Maputo spog met die beste voorbeelde van Art Deco-argitektuur in die wêreld. Talle van die geboue is deur Mosambiek se voorste argitek, Pancho Degga, ontwerp. Nog 'n uitstaande kenmerk van die koloniale glorie is die fyn mosaïekwerk wat oral te sien is. Die bekende ebbehoutboom kom ook volop hier voor en daar is talle voorbeelde van hoe hierdie duursame hout aangewend is – nie net in klaviere nie, maar ook in alledaagse huisraad. Die stad se Nasionale Museum spog met 'n voorbeeld van 'n selakant, 'n visspesie wat terugdateer uit die dinosourus-era. Voeg hierby 'n eie Portugese taalvariant wat hier gepraat word en die vermening van kulture in hulle kos, kom jy gou agter dat die stad, wat 'n klipgooi van Suid-Afrika af is, talle verrassings inhou en' n besoek die moeite werd sal maak.