nie heeltemal waar nie, Die Here wil help en saam met Ps 86 moet jy die woorde oor en oor lees, Dawid se gebed: “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep. Here, luister na my gebed en let op die stem van my smekinge.” Dan kan jy ook erken dat ie goedheid van Die Here geen perke het nie, dit ken geen perke nie, maar is ‘n werklikheid op ‘n tyd wat Hy bestem.

    Wanneer ons hierdie gebed weer lees besef ons dat Hy in Sy Goedheid ook vergifnis bring, ‘n stille tevredenheid van wat in die verlede is bly daar, dit is jyself wat dit, wat Die Here versag het, vergewe het, lewendig hou. In Sy Goedertierendheid help Hy jou self daarmee, met jou seer, jou onthou, jou bekommernisse en verlange. Al wat jy moet weet is dat as jy Hom vra om na jou te luister en aandag aan jou smekinge te gee, Hy dit wel doen terwyl jy wag op Sy antwoord. Mag jy vanaand ervaar dat as jy verby jou probleme en sugtings kyk, jy Die Here raaksien wat jou omhels met Sy liefde.

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #21
    Goeie Naand,

    Elkeen van ons word getoets op baie maniere in die lewe. Miskien voel jy ook vanaand dat jy met vrae sit, vrae wat jy moet beantwoord, dis asof jou lewensreis ‘n eksamen is. Dan gaan jy na Die Here toe, asof Hy deel is van jou krip notas, of dalk dat Hy die vraag vir jou moet verklaar of verduidelik.

    Jy wil sê “Laat U wil geskied” want jy weet as jy 90% kry, het jy 10% nie geken of geleer nie. Dit is nie Die Here se eksamen nie maar joune, Hy het jou vraestel saamgestel. Jou eksamen vraag is jou lewensreis, wanneer jy terugkyk op jou lewensreis besef jy elke tree gegee, elke struikelblok oorkom het jy iets geleer.
    Tog het jy telkemale weer dieselfde fout gemaak, soos om vir iemand kwaad te word, ander seer te maak, jou geleiefdes teleurgestel getwyfel dalk. Die tyd wat jy het is Nou en Hier.

    Die vraag is wat maak jy met jou lewe? Jy ken die antwoord maar jy is te bang om te antwoord, wetend dat jy nie 100% gaan kry nie. Hierdie antwoord kry ons in Deuteronomium 6 “Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” Jou pen raak die papier maar jy huiwer om te skryf, jou mond is droog, jy weet dat jy dat jy nie gaan slaag nie.

    Jy weet in jou binneste wat jou antwoord met jou eie lewensreis is, jou vraestel sal deur Die Here gemerk word, Hy weet wat die regte en ware antwoord is vir elkeen se vraag. Kan jy dink as jy jou gemerkte vraestel ontvang en jou rapport wys 100%, sou jy dink dis moontlik, sal jy Hom vra hoe kan dit moontlik wees? Wel, dit is moontlik, want geloof in Hom het jou geleer, dit wat kortkom het Hy uit Sy genade vir jou geantwoord.

    Al wat jy kan sê is “Dankie”, met jou hier en nou bewys dit ook met liefde en omgee vir Hom en die wat saam met jou op jou lewensreis is, leef Sy Meesterplan met jou, dan sal jy slaag. Die Here stap saam met jou, kniel saam jou en help jou met jou eksamen omdat Hy, deur Sy Liefde vir jou, wil hê jy moet met deurkom, na Hom toe kom.

    Op dit kan ons net sê;

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    4 min
  • Nagsê Here #20
    Goeie Naand,

    Het jy al gewonder waarom jy is, waar jy is? Hoeveel van ons mense het nie kinders of familie oorsee nie, in ‘n ver vreemde land, hoeveel van hulle verlang nie terug nie.
    Elkeen se wens is “As dit maar anders kon”.
    Tog pas ons almal aan, soos met die omgewing, die klimaat, tye, kulture, vriende, humor, leefwyse en reëls. Niks verander waar jy jouself, nou bevind nie. Net jy kan jou emosies, verlange en wense verwoord. Waar jy nou is, is waar jy jouself bevind, niemand kan dit verander nie. Woorde van “Vaderland” en “Moeder aarde” of “Moedertaal” en “Familie” voel dalk vir jou soos ‘n sug in die wind. Moet seblief nie dink dat jy jouself in ‘n tronk bevind nie.

    In Matheus 10 stuur Jesus 12 apostels uit na die Wêreld daarbuite. Dan sê Hy “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.” Jy word ook deur Jesus geroep om waar jy, jou bevind jou oomblik gebruik om aan Hom as Here en Verlosser dank te betuig. Wanneer jy die antwoord soek op waarom jy is, waar jy is dan hoor ons weer sy woorde dat Hy jou gestuur het, maak daarom die verskil waar jy is, want Hy sê in vers 26 “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin.”

    Daar is een taal wat regoor die skepping verstaan word en dis die taal van liefde, jy sê dit met jou oë, jou glimlag, jou houding, jou aanvaarding met woord en daad.
    Dit is die antwoord wat jou Skepper jou gee “Moenie vra waar jy is nie maar waarom jy is, waar jy is”.

    Leef en spreek Sy liefde wat in jou oor gefluister word en verkondig dit van dakke af.
    Dit kos een oproep, een wat sê “Lief vir jou, mis vir jou”.

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #19
    Goeie Naand,

    Om totsiens te sê is nie altyd lekker nie. Dink maar aan die kere op lughawens, die terugry of wegry van kinders, kleinkinders, die onsekerheid oor die toekoms. Moses het gesê dat hy te oud is om oorlog te maak. Vir 40 jaar was hy die volk se leier, hulle boodskapper van God. Hy het hulle vertel dat hy nie meer verder oor die Jordaan sal trek nie, so het God besluit, sy totsiens was ‘n vaarwel.

    Mens kry so ‘n jammer gevoel. Miskien in jou lewe kan jy ook met sulke tye vereenselwig. Dit is hier waar die paadjies skei. In Deuteronomium 31 lees ons “Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê waar die hele Israel dit kon hoor: “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem. 8Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”
    Maak nou nie saak of jy soos Moses voel nie of in sy posisie is nie, ook nie soos Josua met sy nuwe opdrag nie as leier nie, dalk voel jy die onsekerheid aan van die volk oor wat gaan gebeur.

    In al die uitdagings wat die lewe bied mag die eggo van hierdie woorde jou aanspoor. Wees Sterk, wees dapper, Die Here gaan voor jou uit, Hy sal jou nie in die steek laat nie ook nie alleen laat nie daarom hoef jy nie bang te wees of te skrik vir wat nog moet gebeur nie. Doen die goeie wat jy doen en doen dit goed, daardeur word God verheerlik.

    Mag jy vanaand God se nabyheid aanvoel, daardie nabyheid wat jou versterk en bemagtig deur Sy Liefde en Genade.

    Jy het ook ‘n opdrag van Hom vir more wat wag.

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #18
    Goeie Naand,

    Ek hoop dit gaan goed met jou en jou geliefdes.
    Daar is soveel gebroke verhoudings, feitlik daagliks verneem ek van vriende wat baklei of kwaad is vir mekaar, mense wat vertrou is en ander in die steek gelaat het of besteel het.

    Dan praat ons nie eers van huwelikke wat op die rotse land nie en die ewige twis in families tussen broers, susters of ouers nie.
    In die kerk ervaar jy seerkry, in jou huis, in jou vriendekring in jou werksplek. Dit skep regtig waar ‘n gedagte dat die duiwel besig is om oorhand te kry.
    Wat het geword van liefde, eensgesindheid en saamwoon in vrede? Wat het geword van ons diens en antwoord aan God met ons leefwyse en verhoudings?
    Koning Dawid het baie van hierdie onmin ook ervaar, Saul wou hom doodmaak, sy eie seun Absalom ook, die volk in kampe geskeur, hoeveel keer moes hy nie vlug of wegkruip nie.

    Dan skryf hy ‘n pelgrimslied in Psalm 133
    “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!
    Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val.
    Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën:
    'n lang, lang lewe.”

    Mag jy vanaand in jou geselsie met God jou lewe in Sy Hande plaas en vra dat jy ook die goedheid en mooiheid kan ervaar waar broers in eengesindheid saamwoon.
    Mag Die Here, jou God, jou seën, om die verskil te maak tussen die gebroke mense sodat Sy liefde en vrede kan heers.
    Hy het jou so, só nodig.

    AMEN
    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #17
    Goeie Naand,

    Ons ken almal die liedjie “Wat ‘n Vriend het ons in Jesus, Hy wat in ons plek wil staan..”
    Wanneer jy aan die woorde dink dan wonder jy dalk ook aan die vriende wat jy het.
    Met absolute geloof weet jy dat Jesus altyd was, is en sal wees, as Vriend, Verlosser en God.
    Hoe vergelykbaar is dit met vriende, mense-vriende hier op aarde?
    In Spreuke 18:24 lees ons vanaand “'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n vriend wat sterker aanhang as 'n broer.”

    Jy ken die term “mooiweersvriende”, as dit goed gaan met jou word jy omring deur vriende, wanneer mense jou nodig het word jy as ‘n vriend gereken.
    Daar is so baie stories hieroor in elkeen van ons se geskiedenis, jy weet ook hoe dit voel om alleen te staan en soekend na een opregte vriend verlang. Jy voel geruïneerd, misbruik en stukkend. Selfs familie vergeet van jou.
    Ons praat nie nou van vriende in terme van bankbalans, kuiers of vakansies nie, ons praat van hartsvriende.

    Jy soek na God in mense, ‘n bietjie van Jesus se Liefde maar sien dit nie raak nie.
    Die teks in Spreuke sê juis daar is ‘n vriend, Die Here self stuur iemand, ‘n vriend na jou toe, iemand soos Hy.

    Die Here hoor jou sugtende gebed, hierdie vriend is ‘n seën wat jou sal bystaan in jou hartseer, jou verlies, jou kommer en wanhoop juis om geluk te vind.

    Mag jy vanaand reeds so ‘n vriend wil wees vir iemand anders wat jy ken en ‘n ware vriend deur God gestuur ontmoet. Sy Vriendskap is dit waaraan ware vriende gemeet word.

    AMEN
    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #16
    Goeie Naand,

    Hoe bittersoet is die lewe nie?
    Hoe bitterlekker die ervarings nie?
    Twee teenoorgesteldes maar so verduidelikend want bitter is nie soet nie en bitter ook nie lekker nie.

    Maar ons praat van een saak en dit is jou lewe.
    Jy het beide die teenoorgesteldes al ervaar in jou lewe.
    Ons verslaaf ons baie keer aan die dinge en gebeure in die lewe en met ons lewe dat ons oorbluf en woordeloos staan wanneer dinge net eenvoudig anders gebeur as wat ons verwag het.

    Elkeen wat lewe vandag het ‘n biologiese vader, dinge het verander, verskeie kere het jy dalk ‘n betugtiging verwag en dan ‘n verstaan ervaar, woede en toe ‘n sagte antwoord gekry, dalk ook die teenoorgestelde.
    In jou lewe, jou geloofslewe is dit ook so, maar oor die Liefde van jou Vader in Die Hemel hoef jy nooit te twyfel nie.

    Al gebeur die bittersoet en bitterlekker met jou. Romeine 8 sê Paulus “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”

    Mag hierdie Vaderskap gedagte jou vanaand met dankbare trane laat, Hy het jou lewe tot dusver nie net verstaan nie maar jou ook bygestaan, opgehelp en vergewe.
    Mag Sy Heerlikheid jou toevou soos ‘n winterskombersie, en jou die warmte van Sy Liefde laat ervaar.

    AMEN
    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min