Nagsê Here

Nagsê Here

Download on the App Store

All Nagsê Here episodes

  • Nagsê Here #15
    Goeie Naand,

    Gisteraand het ons van God se almag gelees.
    Hy het gedoen wat net Hy kon doen en geen afgod nie.
    Al die profete van Baäl is om die lewe gebring.
    God het reën gebring soos Hy beloof het.
    Agab het vir Isebel vertel wat gebeur het en hoe Elia voor hom uitgehardloop het.
    In pleks van dankbaarheid en eerbied vir God stuur sy boodskappers na Elia en beloof om hom dood te maak soos hy met haar profete gedoen het.
    Hoekom is dit so moeilik vir sommige mense om van eersug, mag en vervolgingswaan ontslae te raak?

    Jy ken vandag ook sulke mense, hulle is in elke familie.
    Wat nog meer onverklaarbaar is, is Elia wat God se Almag deur Sy Woord as opdrag uitgevoer het, dit gesien het hoe altaar, offer en hout verbrand tot as, boonop die reën, het bang geword vir Isebel! Weer vlug hy die woestyn in.
    Van hero tot zero in een dag!

    Soveel so dat hy God vra en sê “Dis nou genoeg, neem maar my siel ook weg” amper soos woorde ek is klaar, ek wil sterwe.
    God stuur Sy engel en met die tweede keer se wakker maak kom net die woorde, “Staan op en eet anders gaan die pad lank word”

    Ernstig wil ons vra, dit klink so gevoelloos, so asof God regtig nie omgee nie.
    Wel, dit was so, God wou vir Elia ontmoet, 40 dae later deur die woestyn,by die berg Horeb, Hy het nodig gehad dat Elia vir Hom alleen ontvanklik sal wees. “Wat maak jy hier Elia”

    Wat sou jy gesê het, Here U het my dan hierheen gestuur, van die hele volk en profete bly net ek oor, nou is ek nog honger en dors en vlug vir my lewe, dit vir U Woord en Naam.

    Die Here God antwoord net dat Hy wil verbygaan. 1 Konings 19
    En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die Here. En kyk, die Here het verbygegaan, terwyl 'n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En ná die wind 'n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie.

    En ná die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die Here nie. En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom 'n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?

    Mag jy vanaand in jou afsondering die Here ontmoet, in die stilte ontmoet jy Hom, voordat Hy jou stuur vra Hy ook eers “Wat maak jy hier?”
    Mag jy antwoord “Here ek is hier, stuur my en gebruik my tot U eer” Hy sal jou ook eerste terugstuur na jou eie gesin, familie en bekendes.

    Mag Sy Liefde, Seën en krag jou versterk elke dag en deur die nag.

    AMEN
    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    4 min
  • Nagsê Here #14
    Goeie Naand,

    Die Here het die Baäl profete uitgedaag. Elia het die volk Israel byeen geroep en by hom laat staan. Vir hulle het hy gesê “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!”. Hulle kon nie antwoord nie”. Twyfel oorheers feite en vrees vir Agab en Isebel het hulle verlam. Hulle almal sien hoe die profete bid, met alle vorme van rituele, kruipend om die altaar maar daar kom geen vlam nie.

    Laggend, spottend skreeu Elia aan die klomp profete, bid nou maar, kom met oproepe na jul gode, waar is jul afgod nou. Skreeu harder. Miskien slaap hy. Dalk is hy op vakansie. Soos ‘n foksteriër hits hy hulle aan. Hulle bid maar geen vlam.
    Vandag sou hy aangekla word deur sulke optrede, is dit nie?

    Agtermiddag vra Elia die volk om met 12 klippe ‘n altaar op te rig, die hout word gebring, die bul in stukke gesny bo op, dan word die altaar drie keer sopnat gegooi met water. Die gebed van Elia was “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek U kneg, en dat ek al hierdie dinge op U woord gedoen het. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer.”

    Mens wil ampertjies sê “Taragie, Taragô”, Die Here het Elia se gebed verhoor en met ‘n vuurvlam die offerbul, die altaar en hout verbrand, die water het opgedroog. Vanaand word vir jou ook gevra of jy nog hink op twee gedagtes? Twyfel jy soms in God se bestaan, vra jy ook vir tekens as bewys? In jou droogte tye, swaarkry tye, bly Hy steeds God en vra na jou hart. Hy vra dat jy Hom moet glo en nie luister na klomp valse profete en staat maak op leë beloftes of ideale nie. In ‘n oogwink gebeur dinge wat jou lewe verander, Die Here God is daar want jy is Sy woonplek. Hy het dit reeds bewys. Met Sy liefde dra Hy jou, Sy bewys is Jesus Christus, deur Hom het Hy Hom as God met ons verklaar deur Sy genade. Mag Die Here al jou twyfel wegneem en aan jou vreugde skenk deur jou geloof in Hom.

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    4 min
  • Nagsê Here #13
    Goeie Naand,
    Dit gaan goed, mens voel goed, as alles reg verloop. Jy weet jy gaan die kompetisie of wedstryd wen. Jou tone krul van lekker kry. In 1 Konings 18 lees ons van so ‘n oorwinning. Eers moet ons sê dat Elia gevlug het. Daar was hongersnood en droogte in Israel. Elia het vir Agab en Isebel gesê dit is omdat hulle as koningsgesin van Israel, afgode van Baäl dien en hulle, hulle rug op God draai en nie na God luister nie.
    Alle vorme van rituele is uitgevoer, selfs kinder offers, die afgode is deur hul priesters as vorm van kultus, massa histerie en bedwelming gebruik om mense te beïndruk dalk eerder te mislei. Nietemin die droogte het gebly en Agab soek na Elia, hy is die skuldige wat die droogte gebring het daarom moet hy doodgemaak word of as offer vir afgode dien.Iemand moet die skuld kry!

    Ons moet net weer vir mekaar sê dat God in ons is en deur ons Sy dade, woorde en doel openbaar. Ook ons beleef droogtes in ons lewens, swaarkrye dae kom en gaan.
    So het God vir Elia teruggestuur om Agab te ontmoet, Elia moes gesug het want hy het geweet hulle wou hom offer, kan jy sy angs en huiwering besef, “Nee, o nee, Here, ek gaan my dood tegemoet, U kan nie ernstig wees nie.” Wel, Elia het God gehoorsaam en toe hy Agab ontmoet word hy sommer dadelik gevloek, “Is jy die besweerder van Israel?” Elia, in sy eer gekrenk, het aan Agab God se uitdaging bekend gemaak, God se kompetisie”. Bring twee bulle en laat jul profete hul bul eerste kies, sit dit op jul altaar, of braai rooster, baie hout maar die hout mag nie aangesteek word nie.

    Gestel jy nooi ‘n klomp vriende uit vir ‘n braai, almal gelowiges, julle bid in dankbaarheid, die hande wat dit voorberei het en die voorreg van voedsel op die tafel. Kan jy jouself indink wat hulle sou sê as jy bid dat die hout of charcoal aan die brand raak sonder Blitz, ‘n vuurhoutjie of lighter. Almal sal dink dat jy ‘n grap maak.
    Vanaand vra Die Here jou om Sy geleentheid te skep tussen die mense wat na Hom soek. Die wat twyfel, die wat nie glo nie, die wat seer het en die wat huiwerig is, hulle sal oortuig word. Hyself sal die vuur aansteek, die liefdesvlam in elkeen wat na Hom vra. Hy vra nie meer offers nie, Hy vra na jou.

    Mag jy vanaand Hom dank vir die geleenthede wat Hy vir jou skep om Sy Almag te bewys. Jy is sy vuurhoutjie tussen mense met jou geloof, diens en gebed.
    Mag God jou altyd gebruik sodat Hy die eer en lof kan kry.

    AMEN

    Nagsê Here Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    4 min
  • Nagsê Here #12
    Goeie Naand,

    Daar is dae wat jy net blydskap ervaar. Jou dag begin sommer met sing onder die shower, jy gee nie om dat die voëltjies wegvlieg nie, die troeteldiere buite toe vlug nie, jy lag selfs as die koekie seep uit jou hande gly. Blydskap stimuleer jou, ongeag omstandighede. Mooi gedagtes, herinneringe en beplannings oorweldig jou.
    Jy bid terwyl jy aantrek of ry en dink aan jou geliefdes. Jou omgewing word ‘n gebed, jou huisemense, vriende en familie word deel van jou gesprek met Die Here. Jou gebed word soos antibiotika of ‘n B kompleks boost. Die werklikheid tref jou dat jy met jou Skepper gesels vanuit die bed, op jou knieë, deur die shower en steeds terwyl jy besig is met jou dagtaak.

    Opgewondenheid pak jou beet want jy sien uit om tuis te kom. Met ‘n glimlag groet jy jou gesin, laggend, spelend, singend word matte gesuig, kos gemaak, gesels oor die dag se gebeure. In hierdie gesprekke word Die Here betrek deur jou leefwyse.
    Die dankbaarheid vir jou dagtaak, jou kos, jou gesin die dak oor jou kop, oorweldig jou met groter blydskap, ‘n stil gebed ontspring in jou hart en dit wys in jou oë, jou geliefdes sien dit raak en getuig van die goedheid van Die Here. Hierdie is waarvan Paulus praat in 1 Tessalonisense 5: 16-18. “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou.
    Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.”

    Mag jy vanaand besef dat jy, deur so te lewe, die Wil van God gehoorsaam het, dat Christus se Liefdesdaad jou lewe oorheers, vir jou sekondes bied vir dankbare genade. Hy is met jou, deur jou word so baie, met jou geloof, aangemoedig.
    Die beste medisyne vir ‘n mens se siel is: Lag, Bid en Dankie sê.

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #11
    Goeie Naand,

    Wonder jy ook of God jou vergeet het, nie meer aan jou dink nie?

    Dit voel baie keer in ‘n mens se lewe so wanneer dinge skeef loop of jy swaarkry. God is kwaad vir my en jy dink terug aan hoekom Hy kan wees wetend dat jy soos elke mens maar ‘n ongehoorsame streek in jou het, ons doen nie altyd die regte ding nie. Is hierdie swaarkry dan ‘n straf en is dit nodig so swaar te straf?

    In Jesaja 63 hoor ons God se woorde aan Edom “Ek het alleen die pers getrap” en dan bedoel dat Hy het alleen gewerk het, niemand het gehelp nie, nou is Hy kwaad. Nie ek of jy wil God kwaad maak nie, Hy het net ‘n te groot rol in ons lewens. Dink maar aan pakslaes wat jy gekry het as kind deur pa of onderwyser, nie een hou was mis nie.

    Jy besef dat as God pak gee dan doen Hy dit anders, jy gaan nie al in die rondte hardloop of weghardloop nie. Jy kan ook nie gaan wegkruip of by vriende oorslaap totdat humeur bedaar het nie. Hy is Immanuel, God met ons, ons is Sy tuiste, waar jy gaan is God. Ons het ‘n wonderlike God want in 8 en 9 bewys Hy Sy Vaderskap met vergifnis en meelewing. “Want Hy het gesê: Hulle is tog my volk, kinders wat nie sal lieg nie. So het Hy dan vir hulle 'n Heiland geword.

    In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur Sy liefde en deur Sy medelyde het Hý hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.” Mag jy vanaand met dankbaarheid besef dat God Sy stout kinders ook liefhet; In jou benoudheid raak Hy net so benoud, In jou lyding, ly Hy saam, As jy kwaad doen, verlos Hy jou, As jy val, tel Hy jou op en dra jou.
    Is dit nie ‘n lekker gevoel en gedagte om mee te gaan slaap nie?

    AMEN

    Nagsê Here Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #10
    Goeie Naand,

    Wat is jy werd?
    Vergeet nou maar van die mossie antwoord of die lelie in die veld antwoord. Wat is jou waarde wat jy kan toevoeg tot die lewe? Vergeet dan ook maar oor ‘n antwoord van die weduwee met haar laaste sente in die donasie bak. Dit is nie die vraag nie! Hierdie vraag gaan oor jou.

    Dit gaan oor jou geestelike vermoë, die krag van Die Heilige Gees wat in jou is.
    In Openbaring 1:10 lees ons Johannes se woorde “Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer…”, hy sien Die Seun van die mens staan tussen 7 kandelare. Dan lees ons vers 17 “Toe ek Hom sien, het ek by Sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid;”

    Vanaand wil jy ook roep “Kom o Gees, kom voer my mee, bring my na die Heiligdom. Kom reinig my, kom heilig my, dat ek ook die woorde kan hoor ‘Moenie bang wees nie, dit is Ek’, en daardeur bekragtig word vir Ewige Heerlikheid”. Jy is dalk ook moeg vir die gejaag in die lewe, miskien vang eensaamheid jou, dalk is jy vasgevang in ‘n vorm van bestaan, jy wil nuttig wees. Jy het nodig om Iemand, Die Here, te hoor wat jou uitnooi na ‘n bekering, ‘n herlewing, wat jou uit ‘n doodsgreep ruk na ‘n lewende verskil.

    Mag jy vanaand Sy Regterhand voel as Hy aan jou vat en Sy pleit hoor om ‘n verskil te maak in hierdie wêreld waarin ons lewe, hierdie wêreldsmense en jy weet dalk van iemand, wat smag na vernuwing en herlewing sodat God al die eer kan kry. Die tyd is min, die geleenthede baie, Hy het jou nodig en daarvoor bemagtig Die Heilige Gees jou!

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #9
    Goeie Naand,

    Ek hoop dit gaan goed met jou, geliefde van Die Heer. Kan jy soos Johannes getuig oor Jesus se koms aarde toe? Hy begin met sy evangelie “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” Vir my is dit genoeg gesê, soos ‘n kind glo ek!

    Hoe verwoord jy, Johannes se verklaring oor Jesus as Verlosser en God, tussen soekende en stukkende mense? Dalk met die volgende woorde:
    In die donker soek ek na die Here,
    Na bekende gesigte van vriende,
    Na iets waardigs om te doen,
    Ek mis my familie en gesin,
    Tassend probeer ek rigting vind,
    Alles bly net buite bereik.

    Hey Tjomma, hoor ek in die donker skreeu,
    Jy het die lig broer, wat dwaal jy so rond?
    Ons kan jou nie volg as jy nie reguit loop,
    Jy sê jy ken vir Jesus, neem ons na Hom toe!
    Die tyd is min, die kersvlam is laag,
    Vasberade, ligloos, beur jy voort, aangejaag,
    Hierdie mense stemme agter in die donker,
    Moet terugkom na die Begin, na die Woord!
    Jy moet hul die Lewe wys, in jou is Die Lig,
    Sodat die duister in hulle verdwyn, dis jou plig.
    Hey, Tjomma hoor jy uit die donker iemand roep….

    Jy kan bid “Dankie Here dat U lig deur my skyn en U my gebruik as ‘n ligbaken vir ander wat ek dalk nie eers ken nie”

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #8
    Goeie Naand,
    Daar was so ‘n ken mekaar TV program waarin mense ‘n prys kon wen as hulle die meeste vrae reg beantwoord oor die ander persoon. Wie dink jy ken jou regtig?
    Iemand wat reg gaan antwoord op vrae soos; “Wat laat jou lag, Wat laat jou huil, Wie is jy, Wat is jou belangstellings, Wat wil jy wees in die lewe, Wat is belangrik vir jou, Wat is jou grootste wens, Hoe reageer jy op insidente in jou lewe?”

    Terwyl jy dink besef jy, dalk ook, dat jy nie so ‘n persoon ken nie, al is dit jou lewensmaat, ouer of kind. Dan kom die vraag “Ken jy jouself?”

    As voorbeeld word ons ‘dierbare taxi drywers’ gebruik. Eendag is jy stil tevrede, selfs met ‘n glimlag as hy reg voor jou stop in die verkeer en mense oplaai of aflaai, ‘n ander dag wip jy jou en jou woorde klink soos ‘n outomatiese geweer wat skote afvuur, jy rit tit tit sommer op jou sitplek.

    So met ‘n glimlag weer die vraag “Ken jy jouself?” Paulus moes mense wat hom gepeper het na sy vermoë, sy gesag, sy geskiedenis, sy roeping en doel in 1 Korinthiërs 15 antwoord. In vers 10 sê hy hierdie woorde “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.”

    Mag jy ook weet vanaand dat jy is wat jy is, deur die genade van Jou God en Verlosser.
    As daar een persoon is wat jou ken dan is dit Hy, weet dan ook dat Hy deur Sy genade ‘n sondaar roep tot bekering, Sy Liefde is ‘n Ope Arm en Stywe Drukkie gevoel.

    Mag jy vanaand hierdie hartlike gevoel kry wetend dat jou Here wat jou ken en al die vrae oor jou kan antwoord ook na jou luister, en vir jou sê “Toemaar, Ek sien jou werk, Ek weet die goeie en die kwade, Ek gooi jou nie weg nie, jy is vrygespreek deur My Genade en Liefde. Wees wie jy is, in My Naam” Het ons nie ‘n Wonderlike God nie, ken jy Hom? Jou prys is die Ewige Lewe.

    AMEN

    Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #7
    Met Nagsê Here deel Ds. Theunis Coetzee 45 kort en inspirerende oordenkings om jou dag met vrede en hoop af te sluit. Hierdie reeks bied ’n rustige en troosvolle oomblik, ideaal vir die einde van jou dag.

    Vind rus vir jou siel met Nagsê Here. Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min
  • Nagsê Here #6
    Goeie naand,

    Beleef jy ook sommige dae wat jy net terneergedruk voel. Alles loop skeef, jy wil nie lag nie, jy wil met niemand praat nie, dit voel amper of die lewe in jou tot stilstand gekom het? Kragteloos breuk jy deur die sekondes.

    Dan lees ons die woorde wat Paulus skryf in 2 Korinthiërs 4 - God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”
    Hierdie Krag wat uit duisternis lig geskep het, het ook verlossing deur Jesus Christus bewerk.

    Laat dit jou beter voel? In eerlikheid, vir my nie altyd nie. Mense is soms gewetenloos, hulle breek jou af, stel jou telleur. Dit vou jou toe met duisternis.
    Dan sê Paulus “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.

    Mag hierdie krag wat God gee ook in jou werk, al voel jy ook so breekbaar soos ‘n erdekruik, in jou en deur jou is die Krag van God besig om te werk. In jou nagrus versterk Hy jou met al die botsings van emosies, hartseer, verlange, seerkry en al die ander letsels wat jy saamdra. Mag dit vir jou vrede bring. Sy Liefde vir jou is ewig soos ‘n glimlag, Hy dra jou deur die lewe, soos jy en wie jy is. Lief vir almal.

    AMEN

    Nagsê Here Afrikaans.Radio · Nagsê Here
    3 min